Dagsê Heiden
Dankie vir die terugvoer.
Daardie raaisels wat ek aan jou gestuur het was na aanleiding van jou brief oor vrye wil waar jy logika gebruik en tot 'n aanvaarbare, vir jou, gevolgtrekking kom. Van die raaisels is van die Zeno-tipe raaisels waar juis logika mens in die steek laat.
Jy kom tot 'n gevolgtrekking met 'n IK van, sê x. 'n Ander ou met IK x+k kom tot 'n teenoorgestelde gevolgtrekking, presies dieselfde as weer 'n ander ou met IK x-m en nog 'n ander ou, met IK x+2k, kom weer tot dieselfde slotsom as jy. Wat ek dus vir jou sê is jy kan nie pyl trek op 'n gevolgtrekking waarop jy bloot deur redenasie afkom nie; sonder bewyse ter stawing, of die teendeel, bly dit 'n subjektiewe redenasie. Jy sal wel dissipels kry maar ook net soveel lepissids (teenoorgestelde van dissipels, nog nie in die woordeboek nie). Julle sal dus redeneer ad infinitum.
Van die raaisels tussenin is ou politiek-gunstelinge van my en ek was nuuskierig hoe 'n ou wat daarvan hou om logika in te span hulle sou antwoord. Jy het daar uitstekend gevaar maar ek kan jou waarborg hier is baie op hierdie werf wat heeltemal gaan verskil. Gelukkig, in hierdie geval, is daar stawing vir wat jy gesê het.
Jou vraag aan my, naamlik waarom die son in die weste sak, slaat my vir 'n ses. Hier, dink ek, moet ons Panda se hulp inkry. Dit help natuurlik nie om die rotasie van die aarde as antwoord te gee nie want die vraag kan dan net anders gevra word, naamlik hoekom die aarde (vanaf die noorde gesien) anti-kloksgewys roteer.
Jou vraag sluit aan by wat ek al voorheen gevra het naamlik, as die hemelligame – komete, asteroïdes, mane, planete, sterre die hele lot – uit die stof gevorm is na die oerknal (as daar ooit so-iets was), wat maak hulle roteer? Wat maak die hele galaktiese sisteme roteer, en hoekom in min of meer 'n plat vlak?
Terloops, as ek dit nie mis het nie, kom die maan in die weste op maar dis uit hoofde van die aarde se toere (1 per 24 uur) dat dit lyk of die maan in die ooste opkom. Dit kan mens aflei met die rigting wat die aarde se skadu oor die maan beweeg met maansverduistering. Altans, ek dink so. Panda, kan jy ons hier help?
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Hallo Jan Rap en Heiden,
Nog steeds by die horlosiewysers. Ek het maar net die repeterende breuk na ’n gewone breuk verander en so by (5 en 45/99) minute uitgekom. My metode is maar omslagtig maar dis soos ek nog in Graad 8 (destyds St. 6) geleer het. Nou praat ek darem van baie jare gelede.
Nee kêrels, julle slaan my ook vir ses! Ek het nie die vaagste benul hoekom die aarde van wes na oos roteer en nie andersom nie. Die planeet Venus is natuurlik ’n uitsondering in die sonnestelsel en roteer van oos na wes en daar sak die son wel in die ooste – maar nou is sy dag ook langer as sy jaar en die son sak so stadig dat jy dit amper nie agterkom nie. Sterrekundiges vermoed dit is die gevolg van ’n botsing lank-lank gelede.
Groete
Panda
Hallo Jan Rap,
Jammer, ek het nie die vraag oor die maan se beweging beantwoord nie. Jy is 100% reg dat die maan van wes na oos om die aarde wentel – dus in dieselfde rigting as wat diee aarde roteer. Dit kan maklik bevestig word deur die maan se beweging teen die agtergrond van die sterre te volg of soos jy voorgestel het na die beweging van die maan deur die aarde se skaduwee tydens maansverduisterings, te let. Dat die maan in die ooste opkom en in die weste sak is maar net ’n illusie.
Groete
Panda