Verse vir spreeusterftes en vertroosting

  • 0

Die week in woorde

Terwyl ek in Australië gewoon het, het ek ’n poësie-slypskool bygewoon wat deel gevorm het van die Brisbane Writers’ Festival. Die slypskool het my nie veel geleer wat ek nie reeds geweet het nie, maar die aanbieder, Felicity Plunkett, het wel iets kwytgeraak wat my nou nog bybly. Sy het hardop gewonder waarom mense poësie skryf, en haar eie retoriese vraag daarna probeer antwoord met ’n staaltjie: Sy was in Londen gedurende die tyd toe prinses Diana dood is. Sy sê dit was vir haar opvallend om tussen al die teddiebere, rose en kerse wat mense voor die paleis gaan neersit het, ook verskeie gedigte deur amateur-digters te sien. Nie opstelle nie, nie artikels nie, nie hoofstukke van hul opgepubliseerde romans nie.

Volgens Plunkett keer ons outomaties na poësie wanneer ons vertroosting soek.

Die storie het my vanoggend weer bygeval toe ek halfvyf wakker word van ’n luide geritsel uit die kartondoos langs my bed. In die kartondoos langs my bed slaap die drie klein voëltjies wat ek Maandag gered het nadat hulle nes uit ’n boom geval het. By nadere inspeksie vind ek die kleinste enetjie, die een met die pap nekkie, midde-in ’n vreeslike stel stuipe. Sy slap nek agteroorgetrek, bene ongemaklik uitgestrek, duidelik aan die doodgaan. Ek het die baba onder ’n warm lamp probeer bybring met druppeltjies water en klein happies louwarm pap; ek het sy vlerkies met ekstra-sagte toiletpapier drooggevryf; ek het sy nek probeer stabiliseer en die stuipe probeer stopsit, maar dit was vergeefs. Na twintig minute is die voëltjie in my handpalm dood.

Gedigte word gebore omdat daar nie in gewone taal ’n manier is om te sê hoe dit voel as ’n klein spreeutjie se laaste asem teen jou palm aanslaan nie. Omdat daar nie gewone woorde is om te verduidelik waarom mens kan voel asof jy lief is vir ’n spreeu wat nog net ’n paar dae deel van jou lewe is nie. Omdat die dood van ’n spreeu vir een oggend soos die hele wêreld se verlies kan voel.

Ek dink Plunkett is reg. Ons soek verse wanneer ons vertroos wil word, wanneer ’n duisend verskillende spreeus op ’n duisend verskillende maniere om ons doodgaan.

Mag ons spreeus in vrede rus en ons verse vlerke kry.

Voorgeskrewe leesstof

Felicity Plunkett se gedig "The Negative Cutter: An Introduction to Editing"

Wallace Stevens se gedig "Thirteen ways of looking at a Blackbird"

Marianne Moore se gedig "A Grave"

Anne Michaels se gedig "Ice Hosue" oor die dood van Robert Scott

Poets.org se reeks uittreksels uit voëlgedigte, Thirteen Ways of Looking: Poems About Birds.

 

Met ander (se) woorde

Willie Burger het ’n fantastiese speech oor die romankuns gemaak by die prysuitdeling van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd nou die aand. Onder andere het hy vir Milan Kundera aangehaal; as ek reg geluister het kom die aanhaling uit The Art of the Novel. Kort en kragtig:

Op my bedkassie

Ek lees tans The Orphan Master's Son deur Adam Johnson. Ek is nou eers halfpad, maar tot dusver kan ek dit beslis aanbeveel.

Ek het ook ’n eksemplaar van Koos Oosthuysen se bundel Twintig verse in vertaling op my bedkassie. Fantastiese bundel vir enigiemand wat belang stel in die Suid-Afrikaanse digkuns waarvan hulle nie noodwendig die taal kan verstaan nie. Lees hand aan hand met die bundel Met woorde soos met kerse.

Poësie in die nuus

Die digter Wessel Pretorius is verlede week oorlede. Johann de Lange en Joan Hambidge het gedigte oor hom geskryf wat op LitNet verskyn het.

En vandeesweek is daar ’n resensie oor De Lange se jongste bundel, Vaarwel, my effens bevlekte held, op LitNet.

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top