Die swak prestasie van Suid-Afrikaanse leerders in basiese geletterdheid in nasionale en internasionale assesseringstoetse is ’n bron van kommer. Dit het daartoe gelei dat die Departement van Basiese Onderwys sedert 2010 meer klem begin plaas het op sistemiese toetse in ’n poging om die prestasie van leerders in geletterdheid te bevorder. Volgens die gesaghebbende tydskrif Newsweek is Suid-Afrika se onderwysstelsel 97ste uit 100 lande. Suid-Afrika is selfs swakker as Mosambiek, Bangladesj, en Iran – lande wat aansienlik armer is.
Maar kenners is eenparig in hul siening dat die jaarlikse gestandaardiseerde toetse waaraan ons leerders onderwerp word, nie die verwagte verandering in ons land se geletterdheidsvlakke teweeggebring het nie. Trouens, Jansen (2013) en Ramphele (2013) is van mening dat ons land se onderwysstelsel agteruitboer. Die gevoel is dat assesseringstoetse op sigself nie leerderprestasie verbeter nie. Dit is dalk eerder ’n manier om skole tot groter verantwoordelikheid te dwing.
In hierdie artikel wil ek betoog dat die Departement van Basiese Onderwys te veel klem lê op die jaarlikse assesseringstoetse, terwyl dat daar weinig gedoen word om te verseker dat leerders in leesvaardighede onderrig word. Navorsers wêreldwyd glo dat die voortdurende meting van leerders se prestasie juis die teendeel bereik.
Dit is raadsaam om ons eers af te vra waarom assessering hoegenaamd nodig is. Volgens akademici is die doel van assessering nie net om ’n leerder te toets nie; dit is ’n integrale deel van onderrig en leer met die doel om die leeruitkomste te meet. Dit word algemeen aanvaar dat assessering sinoniem is met gehalte-onderwys. Die vraag onstaan dan waarom die negatiwiteit oor toetsing as dit algemeen aanvaar word dat toetsing met gehalte-onderrig geassosieer word. In die VSA byvoorbeeld het leerderprestasie toegeneem in basiese geletterdheid en syferkundigheid tydens die periode toe die toetse afgeneem is. Terselfdertyd was daar egter geen verbetering in hoë-orde-vaardighede nie.
Diegene wat gekant is teen gestandaardiseerde toetse argumenteer dat dit ’n negatiewe effek op die gehalte van onderwys het deurdat dit die onderrigfokus verskraal tot net die inhoud waaroor leerders getoets sal word, ten koste van navorsing, ontledings, eksperimentering en skryf – vaardighede wat juis nodig is om groot denkers, goeie leiers, briljante universiteitstudente en gewaardeerde werknemers te kweek. Navorsing wys ook dat baie skoolhoofde hul skoolrooster verander en onderwysers dwing om die “toets te onderrig” en leerders vir die sistemiese toetse voor te berei. Dit gebeur omdat skole onder druk is van die onderwysdepartement om hul slaagsyfer in gestandaardiseerde toetse te verhoog.
Daar is breë konsensus onder navorsers dat die oormatige klem op toetse diskrimineer teen die armer skole en onbillik is teenoor skole wat goed presteer. Ook in Brittanje, waar die toetssyfers sedert die middel-1990’s gestyg het, is hierdie prestasie behaal ten koste van kinders se reg op ’n gebalanseerde kurrikulum, met ’n gebrekkige blootstelling aan ander vakke. Die styging in toetssyfers is waarskynlikheid kunsmatig, omdat onderwysers baie gou geleer het hoe om leerders vir die toetse af te rig.
Hierdie werkswyse help nie die leerders wat betref hul langtermynleer nie en lei tot ’n afname in kreatiwiteit, vernuwing en individualiteit by leerders. Dus: terwyl toetsuitslae verbeter het, het opvoedkundige standaarde inderwaarheid gedaal.
Die vraag is nou hoe ons die kwessie van toetsing vorentoe moet hanteer. Ek wil in hierdie opsig verwys na die Finse suksesverhaal.
Vanaf ’n land eens gekenmerk deur ’n burokratiese onderwysbestel wat baie laag op die onderwysrangleer was (wat baie herinner aan die huidige Suid-Afrikaanse model), is Finland vandag die top onderwysland in die wêreld. Op die OECD -nasies se lys van toppresterende lande word Finland gevolg deur Suid-Korea, Kanada, Japan en Nieu-Seeland. Meer as 99% van Finland se leerders het in 2012 die verpligte primêre skool suksesvol voltooi, en ongeveer 90% was suksesvol op sekondêre skool. Dit is in skreiende kontras met die Suid-Afrikaanse model, waar bykans 35% van die leerders wat tot die stelsel toegetree het, nie matriek gehaal het nie. Die regering dek 98% van die onderwysuitgawes op alle vlakke. Geen fondse kom van private instellings of die ouers nie. Daar is, om die waarheid te sê, geen privaatskole in Finland nie.
Die Finse onderwysstelsel steun op die volgende kernbeginsels:
- hulpbronne vir diegene wat dit die meeste nodig het
- hoëvlak-standaarde vir spesiale onderwysbehoeftes
- gekwalifiseerde onderwysers (die meeste onderwysers beskik oor meestersgrade en is bereid om vir ’n diverse groep leerders skool te hou)
- ’n gesonde balans tussen sentralisering (top-down-benadering) en desentralisering (bottom-up-benadering).
Hierdie beginsels verseker dat leerders daagliks onderrig word deur goedvoorbereide onderwysers wat in tandem werk met ’n hoëgehalte-kurrikulum ondersteun deur geskikte leermateriaal en assesseringmetodes. Die klasse is klein: ongeveer 20 leerders per klas. Leerders word nie net onderrig nie, maar kry ook die basiese behoeftes. ’n Kind kan nie leer as hy/sy siek en honger is nie. Alle leerders ontvang derhalwedaagliks ’n gratis maal, asook gratis gesondheidsorg, vervoer, leermateriaal en berading by die skool. So word verseker dat ’n omgewing wat bevorderlik is vir leer, in elke skool bestaan. Die fokus is op wetenskap, tegnologie, vernuwing en kreatiewe denke (anders as in Suid-Afrika, waar leerders soos papegaaie leer (memoriseer) en vir eksamens en toetse afgerig word).
Finland het wegbeweeg vanaf ’n gesentraliseerde stelsel wat eksterne toetse en eksamens propageer na ’n plaaslike stelsel waar hoogsopgeleide onderwysers hul eie kurrikulum rondom die basiese nasionale standaarde ontwerp. Die kernbeginsel waarop die hele stelsel berus, is om in die kapasiteit van plaaslike skole en hul onderwysers te belê ten einde die behoeftes van daardie skool aan te spreek. Met goeie voorligting word elke kind se kreatiwiteit binne die gemeenskaplike maar bereikbare uitkomste verwesenlik.
Intussen het die VSA hom tot selfs meer eksterne toetsing gewend. Dieselfde geld vir Suid-Afrika, waar steeds geglo word dat hoe meer jy die skapie weeg, hoe gouer gaan hy gewig optel. In Finland skryf leerders slegs een eksamen voordat hulle universiteit toe gaan: die matriekeksamen wat geadministreer word deur die eksamenkomitee, aangewys deur die minister van onderwys. Radikaal? Dalk. Maar Finland se kurrikulum, wat geskoei is op skoolgebaseerde, leerdergesentreerde en oopboektake, is die hoofrede vir die land se sukses in internasionale toetse.
Jy sal nie in ’n Finse klaskamer ’n onderwyser sien wat vir 50 minute klasgee nie. Leerders bepaal self hul weeklikse doelwitte in samewerking met hul vakonderwysers. Hulle kies self die take, wat hulle teen hul eie pas voltooi. Dikwels sal hulle ook groepprojekte voltooi. Die ontwikkeling van metakognitiewe vaardighede wat help om probleme te ontleed en op te los, asook hul eie vordering evalueer, vorm die boustene van die Finse onderwysstelsel.
Ten slotte berus die Finse stelsel op die beginsel dat die onderwyser sentraal is tot enige opvoeding. Daarom is die bemagtiging van onderwysers en die erkenning van hul rol as professionele opvoedkundiges die spil waarom alles draai. Die opleiding van onderwysers is ontwerp sodat voornemende onderwysers kan leer om op hul voete te dink, en self te kurrikuleer as dit nodig is, sonder om eers toestemming by ’n regeringsamptenaar te kry. Onderwysers het ruimte vir vernuwing om nuwe metodes te ontdek om leer te verbeter. Hulle is nie jabroers wat die kurrikulum volgens streng voorskrifte toepas nie, maar professionele individue wat weet hoe om hul leerders se potensiaal maksimaal te ontsluit.
Aanbevelings
Onderwys in Suid-Afrika staar reuse-uitdagings in die gesig. GK Chesterson (1935) het gesê: “It isn’t that they can’t see the solution. It’s that they can’t see the problem.”’n Nuwe benadering tot assessering is dus nie iets wat in isolasie opgelos kan word nie – dit verg ’n gesamentlike poging en nasionale strategie wat tot in alle klaskamers regoor die land strek.
Die oplossing vir Suid-Afrika se onderwysprobleem lê nie by meer toetse nie. As ons besef dat onderwysers die sleutel tot ’n suksesvolle onderwysstelsel is, moet ons alles in ons vermoë doen om hul effektiwiteit te verhoog. Suid-Afrika moet baie meer onderwysers oplei en in diens neem. Dis onaanvaarbaar dat onderwysers met klasse van meer as 60 leerders sit. Ons moet onderwysers die geleentheid gee om hul vaardighede te verbeter deur verdere studie, studieverlof en beurse. Jong onderwysers moet vir ’n proefperiode van minstens ’n jaar onder die wakende oog van ’n mentor werk. Die reuse-burokrasie moet drasties verklein word. Daar is te veel goeie onderwysers wat in distrikskantore rondsit terwyl hul vaardighede in die skole benodig word.
Dit bring my by die onderwysbegroting. Volgens die Minister van Finansies word die oorgrote meerderheid van ons belastinggeld aan onderwys bestee. Maar dit behoort selfs vir die breedsprakige gladdemond Minister van Finansies duidelik te wees dat om aanhoudend meer geld aan skole te gee, nie die probleem gaan oplos nie. Meer geld sonder verantwoordbaarheid en ware transformasie is soos om in ’n mandjie te melk: die geld verdwyn in ’n bodemlose put.
Slotopmerking
Pleks van onderwysers en leerders voortdurend te belas met nog toetse, moet skole begin wegbeweeg van punte en toetsuitslae na ’n meer holistiese benadering om die gehalte van onderwys te assesseer. Ons moet strukture daarstel wat sal verseker dat leer nie net toets- en eksamengedrewe is nie. Leerders is hoogs intelligent; as ons hulle konfronteer met ’n spel waar onderrig en leer gereduseer word tot toetse en assesseringstake, sal hulle studeer volgens die reëls van daardie spel. Om hulle leer te verbeter, moet ons die spel wat ons opdis, verbeter.
Bibliografie
Jansen, Jonathan. 2013. Our matric results and schooling: two ways of doing things. Sunday Times. 6 Januarie.
Jordaan, Van As. 2010. Assessment in present day education. Referaat gelewer tydens ’n seminaar van die International Center for Agricultural Education.
Ramphele, Mamphela. 2012. Conversations with my sons and daughters. Penguin Books.
Sahlberg, P. 2012. Finland shows us what equal opportunity looks like. American Educator.
- Michael le Cordeur is verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Dankie vir die insiggewende artikel. Hoewel ek ook van mening is dat ons heeltemal te veel klem op assessering plaas en daardeur 'n geweldige administratiewe las op die onderwyser plaas en ook eksamenafrigting in die hand werk, kan ek nie sien dat 'n grootliks gedesentraliseerde benadering in SA sal werk met die uiteenloppende agtergrond en vermoëns van leerders wat ons saam in een klaskamer wil groepeer nie. Ons sal 'n goeie middeweg moet vind.
Dit is die probleem in 'n neutedop saamgevat. As jy vandag 'n passievolle onderwyser is met 'n meestersgraad word jy deur ouers gesien as bedreiging. Ek glo glad nie in afbakening met toetse nie. Indien leerder gereeld met inhoud te doen kry, raak hy dit baas. Leerders kan glad nie logies, probleemoplossend, assosiatief ens. dink nie. Hulle sit net, luister nie, wil doen wat hulle wil en verkla die onderwyser by die ouers as hulle werk nie voltooi is nie. Ons onderwys gaan daagliks agteruit.