Vervreemdeling bevestig IL de Villiers se statuur as deurwinterde vakman

  • 0

Vervreemdeling
IL de Villiers
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624046387
Publikasiedatum: April 2008
Aantal bladsye: 110
Prys: R125, 00

Klik op die boek se omslag om jou kopie by kalahari.net te bestel.

'n Persoon/persoonlikheid/personasie in sy vreemdelingskap word in hierdie bundel reeds deur die buiteteks op die voorgrond gestel. Deur die prominente afbeelding van 'n Indiaanse Groothoofman op die voorplat (en 'n verkleinde weergawe daarvan op die agterplat) word die leser gekonfronteer met die sterk teenwoordigheid van 'n “iemand” wat buite die vertroude verwysingsveld van die waarskynlike leser, die Afrikaanse literatuur en die oeuvre van die betrokke digter val. Daarby het die Indianefiguur 'n afstandelike, veraf kyk in sy oë, wat die vreemdheid van sy persoon beklemtoon. Terselfdertyd word die ikoniese werking van die visuele beeld versterk deur die ongewone bundeltitel wat uit 'n sametrekking van “vervreem” en “vreemdeling” tot stand kom. Hierdie dubbele vervreemdingstegniek berei die leser voor op die openingsgedig, waar die Groothoofman in sy buitestanderskap 'n bevoorregte posisie in die bundel beklee. Die vermoede ontstaan dat die personasie van die Indiaan sekere implikasies vir die vertolking van die bundel inhou.

Is daar sprake van die Groothoofman as alter ego van die spreker? Dien die gestalte van die Indiaan as 'n metafoor vir die persoon wat homself op die een of ander wyse as vreemdeling of krimpende randfiguur ervaar, en veral vir diegene wat met verloop van tyd deur omstandighede vervreem of ontheem geraak het van dit wat 'n eiesoortige identiteit gevorm en omlyn het? En watter ander ooreenkomste is daar ten opsigte van die spreker se belewenis van homself en die Indiaanfiguur?

Uit hierdie en die daaropvolgende verse blyk dat die spilpunt van die bundel dié van ontheemding en uiteindelike vervreemding is, en meer bepaald die enkeling én die groep wat dit moet hanteer. Die sprekende instansie nader 'n fase waar daar afstand intree tussen hom en sy bepaalde historiese verlede, en hy terselfdertyd 'n lewensafloop in die gesig staar waar afskeid geneem word van 'n menslike, aardse teenwoordigheid in die algemeen. Die een wat op 'n sekere tydstip as “aardling” in 'n sekere lewens- en bestaanswyse geaard of geanker was, word steeds intenser bewus van die proses van sy eie vervreemding, en daarmee van homself as “vervreemdeling” – “wordende vreemd” is hy op weg om in 'n sekere sin “nuweling” te word.

Die ontheemding van die Indiane-opperhoof wat sy grond en leefwyse moes prysgee omdat hy deur andere in besit geneem en ondergeskik gestel is, herinner aan die besetting van 'n Suid-Afrikaanse en Afrikaner-werklikheid, insluitende die dreigende verlies van 'n woonomgewing (“Huis agter my huis”), waar 'n betrokke individu of groep uitgeskuif word. Dit kom voor asof die spreker selfs die gelaatstrekke van die gemarginaliseerde Indiaan in homself terugvind. Maar ook in die geloofsbelewing en die voorheen vertroude woordwêreld begin hy hom ontuis voel (“Sint Simeon Stilitus”). Sy veroudering, vereensaming en verlies, ook in terme van sy menslike gestalte, word besonder plasties verbeeld in “Heildronk”, waar die spreker reeds fantaseer oor sy terugkeer tot stof. Dié gedig is nie alleen 'n loflied op die Paarl van sy oorsprong nie, maar 'n liriese vooruitskouing op hoe hy juis vanweë sy verganklikheid en stoflikheid opnuut sal deel word van die geboortegrond. Soos die akkerbome en die wingerdstok in die aarde gewortel is, sal hy aanstons een word met die aardse elemente waaruit 'n nuwe oes te voorskyn kom. Dit is danksy, en met en op, hierdie nuwe wyn dat die engele 'n heildronk sal drink – ter viering van nog 'n voltooide siklus en 'n aankoms van 'n nuweling binne die groter patroon van bestaan.

En is dit deur die “[d]ood van 'n monster in homself" dat die spreker erbarming met die afsterwe van iemand soos die Serwiese Milosevic ervaar?

Die gedagte van transformasie word verder gevoer in “Notre Dame”, waar beide die Christusfiguur en die sondaar-mens in hul aardse vreemdelingskap 'n nuwe aanskyn kry, terwyl die ek-figuur hom in “Israeliet” vereenselwig met die verstote Jood.

Konkrete gegewens word in hierdie bundel met verbluffende vernuf aangewend as 'n subtiele draer van die religieuse dimensie. Sonder 'n sweem van prekerigheid toon die digter deur sy gevoelige notering en transponering van alledaagse waarnemings hoe die goddelike in die aardse gehuisves word. In “Mossie” lui dit so: “en in die koue het 'n wolkie heiligheid/ opgedamp uit die klein bondel ogies, vlerkies, bene, veertjies, grysbuinwit. Een hartklop/ was die Hoëveld van God bewus …” So kom ook die skeiding tussen Lig en Duisternis in terme van die Christelike en 'n ander vroeë godsdiensstroming ter sprake (“Lord Milner peins in sy Manicheïstiese hel”) wanneer die hel onder meer bedink word in terme van voorbrandpaaie teen Leeukop en Duiwelspiek, stormwinde aan die Skotse kus en 'n verwordende Londen. Die lokale word beeld van bonatuurlike kragte en ingrepe, maar altyd by implikasie, waarvan die toepassing deur die leser gekonstrueer moet word. Hierdie werkwyse maak die bundel aktueel – maar lig dit nietemin bo die tydelike en lokale uit. So reik bekende verwysingspunte soos die NG Kerk teen Aasvoëlkop (“Aswoensdag”) en 'n samelewing van geweld (“Gewapende roof”) verder as bloot die plaaslike, ook deur die aansluiting by intertekste uit die populêre literatuur en menige ander klassieke tekste. Deur 'n sekere lugtigheid te midde van die erns in te voer, selfs wanneer daar na 'n kunswerk van Rafael of na Jesus (“Versoek”) verwys word, ontstaan daar binne bepaalde gedigte én in bundelverband toonverskille wat relativerend werk en verhoed dat die verse eenselwig en eendimensioneel word. Dieselfde geld vir die wyer perspektief wat tot stand kom deur die naasmekaarstelling van die onmiddellike (met soms kostelike, soms melankoliese detail) en die oneindige, of die naderende vertrek, soos in die siklus “Aand”.

Net hier en daar, veral na die einde van die bundel, is van die verse minder geslaagd. Maar dan word die leser onverwags in die slotafdeling oorrompel deur 'n enkele, lang vers wat in die dwarste oor twee bladsye afgedruk is. “Droom van Chicago” bly 'n mens by as herinneringsgedig wat met behulp van 'n pragtige ritmiek en klankrykdom iets van die algemene verganklikheid van dinge oordra. Die stad word met deernis aangespreek, en “[j]y was 'n somer van 'n plek” wat verword tot “'n manjifieke bouval” vol graffiti is verteenwoordigend van die opgeefsel wat ons drome, onsself en die lewe meestal is.

Dit is 'n ryk en kleurvolle bundel, wat sowel die tematiek as die ruimtetekening en vorm betref. De Villiers brei steeds sy register en stylgrepe uit. Die langer versreëls vertoon 'n digtheid waarin die verrassende enjambering (wat dikwels tot die praatvorm bydra) en versteekte rym die interessantheidswaarde van sowel die gegewe as die aanbieding verhoog. Wanneer hierdie digter die praattoon aanwend, het dit steeds 'n stuwende en boeiende kwaliteit, wat nie verval tot die inhoudlose, koerslose brabbeltaal waaraan minder ervare digters hul soms skuldig maak nie.

Die bundel bevat heelwat beskrywende en stemmingsverse, maar die aanslag is besinnend. Die oomblikke word dus nie geteken om hulself nie, maar as rigtinggewers na iets omvattenders en onbegryplikers as die hier en nou. Danksy die verwondering en simpatieke aanslag waarmee die digter sy stof benader, en die geslypte tegniek van 'n deurwinterde vakman, word die leser medebelewer van 'n wêreld wat deurtrek is van misterie en 'n lieflike ligtheid – waarin die mens, soos die spreker self, voorlopig 'n “vervreemdeling” bly: uit sy plek uit, en “uitheems”, soos die jakaranda. Want daar is van alles in die wêreld, en in die bundel: van Avbob se jaart en Kubla Khan, tot die “duisterder mense en hul duisterste dinge” (“Digter”). En hiervan begryp ons maar weinig, soos van die ewige wisseling van dinge; of van die “minister [wat] weer uit sy lende lag” (“Rapport van 'n oorgawe”) en die “gestringde stergeheue van God” (“In die begin”).

Vervreemdeling is die werk van 'n godsman, koerantman en alleman, maar veral van 'n vakman. Die bundel sal u oor die hele wêreld neem – van die Boland tot die Bosporus – en verder as hierdie wêreld. Daar is onverwagse pret, piëteit en patos in die verse wat wissel tussen “vygies [van] end Augustus”, die “sterrestof” van gestorwenes, en die aftakeling van “'n Ou man klim uit die bad”. Lees dit alles, maar “mind the gap”, soos die vertrekkende spreker-digter van die blikstem op die moltreinstasie te hore kry.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top