Tydelose gety: Ondenkbaar om na sestig verlief te raak?

  • 0

Tydelose gety
Lina Spies
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869193836
Prys: R140.00

 

By die lees van elke nuwe bundel van Lina Spies is dit altyd opvallend watter issue haar na aan die hart lê en wat in daardie spesifieke bundel verken gaan word aan die hand van ’n teologiese werk wat oor die kwessie handel. In haar vorige bundels het sy veral besin oor vormgodsdiens en die verlies aan geloof wat by haar ingetree het, terwyl ons in hierdie bundel verwysings het na die Joodsheid van die Christologie wat verlore gegaan het. Ek sou graag meer verse oor Jesus as rabbi Jesjoeja wou lees, veral as mens die aanhaling uit Den Heyer betrek wat by die gedig “By die vertaling van die dagboek van Anne Frank” (70) aangetref word.

Tydelose gety is ook die bundel van die bekende Spies-temas: die familie, die Sjoa, die liefde vir die herfs, die liefde vir Stellenbosch en Amsterdam, die ongehude staat – en dit is ook die bundel van die belerende, praterige digteres aan die woord. Derhalwe is ’n titel soos “Teen die leerstelligheid” (66) heel ironies.

Wat die struktuur van die meeste gedigte betref, is dit opmerklik hoe Spies van ’n teenstelling gebruik maak, soos: Almal sê ouer digters moet oor die dood skryf, maar ek skryf oor die liefde.  Die praatvers is ook ’n glibberige terrein en dikwels kry mens die indruk dat jy met ’n tipe stellerigheid en verkapte prosa te make het.

Die liefde is die vertrekpunt van hierdie bundel, oftewel die ouer vrou se liefdeslewe. Waar Krog in Verweerskrif vir ons die menopousale vrou en haar futiele stryd met die biologiese veranderinge in haar liggaam beskryf, vind ons by Spies ’n meer bedeesde afstandelike perspektief op die liggaam en die vrou. (En hoekom, o hoekom, moet daar tog van “konsumeer” gepraat word, wanneer daar na die seksdaad verwys word? Op beide bl 37 en 66 word dit gebruik.) Anders as by Krog, is daar by Spies ’n tipe ouwêreldse beskrywing van die hofmakery tussen man en vrou en gaan die verse swaar gebuk onder verdringing. Die geliefde word feitlik ’n begeerde Ander of figment, wat die inslag van die bundel ondermyn. Die spreker wil juis die liefde tussen twee ouers mense selebreer, maar verval te maklik in die bekende en die geykte.

Deurgaans in Spies se oeuvre is daar ook die preokkupasie met Anne Frank (Spies het trouens haar dagboek in Afrikaans vertaal) en die Sjoa. Sy sluit byvoorbeeld ’n verwerking in van ’n gedig deur Pavel Friedmann (73) oor die gebrek aan skoenlappers as lewegewende simbool in die ghetto. Dit laat my onwillekeurig dink aan die opname van musiek deur Anne Sofie von Otter wat deur komponiste in die Theresienstadt-konsentrasiekamp geskryf is voordat hulle in die gaskamers vermoor is. ’n Gedig soos “Bysiende” (78) met sy vergelyking van die “bewakers” van die ou Israeliete teenoor die “beuls van Auschwitz,/ Mauthausen, Madjanek [en] Terblinka”, en die verwysing na die nommer op die arm, roep ook vroeëre soortgelyke verse van Spies in haar bundel Van sjofar tot sjalom in herinnering.

Lina Spies verwerk ook Paul Celan se bekende doodsfuga in Afrikaans waarin hy skryf oor die stryd teen die Nazi-oorheersing van sy vaderland. In “’n Psalm vir Paul Celan” (76) word die lewensverhaal van die digter uitgebeeld en berispe die spreker haarself omdat sy “banale gedagtes” oor Celan se foto het. Weer eens die verdringing.

Etlike huldigingsverse vir bekende figure soos Mandela (slaag die beeld volkome?), Elisabeth Eybers, Johan Degenaar en Audrey Blignaut word ingesluit. Die band tussen Afrikaans en Nederlands kom ter sprake in die gedig oor Eybers wanneer Spies skryf:

Deur die taal van jou verse
kon jy in die tapisserie van die poësie
twee vervreemde lande
weer met mekaar verweef:

Ek bly aan albei geheg
deur daardie naelstring wat nie breek
soos onlosmaaklik ook aan jou
solank ek leef.       

In “Moedertaal” (54) besin sy oor Afrikaans en word die taal as “die snak na volle menswees” beskryf en gee sy ’n kort historiese oorblik van die taal en sy ontstaan en sy posisie in die huidige Suid-Afrika. As Afrikaanse digter beskou sy haarself as een van die “sewehonderd/ wat nog nie die knie voor Baäl gebuig het nie” en wat nog in haar moedertaal dig.

Na die lees van die bundel wil ek terugkeer na die opdragvers voorin, waarin die leser pertinent aangespreek word: “Lectori Salutem” (11). Die vers kondig die liefdestema aan en wys ook op die rol van die spreker as regisseur wat “hierdie keer” beheer oorneem. Die liefde, oftewel die “kole wellus [wat] nog in hul lendene gloei of smeul”, gaan die skering en inslag van die bundel vorm. En hierdie beskrywing behoort reeds die voorgenome leser bedag te maak op die taal van die liefde  in hierdie teks. Die belerende toon word ook geïnisieer met die verwysing na die feit dat dit glo ondenkbaar is om ná sestig verlief te raak – ís dit so, of is dit ’n persepsie van die spreker?

In die slotstrofe word die “liewe lesers” direk aangespreek en verwys die spreker na die verse wat gepresenteer word aan die leser en wat “bo alles wat vals is en stereotiep”. Is die hubris nie hier ’n bietjie te sterk aanwesig nie? Wat in die teks word weerlê as synde eg en nie-geyk nie? Die ouer verliefde vrou? Die digter kon meer hiervan gemaak het – veral aangesien dit reeds in die openingsgedig aangekondig word.

(Ns: Ek hoop tog die lys erkennings wat deesdae agter in bundels opgeneem word, word gestaak. Dit ontneem die speurende leser sy leesplesier. Daar is ook weinig verskil tussen die motto en die erkenning. Noem dan nou maar die uitgewer en plek en datum ook, as dit dan erkenning moet kry.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top