Van Aardklop tot Amsterdam

  • 0

Op 12 Oktober is Paaie vir die deurtog (Litera, 2013) feestelik in Amsterdam ontvang. Dit is ’n Afrikaanse bundel van die gedigte van die Nederlandse digter Willem van Toorn, vertaal deur Heilna de Plooy. Paaie vir die deurtog is reeds einde September op Aardklop bekendgestel. Van Toorn het die middag in Het Vertalershuis geopen met die aankondiging: “’n Middag van Toeval”. Hy het spesiaal uit Frankryk daarvoor gereis. Du Plooy was op ’n deurtog Londen toe. Ander gaste, soos Eep Franken, het uit Leiden gekom. Die Amsterdamse digters wat bygedra het tot die middag se gemoedelikheid was Robert Anker, K Michel en Tom van Deel.

Dit is nie die eerste keer dat Du Plooy vertaalwerk van ’n digter uit die Lae Lande aanpak nie. In 1999 het ’n Pleidooi vir die Poësie by Protea verskyn. Dit was ’n dun boekie, ’n passievolle essay oor poësie van die Vlaamse digter, Eddy van Vliet. Van Vliet is intussen (2002) oorlede. Du Plooy het ’n Pleidooi vir die Poësie veral as dosent in haar poësieklasse aan die NWU gebruik. Ek het destyds die volle voordeel daaruit getrek. My perspektief op poësie het toe al verander in die rigting van hoe daar in Europa oor poësie gedink word.

Met haar vertaalwerk in Paaie vir die deurtog stap Du Plooy nou van teorie oor na poësie. In 2006 het sy die avontuur aangepak om Van Toorn se gedigte te vertaal, nadat Het Stuwmeer in 2004 by Uitgewery Querido verskyn het. Dit was ’n projek wat stuk-stuk gegroei het. Paaie vir die deurtog is egter nié ’n vertaling van die bundel Het Stuwmeer nie, maar bestaan uit vier siklusse en kom uit twee digbundels van Van Toorn. Uit Het Stuwmeer het Du Plooy die gelyknamige siklus van elf gedigte oorgeneem en uit De Hofreis (2009) het sy drie siklusse oorgeneem: “La cittá ideale”, “De Kunst der Fuge” en “De Hofreis”.Die Afrikaanse vertaalbundel is dus saamgestel uit twee Nederlandse digbundels wat vyf jaar uit mekaar verskyn het.

Ek het vir Heilna gevra waarom sy gekies het om reekse gedigte te vertaal.

“Reekse laat onder meer die narratiewe inhoud van liriese poësie na vore kom. Siklusse het die interessante ding dat daar ’n ontwikkeling in sit. Die verlede bly deurwerk in die hede. Maar daar is nog ’n rede waarom ek Van Toorn se werk gekies het – of eintlik twee redes. Sy taalgebruik is helder en eenvoudig. Hy slaag daarin om iets mistiek vas te vang in sy gedigte. Dit is asof daar meer lae in sy gedigte sit.”

’n Deuntjie van Laurinda Hofmeyr spring met hierdie antwoord in my kop: “Soms hoor ek onverwags weer agter jou gewone woorde 'n soveel suiwerder en sagter asemrowende geluid ...” Dit is ’n toonsetting van die gedig “Moment”van die Nederlandse digter, Jean Pierre Rawie. Hierdie woorde onderstreep vir my Du Plooy se soektog na ontglippende betekenis agter oënskynlik alledaagse woorde. Dit is iets wat haar in die poësie van Van Toorn, en veral in sy digbundel Het Stuwmeer, bekoor het. Hierdie vertalings is Du Plooy se sjarmante verset teen eenlagige gedigte.

Heilna du Plooy en Willem van Toorn lees om die beurt voor uit hulle bundels in Amsterdam: Paaie vir die deurtog, Het Stuwmeer en Die hofreis.

Vertaalwerk van Nederlands na Afrikaans is ook vir haar omdigting en ’n poëtiese proses: om te beweeg van ’n ouer taal se omslagtige seggingswyse na kort en kragtige Afrikaans. Soms bekoor ’n omruiling in woordgebruik tussen die twee tale Du Plooy, soos in die volgende voorbeeld: in Afrikaans bly ons op verskillende “plekke”, maar jy moet iets “ter plaatse” gaan doen. In Nederland bly mense op verskillende “plaatsen”, maar hulle moet iets “ter plekke” gaan doen. Die dubbele ontkenning in Afrikaans is nie vir Du Plooy ’n probleem nie. Sy sien dit eerder as ’n uitdaging en verplaas partykeer die tweede “nie” na ’n volgende reël. Soms het sy by ’n vreemde woord soos “platvink” in “De inpak”,die eerste gedig van “De Hofreis”-reeks, vasgesteek, maar dit was natuurlik haar werk as vertaler om sulke probleempies te oorbrug, en sy het uiteindelik by “ingeduikte heupfles” uitgekom.

Du Plooy het “De Hofreis”-reeks gekies om te vertaal vanweë die kontak daarin tussen verskillende kulture. Van Toorn vertel in verband hiermee: “Die kunstenaar Willem Snitker het in die Siebold-huis in Leiden vir my die verhaal vertel van die Nederlandse handelaars in Japan wat op die eiland Deshima gewoon het en wat een maal per jaar verplig was om die Sjogun te gaan besoek ter wille van goeie verhoudings. Lank gelede het die ek-karakter in hierdie reeks die meisie geken wat gekies is om keiserin te word. Sy kom uit sy geboortedorp. Hy was selfs bietjie verlief op haar. Nou is sy keiserin, afstandelik en onbereikbaar, en hy kan net woordeloos ’n paar oomblikke in haar teenwoordigheid wees. Hierdie verhaaltjie kry vir my daardeur iets van ’n universele reis.”

Die Afrikaanse bundel se titel kom ook uit “Die inpak”:

Skoene vir elke soort weer en elke soort pad, ’n warm
hemp vir bergnagte, french letters
uit hoflikheid, lyfpoeier, aspirine, pleisters,
cognac in die ingeduikte heupfles

en bo-op die kaart, die kaarte
van waterkanale en paaie vir die deurtog.
En hoop. Hoe versweë ook al, maar tog.

Aandagtige luisteraars van links: Eep Franken, Robert Anker, Carina van der Walt, Geno Spoorman, Ingrid Glorie en Elize Zorgman.

Op pad huis toe lees ek op die trein tussen Amsterdam en Utrecht die elf gedigte uit die reeks “Die studam”in een asemteug deur. Waarna sou daardie huis wat onder die water verdwyn het, verwys? Wie is die vreemde man wat na die water staan en staar? Dis ’n vervreemdende landskapsgedig, en omdát dit landskap is, sluit dit aan by die meeste poësielesers se voorkeure. Du Plooy ken haar Afrikaanse leserspubliek. En tog kies sy ook, soos Nijhoff, om te sê: “Lees maar, er staat niet wat er staat”, byvoorbeeld in “Die studam”, nommer 3:

In my kop leef sedertdien
’n man, so te sê ’n vreemdeling,
wat nogtans vir my so bekend
is soos ’n afgestorwe vriend

of ’n broer wat lank gelede
vertrek het na ’n ander land –
aanvanklik nog geskryf het
of gebel, maar langsamerhand

van my af weggedryf het.
Maar as hy voor my sou staan –
dié vriend, dié broer – dadelik weer
’n vertroude deel van my lewe sou wees.

Hy staan nog soms op die rand van my slaap,
net daar waar jy met ’n skok
voel of jy val. Daar wag hy my in
en saam daal ons af in die dam.

Heilna du Plooy en Willem van Toorn ontspan saam met K Michel ná hulle voorlesings.

Van Toorn het erken dat daar iets outobiografies in hierdie reeks is: herinneringe aan ’n vader, twee broers, ’n vriend. Wat hom egter gefassineer het tydens die skryf hiervan is hoe ’n mens se herinneringe die werklikheid kan vervals, hoe dit jou kan bedrieg. Jy onthou iets uit jou ouerhuis of ’n insident uit jou kinderjare, maar as die herinnering in jou opkom en jy gesels daaroor met ’n familielid, besef jy met ’n skok dat dit verkeerd is. Hierdie vertaalbundel is ook bedrieglik, want dis nie regtig plekgedigte wat op Aardklop en in Amsterdam gevier is nie. Dis eerder Du Plooy se versigtige soektog na gedigte wat iets abstrakter om die lyf het, ’n idee – soos Van Toorn se geheue wat hom parte bly speel.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top