Willie Esterhuyse se boek, Eindstryd: Geheime Gesprekke en die Einde van Apartheid (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 367p, R225; daar is ook ’n Engelse weergawe, Endgame), het verlede maand verskyn, maar het min reaksie ontlok. Op die omslag word die boek deur Jan-Jan Joubert, Ruda Landman en Dumisani Kumalo aanbeveel. Om belangstelling in die boek aan te wakker, is daar pas ’n onderhoud met die outeur gepubliseer (Die Burger, 11 Mei, p 11), opgevolg met uittreksels uit die boek (By, 12 Mei, p 4). Hierdie skrywe handel oor algemene en dalk minder belangrike aspekte van die boek. In my volgende skrywe sal die kern van hierdie saak aangespreek word. [Om ruimte te bespaar, gee ek elke keer meesal net ’n enkele bladsyverwysing. As ’n woord of frase herhaaldelik voorkom, word die bladsyverwysing met "bv" voorafgegaan.]
Met verwysing na die nuwe Suid-Afrika is daar in die onderhoud, soos verwag kon word, sprake van bevryding, geregtigheid, vrede, hoop, optimisme en selfs "dat die onmoontlike moontlik is." ’n Foto toon die outeur met die aktetas wat hy van die destydse regering se Nasionale Intelligensiediens (NI) ontvang het. Op die boekomslag is daar ’n foto van Thabo Mbeki en van Esterhuyse met ’n donker bril. Die aktetas en die donker bril kan deur assosiasie beelde oproep soos: ’n Geheime agent uit die Karoo? Ons eie Boere-007? Fliekmateriaal?
Die boek handel veral oor die verkennende gesprekke wat Mbeki en Esterhuyse, asook ander mense (Esterhuyse se span word "lede van die Afrikaanse ’binnekring’" genoem), van 1987 tot 1990 oor die Suid-Afrikaanse situasie gevoer het. Hierna het regstreekse onderhandelings oor ’n grondwetlike skikking tussen die ANC en die Suid-Afrikaanse regering gevolg. Die uiteindelike resultaat was die politieke magsoorname van die ANC in Suid-Afrika. Die teks help die leser om aspekte van die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrika te verstaan en dus ook wat hy nou daagliks plaaslik ervaar. Kodesa en die grondwet word nie bespreek nie; ook nie die nuwe Suid-Afrika in sy intenserwordende brutaliteit nie.
Die boek het twee dekades na die gebeure verskyn. Intussen is van die betrokkenes oorlede. Dit het dit vir die outeur makliker gemaak om oor hulle te skryf en "aan te haal" wat hulle gesê het. Maar dit gee aan Esterhuyse bowenal die voordeel van (kreatiewe) nabaat, bv: "Ek neem my voor om Mbeki te vra ... hoe ’n swart meerderheidsregering oor Afrikaners se simbole, standbeelde en benoemings van dorpe en straatname gaan dink. Maar ek laat na om hom dié vrae te vra" (p 173). Die outeur verwys self na sy "terugskouende vertolking" (p 349). Esterhuyse beweer telkens dat hy destyds dit of dat gedink het en ook bv: "Ek snap onmiddellik" (p 159). Die bedoeling of die gevolg kan selfbevorderend wees. Wat só beweer word, is uiteraard onverifieerbaar.
In die onderhoud word verwys na ’n nota wat Mbeki in Afrikaans geskryf het waaroor Esterhuyse "’n bietjie sentimenteel" is. Later sê Esterhuyse: "Ek is nie iemand wat baie sentimenteel is ... nie." Hieruit kan die leser aflei dat Esterhuyse pro-Afrikaans is. Nêrens in die boek is daar egter ’n aanduiding dat Esterhuyse ernstig oor die status van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika besin het nie. Die naaste wat daaraan gekom word, is: Nelson Mandela "oorrompel my weer eens met sy wellewendheid en sy erkenning vir Afrikaans" (p 346); iets waarby Afrikaners deesdae nie baat nie. By ’n ander geleentheid het Mandela ’n pro-swart maar anti-wit gedig van Ingrid Jonker (p 95), Die kind, om politieke redes misbruik, maar politiek-korrektes verkies om dit as ’n erkenning van Afrikaans te vertolk.
Esterhuyse was ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch en het in 1987 uit die Broederbond bedank. Nogtans het die NI hom in dieselfde jaar gevra om voelergesprekke met lede van die ANC te voer. Esterhuyse het getrou aan die NI verslag gedoen en hulle opdragte uitgevoer. Hy het ’n koerier (p 180) of superbode geword. Diegene wat as deel van sy afvaardiging aan die gesprekke deelgeneem het, het gewissel, maar hulle was (feitlik) uitsluitlik Afrikaanssprekendes. Daarom praat Esterhuyse van die "Afrikaner-ANC-gespreksgroep" (bv p 115). Na die eerste van hierdie byeenkomste was Mbeki deurgaans lid van die ANC-span.
Uit die teks kan afgelei word dat daar gekonkel is en dat baie op hoorsê en skinderstories berus. Van regeringskant af het die outeur vir inligting op bv sy student Dawie de Villiers en van die ANC se kant af natuurlik op Mbeki gesteun (kyk bv p 338, nota 5). Alles was nie altyd eerbaar of eties, dus soos "Karoo-ordentlikheid" (p 32), nie. ’n Enkele voorbeeld: Esterhuyse het ’n verklaring oor hulle ontmoetings met die ANC (wat veronderstel was om geheim te wees) uitgereik: "Die rektor van die Universiteit van Stellenbosch, professor Mike de Vries, was in geen stadium by die bespreking betrokke nie" (p 241). Dit is doelbewus misleidend, want die enigste rede waarom De Vries nie daar was nie, is omdat inligting oor die byeenkoms vooraf uitgelek het. Esterhuyse het toe aan De Vries die wenk gegee om weg te bly (p 229). In dieselfde verklaring beweer Esterhuyse dat hy en sy mede-afgevaardigdes "namens onsself en namens niemand anders nie" aan die gespreke deelneem (p 241), terwyl hy natuurlik ’n NI-instrument was en ook oor daardie byeenkoms aan die NI verslag gedoen het (p 243). In die verklaring is daar ook die halwe waarheid dat Esterhuyse "nie lid van die Broederbond" is nie (p 241). Dit moes eerder gelui het: "sedert onlangs nie meer lid ... ."
Die boek is opgedra aan die outeur se vrou wat hom "polities vooruit" was (p 5). Dit beteken dat sy nie net meer verlig nie maar ook vroeër as haar man ANC-gesind geword het. In Londen het sy aan Mbeki gesê: "Ek gaan by die ANC aansluit" (p 170). Hulle dogter het by daardie geleentheid, nadat Mbeki vertrek het, gesê: "Thabo Mbeki kan tog nie ’n terroris wees nie" (p 170). In werklikheid het Mbeki militêre opleiding in die Sowjet-unie ondergaan (p 115). Daarna was hy in ’n leidende hoedanigheid betrokke by pogings om die Suid-Afrikaanse regering geweldadig omver te werp. Maar Esterhuyse wou spesifiek in Mbeki se geval "die konstruk van ’terroris’ ondermyn" (p 142). Die egpaar Esterhuyse was die eerste hoofde van die eerste universiteitskoshuis vir nie-wittes op die kampus (p 189); ’n diens wat hulle blykbaar nie geroepe gevoel het om aan wit studente te lewer nie.
Die teks bevat ander persoonlike inligting was as onnodig beskou en as selfkoesterend vertolk kan word, soos dat mev Esterhuyse ’n doktorsgraad in wiskunde verwerf het (p 96); dit is ook in die koerantonderhoud bygehaal. Die leser word herhaaldelik ingelig dat die outeur op 19 Augustus verjaar (p 77, 141, 217). Ek het dié datum dus maar as "Williedag" in my dagboek aangeteken. Hy beweer dat hy nie lid van die ANC is nie (p 347), maar sy eensgesindheid met die ANC blyk feitlik deurgaans uit die teks. Mbeki was vir hom die verpersoonliking van die ANC. In die onderhoud verwys hy na die feit dat hy Mbeki se "pryssanger" genoem is. Dit is eintlik slegs oor die ANC van die na-Mbeki-era dat Esterhuyse hom in die laaste hoofstuk krities uitlaat; sekerlik deels vanweë lojaliteit jeens sy vriend Mbeki, maar ook omdat al hoe meer eens oorverligtes deesdae kritiese geluide begin maak.
Die outeur se emosies kom ook ter sprake. In die onderhoud word verwys na hoe "gespanne" Esterhuyse tydens sy eerste ontmoeting met Mbeki was. Later het hulle in Londen op televisie saam na Mandela se vrylating uit die tronk gekyk: "Ek is nie iemand wat ... baie maklik trane in my oë sal kry nie, maar dáái was ’n oomblik van trane." By ’n ander geleentheid het Esterhuyse en Enos Mabuza oor swart-teen-swart geweld gehuil (p 86). Swartes se geweld teen wittes raak hom blykbaar nie in dieselfde mate nie (p 287). Esterhuyse was by allerhande geleenthede "stom van verbasing" (bv p 171), "stomverbaas" (bv p 233), "verstom" (bv p 262), of "geskok" (p 193). Soms was daar "angs" by hom (p 195). "Ek bewe letterlik van opgewondenheid" (p 195). ’n Vraag "het my yskoud laat skrik" (p 263). Hy ervaar selfs "politieke bomskok" (p 168), ens.
Heel aan die begin van sy betrekkinge met Mbeki het Esterhuyse aan hom bely dat hy deur die NI gestuur is en dat hy aan die NI rapporteer (p 122). Elders het ek gelees dat Esterhuyse ook spoedig aan Mbeki te kenne gegee het dat hy eerder ANC- as regeringsgesind is. Dit was heel moontlik die begin en is dalk steeds die grondslag van hulle vertrouensverhouding en vriendskap. Daardie ander groot vriendskap tydens die grondwetlike onderhandelings, dié van Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa, het dieselfde paadjie geloop. Soos Esterhuyse was Meyer ANC-gesind. Meyer het later ANC-lidmaatskap aanvaar (p 347). Esterhuyse en Meyer was vir die ANC die spreekwoordelike nuttige idiote. Esterhuyse: "Die ANC sal my nie vermoor nie. Hulle het belang by my oorlewing" (p 30). Tussen albei pare is krisisse ontlont deur meningsverskille uit die weg te ruim.
Dit is nie so lofwaardig soos wat voorgehou word nie, want dit was die ANC wat (feitlik) deurgaans voet by stuk gehou en sy sin gekry het. Van "die noodsaaklikheid van ’n gesindheid van gee-en-neem" (p 129) het bitter min tereggekom. Toegewings het eintlik van een kant af gekom, want die veronderstelling was dat die een kant (die swartes) reg en die ander kant (die wittes) verkeerd het. Wittes kry selfs vir korrupsie die skuld. In die woorde van Mbeki: "Bevryding van ’n diktatorskap [eintlik: diktatuur] bring noodwendig [!] ook korrupsie mee" (p 166). Hierdie negatiewe gesindheid teenoor wittes en die gevolglike toegewings het tot die ondergang van die ou Suid-Afrika, wat in baie opsigte ’n beskaafde Westerse land was, gelei. Die aanname dat swartes reg het, het in die nuwe Suid-Afrika tot onverbloemde rassediskriminasie teen en benadeling van wittes gelei. In die praktyk impliseer die frase "politieke korrektheid" dat een groep (die swartes) reg het. Dit is ook die dinamo van swart bemagtiging, regstellende aksie en transformasie. Die "speelveld" word ongelyk gemaak sodat swartes "op gelyke voet" kan meeding.
In Namibië het die Suid-Afrikaanse regering bv toegegee: "Die Kubane hoef nie eers te onttrek alvorens oor vrede onderhandel word nie" (p 110). In Suid-Afrika is aanvanklik daarop aangedring dat die ANC geweld moet afsweer voordat met onderhandelings begin word (p 214). Maar ook op hierdie punt is toegegee. Mbeki se sluwe argument was: "Ons hoef nie vrede te hê om oor vrede te praat nie. ’n Mens praat juis oor vrede omdat daar nie vrede is nie" (p 248). Dan vervolg Mbeki met wat Esterhuyse ’n "baie oortuigende argument" noem: "As die ANC toegelaat word om soos enige politieke party te funksioneer, sal die geweld ook hanteer kan word" (p 248-249). [’n Mens vra jou af: Word geweld in die nuwe Suid-Afrika bevredigend hanteer?]
Die gevolg was ’n fatale "glybaan" (p 294), want elke keer as die ANC nie sy sin gekry het nie, het hy (of kon hy) die regering met die hervatting van sy geweldadigheid (suksesvol) afdreig. Aanvanklik wou die regering die ANC-kommuniste van die onderhandelings uitsluit (p 254), maar ook hieroor is toegegee. Volgens Mbeki is die ANC "nie kommunisties of sosialisties nie, maar in wese sosiaal-demokraties" (p 266). Die ANC het ’n "vetoreg gevestig" (p 47) "oor wat in Suid-Afrika kan en moet gebeur" (p 168). Nog voorbeelde van toegewings is die reuse protesoptog in Kaapstad wat deur FW de Klerk toegelaat pleks van verbied is (p 218), die rebellekriekettoer wat afgelas is (p 264) en Mandela wat na sy vrylating hom aangematig het om president De Klerk te gebied dat hy hom dadelik wou spreek (p 346).
Die ANC het nie geweld afgesweer nie. Later was daar hoogstens ’n "tydelike opskorting van die geweldsopsie" (p 166, ook p 288). Die apartheidstaat het volgens die ANC die geweld begin en Oliver Tambo het geweier om ANC-geweld te veroordeel (p 143). Mandela het gesê: "Let him [PW Botha] renounce violence." Esterhuyse noem dit ’n "politieke doodskoot" (p 73). ANC-geweld, insluitende aanvalle op sagte teikens, het herhaaldelik plaasgevind. In 1985 het Tambo bv ’n oproep gedoen dat "die stryd na wit woonbuurte geneem moet word" (p 87). Al soort verontskuldiging waarmee Mbeki vorendag gekom het, is: "Aanvalle op sagte teikens is nie beleid nie" (p 143). In die boek word Mbeki deurgaans voorgestel as eerder ’n onderhandelaar as ’n geweldenaar. Tog is dit duidelik dat hy sowel onderhandeling as ANC-geweld onderskryf het.
Walter Sisulu het na sy vrylating selfs beweer: "The ANC has consistently [!] throughout its history been committed to the politics of peace and negotiations" (p 248). [In Mandela se outobiografie word vertel hoe hierdie einste Sisulu deur Mandela na China gestuur is om wapens in die hande te probeer kry (p 184).] Selfs halssnoermoorde sou nie deur die ANC-leierkorps in die openbaar afgekeur word nie (p 124). Die ANC wou ook nie die regering oor onderhandeling nader nie; dit is die regering wat die ANC moet nader (p 64, 174). Myns insiens kom hierdie houding neer op arrogante vermetelheid. Esterhuyse verwys egter na "die ANC se redelikheid" (p 115). Hierdie front van onskuld kom ook in die gedrag van indiwidue voor: ’n Nie-witte het Esterhuyse onverdiend as ’n "racist pig" uitgeskel. Sy het nie verskoning gevra nie, maar "ek vra háár om verskoning" (p 97). Volgens Mbeki is dit egter wittes wat ’n program van heropvoeding nodig het (p 150).
Kritiese lesers sal fyn oplet na Esterhuyse se woordkeuse. Die Botha-regering word telkens ’n "regime" genoem (bv p 23); selfs ook die Thatcher-regering (p 116) as daar nie na die ANC se pype gedans word nie. Die Suid-Afrikaanse regering het hom vanselfsprekend teen die aanvalle van terreurbendes vanoor sy grense en teen binnelandse oproer en onrusstoking verset, maar Esterhuyse skryf van "die Suid-Afrikaanse regering se mite van ’n bloeddorstige vyand" (p 43). Hulle is glo nie terroriste nie maar "vryheidstryders" (p 75). In sy vorige boek tipeer Esterhuyse die NG-Kerk op Laingsburg telkens as die "Klipkerk". In sy jongste boek word die Botha-regering en sy veiligheidsmagte die "ystervuis" genoem (bv p 38). Dit word nie ’n oorlog teen terroriste genoem nie, maar ’n "burgeroorlog" (bv p 131). In ’n oorlog word mense gedood, maar Esterhuyse gebruik telkens WVK-taal: ANC-aktiviste word "vermoor" (bv p 39). Dalk net ’n enkele keer erken hy dat die ANC moorde gepleeg het wanneer hy skryf oor "geweld en moordbendes aan albei kante" (p 181).
Apartheid word ’n "politieke én morele sistemiese euwel" (p 121) genoem. "Apartheid was net ’n ander vorm van kolonialisme en imperialisme" (p 187). [Imperialisme? Walvisbaai?] Iedere skuif van die regering wat nie oorgawe aan die ANC bevorder het nie, word getipeer as te laat of dwaas of futiel. Esterhuyse komplimenteer die ANC egter graag met bv "perfekte tydsberekening" (p 212) of ’n "briljante politieke skuif" (p 216). "Die ANC is in die eerste plek nie ’n terroriste-organisasie nie, maar ’n politieke beweging" (p 129). By geleentheid is die ANC getipeer as ’n "civilised and cultured group of people" (p 138). Daar is talle verwysings na die "nalatenskap van apartheid" (bv p 258), maar geen enkele vermelding van die nalatenskap van terrorisme, bv die geweldsindroom wat tot op hede voortduur, nie.
By Esterhuyse is daar geen poging om ’n objektiewe, wetenskaplik-verantwoordbare teks te skryf nie, bv: "Die historiese ontmoeting tussen president PW Botha, die Groot Krokodil van die regime, en Nelson Mandela, die Groot Ikoon van bevrydingsdrome in die wêreld, vind plaas op 5 Julie 1989" (p 206). "’n Konvooi van motors, vyf in getal, bring die Groot Ikoon die terrein binne om die Groot Krokodil te ontmoet" (p 207). ’n Foto word geneem: "Die leier van die apartheidstaat, in die persoon van die Groot Krokodil, staan saam met die Groot Ikoon van die bevrydingsbeweging, Nelson Mandela, op dieselfde foto" (p 209). [Let daarop dat Botha, anders as Mandela, in die laaste sin nie eens by die naam genoem word nie.]
Let op hoe die outeur indiwidue tipeer. Ek verwys eers na diegene uit die vorige politieke bedeling, wat meesal negatief voorgestel word, en daarna na lede van die ANC, wat deur Esterhuyse positief voorgestel word. PW Botha is "verlief op mag ... ook polities arrogant" (p 108). Hy is "smoorverlief op mag" (p 177). Botha het ’n "obsessie met mag en publisiteit" (p 193). Hy was ’n "oorentoesiastiese partyorganiseerder" en hy het nie "denk-elastisiteit" nie (p 177). Telkens word Botha as "halsstarrig" getipeer (bv p 169). Hy is die "’vader’ van die gemilitariseerde stelsel" (p 181).
FW de Klerk word aanvanklik ’n "bedrewe en deurwinterde politieke strateeg" genoem (p 178). "Hy is nie net ’n goeie spreker nie, maar ook iemand wat die reëls van die logika baie beter bemeester het as PW Botha" (p 188). "Die politiek was in sy bloed en hy stam van leiers af" (p 250). ["Leiers" verwys na Jan de Klerk, FW se pa, wat deur sy swaer, JG Strijdom, as minister aangestel is al was hy toe nog nie eens ’n politikus nie. Daarna was daar ’n gebrom oor nepotisme omdat dit iets is wat ’n land duur te staan kan kom.] Esterhuyse beweer "dat Willem de Klerk intellektueel sy broer se meerdere was" (p 191). Oor FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990 skryf Esterhuyse: "Dis ’n keerpunt in ons land se geskiedenis, al weet ons nie wat dit alles sal behels nie" (p 262). Later: De Klerk se "vermoë om die skikkingsproses te bestuur, is aan die inkalwe" (p 295). "De Klerk was militêr ontman en sonder bedingingsvermoë" (p 299). [Twee aanvullende perspektiewe: André P Brink meld in sy outobiografie De Klerk se "drang om mense ter wille te wees" (p 144) en twee keer verwys hy na sy "geslepenheid" (p 441). Izak de Villiers skryf in sy outobiografie De Kerk het "volgens my waarneming nie eens geweet wat hy aan die bestuur was nie ... die ANC het met hul dreigemente en aksies en charteristiese aanvalle op alle fronte die kitaar geslaan (p 205).]
Nelson Mandela was volgens Esterhuyse "die wêreld se mees geliefde politieke gevangene" (p 270). Hy is ’n "meesterlike oorrompelaar" (p 94-95), ’n "passievolle politieke omvormer" (p 208) en "die sjarmante en eg menslike leier" (p 340)."Hy tree soos ’n visionêre leier op. ’n Moses-figuur" (p 175). "Sy lang verblyf in die tronk en sy arbeid op Robbeneiland het sy hande en sy lyf hard gemaak, maar nie sy hart nie" (p 74). "Mandela is sy ware self: Vredesoeker; versoener; gematigd; nie-rassig" (p 272). Maar Mandela was in werklikheid ook die inisieerder, stigter en eerste hoof van Umkhonto weSizwe (MK), die militêre of geweldsafdeling van die ANC. Let op hoe Esterhuyse hierdie feite oor die vredesikoon verdoesel: "Hy het wel ’n hoë posisie in MK gehad" (p 238).
Mbeki is "intelligent, welbelese en wydberese" en hy het ’n "sjarmante en beheersde persoonlikheid" (p 120). "Mbeki is sy sjarmante self, netjies soos altyd" (p 261). Hy het ’n "skerp analitiese vermoë" (p 125) en "hy praat beredeneerd en baie logies" (p 164). "Mbeki was tydens ons gesprekke nooit anti-Afrikaner nie" (p 165). Hy is vir Esterhuyse "die soort mens ... wat ek bereid sal wees om met my lewe te vertrou" (p 142). "My hart gaan uit na Mbeki ... Ons twee het mekaar nodig" (p 160). Hieroor is daar ’n rolprent, Endgame (2009), gemaak (p 321).
Desmond Tutu en Allan Boesak is "gerespekteerde kerkleiers" (p 39), "charismatiese leiers" (p 107). "uiters bekwaam en leiersikone in eie reg. Nie revolusionêre militantes nie" (p 219). Boesak is ’n "begaafde en charismatiese leier" (p 79). Oliver Tambo is ’n "gematigde" ANC-leier (p 41). Maar dit is hy, soos hierbo genoem, wat sagte teikens in blanke woonbuurte wou aanval en die geweldadige UDF ’n "uitstaande voorbeeld van die ’political maturity of our people’" genoem het (p 133). Chris Hani is "’n hoogs intelligente en charismatiese persoon" (p 112), ens.
Teen bogenoemde agtergrond skryf ek volgende keer oor die kern van hierdie saak.
Johannes Comestor


Kommentaar
Dag Johannes,
ek krap nie deur die skrootwerf van toesprake van die ou Afrikanerleiers nie, lank na alle analises van alles wat gesê en gedoen is, bly slegs een waarheid vir my oor. 'n Volk sonder grond is nie 'n volk nie en gaan nooit een wees nie. My mening is dat die Afrikaner se absolute laaste kans om te oorleef as 'n volk het gerus daarop dat hulle met 'n stukkie van die RSA se grondgebied uit die vergaderings kon stap. Mandela was daar om te sien hoeveel grond hy kon kry by De Klerk, hy het nie baie verwag nie. Hy kon sy asem nie terugkry toe De Klerk alles vir hom gee met 'n apologetiese "ag ek hoop tog ons kan maatjies wees' nie.
Johannes ek sien die Afrikaner uit 'n ander oogpunt. Ek is 'n Suidwester. Ek is nie 'n Namibiaan nia. Ek is nie 'n Suid-Afrikaner nie.Ek is van Joods-Duitse afkoms.My "ultimate" lojaliteit lê by Israel al het ek nooit daar gewoon nie. Slegs Jode sal daai een verstaan.
Die Afrikaner het twee keer my land opgeveil. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Afrikaner al my Oupa se grond afgevat. My familie was welaf Johannes, deur bitter harde werk. Al daai gronde is uitgedeel aan "teruggekeerde" Afrikaanse soldate.
Daarna was dit heel logies baie beter vir die Afrikaner om sy vyande in sy buurstate te beveg as op eie grond, daarom dus weereens 'n Afrikaner-oorlog in my land. Die Suidwester het geen sê gehad nie, wanneer die Afrikaner op enorme en fatale foute gewys is, is die uitwyser gewoonlik toegesluit of hy het uit sy eie land gevlug.
Onder Afrikaanse okkupasie is ons nie toegelaat om die vyand te beveg nie Johannes. Toe ons oorlog gemaak was dit effektief, so effektief dat dit vandag "Volksmoord op die Herero's" genoem word.
Al daai vreeslike veldslae wat oor brandewyn bespreek word is meestal bullshit. Ek was daar, die plekke wat die "grensvegters" so oor praat is plekke waarin ek grootgeword het. Bottom line, die Afrikaner se ontrekking uit my land was 'n teken van wat kom en die algemene Afrikaner het dit nie raakgesien nie.Net hul leiers het dit geweet. Die Afrikaner het my land oorhandig aan stamme uit Angola, die Vambo-stamme. Hulle kom uit Angola. Johannes, en hulle is baie. Die Afrikaner het dit geweet en het seker gemaak dat die Suidwester demokraties verslaan sal word deur die Angolese stamme wat hy die deur voor oopgemaak het.En dit was nie die einde nie, De Klerk het dieselfde ding aan die Afrikaner gedoen, so danksy die Afrikaner is daar nie meer 'n Suidwes nie en ook nie meer 'n Suid Afrika nie.
Maar hoekom is dit so? Elkeen wat wil 'n rede hê moet maar vir homself besluit. Ek sien dit so, slegs twee volke het ooit 'n verbond met G_d gesluit, Israel en die Afrkaner. Die Afrikaner het verbond verbreek.
Ek groet
Duitswester
Duitswester, jy het volle reg om kwaad te wees, maar wees kwaad vir die Afrikaner se leiers wat witpens gedraai het, moenie kwaad wees vir die Afrikaner nie. Baie Afrikaners is ook kwaad vir sy leiers wat verraad gepleeg het.
Oor die verbond met God, dit mag so wees dat die Afrikaner verbond gebreek het (Die enigste een waarvan ek weet is die een by bloedrivier, en hy het die verbond gebreek deur nie meer soveel betekenis aan geloftedag te koppel nie.). Maar hoeveel keer het die Israeliete nie verbond gebreek nie...so ek glo ons het nog nie die einde van die Afrikaner gesien nie.
Groete