Dis ’n heerlike Sondagnamiddag en ek het so pas ‘n dokumentêre film gekyk oor die kroning van Elisabeth II in 1953. Dis seker gepas dat dit as kontrapunt geset word teen opsigte van die sestigjarige jubileum wat vanjaar gevier is.
Wat veral interessant was, is dat dit die eerste keer was in die 900-jarige bestaan van die Engelse koningshuis dat die publiek die kroning in hulle sitkamers kon vervolg. Destyds was dit ‘n groot nuutjie dat die BBC om die kroning “live” op TV kon uitsaai vanuit Westminster Abbey, al was dit net in swart en wit. Hulle het ‘n gaatjie tussen balke gemaak vir die kamera en gelukkig het die kameraman wat net 1,52 m groot was, nog onder die lae balke ingepas om die gebeure te verfilm. Vir die adel was daar paviljoene gebou langs die strate sodat hulle die optog van naby kon betrag. Hulle was glad nie beïndruk met die idee van die BBC om die kroningseremonie en die optog direk uit te saai nie. Immers was dit ‘n privilegie van die adel!
Weke voor die tyd is stellasies en ekstra balkonne opgerig binne die katedraal sodat daar plek kon wees vir al die eregaste. Normaalweg pas daar 2000 mense in die katedraal, maar by Koningin Elisabeth se kroning was daar 8000 gaste wat ’n sitplek moes kry. Die genooide adelikes, staatshoofde van oral oor die wêreld en ander eregaste moes reeds vier ure voor die tyd hulle plekke in die katedraal inneem. Dit beteken dat hulle kort na 7-uur die oggend al moes inklok. Blykbaar het hulle tussendeur hulle diademe afgehaal, die toebroodjies uitgehaal en hulleself ook versterk met die voggies uit plat silwer flessies in die binnesakke van die here. Destyds het min mense maar ‘n TV besit, en dit was ‘n groot okkasie. Die mense wat ‘n TV gehad het, het hulle meubels op hoog glans poleer en alle vriende en familie genooi om na die kroning te kom kyk op 9” swart en wit TV skerms. Vir baie was dit asof die koningin persoonlik in hulle eie sitkamer gekom het. Hulle het hulle beste Sondagklere aangetrek en hulle uitgedos. In sommige sitkamers was tot vyftig mense daar om die kroning in alle eerbied te vervolg. Daar was nie gepraat nie, want dan sou mens dalk die seremonie “gesteur” het.
Die beste van alles was dat die ses hofdames wat die koningin se slaap moes dra, lang wit handskoene moes dra wat tot ver verby hulle elmboë gestrek het. In die handskoene by hulle polse was vlugsout versteek sodat as hulle gevoel het hulle wou dalk flou word, hulle daaraan kon ruik.
Die mense het deels buite oornag om die beste plekke langs die roete van die optog te kry. Vyfuur die oggend het hulle al opgestaan om hulle plekke in te neem. En toe begin dit nog reën ook. Dit het aangehou reën tot na die kroningseremonie verby was en die optog begin het. Alle koetse was egter toe omdat die persone daarin nie wou natreën nie. Net die reuse swart koningin van Tonga het in ‘n oop koets gery en vir die mense gewaai. En daar trek die wolke toe oop en skyn die son!
Die BBC het die gebeure in 44 tale oor die ryk Britse Ryk uitgesaai. Mens sien hoe die soldate hulle gewere in die Korea Oorlog neerlê, hulle stewels blink poets en uitgevat kiertsregop langs die radio sit om die gebeure te vervolg. Orals in Afrika het die mense vasgenael voor hulle radio’s gesit, nes ons vanjaar vasgenael voor die TV gesit het om haar sestigjarige jubileum te vervolg. Al verander die tegnologie, bly ons tog op dieselfde manier nuuskierige bystanders.
Lo-Ammi Wolf


Kommentaar
Pragtige uiteensetting. Amper gevoel ek was self daar.
Jaco Fourie
Aan al die nuuskierige bystanders - wie gee nog om oor die ruis van die stem van ons geliefdes?... die kwien se stoel drup van Boerevroue en kinders se bloed... soos altyd blink Anglo en Amerika se fopgoud bo en gryns die doodsbeendere van onskuldiges daaronder... wanneer gaan die Ingelse troon verskoning vra vir die konsentrasiekampmoorde op ons ver verlate vlaktes?... wanneer gaan die ewige geldwêreld antwoord gee op die gruwelike plaasmoorde onder die blou van Mzansi se hemel?... het die doringboompie dan verdroog?
Corneels.
Buite SA is die Afrikaner in vergetelheid. Wanneer in Engeland van Afrikaners gepraat word, dink hulle aan swart "Africans" as Afrikaners.
Jaco Fourie