Titel: Skadu's Van Gister
Skrywer: Marzanne Leroux-Van der Boon
Uitgewer: NB Uitgewers / Publishers
ISBN: 9780624058816
Koop Skadu's Van Gister by Kalahari.com.
Marzanne Leroux-van der Boon (aanvanklik net Marzanne Leroux) is al lank met ons. As ’n ywerige Afrikaanse leser nie reeds as jeugdige met haar boeke kennis gemaak het nie (verskeie van haar jeugromans is deur die jare voorgeskryf), sou hy of sy wel later met een van haar gevoelvolle romans vir volwasse lesers kennis gemaak het. En diep onder die indruk gekom het van Leroux-Van der Boon se sensitiewe skryfstyl, die aangrypende deernis waarmee sy met haar karakters omgegaan het. Dink maar aan Aandmis oor Paternoster (’n verhaal oor liefde oor die kleurgrens toe so iets nog “buite die orde” was, maar wat nie soveel opspraak verwek het soos wat die skrywer dalk sou wou gehad het nie). En dan was daar Ver land van vrede (’n persoonlike gunsteling) of Somernagdroom. Leroux-Van der Boon se skryfwerk het dalk nie die Suid-Afrikaanse skryfwêreld op sy kop gekeer nie, maar haar romans was telkens méér as blote ontspanningslektuur. En sy het deur die loop van haar loopbaan ’n groep aanhangers opgebou waarvoor hoëprofielskrywers hulle spreekwoordelike voortande sou gee.
Die laaste jare het Leroux-Van der Boon haar besig gehou met ’n reeks romans – ewe gewild – wat in Israel afspeel en waarin die geestelike inslag van haar werk tot ’n hoogtepunt gevoer word. Die jongste uitreiking in dié reeks, Kavod Adonai: Die vrese van die Here, is pas vrygestel ... kort op die hakke van Skadu’s van gister, die gesamentlike titel van die heruitgawe van twee van die skrywer se bekendste romans: Klaprose teen die wind en Soos honde van die hemel.
Die verhaal in Klaprose teen die wind het sy ontstaan in ’n dun, grys hardebandboekie, Tyd van herkenning, wat baie jare gelede (2002) by die destydse Waterkant-Uitgewers verskyn het. ’n Onbenullige boekie, op die oog af, maar ’n verhaaltjie wat destyds diep in my hart kom sit het en steeds nie sy wyk gekry het nie. Ditword in die skrywer se biografie as ’n jeugverhaal aangedui, maar dit is nie altyd so maklik om dié onderskeiding te maak wat Leroux-Van der Boon se oeuvre betref nie: feitlik al haar boeke is vir jonk én oud toeganklik.
In Tyd van herkenning moet die jongeling Marc Krige – ’n begaafde, ontluikende kunstenaar – vrede daarmee probeer maak dat sy pa gay was en selfmoord gepleeg het. Die jong Marc se onsekerheid oor sy eie seksualiteit sluit by die deurlopende tema aan. Die ambivalensie van manlike seksualiteit sou telkens in Leroux-Van der Boon se boeke aangeraak word. (Terloops: Marc sou ook die “held” word – soms nogal in ’n soldate-uniform – in Leroux-Van der Boon se Israel-boeke, natuurlik eers nadat hy hom finaal met sy heteroseksualiteit versoen het.)
In Klaprose teen die wind bevind Marc hom in Nederland, sy pa se geboorteland, waarheen hy uitgewyk het om diensplig te ontwyk. Hy word deur ’n prostituut van sy maagdelikheid “ontneem”. Sy pad kruis kort daarna met Anneliese, ’n ontmoeting wat óók uitloop op lyflike genot, al is hulle bewondering vir mekaar nie regtig wedersyds nie: vir Anneliese is dit óók heeltemal normaal om ’n paar gulden in ruil vir seks te aanvaar. Marc gaan aanvanklik by sy ouma tuis, maar raak later bevriend met Jurgen – ook ’n oud-Suid-Afrikaner – en trek by hom in. Aan die hand van Jurgen word Marc by die wêreld van Vigs en homoseksualiteit betrek. In die laaste deel van die verhaal reis Marc saam met ’n sterwende Jurgen deur die papawervelde van Engeland. Klaprose teen die wind is moontlik Leroux-Van der Boon se bekendste roman, deels omdat dit destyds – ten spyte van die boek se relatiewe gewaagdheid – oor die Afrikaanse radiodiens voorgelees is. Die voorlesing van “dáárdie” sekstoneel het veral ontstoke luisteraars laat regop sit.
Soos honde van die hemel is die verhaal van Ruud, ’n joernalis en gebore Suid-Afrikaner van gemengde bloed wat in 1994 uit Nederland na sy vaderland terugkeer. Onluste en geweld vier hoogty en Ruud moet verslag doen oor dié onstuimige tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis. Hy beur swaar aan die bagasie wat hy sy lewe lank met hom saamdra: terwyl hy as kind by sy bruin ouma gewoon het, is hy deur sy oom gemolesteer. As volwassene in Nederland was hy boonop in ’n homoseksuele verhouding wat skeefgeloop het. Dalk is dit om sluiting te probeer vind dat hy die huisie opsoek waar hy destyds grootgeword het. Die woongebied is intussen tot ’n “wit” gebied verklaar en die huisie is opgeknap en word bewoon deur Anne, ’n geskeide onderwyseres. ’n Verhouding ontstaan, maar Anne en Ruud het albei soveel “issues” dat ewige liefde allesbehalwe vanselfsprekend is.
Bogenoemde verhaal het in 1995 verskyn en Klaprose teen die wind in 1992. Ek was nie baie beïndruk toe ek die verhale destyds vir die eerste keer gelees het nie. Gister se skadu’s bied die geleentheid om hierdie verhale weer te lees, dalk raak te lees wat destyds misgekyk is, en tog (al is dit ná baie jare) aangenaam verras te word.
Dit het egter helaas nie gebeur nie. Albei verhale skep steeds die indruk van ’n emosionele geroesemoes, van ámperse soetsappigheid (in teenstelling met die gevoelvolheid van die skrywer se vroegste werke). Nie in een van hierdie twee verhale is daar veel sprake van intrige nie; pleks daarvan is daar eindelose paragrawe dialoog wat allermins boei. Die geestelike aspek word so half aan die hare bygesleep. Die karakters se grenslose gewroeg irriteer pleks daarvan om deernis te skep. Leroux-Van der Boon verstáán pyn en sy het ’n goeie begrip van die “menslike kondisie”, maar om sinvol daaroor te kan skryf, tel – na aanleiding van hierdie twee verhale – nie onder haar talente nie. ’n Mens wonder deurentyd wát die skrywer eintlik probeer sê. En die verhale is oudmodies: Wil ons regtig nog lees oor ’n tyd toe Vigs sinoniem was met homoseksualiteit en die massas probeer het om apartheid met brandende buitebande uit die weg te probeer ruim? Dié dinge is, wat die letterkunde betref, lankal afgehandel en moes liefs in die skadu’s gebly het.
Het die uitgewer hom dan misgis met die heruitgawe van hierdie twee titels?
Dié vraag kan dalk die beste deur daardie groep klipharde Leroux-Van der Boon-ondersteuners beantwoord word. Sommige het nog nie ál hierdie skrywer se boeke gelees nie en ander sal bepaalde titels wéér wil lees: daar is ’n baie, baie groot vraag na Leroux-Van der Boon-titels wat jare reeds uit druk is. Maar hoekom die uitgewer nie liewer twee of drie van die skrywer se werklik góéie boeke – soos Aandmis oor Paternoster of Ver land van vrede – opnuut die lig laat sien het nie, weet nugter.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

