Hallo Thomas
Jou brief van gister verwys.
Nee ek piepie nie op jou battery soos jy dit stel nie, ek het niks teen kleurvolle taalgebruik nie. Ek het dit teen die indruk wat jy skep deur jou interessante byvoeglike naamwoorde op nie-toepaslike plekke te gebruik. 'n Manier om te toets is om jou in die plek van 'n derde persoon te plaas en te probeer vasstel hoe hy byvoorbeeld jou beskrywing vertolk.
Met jou 'hewig' en 'heftig' byvoorbeeld, sal 'n derde persoon, as hy nie my briewe gelees het nie, met die indruk gelaat word dat ek hewig en heftig teen jou voorstel reageer het wat, soos jy weet, nie waar is nie. Ek stel dit slegs dat jou nuwe definisie vals is; die blote feit dat jy praat van 'insluit' dui daarop dat jy bewus is van 'n vreemde entiteit en dit is dus kunsmatig.
Ek voer ook aan dat julle (jy en die wat hierdie inklusiewe definisie voorstaan) dit as 'n versoeningsgebaar sien en dit is nie so nie. Inteendeel, volgens my kan dit deur bruines as arrogant vertolk word en polarisasie, eerder as versoening, aan die hand werk. Ek mag hier verkeerd wees maar dit is waaroor debat gaan; hierdie stelling het jy nog nie oortuigend weerlê nie. Ek glo wel dat jou bedoeling goed is maar dit is nie waaroor dit gaan nie.
Jou slotvraag sou ook nie hierdie toets geslaag het nie. Wanneer het ek aangedui dat ek bang is jy sluit sekere mense in? Indien jy sinspeel op kleur is jy óf moedswillig óf jy het nie my vorige briewe aan jou gelees nie; kan jy onthou dat ek van Gert (of was dit nou Koos of Piet) Ghandi gepraat het, en dat ek gesinspeel het op, in sommige gevalle, moontlike anderrassige voorgeslagte, en dat ek gesê het dit sal my geensins pla as die pous besluit dat almal wat Afrikaans praat Afrikaners is nie? Onthou jy dit? Indien nie gaan lees weer.
Ek sluk moeilik aan jou storie van jou vergadering in die tagtigerjare waar kwansuis lidmaatskap van die drie susterskerke OOK as voorwaarde vir Afrikanerskap gestel is. Waar in jou lewe kan lidmaatskap van 'n volk op 'n vergadering bepaal word? Nooit as te nimmer. Wat het julle toe gedoen met ouens soos Van Zyl en Max wat toe nie meer kwalifiseer nie? Vir hulle 'n brief geskryf en ingelig dat hulle nou nie meer Afrikaners is nie? Miskien bedoel jy dalk lidmaatskap ten opsigte van die Broederbond, of Rapportryers of so iets in plaas van 'Afrikanerskap', jy't dalk net 'n foutjie gemaak.
Thomas, eintlik redekawel ons oor niks. Almal weet wie en wat 'n Afrikaner is (selfs die regering anders het hulle nie geweet hoe om regstellende aksie toe te pas nie want dit geld net vir sommiges wat Afrikaanssprekend is). Ek stem saam met jou idee dat ons moet verenig om Afrikaans maar 'n voorwaarde daarvoor is nie noodwendig dat jy 'n Afrikaner moet wees nie. Ons almal kan meer doen om die verengelsing hok te slaan, veral die bruines want hierdie verskynsels is die ergste onder hulle.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Weer eens moet ek saamstem. Goed gestel, Jan Rap.
Lees en leer, Thomas.
Jan Rap
Ek stem saam dat die geselsie nou lank in die tand raak. Ek is passievol oor Afrikaans en gee werklik nie om wie dit bevorder nie - solank dit net bevorder word.
Groetnis vir eers
Thomas