![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
Vanoggend kliek ek weer deur foto’s geneem in die Kruger tydens ’n vorige vakansie. Skielik is die konfrontasie weer voor oog. Die van leeu en buffel. Reg voor die neus van ons voertuig. Inteendeel, agterna het ek besef dat die leeus juis die voertuig gebruik het om agter te skuil. So kon hulle die rooibokke makliker bekruip en uitoorlê.
Dit het gevoel of ek binne ’n inry-fliek sit, terwyl tonele reg rondom ons afwissel. Reuke en gromgeluide ’n werklikheid. Aan die linkerkant was ’n groot watergat waar diere gereeld drink. Aan ons regterkant lang grasse met sade vol in dinamiet en digbegroei. Die bosveld asemrowend groen. Asof betower en in stil verwondering bly ons oë vasgevang op dit wat voor ons afspeel:
Dit was laatmiddag en ons op pad terug na Satarakamp. Moeg tog tevrede. Ons dag was volmaak en het die bosveld verskeie keer sy groot vyf asook kleiner wild soos koedoe, bosbok, vlakvark, seekoei, krokodil, hiëna asook verskeie watervoëls opgelewer. Die son skuif af en jy kan die skaaptjoppie op die braaivleisvuur begin sien en proe. Die lafenis van ’n salige warm bad op moeë en sweetlyf voorop.
’n Rooibruin standbeeld flits verby. Ons rem. Was daar iets? Stadig beweeg manlief agteruit ...
Sowaar! Aan die regterkant, in ’n oop kol tussen die groen ruigtes staan hierdie leeuin – roerloos. Dit is net die anderkleurigheid van haar vel wat jou oë gevange hou. Asof gegote beeld.
Sy steur haar min aan ons. Duidelik gefokus op iets of iemand oorkant die pad. Luisterend. Al teken van lewe die spits van ore. Is ons in haar pad, wonder ek, wil sy oor?
Manlief stoot nog agteruit. “Dit lyk of sy iets sien.” Fluister ek opgewonde. Hier kom drama. Sou sy alleen wees? Ek glo nie. Skielik begin die bos agter haar lewe. Nog leeus! Twee ander wyfies met hul kroos. Een werpsel al opgeskoot terwyl die heelwat kleineres agter moet bly.
Reg voor ons neem hulle stelling in. Alhoewel hulle sag en rustig voorkom is dit die styftrek van ore en saamtrek van voorbeenspiere wat hul spanning weggee. Duidelik honger, staar wakker oë na die oorkantste gewoel by die drinkplek.
Adrenalien bruis deur my are en my vinger weier om die kamera knoppie te verlaat.
Aan ons linkerkant, agter die watergat, wei blouwildebees, sebra en kameelperd. Die diere maak beurte by die drinkplek en is natuurlik die oorsaak van die leeus se teenwoordigheid.
Dit raak haas tyd vir die hekke om te sluit, maar ek weet - hier kan ons nie nou weg. Dis tyd vir groot sports. ’n Geluk wat jou net een maal in jou lewe tref. Om in lewende lywe die geweldige krag van die leeu in vangs te aanskou?
Digby aan ons linkerkant wei ’n trop rooibokke. Onbewus van leeu. ’n Ooi wat ver dragtig is strek haar volle lengte en toon die rondings van haar vrug. Sou haar ongeborene ooit die hitte van sonstrale smaak? ’n Frons vorm oor my voorkop.
Die jonger leeus begin lip aflek. Kom minder geduldig voor as die ouer wyfies wat oënskynlik alles rustig dophou.
Ek wonder of hulle ook al die rooibokboud kan ruik en proe? Nie kan wag dat die dankgebed en wag aan tafel moet eindig sodat die smaak van warm en vars bloed honger kan stil?
Een van die jonges raak ongeduldig en spring op. Beweeg vorentoe. Is dit ’n fout, wonder hy en kyk vinnig terug na ma. Hy ken die roskam van ouer wyfies indien die hele operasie omvergegooi word.
“Kom nou Ma – ek is honger ...” spel sy houding, maar ma het eers ander planne.
Tyd vir messe skerpmaak voor ete. Sy kies die naaste boom en sorg dat haar naels vlymskerp is vir die vangs.
Daar mag net een kans wees. Sy weet, hoe dieper haar naels in bokboud inkap, hoe sekerder is sy dat haar gewig dit mag afbring aarde toe.
Die wreedheid van natuur bring gemengde gevoelens in my.
Die sebrahings het hulle eerste geruik. Sy harde waarskuwings-snork het ’n rilling gerippel deur die bos. Dit roep verwarring. Alhoewel die reuk van die leeu daar was, het hulle nie geweet dat hulle agter ons voertuig l? nie.
Die sebras het in ’n voorry van sewe gaan staan en aanmekaar gesnork en geblaas, nader na die leeus beweeg, totdat hulle duidelik kon sien waar hulle is. Ver agter naby die drinkgat het “dagga boys” (buffels) gel?. Tot vandag kan ek nie onthou hoe hul so vinnig naderbeweeg het.
Toe spring die leeus op. Twee van die wyfies het voor ons oor die pad beweeg terwyl die ander agterom verdwyn het.
Toe ek weer links kyk, was al die wild weg. Rooibok, blouwildebees, sebras en vlakvarke. In hul plek het die ses “dagga boys” in ’n dwarsry aangestorm gekom. ’n Donker formidabele kommando in lid - reg vir aanval. Ek snak na asem en wonder of ons ooit veilig is hier tussen leeu en buffel? Padgee kan ons nie, en raak dit nou vinnig donker. Sou die hekke nog oop wees?
Dit was die begin van ’n kat-en-muis speletjie. Wanneer die leeus padgee, sou die buffels asof in beurte een-een vorentoe storm, en wanneer die leeus omdraai en gaan l?, sou die voorste buffel skielik terug-spring. Toe split die leeus op. Was dit om die buffels weg te lei van die kleiner wild agter, of het die buffels dit reggekry om die leeus uit mekaar te dryf?
Vir oulaas neem ek ’n foto van die leeuin hieronder wat regs agterom ons voertuig verdwyn. Ek blaas asem uit.
Ons tyd was verby. So ook die konfrontasie. Maar glo ek nie die buffels het daardie nag die laaste s? gehad nie. Vir die konings van die oerwoud was die aand nog jonk, die honger groot en is daar vele monde wat wag om gevoed te word. Asof in ’n droomw?reld tuur ek na hierdie ongerepte wildernis-paradys deur Skepper geskape.
Ek is in twee as dit by kant kies kom. Die leeus se getalle het die afgelope dekades met 30% gedaal en word gelys as kwesbaar, daarteenoor is buffel steeds volop alhoewel bedreigd deur tuberkulose.

Die omega-foto vir die aand was ’n bloedson wat sy naam in rooi verf, ’n voorbode van ’n nag wat sy eie bloed sou eis ...
Trienie Mahne








Kommentaar
Mooi foto's Trienie. Ek het asem opgehou terwyl ek die prentjie voor my kon sien. Glo my, mens wil nie regtig die wreedheid van 'n vangs belewe nie. Dis iets verskrikliks en wys net weer hoe ongenaakbaar oorlewing kan wees.
Baie dankie Trienie. 'n Pragtige en spanningsvolle oomblik in die natuur wat jy met ons gedeel het.