Vervaldatum-kompetisie: Donna se droom

  • 0

Die passie vir musiek brand soos die hel se vuur. – Knut Hamsun

Pretoria, November 2011. Vrydagaand.

Die Gauteng-matrieks se eindeksamen is verby en almal vier fees, behalwe Donna Verhage, wat voor die regopklavier in hulle sitkamer sit by flikkerende kerslig en oefen. Miniatuurborsbeelde van Bach, Beethoven en Mozart is haar inspirasie. Haar motivering. Sy doen eers vingeroefeninge voordat sy op maat van die metronoom die een toonleer na die ander foutloos afrits. Eers die regterhand. Dan die linkerhand. Dan albei hande saam. Sy berei haar voor vir die klavieroudisie wat Saterdag plaasvind. Professora Signora Clari van die Concervatoria da Firenze sal die hoofbeoordelaar van die klavierkonsert-afdeling wees. Donna wil haar kategorie wen, want die wenners ontvang elkeen ’n tjek en ’n maand se oefengeleentheid aan die Italiaanse musiekskool.

Die res van haar matriekmaats neem Hatfield luidrugtig en sonder inhibisies op horings. Die voggies praat hard. Party ry toetend deur die strate. Ander besoek klubs met oorverdowende diskomusiek en doen mee aan die rondomtaliewêreld van klank en lig. ’n Groepie matrieks staan onder die straatlig. Hulle dans en sing in ’n kring. “Gaudeamus igitur, iuvenes dum sumus ...”

Maar Donna is te gefokus, te gedissiplineerd en te gemotiveerd om aan sulke verspottigheid deel te neem. Sy wil die beste konsertpianiste wees wat Suid-Afrika nog ooit opgelewer het. Beter as almal voor haar, en ná haar sal daar niemand wees wat in haar voetspore kan volg nie. Sy oefen soggens voor skool, smiddae en weer laataand. Sy woon nooit klaspartytjies of sportbyeenkomste by nie. Sy gaan ook nie fliek nie, tensy dit oor musiek of komponiste handel. Sy sit net voor die klavier en oefen, oefen, oefen. Haar slanke hande verander in krappe wat skeef-skeef oor die seesand hardloop. Dan gly haar vingers soos dartelende vlinders lig en vrolik oor blomme. Dan kriewel hulle soos spinnekoppe skuins en dwars oor die swart en wit note. Aanmekaar. Sonder ophou.

Sy is nie ’n gewone hoërskoolmeisie wie se kop vol muisneste of diëte is nie. Háár kop is vol ingewikkelde concerto’s, sonates, ballades en requiems. Sy het nie tyd vir giggelende maats of vryerige kêrels nie. Sy het nie eens matriekafskeid toe gegaan nie.

“Gaudeamus igitur, iuvenes dum sumus ...
Post iucundam iuventutem, post molestam senectutem ...”

Donna se liggaam buig en wieg soos die toonaard, tempo, tydmaat en timbre van elke oefenstuk verander. En saam daarmee vloei haar liefde vir die klavier soos ’n borrelende waterstroom: piano, pianissimo, adagio, fortissimo, andante, crescendo, desto!

Sy hou haar kop skuins en kyk met intense konsentrasie hoe haar vingers vanuit haar polse soos marionette aan ingewikkelde touwerk dans. Sy voel hoe die spiere in haar vingers fyn sensasies deur haar polse, tendons en al langs haar arms stuur. Met elke noot wat sy speel, skiet die pyn soos naaldprikke deur haar hand, gewrig en arm asof ’n swerm bye of ’n spul woedende rooimiere haar takel omdat sy dit te naby hul neste durf waag het.

No pain. No gain.

Haar klasmaats dink sy is ’n freak omdat sy nie weet wie die Curriebeker-eindstryd gewen het nie. Of omdat sy nie tyd kry om te gaan fliek of rugby op Loftus te kyk nie. Sy gebruik eerder haar sakgeld om ’n nuwe CD van Mozart of Vivaldi te koop en haar in hulle meesterlike werk te verlustig as om haar tyd met egosentriese sportsterre op te hou.

Sy gee ook nie om watter matriekseun die lekkerste soen of vry nie. Sy wil eendag ’n seunsvriend hê wat saam met haar liries raak oor komponiste soos Mozart, Bach of Metner.

Terwyl Donna oefen, juig die matrieks in Hatfield se klubs en strate tot vroeg die volgende oggend.

Vivat academia! Vivant profespres!

***

Dit is Saterdagoggend.

Die Museion wemel van kandidate wat vir die Concervatoria da Firenze-beurs wil kwalifiseer. Donna Verhage, geklee in ’n bloedrooi skepping wat haar fyn, vroulike kurwes aksentueer, sit in die voorste ry saam met al die ander kandidate. Sy het met haar eie motor gekom, want sy wou vroeg daar wees om haarself ten opsigte van die klavier, akoestiek en gehoorsaal te oriënteer. Haar ouers sal netnou opdaag. Hulle het belowe hulle sal kom.

Die hooforganiseerder stel professora Signora Clari aan die woord. Sy praat kort en saaklik. Die kompetisie kan begin.

Donna se hande rus knus in wolhandskoene op ’n warmwatersak op haar skoot. Aandagtig luister sy hoe ’n jong pianis van Mamelodi die Klavierkonsert nr 1 in E mol majeur van Liszt foutloos speel. Hy is baie goed. Maar sy is beter.

“Donna Verhage!” roep die aankondiger.

Sy sit die warmwatersak eenkant neer en trek haar wolhandskoene uit. Sy haal diep asem, staan op en stap fier en regop verhoog toe – nes ’n ware konsertpianiste.

Sy sien haar ouers tussen die ander gesigte in die gehoor, glimlag vir hulle en kry ’n warm gevoel om haar hart. Haar dierbare ouers wat haar deur al die jare getrou aangemoedig het, is hier om haar te ondersteun.

Sy buig vir die beoordelaars, trek die musiekstoeltjie uit, verstel die hoogte en gaan sit. Sy hou haar hande oor die klawers asof sy ’n seën daaroor uitspreek. Sy begin Beethoven se Klavierkonsert nr 4 in G Majeur, Opus 58 te speel. Sy buig vooroor en speel elke beweging met entoesiasme en oorgawe. Allegro moderato. Andante con moto. Rondo. Vivace. Sy gee alles wat in haar is.

Toe sy haar hande grasieus van die klawers af lig, opstaan en buig, weet sy: Donna Verhage het die beste uitvoering van haar lewe gelewer.

Sy kom stadig orent, kyk op en sien hoe haar pa en ma haar staande toejuig.

Daarna kom nog drie kandidate aan die beurt. Hulle is almal baie goed, maar Donna weet in haar binneste: sy was die beste.

Uiteindelik breek die oomblik van waarheid aan. Donna sit op die punt van haar stoel, haar hande oor haar bors gekruis.

Die pianis van Mamelodi word as die wenner van die klavierafdeling asook die algehele wenner van die kompetisie aangewys.

Oukei. As sy nie eerste is nie, is sy beslis met ’n kortkop tweede.

Donna Verhage hou haar asem op – en wag. Haar naam word weer nie uitgelees nie. Sy is nie derde, vierde of vyfde nie. Wasbleek en verslae staar sy oor haar uit. Daar moet beslis iewers ’n baie groot fout of misverstand wees. Sy voel hoe die trane van teleurstelling agter haar ooglede brand. Was al die jare se selfopgelegde ballingskap tevergeefs? En al die tyd, moeite en geld?

Sy voel leeg. Dolleeg.

Asof in ’n droom hoor sy hoe haar pa en ma haar probeer troos en haar om die beurt styf teen hulle vashou. Sy ruk los en roep tussen haar trane deur. “Verstaan julle nie!” skree Donna buite haarself van teleurstelling. “?k wou Italië toe gegaan het! Hoekom het julle nooit vir my gesê dat ek ’n mislukking is nie?”

“Jy is nie ’n mislukking nie! Jy is ’n wenner,” sê haar ma.

“Jy sal altyd die beste wees,” kom dit van haar pa.

Donna krimp ineen asof haar wind uitgeslaan is. “Uughhh,” kreun sy. “Gaan huis toe. Asseblief. Ek wil alleen wees.” En met dié woorde gryp sy haar warmwatersak en handsakkie en hardloop holderstebolder uit die gebou tot waar haar motortjie geparkeer staan. Hoe gouer sy hier kan wegkom, hoe beter. Sy sluit die motordeur oop, klim in en jaag soos ’n besetene Hatfield toe. Sy wil vergeet van wat so pas gebeur het. Dis of sy wil opmaak vir alles wat sy tot dusver verbeur het. Van nou af, besluit sy, gaan sy elke oomblik geniet. Fok die klavier. Fok die ure se oefeninge. Fok haar droom. Fok haar ouers.

Sy ry straat op en straat af in Hatfield. Sy weet nie eens waar om na ’n klub te begin soek nie. Dan sien sy ’n aantreklike kaalkop man met tatoeëermerke op sy kaal bolyf en biseps. Hy staan voor ’n helderkleurige gebou. Sy ry stadiger sodat sy hom beter kan sien. Dis asof hy haar begogel met sy spits bokbaardjie, smal snorretjie en selfversekerde houding. Sy frons. Hoekom lyk hy so bekend? Hoe langer sy na hom kyk, hoe sekerder is sy dat sy hom al voorheen gesien het. Waar was dit? By musiekkonserte? Eisteddfods?  

Hulle oë ontmoet.

Die kaalkopman glimlag.

Sy glimlag terug.

Hy wink haar nader en beduie waar om te parkeer. Sy knik en maak nes hy beduie, asof hulle ou vriende is. Sy sluit haar motordeur en stap reguit na hom toe. Dit pla haar nie eens dat sy helder oordag met ’n aandrok in Hatfield stap nie.

“Hi Donna!” groet die kaalkop man met sy diep, vriendelike stem.

Verbaas staar sy hom aan. “Hallo. Hoe ken jy my naam?”

“Almal ken Donna die konsertpianiste,” antwoord hy en sy weet nie of hy spot en of hy ernstig is nie.

“Pasop vir vrypostige mans,” hoor sy haar ma se waarkuwende stem in haar gedagtes. Sy skud haar skouers asof sy alles wat sy by haar ouers geleer het, met mag en mening van haar wil afskud.

“Onthou jy my nie?” vra hy, slaan sy arm besitlik om haar skouers, en maak die klubdeur oop, alles in een beweging.

“Jy lyk bekend. Maar dis al,” antwoord sy.

“Stap maar in, skone dame!” roep hy, buig galant en druk haar hand teen sy lippe.

Donna kan nie agterkom of hy spontaan is en of hy net loslyf is van te veel drankies nie. Sy glimlag skalks en stap saam met hom die skemer, rookgevulde klub binne.

Sy voel soos Rip van Winkel wat na jare se diepe slaap uiteindelik wakker geword het. Dit is asof sy vir die eerste keer ’n jong meisie van agtien is. Alles lyk nuut en wonderlik: die jazzband; die paartjies wat aan mekaar hang. Die draaiende diskoligte. Als. Haar oë gly oor die ander jongmense wat lag en gesels terwyl flitsende diskoligte groteske skadu’s oor hul gesigte gooi.

“Dink ’n bietjie,” hou die kaalkop man vol. “Ek is seker jy weet wie ek is.”

“Ek is jammer, maar ek ken jou nie.”

“Ek is Errol,” antwoord hy.

“Errol?”

“Errol Benade.”

“Errol Benade,” herhaal sy. Die frons tussen haar oë word dieper. “Iewers lui ’n klokkie, maar ek weet regtig nie wie jy is nie.”

“Ek glo dit nie. Ek was hoofseun én kaptein van die eerste rugbyspan toe jy die Sanlam- klavierkompetisie gewen het. Ons het saam op die voorblad van die skoolkoerant gepryk. Onthou jy nie?” vra hy geskok en afgehaal. “My span het daardie jaar die Presidentsbeker verower. Ek was speler van die reeks.”

“O ... oooo,” antwoord Donna verleë en voel hoe ’n rooi gloed teen haar nek en gesig opkruip. “Ek is jammer. Ek ... ek ... het net klavier geoefen en nie tyd vir iets anders gehad nie.”

“So het ek agtergekom,” antwoord Errol terwyl hy haar na ’n tafel in die agterste hoek stuur waar ’n groep jongmense sit en rook en drink. “Sê hallo vir Donna, die konsertpianiste!”

“Hi!’ groet hulle haar met leepoë en sleeptonge.

“Daar ís lewe na musiek, weet jy?” sê Errol en trek ’n stoel vir haar uit. Hy wink ’n kelner nader, fluister iets in sy oor. “Vandag gaan ek jou wys waaroor die lewe gaan.”

“Oukei,” antwoord sy onverskillig.

Na ’n rukkie staan die kelner voor hulle met ’n skinkbord en twee glase. Errol neem die glase, gee vir Donna een, en toe klink hy sy glas met hare.  

“Cheers!” eggo sy en klink sy glas.

Na die eerste sluk voel sy sag en warm. Hulle dans op maat van vreemde musiek op ’n piepklein verhogie tussen ander jongmense, wat elkeen op ’n eie missie is. Sy giggel toe sy Errol se warm asem in haar nek voel.

Hulle gaan sit en Donna neem nog ’n sluk uit die glas. Die klub begin in konsentriese sirkels om haar kop te draai. Sy voel hoe Errol sy hand onder haar rok inbeweeg en gee nie ’n moer om nie. Té lank het sy haarself van al hierdie dinge weerhou. Sy gee haar oor aan sy liefkosings. En geniet elke oomblik daarvan. Na die derde sluk van die drankie weet sy nie waar sy is of wie sy is nie.

Sy het so pas haar verhouding met haar klavier en ouers vernietig.

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.     

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top