Vervaldatum-kompetisie: Suska se terugkoms

  • 0

“Wat staan my rooikop-held so en loer-loer?” wil Kennie se ma weet.

“Ek loer nie. Ek kyk net.”

Ma lag. “Suska is nie hier nie. Sy’s saam met haar pa na haar ouma toe.”

“Wat maak sy by haar ouma?” wil die kind weet.

“Ek weet nie. Vra haar maar self as sy terugkom.”

Elke dag loer Kennie deur die hortjiesheining tussen hulle huise en verlang om Suska weer te sien. Miskien het sy weggeloop of het ’n dief haar gesteel en nou wil hy geld hê om haar terug te bring. Reeds toe hy Suska die eerste keer in die tuin van die groot huis met die gewels sien speel het, het Kennie geweet dat hy met haar gaan trou.

Op ’n koue aand voor die kaggelvuur krap Kennie kop oor die wiskundesom. Toe die deurklokkie skril, is dit Suska. Nou is daar nie kans om weg te hardloop nie. En toe sy vir hom glimlag, het hy ook geen begeerte om te roer nie. Hy wil net na haar sit en kyk. Haar oë lyk soos groot deurskynende, bruin albasters en haar vel blink met die gloed van die vuur se weerkaatsing. Tot haar swart hare lyk of dit gloei.

“Kennie,” hoor hy sy ma se stem, “Suska se ouers is nie by die huis nie en dis baie sleg vir ’n meisietjie om alleen te wees as dit donker word. Ek gaan gou ’n briefie skryf om te sê sy is hier. Dan gaan plak jy dit op hulle voordeur. Sal jy?”

“Ek kan saamgaan,” sê Suska en staan reeds op. “Kom, Kennie, ek vat jou hand. Dan hoef jy nie bang te wees nie.”

Dit is die begin van ’n vriendskap wat die grootmense laat glimlag. Die kinders hou hande en lag gedurig in mekaar se rigting. In die oggende sien mens Kennie met sy onstuimige rooi kuif waar hy voor Suska se huis wag sodat hulle saam skool toe kan stap. Na skool speel die twee ma en pa met Suska se poppe.

Een oggend loop Kennie op en af voor die hek, want die skool moet al begin en Suska het nog nie uitgekom nie. Toe haar pa uiteindelik te voorskyn kom, lyk dit of hy nooit die nag geslaap het nie. Die donker kringe wat maar altyd om sy oë is, lyk heeltemal swart vandag.

“Oom?” kom die woord onseker van Kennie.

“O, Kennie,” is al wat die man vir ’n oomblik uitkry. Toe sluk hy en skud hy sy kop. “Suska gaan nie vandag skool toe nie.”

“Hoekom, Oom? Is sy siek?”

“Nee, dis nie dit nie.” Dit lyk of hy nog iets wil sê, maar hy skud net weer sy kop. Hoe verduidelik mens aan ’n kind die gebruike van ’n ander nasie waar huwelike gereël word?

Vier lang weke gaan verby. Toe wag Suska vir Kennie voor hul hekkie. Kennie gryp haar en draai haar wild in die rondte. “Jy maak my seer, Kennie.”

“’Skuus, waar?”

“Nêrens nie. Kom ons loop,” snik Suska.

Hulle is al ’n ent weg toe Kennie onthou dat sy pa sy sakdoek uitgehaal en sy ma se trane afgevee het die slag toe sy so gehuil het oor Ouma dood is.

“Wag eers,” sê hy. “Staan bietjie stil.”

Suska lag toe hy haar kop vashou en met die sakdoek oor haar gesig vee. Toe lag Kennie ook.

Hul grootwordjare het nie tussen die kinders kom staan nie. Vakansies wanneer Suska van die skool in die stad af terug kom, gaan hulle lang ente stap. Hul rugsakke met eetgoed en drinkgoed altyd op die rug. Tot die dag toe Suska se ma haar belet om alleen saam met Kennie te wees.

Die oënskynlike inskiklikheid van haar dogter laat die vrou met ’n gevoel van genoegdoening. Haar planne mag nie tot niks kom nie. Daar is te veel in die weegskaal. Sy is nie van hierdie land nie en sy voel versukkel en verstoot. Sy is die vrou van ’n man met ’n besigheidjie wat hul wel aan die lewe hou, maar die luukshede waarvan sy as jong meisie gedroom het, is net ander beskore.

Teen drie-uur die nag kan jy twee figure sien wat na mekaar in die donker voel. Hul vriendskap, wat tot nou nog platonies was, raak ’n rasende behoefte om mekaar te besit. Net Kennie se diep gevoel vir dit wat hy reken reg is, hou hul verhouding op ’n vlak waar hy alles wat hulle doen, kan gaan neerskryf sonder dat hy dit vir sy ma hoef weg te steek. En Kennie skryf. Hy skryf tot laat in die nagte. In die resensies oor die twee boeke wat op die jong ouderdom van sewentien uit sy pen kom, praat kritici met groot lof oor die jong skrywer. Die blitsverkope is te danke aan die feit dat sy verhale om sy liefde vir Suska draai. Al die intriges kulmineer in die sensitiewe verhouding tussen twee mense.

Hul matriekjaar se einde bring trane. Suska moet saam met haar ma na Indië en sal nie weer terugkom nie. Die geheim van hul verdwyning nege jaar gelede word nou eers vir Suska duidelik. Haar ma het haar gaan verkoop. Nou het sy geen ander keuse as om saam met haar ma te gaan nie.

Suska onthou van hul reis en haar pa se ongelukkigheid. Suska het hom en sy vrou tot laat in die nagte hoor stry. Deur die dag het die sagmoedige man se oë sy vrou beskuldig en Suska het aan haar pa geklou. Dit was die enigste manier waaraan sy kon dink om haar geliefde pa te troos. En nou is dit sy wat by hom troos soek, want dit voel of die warmte vir altyd uit haar lewe verdwyn het. Miskien het die man daar ver al die rykdom wat haar ma begeer, maar hy kan nie iets van liefde af weet nie. Vir hom en haar ma is geld die groot liefde in hul lewens. “Die vrou” is nie meer haar ma nie. En nou moet die pond vleis wat geëis word, uit haar hart gesny word - haar hart wat aan Kennie behoort.

Kort voor haar vertrek na Indië kerm Suska. “Ek gaan nie ’n lewende dooie word nie, Kennie.” Daar brand ’n vuur in die oë van die jong meisie. “Jy gaan my help. Jy gaan vannag by my slaap.”

Kennie frons. “Hoe gaan dit help?”

“Verstaan jy nie?. Hy sal my nie meer wil hê as ek nie ’n maagd is nie.”

“Suska, jy weet dit net nie, maar jy kan met as op jou kop rondloop en jou sondes op jou rug graveer en niemand sal dit raaksien nie, want jy is mooier as ’n reëndruppel in die son.”

Die glimlag om Suska se lippe is sag as sy aan Kennie se hand vat. “Jy kyk maar net met jóú oë. Maar dankie, my liewe, naïewe Kennie.”

Kennie kyk lank na haar voordat hy sy kop skud. “Nee, Suska, so wil ek jou nie hê nie.”

Dit kan nie waar wees nie. Die finaliteit waarmee Kennie gesê het dat hy haar nie wil hê nie, sny deur haar sodat sy verdwaas omdraai en weghardloop.

In die twee weke voor Suska en haar ma se vertrek weier Suska om Kennie se oproepe te beantwoord, en haar ma het geen aanmoediging nodig om hom die deur te wys nie. Maar die oggend van haar vertrek verkrummel Suska se vasberadenheid. En toe Kennie by die lughawe die konsepweergawe van sy jongste boek vir haar gee, speel ’n flou glimlag om haar mond. Sy druk die geskrif teen haar bors vas en skud haar hare uit haar gesig in ’n ongeduldige beweging. Skielik kan sy die trane wat maak dat sy nie behoorlik kan sien nie, nie keer nie. Toe Kennie sy sakdoek uithaal en haar gesig oplig na hom toe, vra hy: “Onthou jy? Eenkeer lank terug toe jy gehuil het, het jy gelag toe ek jou trane wou afvee?”

“Nou is daar nie meer iets om oor te lag nie, Kennie.”

Kennie sit sy hande op Suska se skouers en trek haar nader. “Moenie gaan nie. ’Seblief, bly by my.”

“Maar jy wil my dan nie hê nie.”

“Suska, dis nie wat ek gesê het nie. Luister, een van die dae verdien ek genoeg om vir ons al twee te sorg. Trou met my.”

Toe hy haar vashou, klem Suska haar arms styf om Kennie se lyf.

Dit is hoe die vrou hulle sien. Met haar swaar handbagasie swaai sy. Haar hele gewig is agter die hou. Dit tref Kennie teen die kop en hy steier.

Suska wens sy kan haar ma se nek tussen haar vingers druk totdat daar geen asem meer in haar liggaam is nie. In plaas daarvan hou sy haar hande styf agter haar rug vas.

“Ma, ek gaan met Kennie trou. Ek gaan sy kind kry.” Dit sal vir die vrou net so ’n hou wees as wat sy vir Kennie gegee het, dink Suska.

Eers toe die vrou begin pers word in haar gesig en sukkel om ’n woord uit te kry, weet Suska hoe reg sy gedink het.

Die vrou gryp na haar keel voordat sy val.

Kennie is dadelik by en skree, “’n Dokter! Kry ’n dokter!” Hy probeer haar oplig en sien die haat in die oë wat nou lyk of hulle uit hul kaste wil bars. Sy eie oë soek na Suska en hy sien haar staan. Sy lyk so hulpeloos, maar toe trek sy haar skouers op, skud haar kop asof sy vererg is en draai om. Net voordat sy deur die metaalverklikker stap, kyk sy een keer terug. Vir ’n oomblik, voordat sy tussen die mense verdwyn, vang sy Kennie se oë. Daar is net ’n doodsheid in haar kyk. Kennie dink hy sal die koue kriewel wat teen sy ruggraat afkruip, vir altyd onthou.

Die vrou herwin nie haar bewussyn nie. Die beroerte is te hewig.

’n Maand nadat Suska weg is, kry Kennie ’n onpersoonlike brief sonder adres waarin sy skryf: “Dit is amper skrikwekkend hoe die gebeure voor my vertrek ooreenstem met die verhaal in jou boek. Maar daarin gaan die meisie terug en trou met die man wat haar lief het. Ek wou net Indië toe gaan om vir die armsalige skepsel, soos ek aan hom gedink het, te verduidelik hoekom hy moet vergeet van hierdie bruid. Maar nou word ek môre die vrou van Abdoel Naidoo, ’n ou man wat nege jaar op my koms gewag het. Hy was so pateties in sy blydskap. Hy is gebreklik. Verstaan jy?”

Twaalf jaar later, na haar man se dood, vind Suska Kennie se adres. Toe sy vra of Kennie tuis is, lei die vrou wat die deur oopgemaak het, haar na die studeerkamer waar Kennie met sy rug na hulle voor die rekenaar sit en werk. By sy voete is twee kleuters besig om met kryte op groot velle papier te krabbel.

Suska tree agteruit en fluister: “Ek sal later weer kom.”

In die klik van die deur wat agter haar toegaan, hoor Suska die slotreël van haar en Kennie se verhaal.

 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top