Dr Stoffel van der Merwe het kommentaar op my skrywe oor Abraham Lincoln (SêNet, 21 Feb) gelewer. Ek reageer op wat hy op 28 Februarie oor FW de Klerk geskryf het.
Dit is seker so dat nie net konserwatiewes vir De Klerk tot leier van die Nasionale Party verkies het nie. Die punt is dat hy toe, ten regte of ten onregte, 'n konserwatiewe politieke beeld gehad het. Van 1990 af het sy beeld al hoe meer verlig geword (as enkele heelwat latere terugkrabbelings geïgnoreer word), dermate dat ek hom "oorverlig" genoem het. Dit verg tog seker 'n oorverligte politikus om die politieke mag van 'n lofwaardig ontwikkelde en gesofistikeerde land eensklaps aan 'n politiek en administratief onervare en onkundige "bevrydingsbeweging" oor te dra.
Toe De Klerk begin het om sy visie van politieke verandering te propageer, het hy bv eie woongebiede en eie skole aan die wittes belowe en dat niemand sy werk sou verloor nie. Die vaandel waaronder hierdie inisiatiewe verkondig is, was magsdeling en nie magsoorgawe nie. Dit is op grond hiervan dat die meerderheid kiesers ten gunste van 'n nuwe bedeling gestem het; ook omdat 'n ja-stem nie finaal sou wees nie. De Klerk het belowe dat hy met die finale skikkingsooreenkoms na die blanke kiesers vir goed- of afkeuring sou terugkom. Dit is nooit gedoen nie. In hierdie sin kan die huidige politieke opset as onwettig geëtiketteer word. Ek dink nie daar was of is die vaagste moontlikheid dat die meerderheid blanke kiesers die huidige politieke opset sou goedkeur nie. Die meerderheid wittes was sekerlik teen magsoorgawe. Die onbeduidende getal wittes wat die ANC steun, kan as onderskrywing van my vertolking dien. Die magsdeling wat die meeste wit kiesers moontlik in gedagte gehad het, was dat hoogstens die helfte van die politieke mag aan nie-wittes oorgedra sou word.
Van der Merwe skryf dat De Klerk die realiteite van sy tyd onbevrees in die oë gekyk het. Dit kan so wees in die geval van sy versuim om 'n opvolgreferendum onder die blankes te hou. Destyds is telkens gewaarsku dat dit onwys sou wees om met "terroriste" (sedertdien vryheidsvegters genoem) te onderhandel. Die ANC (insluitende Nelson Mandela) het egter geweier om geweld af te sweer. De Klerk het toe met onderhandelings begin met mense wat steeds die geweldsopsie in hulle arsenaal gehad het. Geweld is deur die ANC bloot opgeskort (en nie afgesweer nie) en sou opgeskort bly mits die ANC sy sin kry, naamlik die oorname van die politieke mag. As De Klerk 'n opvolgreferendum gehou het en die meerderheid blankes het nee gestem, sou die ANC sy geweld hervat het; ook as die ANC die 1994-verkiesing sou verloor. Mandela het dit uitdruklik gesê en op hierdie manier die kiesers voor die 1994-verkiesing probeer intimideer.
Van der Merwe ontken voorts dat politieke mag ongekwalifiseerd aan die meerderheid oorhandig is. Vir hierdie doel klou hy vas aan die grashalm van sekere hofuitsprake. In sy boek South Africa's brave new world toon RW Johnson duidelik aan hoe hofuitsprake oor politiek-gewigtige sake die ANC bevoordeel. Dit kan teruggevoer word na die manier waarop regters deur 'n meerderheid ANC-gesindes vir aanstelling gekeur word. 'n Mens kan jou afvra in hoeverre daar werklik 'n skeiding van wetgewende en regterlike mag is. Soos in die VSA is dié skeiding sekerlik nie absoluut nie.
Hermann Giliomee toon in sy boek Die laaste Afrikanerleiers aan hoe die beloofde magsdeling van De Klerk tydens die onderhandelings keer op keer afgewater is, totdat hy uiteindelik net die enkele NP-ministers in die regering van nasionale eenheid kon uitwys as "magsdeling". Spoedig het De Klerk self die inisiatief geneem om uit daardie regering te bedank, wat 'n einde ook aan sy soort magsdeling (die bietjie sê wat 'n klein minderheid in die kabinet gehad het) gebring het.
Van der Merwe impliseer dat realisme geseëvier het. Maar selfs in Zimbabwe het die blanke minderheid twee dekades lank (as ek reg onthou) 'n gewaarborgde getal parlementslede gehad. In Suid-Afrika, anders as in die VSA, is daar geen minderheidsregte nie. Geen blanke vetoreg is beding nie. Daar is nie eens 'n verbod op rassediskriminasie nie. Erger, daar mag maar teen blankes gediskrimineer word en daarmee kan tot in die oneindige voortgegaan word, want geen keerdatum is gestel nie. Teen nie-wittes mag daar egter nie gediskrimineer word nie. In die praktyk kom dit nie op gelyke burgerskap vir almal neer nie, maar inderdaad op minderwaardige burgerskap vir wittes. In sy boek Eindstryd bestempel Willie Esterhuyse groepregte as 'n onding. In die nuwe Suid-Afrika bestaan glo net indiwiduele regte. Maar nie-wittes en veral swartes word in die praktyk as 'n groep bevoordeel en wittes word as 'n ras- of etniese groep deur blatante diskriminasie benadeel. Behalwe burgerskap en ouderdom, is daar geen kwalitatiewe vereistes waaraan kiesers moet voldoen nie. Selfs funksionele geletterdheid word nie van kiesers of politici vereis nie.
Die voorafgaande kom myns insiens daarop neer dat die politieke onderhandelingsproses kolossaal misluk het; sekerlik uit die oogpunt van die blankes, wie se belange deur De Klerk beskerm moes word. Daar is nie eens amnestie van vervolging en beveiliging teen weerwraak vir bv die lede van die destydse veiligheidsmagte (polisie en weermag) beding nie. Die veelgeprese onderhandelings was grootliks 'n reeks toegewings wat feitlik uitsluitlik van De Klerk se kant gekom het. Die tragiese gevolge hiervan raak nie net die blankes nie. Dit is voorstelbaar dat 'n immorele minderheid (soos die wittes deesdae dikwels voorgestel word) ondergeploeg kan word in 'n nuwe bedeling wat voortreflik is. De Klerk se politieke herskikking het dit nie opgelewer nie. Die grondslag vir 'n suksesvolle, vooruitstrewende en voorspoedige land is nie gelê nie. Suid-Afrika sou beter by ewolusionêre verandering as by hierdie "demokratiese rewolusie" gebaat het. Ek dink dat historici my mettertyd gelyk sal gee.
Johannes Comestor


Kommentaar
Puik gestel Johannes!
Johannes
Dis ’n mooi eensydige vertolking van die verlede. Ek merk op dat jy en Jan Rap gereeld agiteer vir ’n beter verlede maar nog nooit met werklike voorstelle vorendag gekom het om die toekoms aan te spreek nie. Dit is verseker so dat daar verskeie flaters begaan is tydens die oorgangsonderhandelings en dat dit byvoorbeeld aanleiding gee tot die huidige blatante diskriminasie teen witmense (en tot ’n groot mate teen bruinmense ook). Deur egter aanhoudend oor die verlede te k*k en kerm gaan ons egter niks in die sak bring nie.
Is jy nie lus en skryf net een keer vir ons iets om ’n aanduiding te gee van hoe jy voorstel ons by ’n meer regverdige bedeling vir minderhede kan uitkom, sonder om by voor-1994 retoriek vas te haak.
Groetnis
Thomas
Thomas is (as ek reg onthou) 'n oud-Broeder wat oorverlig geword het. Dit is makliker om bollemakiesie te slaan en elke keer saam met die stroom te swem as om kritiek te opper en tekens van verset te toon.
Hy beweer dat my vertolking eensydig is, maar hy wys nie enige feitefoute uit nie. Dalk is dit veeleerder die geval dat hy nie van die feite hou nie. Dit is 'n feit dat die tweede referendum wat aan die blanke kiesers belowe is, nie gehou is nie; dat magsdeling magsoorgawe geword het; dat rassediskriminasie nie verbied is nie; dat groepregte, ingevolge regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, net aan nie-wittes (veral swartes) toegeken is. Nie-wittes (veral swartes) word bevoordeel omdat hulle lid van 'n groep is; dus nie suiwer op grond van indiwidue se meriete nie. Maar Thomas begeer dat sulke "voor-1994 retoriek" onder die mat gevee word. Die punt is dat waarmee ons grondwetlik sit, nie die grondslag vir 'n suksesvolle land is nie.
Hy beweer verkeerdelik dat ek nog nooit met voorstelle ter verbetering van die situasie gekom het nie. In werklikheid het ek hierdie saak dikwels aangespreek. Enigeen kan my skrywes in die LitNet-argief nagaan. Wat Suid-Afrika nodig het, is realistiese magsdeling, bv dat die helfte van die politieke mag aan die blankes (desnoods saam met die bruines en Asiate) toegeken word. Daar moet ook vetoreg oor duidelik omskrewe sake wees. My hoofbeswaar teen die nuwe Suid-Afrika is dat kwantitatiewe pleks van kwalitatiewe oorwegings deurslaggewend is omdat dit die swart meerderheid pas. Wat ons het, is blatante swart mag en nie demokrasie in die sin dat ewewigtig na almal se belange omgesien word nie. Alle kiesers behoort aan sekere kwalitatiewe vereistes (bv funksionele geletterdheid) te voldoen. In ruil vir hulle buitensporige vergoeding behoort streng vereistes aan alle politici op die sentrale, provinsiale en plaaslike vlak gestel te word. Iedereen van hulle behoort 'n deskundige te wees sodat hulle met die heil van die samelewing vertrou kan word.
Wat ek hierbo geskryf het, is reeds implisiet in my brief van 1 deser. Myns insiens is ons almal, maar veral die blankes, uit hulle toekoms verneuk. Daar is in die voorsienbare toekoms geen moontlikheid dat die swart meerderheid van hulle huidige, grootliks onverdiende, buitensporige bevoordeling sal afsien nie. In hierdie sin help dit nie om te "k*k en kerm" nie.
Johannes, ek is steeds eens met jou bydrae hierbo. Dis duidelik sonder enige rassevooroordeel en anderhaat opgestel. Ek dink ook dat baie van diegene wat die Ingelse/Amerikaanse Chester Crocker se vrot winde destyds so maklik vir laventel gesit en snuif het, vandag skaam is om te erken dat hulle aan die neus gelei is. Lees ek jou voorstelle wil ek jou tog vra; impliseer jy 'n konfederasie, of 'n federasie. Ek dink dat 'n enkele logiese ideologiese term dalk jou vyande kan verdubbel, maar tot jou voordeel 'n duidelike lyn trek. Boeregroete, Cornelius
Cornelius, in die vorige eeu, toe daar ernstig oor 'n sinvolle staatkundige opset vir Suid-Afrika gedink is, was daar allerhande voorstelle oor soorte federasies, kantons, ens. Die model wat ons tans het, is van die slegstes wat daar kan wees, want dit laat die ANC toe om die politieke mag al hoe meer te sentraliseer. Selfs 'n nie ANC-regering in 'n enkele provinsie word eintlik nie geduld nie. Die politieke mag is net op stemdag in die kiesers se hande. Daarna is dit nie eens in die hande van die ANC se verkose politici op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak nie. Alles word deur 'n klein kliek uit die ANC-hoofkantoor in Luthuli-huis beheer. Daar word selfs besluit watter kandidate in watter rangorde vir politieke poste in aanmerking kom.
Johannes Comestor
Johannes
Thomas, ons standpunte is glad nie ver van mekaar nie. Jy distansieer jou (nou) van die ANC en jy bepleit 'n meritokrasie. Ek onderskryf albei. Dit is geen nuwe storie van my kant af nie. Voorheen het ek telkens 'n meritokrasie bepleit. Dit is waarom ek die waarde van kwaliteit bo kwantiteit beklemtoon het. Wat ek voorstaan, is soortgelyk aan wat Ian Smith in Zimbabwe verlang het en nie toegelaat is om uit te voer nie, met rampspoedige gevolge. Smith het ook die bruines en Asiate saam met die wittes gegroepeer, maar as oorgangsmaatreël.
Daar behoort nie eensklaps van 'n rasgebasseerde stelsel na absolute nie-rassigheid oorgeskakel te word nie. Voor dit is tydsverloop vir ontwikkeling by veral die swartes nodig. Ek dink jy fouteer deur te beweer "baie" swartes smag na 'n meritokrasie. Ek dink diesulkes is 'n baie klein persentasie. Die meerderheid wil nie die speelveld gelyk hê nie, want dan moet hulle op gelyke voet met die wittes meeding.
Wat Zimbabwe en Suid-Afrika nodig gehad het, is ewolusionêre verandering. Aanvanklik was rasgebaseerde magsdeling noodsaaklik, vandaar my wens van 'n 50-50 magsverdeling as oorgangsmaatreël. Swart vordering sou bepaal in watter pas hulle ten volle in die politieke stelsel opgeneem word. In albei lande was die swartes ongeduldig en het hulle hulle eerder tot geweld gewend om rewolusionêre veranderings dadelik te bewerkstellig, met rampspoedige gevolge in albei lande.
Dit help eintlik nie as ek meer hieroor skryf nie. Soos voorheen gestel, gaan dit nie net oor wat die wittes in hierdie proses verloor het nie. 'n Minderheid swartes het gebaat, maar moontlik net op kort termyn. Die tragedie van die politieke oorgangsproses is dat 'n belowe land, die ou Suid-Afrika, verbrou is; vir baie lank, indien nie vir altyd nie. Dit kan 'n misdaad teen die mensdom genoem word.
Johannes Comestor
"belowe land" moet lees: "belowende land".
Johannes, ek sien jy is nog steeds besig met jou kwalitatiewe verkiesingsplan. Wil jy daardeur sê dat die sewentigjarige swart ongeletterde tannie wat gebraaide mielies by Soweto se stasie verkoop, nie mag besluit wie haar in die parlement verteenwoordig nie? Net omdat sy nie kan lees en skryf nie. Jo, dan sou die helfte van die Boere in die Boereoorlog nie mag stem nie.
Dan kom jou swart vordering gedagte na vore. Kom vir my voor asof jy jouself as beter sien. Jou belange weeg swaarder as die van die swart mense in die land.
Dan die storie van die magsdeling. Waar en hoe gaan jy die magsdeling uitvoer? Wie gaan die leierfigure wees? Hoe gaan jy jou ekonomiese model anders instel as die ander vyftig persent? Nee wat, Thomas is reg, Jy veg vir 'n beter verlede en om te teem daaroor gaan jou niks in die sak bring nie.
Mag De Klerk vir homself praat, nie deur die mond van Comestor of ander skrywers nie?.
Johan, algemene stemreg is nie die enigste politieke model nie. Ongekwalifiseerde stemreg aan almal is nie noodwendig 'n goeie ding nie, veral nie as die meerderheid kiesers oningelig is en maklik mislei word nie. Maar as dit 'n heilige koei is dat almal stemreg moet hê, kan verskillende gewigte aan kiesers se stemme ooreenkomstig meriete gegee word. Die probleem met jou benadering is dat jy die dogma sluk dat almal gelyk en selfs eenders is, dat "een asem, een stem" voortreflik is, dat mense bloot moet wees om dieselfde politieke mag as ander te hê, dus sonder dat die wortel van verbetering aan hulle voorgehou word.
Omdat ek verbetering by die massa bepleit, beteken nie noodwendig dat ek my bo ander verhef nie. Dit beteken wel dat sommige mense (nie noodwendig etniesgewys nie) in spesifiseerbare opsigte beter as ander is, dat eerder hierdie meer begaafde mense as die minder begaafdes in beheer van 'n land moet wees. Mense wat oor werklike kundigheid en toewyding beskik, behoort te regeer. Hulle kan en behoort ewewigtig almal se belange na te jaag.
Ek veg vir 'n beter verlede in die sin dat die magsdeling wat belowe is, ingestel moes gewees het, dat die oorgangsproses skandalig verbrou is, dat ek nie sonder meer gedwee berus in die eindelose politieke gemors waarin ons ons nou bevind nie. Die huidige omstandighede van al die inwoners kon baie beter gewees het; ook die vooruitsigte vir die toekoms. My "geteem" is water wat reeds onder die brug deur is, soos ek telkens noem. Maar daar is iets voor te se as 'n mens 'n gesonde visie het van wat kon wees pleks van gelate 'n verbroude brousel te aanvaar.
Johannes Comestor
Gister het ek Wouter op SêNet terugverwelkom omdat hy nuttige inligting opspoor en op hierdie werf bekend stel. Daar is seker geen beswaar as FW de Klerk self praat nie, maar dit moet in die gedagte gehou word dat De Klerk rede het om bekommerd te wees oor hoe hy in historiese perspektief beoordeel gaan word. Hoe gevoelig hy vir kritiek is, blyk uit die feit dat hy inligting oor hom in PW Botha se outobiografie en in die WVK-verslag suksesvol geblokkeer het.
Wat Wouter eintlik met sy skrywe wil doen, is om met behulp van De Klerk my teen te spreek. Dit lyk dus nie asof Wouter uit ons vorige konfrontasies geleer het nie. Ek het geen beswaar teen gesonde debat nie, maar Wouter se skrywes van gister is, soos voorheen, vol bedekte en direkte stekies (bv na Jan Rap) pleks daarvan dat hy uit eie reg 'n standpunt stel en motiveer.
Oor De Klerk se aangehaalde stellings kortliks die volgende.
* De Klerk sou alle rassediskriminasie ophef. Dit het nie gebeur nie; of is daar werklik iemand wat ontken dat teen wittes in die nuwe Suid-Afrika gediskrimineer word?
* De Klerk maak asof stemme van gelyke waarde vir almal 'n gegewe was. Een mens, een stem was beslis nie iets wat deur die blanke kiesers in die referendum goedgekeur is nie. Ek onthou die eerste keer toe ek gehoor het dat dit "onderhandel" (eintlik: toegegee) is. De Klerk was in die VSA toe hy dit aangekondig het. Heel moontlik het hy nie kans gesien om so iets die eerste keer plaaslik rugbaar te maak nie. Die meerderheid blanke kiesers sou een mens, een stem nie goedgekeur het nie.
* De Klerk wil nie hê dat onreg teenoor die meerderheid gepleeg word nie. In die nuwe Suid-Afrika is daar geen minderheidsregte nie. Is hy nou net so bekommerd oor onreg wat teen minderheidsgroepe gepleeg word, of word sodanige onreg ontken?
* De Klerk het 'n nuwe Suid-Afrika vry van geweld, chaos en kommunistiese oorheersing begeer. Het ons dit gekry?
* Daar was minder werklike konsensus in die geledere van die Nasionale Party as wat De Klerk voorgee. In Giliomee se boek, waarna ek in 'n vorige skrywe verwys het, word vertel van 'n prominente politikus wat De Klerk te lyf wou gaan omdat sy beloofde magsdeling niks meer nie as enkele kabinetsposte vir 'n kort tydjie opgelewer het.
* Dit kan ook betwyfel word of De Klerk so 'n duidelike visie vir die nuwe Suid-Afrika gehad het as wat hy voorgee. Izak de Villiers was toe die redakteur van Rapport. In sy outobiografie noem De Villiers dat sy waarneming was dat De Klerk nie geweet het watse politieke oorgang hy bestuur nie.
Die volgende twee sake, in die vorm van vrae, is in hierdie debat deurslaggewend. Het ons politieke magsdeling, soos plegtig belowe is, of magsoorgawe aan die swartes gekry? Is daar onmiskenbaar 'n sinvolle grondslag vir 'n suksesvolle Suid-Afrika gelê?
Johannes Comestor
Wouter wil weet hoe 'n federasie beter as die huidige opset sou wees. Die federale state hoef nie dieselfde grense as die vorige vier of die huidige nege provinsies te hê nie. Wat vir 'n beter opset as die huidige nodig is, is groter outonomie oor meer sake vir die provinsies of state. Dit was die aanvanklike posisie van die Amerikaanse state na die stigting van die VSA. Na die Amerikaanse Burgeroorlog is hierdie outonomie al hoe meer weggekalwe deur die sentrale regering in Washington DC. Abraham Lincoln was die inisieerder hiervan. Die sentralisasie van mag is die Stalinistiese ideaal van die ANC. Daar was al sprake dat die provinsiale regerings afgeskaf sou word. Die provinsies kan ook met die beskikbaarstelling van fondse deur die sentrale regering gyselaar gehou en afgepers word. Die huidige opset in Suid-Afrika is dus ook in hierdie opsig glad nie ideaal nie.
Johannes Comestor
Hello,
Aanvullende Notas:
Hello,
Wouter het blykbaar 'n groot deel van die 9de gebruik om my met aanhalings verkeerd te probeer bewys. Sy eerste drie skrywes is eintlik ontoepaslik, want hulle spreek my nie teen nie. In sy vierde skrywe verwys Wouter na my "kommando's" en "bog" maar bewys niks teen my standpunt nie. In sy vyfde skrywe besluit hy dat ek "loutere onsin" geskryf het. Om "a vote" aan swartes te gee in 'n poging tot magsdeling, beteken egter glad nie noodwendig of uitdruklik ongekwalifiseerde "een mens, een stem" in 'n eenheidstaat nie. Dit is sekerlik nie so aan die blanke kiesers voor die referendum gestel nie en ook nie geopenbaar voor lank na hierdie referendum nie.
Blykbaar was Wouter te jonk om te verstaan toe hierdie gebeure plaasgevind het. Sedertdien het hy ook nie krities of genoegsaam hieroor gelees en behoorlik daaroor besin nie. Dit is vir my werklik nie die moeite werd om sy lang aanhalings te lees en daarop kommentaar te lewer nie. Soos ek in 'n vorige reaksie genoem het, gaan dit in hierdie gesprek wesenlik om twee sake: (1) Het ons magsdeling of magsoorgawe aan die swartes gekry? (2) Het ons nou die grondslag vir 'n suksesvolle land?
Johannes Comestor
Comestor is kwaad en word dit aanbeveel dat Comestor eerder lang stories oor die Astor's en Bloomsbury gaan skryf waar wat hy ook al daarvan dink maar verbygegaan kan word of dan soos 'n wafferse letterkundige Kafka & Camus die twee denkers in 'n blik te probeer druk.
Wouter: (1) Toon aan in watter opsigte my vertolking van Camus foutief of vergesog is. (2) Kafka maak dit vir my onmoontlik om meer te beweer as dat daar heelwat van waarde in sy werk is; dus, alles is sekerlik nie kaf nie. (3) Die wittes het 'n reg tot politieke mag. Onder hulle leiding is die land tot die voorste land in Afrika ontwikkel. In baie opsigte voorkom wittes steeds dat die land ineenstort. Al gehoor van al die konsultate wat die staatsdiens aan die gang probeer hou? (4) Ek herhaal: Die eerste keer toe ek gehoor het dat daar aan een mens, een stem toegegee is, was De Klerk se aankondiging in die VSA dat alle stemme gelyke waarde sou hê. Selfs toe het hy die waarheid probeer verdoesel deur nie spesifiek een mens, een stem te sê nie. (5) Inderdaad, die uitkoms van die onderhandelings kon nie vooraf vasgelê word nie. Daarom het De Klerk belowe om 'n opvolgreferendum onder die blanke kiesers te hou, wat hy nooit gedoen het nie. Hy het beweer dat wat hy onderhandel het eintlik maar is waarvoor die blanke kiesers reeds in die referendum gestem het; dus, magsoorgawe aan die swartes is dieselfde as magsdeling wat aan wit en nie-wit politieke mag sou gee.
Johannes Comestor
Nommer 1 & 2:
Sowat van stiksienigheid sal 'n mens seker moeilik elders kry. Wat ons tans het, is magsoorgawe aan die swartes. Daar is nie sprake dat die politieke mag bv 50-50 tussen wit en nie-wit of tussen wit/bruin/Asier en swart gedeel word nie. Nou kom Wouter met blankes wat 'n gelyke reg tot mag het. In die praktyk is hulle grootliks magteloos. Swartes bepaal wie die land regeer, nie die wittes nie. Maar magsdeling is deur De Klerk belowe.
In die 1992-referendum het die wittes ten gunste van verdere onderhandeling met die oog op magsdeling gestem. Dit is nie aan hulle gestel dat hulle een mens, een stem en swart magsoorgawe moet aanvaar nie. As dit toe al besluit was, sou dit so aan die kiesers voorgelê gewees het. Die magsoorgawe het tydens die latere onderhandelings gekom. Van Zyl Slabbert vertel toe Roelf Meyer toegegee het oor een mens, een stem het die ANC-afvaardiging vir 'n verdaging gevra sodat hulle eers in hulle eie kwartiere kon gaan lag, want daarna was dit eintlik onnodig om oor enige wesenlik saak ooreen te kom; alles kon deur die swartes verander word, ook die grondwet.
Wouter kan gerus met iemand gesels wat weet wat destyds gebeur het. Ek het nou genoeg tyd weens sy stories gemors.
Johannes Comestor
Hello,
Die laaste nota na 'n vorige nota nog nie publiseer. Van Zyl Slabbert, is 'n persoon met wie daar oor tyd 'n gesprek gevoer kan word aan die hand van sy skrywes en bied die volgende:
Wouter, jy redeneer dat minderhede nie in 'n demokrasie (ekstra) beskerm (mag) word nie, maar dit is wat in bv. die VSA gedoen word. Is die VSA, wat so hoog opgee oor demokrasie, dus nie een nie? Alles hoef nie in alle opsigte vir almal te geld nie. Wat jy mee besig is, is die gewilde hedendaagse speletjie van die gelyk- en selfs eendersverklaring van alle mense, wat deur die werklikheid teengespreek word. Dit is 'n oorreaksie sedert die Tweede Wêreldoorlog.
Dit word algemeen erken dat in 'n sosiale opset ewolusionere verandering verkieslik bo rewolusionere verandering is. Soos die ANC en die kommuniste verkies jy egter rewolusie. Nêrens het ek vir rasgebaseerde, aparte parlemente gepleit nie. Ek verkies magsdeling in 'n enkele parlement.
Die inperking van magte is noodsaaklik, ook in 'n demokrasie. In die VSA word misdadigers se stemreg weggeneem en hulle kan dit ook lewenslank ontbeer. Dink net watter heilsame uitwerking so iets sou hê op bv. die versperring van paaie, klipgooi, afbrand van geboue en treine, moord, verkragting, diefstal, onwettige stakings, korrupsie, nie-betaling vir dienste, terrorisme, ens.
Kyk my verdere slotkommentaar op die hoofwerf.
Johannes Comestor
Daar word dan gewag vir kommentaar op die hoofwerf.