Met haar groot swart oë en ’n lyfie wat lyk of hy in twee sal breek as mens te hard daaraan vat, benewel Miet Zeekoe almal in ’n oog- wink. Hulle wil haar in hulle arms toevou en tot die oordeelsdag teen die bose wêreld beskerm. Eers DAN sal hulle haar naai dat die rook trek.
Miet is 22 en lyk enigiets tussen 14 en 18. Sy word soms vir ’n seuntjie aangesien, veral deur tannies wie se kinders al uit die huis is en wat nog nie kleinkinders het nie, en veral wanneer sy die verkeerde soort bra dra. Juis daaroor het sy twee lang rokke op Greenmarket Square gevat, sonder die vrou by die stalletjie se toestemming. Sy weet sy hoef nie om vergifnis te bid nie, want die Here weet mos sy gaan die geld bring sodra sy eendag kan en hy’s nie haastig nie. ’n Duisend jaar is vir Hom soos ’n dag en ’n dag soos ’n duisend jaar.
Miet begin vandag haar eerste grootmenswerk, as intern by Vryheid op Vrydag, ’n koerant met ’n oplaag van 15 000 (wanneer Tom Kemp, die redakteur, in Frankryk, Holland of Swede gaan geld bedel) of 7 000 (wanneer die getalle van die verspreiders terugkom).
Vryheid op Vrydag se kantore is in ’n ou bankgebou in Newtown, naby die middelpunt van ’n nuwe soort Suid-Afrika, met ’n omtrek van hoogstens ’n kilometer of twee, wat selfs vyf jaar gelede ondenkbaar was. Hier is liefde oor die kleurgrens heen byvoorbeeld soos enige ander soort liefde: alledaags, morsig en vervlietend.
Die redaksie het gestem oor die koerant se naam. Die naam waarvoor hulle gestem het, was Assegaai. Tom het hulle gevra of hulle fokken stupid is. Lefty Afrikaners ken tog ook die verhaal van Piet Retief en Dingaan. Op die oomblik voel die meeste wittes in die land ’n bietjie soos Piet Retief. ’n Koerant met ’n naam wat hulle herinner aan die Voortrekkerheld se onderhandelings met ’n swart meerderheid gaan allermins die struggle bevorder.
Dit gaan die AWB se ledetal die hoogte laat inskiet.
Tom se eerste voorstel was Liberté. Nou watsit met die flippen Franse kak? Ag, dis eenvoudig. Jy moet punte score by die mense wat die geld uithaal. Nederlands is te naby aan Afrikaans. Wie verstaan Sweeds behalwe die Swede? Wat oorbly, is Frans. Liberté. Vryheid. Dis tog die boodskap.
Maar nee. Brandt Avenant het sy kop eers geskud en toe in sy hande laat wegsink. Terwyl hy aanhou skud. Hy’t nie ’n woord gesê nie, maar Tom het geweet wat hom pla. Nee. Ons is deel van die gepeupel, maar dis ’n ander gepeupel as die gepeupel van die Franse Rewolusie. Ons gepeupel voel ’n fok vir woorde wat ons nie kan uitspreek nie.
Orraait. Die vergadering is ontbind sodat almal nog ’n slag kan dink. Die volgende oggend het Tom ingestap en aangekondig die naam is Vryheid op Vrydag. Waarvoor veg ons die ander ses dae van die week? het Brandt gewonder. Hy wou nog sê sy stem gaan vir Meidnaai op Maandag, maar hy’t hom bedink. Dan is die deadline Sondag en hy wil nie Sondae werk nie.
Miet sukkel teen die trappe op met ’n groot bruin tas wat haar hele lewe bevat: ’n week se klere, vier boeke (’n Bybel, ’n tweetalige skoolwoordeboek met die biblioteek se kaartjie nog agter in, haar oorlede ouma se Kook en Geniet en haar ID-boekie), ’n lipstiffie, kamferroom, ’n naelknipper, ’n koekie seep wat iemand in die trein se badkamer vergeet het, ’n waslap en tandeborselgoed. En ditjies en datjies waaraan Miet nou liewer nie wil dink nie.
Antie An, Vryheid se ontvangsdame, het haar oor die foon belieg, maar nie aspris nie, toe Miet van die stasie af bel nadat sy ’n uur en ’n half gewag het dat iemand haar kom oplaai, soos hulle met haar afgespreek het. Sy’t net R53.50 gehad en wou nie geld op ’n taxi mors nie.
“Ag, liefieling, jy kan maklik stap. Goed. Mik suid. Deur die tonnel by die kaartjieskantoor en af in die pad. Verby De Villiers en Plein. Of is dit eers Plein, dan De Villiers? Hoe ook al. Regs af in Breë. In ’n westelike rigting. Ag, jy’s sommer nounounounou hier.”
Antie An het nie geweet van Miet se swaar tas nie, maar nogtans. Gelukkig het ’n jong mannetjie met ’n Checkers-trollie haar gesien sukkel. Hy’t haar tas in die trollie gelaai en vrolik die pad gevat. Hy’t nog nooit van Vryheid op Vrydag gehoor nie en voorgestel hulle vra maar soos hulle stap. Ná ’n ent het Miet begin dink hulle is al verby, maar hy’t gesê nee, iemand sou geweet het.
Aha! Miet het onthou wat Tom gesê het: dis ’n blok voor die Markteater. Van die Markteater het mense wel gehoor. Reguit sountoe, het ’n ronde vroutjie met ’n oranje kopdoek beduie.
Johannesburg. “Dis soos ’n ander land, kindjie,” het ’n oompie wat eenkeer vir ’n begrafnis hier was haar vertel. En dit ís anders. Maar ook nie só anders nie. Mense staan oral en babbel en die malle geskarrel waarvan almal so verwonderd praat, is nie anders as Kaapstad soggens vroeg en saans hier teen vyfuur se koers nie. Sy’s opgewonde oor haar nuwe lewe en glad niks bang nie. Mens hoor amper nie Afrikaans nie. Sy hou daarvan. Dis seker dié dat dit soos ’n ander land voel. En die mans kyk, maar hulle sê niks en hulle vloek haar nie onder haar ma se skirt in as sy maak of sy hulle nie sien nie.
Toe hulle by die Markteater kom, draai hulle om. Sy weet ook dis die regte gebou toe sy voor Vryheid op Vrydag se deur staan, al is daar nie ’n naambordjie op nie en al lyk dit glad nie soos die prentjie in haar kop nie. Die gebou is oud en vuil en presies net reg. Die mannetjie laai haar tas af. “Dankie! Dis was gaaf.” Hy bly lank staan. O. O ja. In haar hand het sy 20c wat sy reg gehou het vir die foon. “Thank you, madam!” En hy’s weg.
Miet kon nie ’n beter tyd gekies het om oor Vryheid op Vrydag se drumpel te sukkel nie. Sy was bang sy maak ’n swak eerste indruk, natgesweet en moeg. Sy weet sy lyk wees. Niemand kyk op nie. Al wat mens hoor, is die gekletter en gekwetter van ’n dolle getik. Dis Donderdag. Dis deadline-dag.
“Haaia. Hallo.”
“Miet?” vra Antie An en spring op om met die tas te help.
“Ja, mevrou.” Mens kan sien Antie An is ’n mevrou.
“Het jy toe die plek gekry? Ek’s bly! Welkom, kindjie. Ek sê gou vir Tom. Haai! Tom, hallo, Tom!” Tom se kantoor is aan die oorkant van die groot vertrek waar die res van die redaksie sit en werk. Antie An moet skree. “Tom! Hooi! Ons meisietjie! Ons meisietjie is hier! TOM! Ag askies Jas, askies.”
Jas Walters lig sy kop effens. Sy nek is verlê. Hy’t ’n deel van die nag en die hele oggend op ’n groot wynrooi bank langs Antie An se tafel deurgebring. Jas se sportblaaie is klaar. Die plan was om ’n bietjie voor te kom en die blaaie vanoggend af te gooi, maar hoe later hy gesit het, hoe minder lus was hy om huis toe te ry. Toe hou hy maar aan skryf en maak later die blaaie op.
Hy’t kwart oor vier op die bank kom uitspan. Jas se blaaie is gewoonlik laaste klaar. Vandag is hulle eerste. Hy was nie lus om te maak of hy aan ’n groot storie vir volgende week se koerant werk en by die huis klaar te gaan slaap nie. Toe kom krul hy maar weer op die bank op en dink okay, die geld is kak maar ek hou van die byvoordele.
Nugter weet hoe lank hy nog daar sou gelê het as Antie An hom nie wakker geskree het nie. Hy loer slaperig deur een skrefiesogie in die rigting van die geraas. Tot hy vir Miet sien.
Toe’s hy wakker.
Tom kyk op van sy rekenaarskerm, effens geïrriteerd. Sy kommentaarstuk oor Swapo se mense wat mekaar so opfok en uitwis is ’n etter van ’n ding. Maar toe hy opstaan, is die storie vir eers vergete. Tom voel ’n redakteur moet soos ’n redakteur lyk. Nie enige redakteur nie. Die redakteur van Vryheid op Vrydag. Vreesloos. Onverskrokke. Hy het skoene uit Italië en ’n hemp uit Sandton City aan by sy ou verbleikte Levi’s. Sy baard is netjies getrim en sy hare presies deurmekaar genoeg.
“Bly om jou hier te hê, Miet.” Hy draai effens weg. “Folks, Miet. Miet, folks. Julle nuwe kollega.”
Sy luister nie rêrig toe Tom haar aan die redaksie voorstel nie; sy sal hulle name later leer ken. Te veel goed vir een dag.
Alex Aksel gee haar ’n warm drukkie. Hy het drama geswot en wou akteur word voor hy die struggle ontdek het. Emma Eden, die kunsredakteur, wat net nou die dag haar boyfriend met ’n chopstick in die oog probeer steek het omdat hy so fokken aangaan oor kak, dink o, fok, wat het ons hier. Jas kyk verlangend na Miet uit sy posisie op die bank, maar dis nie haar lyfie of haar mond of haar oë of selfs die dun litteken wat langs haar oulike neusie afloop wat die melankolie in hom laat opwel nie. Dis haar jeug. Haar onskuld. Op 27 is Jas oor die muur.
![]() |
|
Taal: Afrikaans Druknaam: Penguin Regte: Suidelike Afrika Omvang: 173 bl Publikasiedatum: Maart 2014 ISBN: 978-0-14-353848-6
|


