Toespraak by die ATR – Simposium 2013 – Paarl

  • 0

Michael le Cordeur is voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en was een van die sprekers by die simposium wat die ATR op Vrydag 18 Oktober by die Taalmuseum in die Paarl aangebied het. LitNet plaas sy volledige toespraak hieronder.

 

Dames en here

Baie hartlik welkom by hierdie simposium van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Dit is meer as vyf jaar sedert ons stigting in Wellington en ek doen verslag oor wat gelei het tot die proses wat opgebou het tot waar ons vandag is. Ek gee graag erkenning vir my voorganger, prof Wannie Carstens, wat aan die stuur was vir die eerste drie jaar en die eerste deel van die storie geskryf het. Die tweede deel van die verslag handel oor die laaste twee jaar onder my leiding en ek vertel die storie verder.

Die ATR is na afloop van 'n lang konsultatiewe proses op 24 Mei 2008 in Wellington gestig. Dit was 'n historiese dag vir Afrikaans, omdat dit die waarmaak van 'n gesamentlike strewe verteenwoordig het: die totstand­koming van 'n liggaam wat ten doel het om koördinerend, netwerk­skeppend, inklusief, bemagtigend en versoenend op te tree in die belang van die totale Afrikaanse taalgemeenskap. Hierdie liggaam het nie “sommer net” ontstaan nie, maar dit was die resultaat van harde werk (sedert 2003) om 'n gedeelde ideaal vir die Afrikaanse taalgemeenskap waar te maak – die totstandkoming van 'n gekonsolideerde en inklusiewe stem wat namens Afrikaans kan praat.

Fases wat die stigting van die ATR voorafgegaan het, is die sogenaamde Voortsettingskomitee wat tot stand gekom het na afloop van 'n FAK-byeenkoms in September 2003 in Pretoria, die aanbied van die Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad in Augustus 2004 op Stellenbosch, die miniberaad wat in Februarie 2005 in Johannesburg aangebied is en waartydens 'n taalplan vir Afrikaans goedgekeur is, die vorming van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA) wat die proses sedert Maart 2005 tot Mei 2008 bestuur het, die aanbied van die Tweede Nasionale Afrikaanse Taalberaad in Februarie 2007 in Pretoria, die goedkeur van die idee dat 'n oorkoepelende taalliggaam vir Afrikaans tot stand moet kom, die konsultatiewe gesprekke hieroor in die loop van twee jaar, registrasie by die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Linguistiese Gemeenskappe (die sogenaamde artikel 185-kommissie), en uiteindelik dan die stigting van die ATR in Mei 2008.

Sedertdien is die statuut van die ATR gefinaliseer, talle projekte aangepak, besondere moeite gedoen om die infrastruktuur van die ATR gevestig te kry, 'n eie logo geskep, 'n eie webblad (www.afrikaansetaalraad.co.za) gevestig, en fondse gesoek om die koördineringsrol te vertolk.

Die vraag mag wees wat die “resep” vir die mate van sukses van die ATR tot op hede is.

Belangrike merkers op hierdie pad was:

  • Die besef dat ons met ’n proses besig is wat gaan tyd neem. Die produk volg mettertyd, maar slegs as die proses reg verloop.
  • Die geduld om die proses kans te gee om te ontwikkel.
  • Die bereidwilligheid om baie hard te werk (veral ágter die skerms).
  • 'n Gesamentlike visie op die toekoms: eenheid onder die Afrikaanse taalgemeenskap.
  • Die geloof in die taal se bestaansreg.
  • Die geloof dat die Afrikaanse taalgemeenskap die vermoë het om homself te organiseer.
  • Toewyding tot en 'n strewe na versoening binne die totale Afrikaanse gemeenskap.
  • Toewyding tot en 'n strewe na inklusiwiteit binne die Afrikaanse gemeenskap.
  • Onderlinge vertroue op 'n persoonlike vlak onder die leiers.
  • Die los van die eie ego by die huis en die aanvaarding dat daar terugslae kan (en gaan!) wees – ons werk in so 'n geval dan net harder om daarby verby te kom.
  • Konsultasie met belanghebbendes van die begin af. Gesprek bou brûe en voed verhoudings en vertroue.
  • Die kommunikeer van die verloop van die proses onder belanghebbendes via e-pos, fakse, gesprekke, berade, ens.
  • Die deel van mekaar se suksesse en mislukkings – in die geheel: leer by mekaar.
  • Die bereidwilligheid om aanpassings te maak soos die proses vorder, en die besef dat daar by tye selfs kompromieë aangegaan moet word.
  • Die benut van die grondwetlike geleenthede en strukture waar nodig om die proses stukrag te gee: PanSAT en die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Linguistiese Gemeenskappe (die sogenaamde artikel 185-kommissie).
  • Die samewerking met die breë burgerlike gemeenskap – in wese in 'n vennootskap.
  • Die benut van die infrastruktuur van bestaande organisasies om take gedoen te kry. Die FAK het die sekretariële funksie vir die aanvangstyd, 2003 tot 2006, onderneem; van 2006 tot 2011 is hierdie taak verrig deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die afgelope twee jaar, onder my leierskap, is ons op ons eie voete, weliswaar in ’n virtuele kantoor. Dit beteken dat skaars fondse dan nie gebruik word vir 'n kantoor nie, maar vir dit waarvoor dit werklik nodig is.

Die vraag is waarskynlik nou wat die ATR alles ten doel het en wat sy vertrekpunte is.

  • Die ATR het die geleenthede wat die Suid-Afrikaanse Grondwet vir die ontwikkeling en bevordering van tale bied, benut om tot stand te kom. Wetgewing rakende PanSAT en die art 185-kommissie is hiervoor ingespan. Die Grondwet van Suid-Afrika maak dit naamlik vir elke taal in die land moontlik om ’n belangeraad vir daardie taal te laat registreer en uiteindelik te akkrediteer by die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (art 185). Die belangeraad behoort op ’n konstruktiewe manier na die ontwikkelings- en spesifieke behoeftes van al sy sprekers om te sien en deur netwerking en samewerking doelgerig inhoud te gee aan die ontwikkeling van ’n self­onderhoudende, geïntegreerde en waardetoevoegende gemeenskap. Dis wel duidelik dat beide hierdie liggame uiters gebrekkig funksioneer en dat hulle slegs middele tot 'n doel was.
  • Burgerlike organisasies het in vennootskap getree met liggame wat grondwetlike bestaansreg het (soos die NTLA, 'n PanSAT-liggaam) om die proses te dryf. Dis nie die een of die ander nie, maar al twee saam wat van belang is.
  • Die werklikheid is dat die Suid-Afrikaanse regering tans nie daarop ingestel is om Afrikaans (soos ook die Suid-Afrikaanse swart tale) te bevorder nie en dat hierdie gemeenskappe dit self sal moet doen. Dis dan inderdaad ook wat ons doen: ons koördineer en organiseer onsself op so 'n wyse dat ons Afrikaans kan bevorder.
  • Die ATR het Afrikaans en sy sprekers as primêre vertrekpunt.
  • Die ATR glo daar is ook vir Afrikaans plek in die nuwe Suid-Afrika, soos ook die geval is met die ander Suid-Afrikaanse tale.
  • Die ATR tree netwerkskeppend en koördinerend rakende projekte en aktiwiteite op.
  • Die ATR wil glad nie die taak van geassosieerde organisasies oorneem nie, maar eerder die aktiwiteite en funksie van hierdie organisasies so koördineer dat die potensiaal van die organisasies in die beste belang van Afrikaans ontgin word.
  • Op hierdie wyse wil die ATR help om die mense- en finansiële kapitaal wat in die Afrikaanse gemeenskap beskikbaar is, optimaal in die belang van Afrikaans te benut. Daar is heelwat kundigheid, welwillendheid, passie, geesdrif en energie wat reeds bestaan en net beter aangewend moet word. Dit neem tyd, maar dit moet gedoen word. Dit is hoekom ons die oudit doen: om te sien wat daar is, sodat ons dit kan gebruik in die belang van Afrikaans en die sprekers van die taal.
  • Die ATR wil deure vir Afrikaans (en by implikasie ook vir ander tale) by die regering oopmaak. Dis 'n moeisame proses, maar ons werk hard hieraan.
  • Die ATR wil nie konfronterend optree nie, maar wil eerder op 'n konstruktiewe wyse 'n bydrae tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap lewer. Konfrontasie lewer nie altyd die beplande dividende op nie en daarom word die sagter roete van samewerking en oorreding (selfs agter die skerms) gevolg.
  • Die ATR tree graag op as 'n rolmodel vir ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Ander gemeenskappe kan hierdie voorbeeld navolg. As ons in die proses ook ander tale kan bevoordeel, dan doen ons dit met graagte.

Iemand het onlangs gevra: Wat is die grootste sukses van die ATR tot dusver?
Dit is waarskynlik die feit dat ons tot stand kon kom ten spyte van wat met Afrikaans se verlede geassosieer is. Die ATR is die resultaat van 'n versoeningsproses, van 'n proses waar ons met mekaar gepraat het (indringend beraadslaag het) oor die verlede en hoe ons ten spyte daarvan nog steeds Afrikaans kan dien. Ons praat steeds gereeld hieroor en ons hoop om in die afsienbare toekoms op 'n meer simboliese wyse gesamentlik as gemeenskap, ongeag ons verskeurde en verdelende verlede, vorentoe te gaan.

Ons het van die begin af besef dat ons stadig moet werk en dat ons as liggaam nie kan funksioneer sonder die steun van die totale Afrikaanse gemeenskap nie. Daarom volg ons wyle Neville Alexander se raad (tydens die Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad van Augustus 2004 op Stellenbosch): “Gaan voetjie vir voetjie vorentoe, en wees soms bereid om selfs 'n tree terug te gee.” Dié benadering waarborg groter sukses op die langer duur.

Dit is reeds meer as vyf jaar gelede dat die ATR gestig is, en wat het ons in hierdie tyd reggekry?

  • Ons het lank geneem om tot stand te kom en moet nou ook tyd neem om ons behoorlik gevestig te kry. Dit doen ons met oordeel. Ons het besef ons kan nie net indons en dinge oorhaastig doen nie – ons moes eers ons strukture vestig.
  • Die bestuur moes as funksionerende eenheid gevestig word. Ons bestuur via subkomitees om die werk gedoen te kry: 'n dagbestuur vir die hanteer van daaglikse sake; kundige komitees, soos 'n grondwetkomitee, navorsingskomitee, bemarkingskomitee, onderwyskomitee, taalregtekomitee, finansiële komitee, ens.
  • Ons maak gebruik van bestaande strukture om ons werk gedoen te kry.
  • Ons het begin om ons eie identiteit te vestig: 'n eie webblad (www.afrikaansetaalraad.co.za), 'n eie logo (waaroor ek later meer sal sê), en ’n slagspreuk, “Bemagtig, bevorder, beskerm”.
  • Ons nuusbrief, Die Koker, wat kwartaalliks versprei moet word.
  • Ons moet ons profiel gevestig kry. Dit doen ons via 'n goedbeplande mediaveldtog: radioprogramme, televisiegesprekke (sien my jaarverslag môre), berigte in koerante. Ons moet ons statuur verseker, sodat mense en organisasies ons kan vertrou. Ons herkoms en stigtingsproses maak dit moontlik. Ons wil verseker dat ons as dié liggaam vir Afrikaans aanvaar word.
  • Ons statuut is gefinaliseer en goedgekeur.
  • Ons moet strategies besin oor waar ons die grootste impak kan maak. Dit het ons reeds vier keer gedoen. En ons sal dit nog heelwat meer kere moet doen.
  • Ons het duidelike projekte geïdentifiseer. Ons begin beskeie, maar bou stadigaan op tot meer. Ons uitreikaksies is vir ons baie belangrik – dade spreek harder as woorde.
  • Ons het gou besef dat om die werk gedoen te kry en die nodige koördinering te kan doen, ons 'n voltydse uitvoerende beampte sal moet kry. Ons het Jacques van der Elst, afgetrede dekaan, aangestel om hierdie taak tussentyds vir ons te verrig. Dit sal wel 'n permanente pos moet word, met 'n toegewyde persoon om die werk ten uitvoer te bring. Intussen het ons drie persone aangestel – ook vir Ria Olivier as projekbestuurder en Jannie Earle as sekretaris. Ons hoop om eendag ook een persoon aan te stel om ons belange in Europa te hanteer.
  • Dis vir ons duidelik dat ons nié ander Afrikaanse organisasies se take en funksies durf (eers durf probéér) oorneem nie, omdat elkeen 'n eie taak, funksie en nis-area het. Ons as ATR moet bloot koördineer en steun.
  • Ons moet fondse bekom om ons basiese take te kan uitvoer. Dis nie 'n maklike taak in 'n swak ekonomiese tyd nie. Ons het letterlik mense nodig om pannekoek te bak en te verkoop en sodoende fondse vir die ATR in te samel!
  • Ons het verskeie navorsingsprojekte onderneem: So kry ons Afrikaans (onder leiding van Christo van Rensburg) is ’n optekening van die geskiedenis van Afrikaans sedert 1500 soos dit nog nooit vertel is nie, en bevestig dat Afrikaans die taal van die mense in Suid-Afrika is. Onder leiding van Karel Prinsloo is die stand van Afrikaans in al ons kerkgemeenskappe ook onderneem; die taak van Afrikaans in die Moesliem-gemeenskap lê nog voor. Die ATR het ook vir Ferdinand de Varennes gekontrakteer om vir ons advies te gee oor die Nasionale Talewet, en saam met Cerneels Lourens het die ATR ’n belangrike stukrag geword wat uiteindelik gelei het tot die aanvaarding van die Talewet in Mei vanjaar.
  • In 'n poging om fondse te bekom is besluit om die deure vir Afrikaans in die Lae Lande te probeer oopmaak. 'n Aantal van ons het die afgelope twee jaar die Festival voor Afrikaans in Amsterdam en Den Haag bygewoon. Wannie Carstens van die Suid-Afrikaanse Akademie en vorige voorsitter het intussen ook ’n samewerkingsooreenkoms gesluit met die Koninklike Akademie van België en nog ooreenkomste is op pad. Die finansiële deure het weliswaar nog nie vir ons oopgegaan nie, maar ons het belangrike kontakte gemaak waarop ons vorentoe kan bou.

Wat lê nog vir ons voor?
Daar is nog baie werk te doen. Ons moet bereid wees om dit te doen. Hiervoor is werkers (organisasies en individue) nodig. Ons vra hierdie werkers se tyd, energie, geesdrif, geld, geduld en kundigheid.

  • Ons moet mekaar se strukture en netwerke deel waar ons kan. Saam is ons beter!
  • Ons moet Afrikaanse organisasies wat nog nie by die ATR betrokke is nie, nader en seker maak dat ons nader aan mekaar beweeg. Daar is byvoorbeeld tans min organisasies by ons geaffilieer waarby bruin en swart sprekers van Afrikaans betrokke is. Dit is 'n onmiddellike prioriteit om dit reg te stel.
  • Ons moet die onderlinge samewerking van Afrikaanse organisasies verder aanmoedig en selfs fasiliteer. Ons kan by mekaar leer. Hoe kan byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ander organisasies (soos die SBA, die Vereniging vir Regslui vir Afrikaans (VRA), FAK, ea) verder saamwerk? Hoe kan die kundigheid van VRA ingespan word om die ATR by te staan om taalregteskendings te hanteer? Hoe kan die strukture van die Rapportryersbeweging, die Afrikanerbond, Dames Aktueel, die Skrywerskring, die Voortrekkerbeweging ingespan word om byvoorbeeld die SBA op grondvlak met geletterdheids- en bemagtigingsprojekte in die platteland te help?
  • Ons moet die Afrikaanse taalgemeenskap mobiliseer rondom gesamentlike projekte, soos byvoorbeeld die “Lees om te leer”-projek wat ons tans dryf met die steun van die SBA, Vriende vir Afrikaans, die ATKV, die Suid-Afrikaanse Akademie, die Taalmuseum, die Wes-Kaapse Taalkomitee, die Woordfeeskomitee van US, ens. Sake soos geletterdheid, bemagtiging, onderwys (oor die hele spektrum), taalregteskendings, opleiding, ens is sake van onmiddellike belang.
  • Ons moet mekaar se terreine respekteer en mekaar die ruimte gun om elke organisasie se doelstellings en nisse uit te leef. So beywer die ATR hom vir Afrikaans as taal, die SBA hom vir bemagtiging, die SAOU hom vir die regte van onderwysers, Solidariteit hom vir die regte van ’n Afrikaanse tersiêre instansie, die ATKV hom vir kultuurbevordering in die breë, die VRA hom vir Afrikaans se posisie in die regswêreld, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vir Afrikaans as hoëfunksietaal in die wetenskap, die Afrikanerbond hom vir die regte van Afrikaanssprekendes, die Afrikaanse Taalmuseum hom vir die bewaar van Afrikaans se geskiedenis, die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) hom vir die opteken van Afrikaans se omvattende woordeskat, ens ens. Kom ons hou dit so, maar kom ons werk saam waar ons kan.
  • Ons moet ons kommunikasie tussen organisasies verder verbeter, sodat ons by mekaar kan hoor oor suksesse en foute. Elke organisasie is waarskynlik nog te veel op sy “eie ding” ingestel’. Dis iets waaroor veral ons borge bekommerd is.
  • Ons gaan volhou om aan te dring op Afrikaans se regte as taal in Suid-Afrika en Afrikaans as Afrikataal. In hierdie verband was ons verskeie kere reeds in die parlement, praat ons met belangrike rolspelers, soos die ANC, die DA, die minister van kuns en kultuur, PanSAT en die Menseregtekommissie om ons saak te stel en seker te maak dat die Nasionale Talewet in Suid-Afrika toegepas word.
  • Ons kan dit nie bekostig om moedeloos te word in die lig van soveel gebreke in Suid-Afrika nie. Ons moet aanhoudend klop om hierdie deur oop te maak in die belang van ál die tale in die land. Kyk weer na ons embleem, die kokerboom – hieroor later meer.
  • Ons moet ons daarvoor beywer dat organisasies dalk weer na hulle missie, visie, funksies en doelstellings kyk. Is dit nie dalk tyd dat van die organisasies saamsmelt nie? En sodoende minder en sterker word?
  • As leiers van die Afrikaanse taalgemeenskap moet ons hoop gee aan die lede van die Afrikaanse gemeenskap. Ons kan dit nie doen deur die hele tyd te kla en te wroeg nie. Ons moet begin saam doen. Ons moet positief wees. En dit moet ons doen deur dit wat ons bind (Afrikaans en die strukture wat dit ondersteun) – kom ons deel mekaar se energieë, geesdrif, passie, kragte, strukture en kundigheid.
  • Die ATR glo dat ons deur ons unieke bydrae ook 'n bydrae kan lewer tot die oplos van die talle probleme in Suid-Afrika.
  • Ons moet versigtig wees om nie elke baba wat die regering aanbied, met badwater en al uit te gooi nie. Ons hoef net na Namibië te kyk, waar ons onlangs was, om te besef hoe gelukkig ons is om Afrikaans nog in die Grondwet te hê.

U wonder seker ook: Gaan die regering/magshebbers ooit na die ATR luister?
Ons glo so! Die pad met die Talewet is bewys daarvan. En onlangs is ons deur die minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, sowel as die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, genooi om deel uit te maak van belangrike komitees wat oor taal en Afrikaans moet besin. Ons mense dien in strategiese komitees van die regering. Die Afrikaanse gemeenskap het ons in wese die reg gegee (deur die omvang en verloop van ons stigtingsproses) om as stem vir Afrikaans op te tree daar waar Afrikaans se belange geraak word, en ons gaan hierdie mandaat gebruik.

Dus: as ek terugkyk, sien ek 'n liggaam wat uit 'n idee (Christa van Louw se “nasionale strategie vir Afrikaans") ontstaan het, wat rondom hierdie idee gegroei het, wat 'n ooreengekome plan ontwikkel het aan die hand waarvan bestuur is en wat uiteindelik uitgeloop het op die struktuur wat vandag bekend staan as die ATR. Of hierdie struktuur uiteindelik die verskil gaan maak wat ons graag wil maak, sal die geskiedenis oor oordeel. Ek kan u wel die versekering gee dat ons nie gaan toelaat dat ons harde werk tot niet gaan nie. Kom werk daarom saam met ons aan hierdie droom vir Afrikaans.

Ons embleem
Die kokerboom is as simbool vir die ATR se logo gekies omdat dit so ’n toonbeeld van oorlewing is. Dit is ’n vaalgroen plant, met verrassende heldergeel blomme, wat in ’n dorre landstreek floreer, al is daar min hoop op oorlewing. Die boom benut die water deur dit in sy stam op te gaar. Pyl-en-boog-jagters het graag die sagte vogtige binnekant van stamme en takke van die boom uitgehol om as kokers vir hulle pyle te gebruik. Die kokerboom versinnebeeld die onstuitbare groei, uitreiking en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans ten spyte van dikwels ongunstige omstandighede en die harde natuur van die politiek.

Dames en here, ten spyte van al die uitdagings wat Afrikaans in die gesig staar, is dit my waarneming dat dit goed gaan met ons taal, en het ons baie om voor dankbaar te wees. Soos ’n kokerboom blom Afrikaans heldergeel in sy letterkunde, sy spreektaal, sy musiek en op allerlei ander gebiede. Afrikaans bied sy gebruikers kokers vir hulle pyle om hom te bevorder en te beskerm ten einde sy sprekers te bemagtig.

Ons het dus besluit om die volgende toekennings te maak aan individue wat hul lewe aan Afrikaans gewy het:

  • die ATR-koker vir die Beskerming van Afrikaans aan Cerneels Lourens
  • die ATR-koker vir die Bevordering van Afrikaans aan Adam Small
  • die ATR-koker vir Bemagtiging deur Afrikaans aan Ton Vosloo.

Wat vir my belangriker is, is dat ons nie – soos ongelukkig die gerieflike neiging in die politieke en openbare diskoers is – transformasie bloot sien as 'n kwessie van verandering/regstelling van 'n rasprofiel of koppetellery van bevolkingsgroepe nie. Vir die ATR behoort transformasie te gaan oor 'n diepliggende en eerlike anders dink oor Afrikaans, oor al die mense wat dit praat en verstaan, die manier waarop ons in Afrikaans deelneem aan en bydra tot die welstand van ons land en sy mense, die manier waarop ons funksioneer en kommunikeer, en die wyse waarop ons ander variëteite van Afrikaans omhels. Dus: totaal inklusief wat die sprekers en alle vorme van Afrikaans betref, met groot sensitiwiteit vir foute en ongelukkighede van die verlede, en met 'n toekomsblik om werklik 'n positiewe bydrae deur medium van Afrikaans te lewer.

Baie dankie!

Lees ook Waldimar Pelser se bydrae by die ATR se simposium

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top