Vir DJ0 (1914–1985)
Halfpad tussen Bartolo en Wolraad se strand,
Op Dirk der Duisende se Frans-se-kraal-se-erf
Koepel nog ’n Melkhout hoeveel der jare oud?
’n broeis Bantam kloek agterdogtig op die werf
Op soek na pitkos in die sand.
Seekant se witperde hol,
Noordwes vandag, môre Sedoos se geneuk.
Danger Point-teen-die-hang
se vuurlig tol en tol
skuiwend oor duin, bamboes, makriel en alikreuk.
’n Klokboei ruk iewers lui-lui aan sy stang …
Perk-amen die wit waar
Dirk der Duisende -
onder stam-gewelf,
soos al die jare taks
uit kokers van vele reise -
berigte vir buitepos en grens bestem
soos bloedwei
finaal aflaat.
Binne wrongel,
buite weerloos
boom.
***
Sideroxylon inerme – Witmelkhout
Sideroxylon is uit Grieks: sider + xylon = “yster” + “hout”; die binnehout is baie hard. Inerme is Latyns vir “ongewapen”. Die boom is doringloos.
© Marko van der Colff. 2014.

