Vervaldatum-kompetisie: Vrou op ’n eiland

  • 1

Daar het oor maande ’n diep behoefte by die vrou ontstaan, en op ’n dag het sy besluit: ek gaan myself herhaal. En watter keuse had sy nou ook? Sy was haar enigste model, van altyd af.

Maar eers het sy die wortel van vergetelheid berei; dae lank, oor ’n stadige vuur. En toe die astrak reg was, het sy dit eenkant gesit om af te koel.

Sy het die getye geken; die eb- en die vloedlyn. Met laagwater het sy ’n vrou uit nat sand geskep, tone teenaan die see; ’n vrou so groot en lank soos sy. Sy het gulhartige borste gevorm, en haar hande liefdevol bak gemaak om dié borste. Die sandvrou het met haar arms en bene uitgesprei gelê, en haar oë het opgekyk in die lug.

Haar oë? Die vrou het haastig landwaarts gehardloop en twee pers blomme gaan pluk.

In die streep wat die mond is, het sy wit skulpies gesteek wat ’n glimlag moes voorstel.

En rondom die spleet tussen die sandvrou se bene het sy, krul op krul, persbruin wiere gepak, nog nat van die see; en in elke oksel het sy ’n bossie swart wiere gedruk.

Weer het sy landwaarts gehardloop. Uit gewoonte, eerder as voorsorg, het sy ’n groot vuur gemaak en daar, langs die vuur, die drank van vergetelheid gedrink, net  tien maal meer as wat sy gewoonlik drink.

En toe het sy langs die sandvrou gaan lê, presies in dieselfde posisie. Een hand van sand het aan ’n hand van vlees geraak; een voet van sand aan dié van ‘n lewende vrou.

’n Seevoël wat verbyswiep sou kon dink: ja, hulle herhaal mekaar, maar die een is oud en verskrompel en byna verstrak. En haar oë is toe.

Die see het die sandvrou weggekalwer en haar oë en wiere is uit op die gety. Die werklike vrou was moeiliker te beweeg, veral die eerste ent, met die liggaam wat ruk-ruk die vlak water in, maar toe is dit of die vrou vanself na die diepsee begin beur.

Die vuur het vir laas opgevlam en op homself ingevou en as geword.

En die eiland was weer leeg, soos in die begin.

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie. 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top