Beste deelnemers
In die eerste plek stem ek saam met min of meer al die uitvoerige kommentaar wat Jasper van Zyl in sy eerste verslag gelewer het. Enige jong digter kan hom/haar gelukkig ag wanneer iemand met kundigheid en ervaring erns maak met sy/haar werk en sulke deurdagte, welwillende terugvoer gee. Meestal skryf ’n mens jare in ’n vakuum van stilte terwyl net ’n paar vriende en jou ouers jou aanmoedig, maar wanneer dit kom by poësie, kan ’n mens nie altyd die mense vertrou wat jou die beste ken en die meeste vir jou omgee nie. Hulle is dikwels te na aan jou en te versigtig om jou gevoelens seer te maak. Hulle kan dus nie objektief wees oor jou skryfwerk nie en ’n mens het eerlike, onbetrokke kritiek nodig as jy wil groei en jou eie hebbelikhede wil leer ken.
In haar klassieke boek Becoming a Writer (1934), wat steeds in druk is, raai Dorothea Brande aspirantskrywers aan om hulself as twee mense te benader: ’n verstandige, praktiese kritikus aan die een kant, en ’n sensitiewe, spontane kunstenaar/skrywer wat in voeling is met die roeringe van die onbewuste aan die ander kant. Omdat laasgenoemde ’n teer wese is wat verskriklik gou kan seerkry, moet ’n mens hom/haar beskerm teen kritiek. Stuur dus jou verstandige, kritiese en meer objektiewe self om kritiek (soos LitNet-leesverslae) te oordink en te verwerk. Gee dan jou sensitiewe, kreatiewe kant vrye teuels wanneer jy skryf en die muse jou beetpak, want ’n oorkritiese self kan jou skeppende vermoëns lamlê, maar sorg dat jy jou werk daarna so objektief en krities moontlik deur jou verstandige, koelkop self laat redigeer.
Brande stel dit so:
Most of the methods of training the conscious side of the writer – the craftsman and the critic in him – are actually hostile to the good of the artist’s side; and the converse of this proposition is likewise true. But it is possible to train both sides of the character to work in harmony, and the first step in that education is to consider that you must teach yourself not as though you were one person, but two.
[...]
There are other advantages in considering yourself a two-in-one character. It should not be your sensitive, temperamental self which bears the burden of your relations with the outside world of editors, teachers, or friends. Send your practical self out into the world to receive suggestions, criticisms, or rejections; by all means see to it that it is your prosaic self which reads rejection slips! Criticism and rejection are not personal insults, but your artistic component will not know that. It will quiver and wince and run to cover, and you will have trouble in luring it out again to observe and weave tales and find words for all the thousand shades of feeling that go to make up a story [or poem].
Algemene riglyne, oftewel ’n soort 5-punt-plan
Toe ek en Loftus Marais by die Woordfees 2011 ’n poësie-slypskool aangebied het, het Bibi Slippers ons in ’n LitNet-onderhoud gevra: “Is daar ’n resep vir goeie poësie? Of minstens ’n 5-punt-plan ter verbetering van ’n twyfelagtige gedig?”
Ek staan steeds by my destydse antwoord: daar is geen resep nie, maar die volgende is redelik betroubare riglyne ter hersiening van ’n gedig:
1. Die woorde in ’n gedig is soos die ratte in ’n masjien: as ’n rat draai, maar geen ander wiel laat draai nie, is dit nie deel van die masjien nie. Dit wil sê, alle oortollige woorde wat soos ekstras op die stel rondstaan, moet geskrap word.
2. Staan stil by enige woord of frase wat jou pla – hetsy omdat die klank jou steur of omdat sekere semantiese of assosiatiewe konnotasies verwarring veroorsaak. As ’n woordkeuse jou krapperig maak, is dit waarskynlik nog nie die regte een nie. En die verskil tussen die regte en amper die regte woord is die verskil tussen ’n vuurvliegie en ’n weerligstraal, soos Mark Twain gesê het.
3. “Go in fear of abstractions” (Ezra Pound). Die onkritiese gebruik van woorde soos siel, hart, liefde en vrede is selde sinvol. Dit laat die meeste lesers afskakel. Konkrete voorwerpe is dikwels die beste simbole en konkrete taalgebruik die mees poëtiese.
Die groot Amerikaanse modernis Wallace Stevens was reg toe hy gesê het: “To a large extent, the problems of poets are the problems of painters ...” Dit gaan dus oor dit wat jou woorde die leser laat sien. En abstraksies wys nie prentjies nie.
Wanneer ek sê: “Ek is onbeskryflik hartseer”, sien én voel jy niks, maar wanneer ek vir jou sê:
My Ouma Max het my geleer liefde
proe soos haar druiwekonfyt.
My oorle’ Ouma Max se geliefde
ou rooi teepot
het vanoggend stukkend geval
op die wit teëlvloer.
Wat doen ek in hierdie woonstel
waar al die vloere so hard geteël is?
begin jy sien én voel.
Om woorde soos siel, hart, liefde en vrede in ’n vers af te vuur, is soos om met ’n afgesaagde haelgeweer op die sterre te skiet – jy tref alles en niks tegelyk. Wanneer jy so ’n abstraksie gebruik, moet jy dit anker met ’n vergelyking of metafoor, byvoorbeeld: “Die hart is ’n winterdier” (Breyten Breytenbach) of “Liefde proe soos Ouma se druiwekonfyt.”
4. “End with an image and don’t explain” (Stanley Kunitz). Daar is natuurlik ook uitsonderings op hierdie veralgemening, maar verduidelikings, veral van beelde, in ’n gedig is dodelik.
5. As jy ’n aha-effek, ’n oomblik van ontdekking en verheldering, met die skryf van ’n gedig ervaar het, is die kanse groot dat ’n leser dieselfde opwindende ervaring sal hê. ’n Digter wat, voor hy begin skryf, reeds presies weet wat hy wil sê en dit met die gedig bloot op ’n mooi, liriese manier wil sê, se kans om ’n werklik goeie vers te skryf is baie skraal.
Intussen sou ek egter graag voetnote tot punte 2 en 5 wil voeg.
By punt 2: Wanneer jy van rym en/of ’n vaste metrum gebruik maak, is die woordkeuse in terme van klank én betekenis deurslaggewend – dit gaan oor die sintese tussen ritme en betekenis. As jy wonder of jou gebruik van rym sinvol was, is Robert Graves se riglyne oor die gebruik van rym in “Observations on Poetry 1922-1925” steeds relevant:
Rhymes properly used are the good servants whose presence at the dinner-table gives the guest a sense of opulent security; never awkward or over-clever, they hand the dishes silently and professionally. You can trust them not to interrupt the conversation or allow their personal disagreements to come to the notice of the guests; but some of them are getting very old for their work.
[Rhyme] must on no account appear to guide the sense: it must come unexpectedly and yet inevitably, like presents at Christmas, and convey the comforting sense of free will within predestination.
Indien jy dié wyse woorde van Graves nie heeltemal helder vind nie, stel ek voor jy vertaal dit. ’n Mens onthou en verstaan iets wat jy vertaal het, altyd soveel beter.
By punt 5: ’n Gedig wat geskryf word ter illustrasie of dramatisering van ’n idee of oortuiging, is uit die staanspoor beperk. Wanneer ’n gedig of verhaal as ’n eksperiment benader word waarvan die resultate onseker is, kan die skrywer saam met die leser iets ontdek. Die kragtigste poësie dramatiseer en deurvors vrae, nie antwoorde nie. Só word dit ’n vorm van denke. ’n Goeie roman, sê die Nobelpryswenner VS Naipaul, kan nie van die waarheid onderskei word nie – “is indistinguishable from truth”. Dieselfde geld ’n goeie gedig.
Die Amerikaanse Pulitzerprys-wenner Louise Glück stel die argument mooi in haar essay “Against Sincerity”:
I want to say, finally, something more about truth or about that art which is “indistinguishable” from it. Keats’ theory of negative capability is an articulation of a habit of mind more accurately ascribed to the scientist, in whose thought the absence of bias is actively cultivated. It is the absence of bias that convinces, that encourages confidence, the premise being that certain materials arranged in certain ways will always yield the same result. Which is to say, something inherent in the combination has been perceived.
I think the great poets work this way. That is, I think the materials are subjective, but the methods are not. I think this is so whether or not detachment is evident in the finished work.
At the heart of that work will be a question, a problem. And we will feel, as we read, a sense that the poet was not wed to any outcome. The poems themselves are like experiments, which the reader is freely invited to recreate in his own mind. Those poets who claustrophobically oversee or bully or dictate response prematurely advertise the deficiencies of the chosen particulars, as though without strenuous guidance the reader might not reach an intended conclusion. Such work suffers from the excision of doubt: Milton may have written proofs, but his poems compel because they dramatize questions. The only illuminations are like Psyche’s, who did not know what she’d find. [...]
The true, in poetry, is felt as insight. It is very rare, but beside it other poems seem merely intelligent comment.
Weer eens, as jy Glück se argument nie heeltemal verstaan nie – vertaal dit. Dis die moeite werd.
In deel 2 van die verslag sal ek my kommentaar op die deelnemers se gedigte onder hierdie vyf punte rangskik en sistematiseer. Kyk solank of jy kan raai wat ek onder elke punt gaan uitwys.
SkryfNet 2013 – eerste verslag, deel 2
Ek het dus besluit om my kommentaar op elke deelnemer se gedigte onder hierdie vyf punte te orden en dit só hopelik sinvol te sistematiseer.
Emlyn Allwright
- Jy werk mooi suinig met woorde en in jou eerste gedig kan ’n mens nie juis sny nie, hoewel ’n mens nog moet tob oor woordkeuses. By jou tweede gedig wonder ek egter of ’n mens nie die volgende kan skrap nie:
wanneer die CPU hard gewerk het
nie te breed of te
maer
nie.
Jy wil duidelik met laasgenoemde ’n mespunt tipografies uitbeeld, maar jy praat van ’n hef, en die feit dat jy dit perfek noem, impliseer reeds dat die vorm nie te breed of te maer (dun?) is nie. Jy kan steeds ’n tipografiese mespunt met die oorblywende woorde vorm, maar sulke “truuks” kan maklik later as foefies vertoon wat nie wesenlik tot die betekenismoontlikhede van die gedig bydra nie. Enige woordkeuse of reëlbreuk wat aandag trek, moet die kollig van die nadere ondersoek wat dit uitlok, kan verduur.
2. Ek is nie heeltemal seker wat jy met die meerduidige kruis-simbool in jou eerste vers wil maak nie, maar daar is beslis iets interessants aan die gang. Indien jy op die trek van ’n kruis op ’n stembriefie en die demokrasie wil sinspeel, stel ek voor dat jy weer mooi gaan dink oor die plekname wat jy kies, want indien jy ’n spesifieke geografiese gebied wil afbaken, lyk hierdie plekke te lukraak. Ek neem aan die “wit waters” en “wit brand” verwys na wit mense, maar dis net ’n raaiskoot en wat presies die WAT en die “fraai woorde” met alles te make het, is ook vir my onduidelik.
Kortom, die gedig kommunikeer nog nie heeltemal nie. Dit klink poëties en lyk interessant, maar uiteindelik ontgaan dit my eenvoudig.
3. Gaan kyk weer na die volgende woorde by “IV”: “state”, “wit brand”, “gier”, “bankies” en “fraai woorde”. Vra jou nou af: Wat sien die leser?
4. Jy trap nie in hierdie slaggat nie, Emlyn, maar ek wonder tog of die slot van “V” nie dalk met ’n verdere treffende beeld versterk kan word nie. Met ander woorde, jy eindig met ’n uitnodiging om na die vorige beelde te kyk, maar wat van nog ’n beeld wat óf ’n subtiele verband tussen die vorige drie suggereer óf al drie omvat op ’n wyse wat ’n verdere/nuwe perspektief moontlik maak.
5. Ek vermoed dat jy met albei jou gedigte nog op die spoor van ’n klein openbaring is, maar dit nog nie gevind het nie. Iets in hierdie beelde en gedagtes hou jou besig en krap aan jou en jy kry dit reg om ook die leser se belangstelling te wek én te hou, maar nóg jy nóg die leser ervaar ’n waarlik verhelderende, bewussynsverruimde oomblik aan die einde van hierdie gedigte.
Ronnie Strydom
1. Ronnie, gaan kyk gerus weer na alle byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat jy gebruik het en vra jou af wat dit tot jou gedigte bydra. ’n Prosaïese byvoeglike naamwoord of bywoord het die nare gewoonte om die betekenismoontlikhede van enige konkrete mens, dier, ding of aksie in te perk. Taalonderwysers leer jou graag op skool dat jy jou opstelle interessanter kan maak en as ’t ware kan geur met byvoeglike naamwoorde en bywoorde, maar hierdie byvoegsels is dikwels bloot clichés wat geskrap kan word om die beeld(e) wat jou vers skep, te verhelder.
Jy kan byvoorbeeld beslis “magteloos” skrap in reël 5 van “Bergwind” – ’n koerantpapiermarionet kan tog niks anders as magteloos wees nie. En is dit nodig om te sê die gras fluister “onheilspellend” wanneer jy reeds so ’n duidelik onheilspellende nagtoneel geskilder het? Kan die fluister van die wind ooit iets anders as “dof” wees?
In “Padlangs” is daar verskeie clichés waarvan jy ontslae kan/moet raak. Uitdrukkings soos “die lewe draai snaakse paaie” en “alle paaie lei na Rome” is so geyk dat dit nie in ’n gedig hoort nie, tensy die digter iets nuuts daarmee wil aanvang en dit byvoorbeeld ironies wil verdraai. Die gefluister van wind en gras is selfs reeds oorbruik en dit sal goed wees as jy vars maniere kan vind om die geluide van hierdie dinge te beskryf.
Jy kan beslis jou verse nog drasties verkort. Gaan fynkam dus jou verse vir dinge wat geskrap kan word en kyk ook wat ek onder punt 4 sê.
2. Jy moet weer mooi gaan dink oor al jou rymwoorde. Gaan lees in die eerste afdeling van my verslag wat Graves oor rym sê en vra jou af: Hoeveel keer het die metrum en eindrym my verlei om woorde te gebruik wat vaal of geyk is of die woordorde te verander sodat dit geforseerd en onnatuurlik klink? In hierdie verband sou ek sê die tweede strofe van “Bergwind” verswak die grotendeels sterk eerste strofe fataal.
Ook in jou tweede gedig is daar ryme wat eenvoudig te maklik en goedkoop is – om “smart” en “hart” te rym is eenvoudig ontoelaatbaar. En gaan kyk ’n bietjie hoe die woord “gaan” jou ter wille van die rym tot “maan” lei, wat ’n onbeholpe, onbedoelde komiese effek het.
3. Gaan kyk weer na jou gebruik van woorde soos “alleen”, “hart” en “lewe” en vra jouself of dit enigiets meer as vae veralgemenings of clichés tot gevolg het.
4. Jou sterkpunt lê in die beeldkrag van ’n pragtige reël soos “Hoe selfs die hoogste denneboom rukkend hengel, in maanverligte duister”. (Ek weet egter nie of die komma ná “hengel” sinvol is nie.) En in “Padlangs” werk jy deels vernuftig met jou geboorteland as metafoor. Maar in beide gedigte lê jy in jou tweede strofe die beelde in die eerste strofe uit. Jy kelder só jou gedigte en veroorsaak dat die beelde wat jy geskep het, al hul potensiële resonansie verloor. Jy kan albei jou tweede strofes geheel en al weglaat en slegs skaaf aan jou eerste strofes. Probeer dit en kyk watter effek jy verkry.
5. Deur jou beelde so netjies en ooglopend in jou tweede strofe te verklaar, verhoed jy enige moontlike aha-oomblik – goeie gedigte roer deur te wys, nie deur te verduidelik nie. In beide hierdie verse weet jy reeds redelik seker watter emosies jy wil oordra, maar kyk bietjie wat gebeur as jy drasties sny en op die beelde begin konsentreer. Dalk ontdek jy nog iets verrassends.
Megan J van Rensburg
Megan, ek kan net alles beklemtoon wat Jasper gesê het. Jy moet gaan dink vir wie jy wil skryf. Indien jy prettige verse en rymelarye vir kinders wil skryf, moet jy gaan kyk na die werk van Philip de Vos en Leon Rousseau, Michael Rosen en Julia Donaldson. Al hierdie digters maak sterk en vaardig van eindrym gebruik, maar by hulle kry ’n mens nie die indruk dat die behoefte aan eindrym in beheer van die vers en dus die digter staan nie. Indien jy egter eerder speelse, ondeunde verse vir volwassenes wil skryf, kan jy ook gaan kyk na Philip de Vos, maar veral na Roald Dahl se Revolting Rhymes wat deur Francois Bloemhof as Roald Dahl se vreeslike versies vertaal is. Tematies sou byvoorbeeld jou tweede vers nie vir kinders geskik wees nie.
Rynie Olivier
Rynie, met beide jou verse kan jy met betrekking tot punte 1 en 2 soos al die ander digters weer gaan dink oor woordkeuses en in watter mate ’n rympatroon jou woorde laat gebruik wat as klank werk, maar nie optimaal is wat betekenismoontlikhede betref nie.
Daar is egter in jou twee gedigte meer wesenlike probleme wat punte 3, 4 en 5 betref. Jy verduidelik en spel eenvoudig hopeloos te veel uit. Jou gedigte is eintlik twee stellings in versvorm: 1) Die liefde is net ’n ouvrou-storie en 2) die behoefte aan aanvaarding laat mense, en veral tieners, nare goed doen.
Die vraag is nou: Hoeveel dra die res van jou verse tot hierdie stellings by? Word die stellings enigsins meer ingewikkeld en genuanseerd deur jou gedigte? Ek glo nie.
In jou eerste retoriese vers oor die liefde, maak jy byna net van abstraksies gebruik en is daar eintlik geen konkrete beelde wat poëties weerklank vind nie. In jou tweede gedig is daar weliswaar een of twee mooi beelde wat as vergelykings ingespan word, maar jy vra die leser om dit alles te vergelyk met die groot, veralgemenende abstraksie: die behoefte vir aanvaarding. (Dis terloops taalkundig meer korrek om van ’n “behoefte aan aanvaarding” te praat.) Met ander woorde, die kanse dat jy of die leser enigiets ontdek in hierdie verse, is nul.
Ek wil dus ’n radikale voorstel maak: vergeet eers albei jou gedigte en probeer om twee nuwe verse rondom hierdie temas te skryf – twee verse waarin jy geen stellings oor aanvaarding maak nie, maar bloot twee klein stories vertel rondom die lugspieëling van liefde en die dodelike behoefte aan aanvaarding. Daar is uiteraard gebeurtenisse in jou lewe wat jou genoop het om hand aan papier te slaan en hierdie temas aan te spreek. Skryf daaroor!
Carike Odendal
Carike, dit wat ek oor Rynie se werk geskryf het, geld ook vir jou – veral vir jou tweede gedig, “Optog”. Ook hierdie vers kan maklik tot ’n stelling gereduseer word: Die mense in ons land kry swaar en kry nie wat hulle verdien nie. Om bloot ’n stelling te maak met ’n bietjie eindrym in, is sinneloos – ’n omslagtige wyse om iets eenvoudigs te sê. As jy iets van hierdie gedig wil maak, moet jy begin om ’n spesifieke optog te wys. Jou optog is generies en absoluut retories. Die vers is dan ook deurspek van veralgemenings en abstraksies, soos:
in hierdie land
drank en geweld
onderhewig aan die magtigste se oordeel en eise.
Ek voel kaal, opgeweeg teen ’n ander wêreld se skaal!
Die mense daar buite breek ons vertroue
in ’n doolhof verward en ontevrede
raad, menige antwoorde
leiding en smart (korrigeer: lyding)
die verkeerde pad
taal.
’n Goeie gedig is nooit net ’n preek nie en hier sê jy vir mense, jouself inkluis, wat hulle reeds weet.
My voorstel is: gaan skryf ’n vers oor ’n protes-optog, maar ’n spesifieke een, en wys jou leser die mense, die strate, die polisiemanne, die gesigte, slaanstokke en plakkate.
Jou eerste vers het meer potensiaal, maar ook hier het jy in plaas van om ’n konkrete toneel in digterlike besonderhede te wys, vertel en ’n oordeel uitgespreek in abstrakte taal.
Daarbenewens steur die volgende gemengde metafoor: “nuuskierige sterre spring heen en weer”. Hoe kan sterre heen en weer spring of nuuskierig wees? Ek stel voor jy skrap al die volgende woorde of vervang dit met iets konkreets:
hemelruim
ondier
verte
[...]
Die tyd het aangebreek,
Die tyd om te wreek.
[...]
Die Sondaar.
’n Geweer vel sy vonnis neer:
doodstraf.
Sy lot is lankal voorspel.
[...]
Die middernag se gebeure is –
droomverlore en vergete.
Al bostaande woorde is te algemeen en abstrak. Dit verskaf ’n vae gevoel van melodrama sonder enige konkrete konteks of poëtiese resonansie. Dit is soos ’n riller sonder slagoffers of booswigte.
Ek stel voor jy werk met die konkrete beeld van die jakkals en wys wat daar gebeur het. Hoe lyk “die sondaar”? Wat word gewreek met watter geweer – met ander woorde, wat het nou eintlik middernag gebeur? Wie se lot is al lank voorspel en hoe?
Keer terug na die skryfskool-tuisblad.

