Van die bekendste katastrofiese gevolge van die Tweede Wêreldoorlog was die uitlewering van Oos-Europa aan die kommunisme, dus aan Stalinistiese Rusland. Daarteenoor was daar, uit die oogpunt van die Weste, die gunstiger verloop van sake in die Midde-Ooste, veral die stigting van die onafhanklike staat Israel in 1948. Sedertdien het Israel egter 'n bron van feitlik onophoudelike onvrede geword, soortgelyk aan die posisie waarin Suid-Afrika hom tydens blanke bewind bevind het. Die ontstaansgeskiedenis van hierdie Joodse staat kan teruggevoer word na die Balfour-verklaring, wat in 1917, dus tydens die Eerste Wêreldoorlog, deur die Britse regering uitgereik is.
Die Britse minister van buitelandse sake, Arthur James Balfour (1848-1930), het op 2 November 1917 soos volg aan Walter Rothschild (1868-1937), die leier van die Joodse gemeenskap in Brittanje, geskryf: "His Majesty's government view with favour the establishment in Palestine of a national home for the Jewish people, and will use their best endeavours to facilitate the achievement of this object, it being clearly understood that nothing shall be done which may prejudice the civil and religious rights of existing non-Jewish communities in Palestine, or the rights and political status enjoyed by Jews in any other country" (bron hieronder, p 341). Van die Jode wou die frase "a national home" na "the national home" verander (p 335-336), maar het omsigtigheidshalwe aanvanklik nie op 'n onafhanklike Joodse staat aangedring nie.
Die beste uiteensetting van die omstandighede wat tot die Balfour-verklaring gelei het, is te vinde in Jonathan Schneer se boek, The Balfour Declaration: The origins of the Arab-Israeli conflict (London: Bloomsbury, 2011, 432p). Die Jode het hulle in baie verskillende lande bevind en daar is dikwels op allerhande maniere teen hulle gediskrimineer. Teen die einde van die 19de eeu het dit duidelik geword dat die Jode sou moet kies tussen assimilasie met die plaaslike nie-Joodse bevolking (dus sou moet ophou om as 'n etniese groep voort te bestaan) of hulle sou 'n eie geografiese gebied, 'n tuisland, moet bekom waar hulle hulle religieuse en kulturele identiteit kon behou. Met die oog op laasgenoemde is die Zionistiese beweging in 1897 gestig (p 11). Uganda was van die eerste lande wat vir Joodse hervestiging oorweeg is (p 112, 115). [Terloops, die Nazi's wou die Jode na Madagaskar verban.] Talle ander plekke is ook oorweeg (p 113). Om veral historiese en religieuse redes het die Jode egter voorkeur aan Palestina gegee.
In 1914 het oorlog tussen, aan die eenkant, Brittanje en bondgenote soos Frankryk en Rusland, en aan die ander kant, Duitsland, Oostenryk-Hongarye en die Ottomanse Ryk, uitgebreek. Die Eerste Wêreldoorlog het jare lank baie gelykop verloop. Dit was vir Brittanje noodsaaklik om die Arabiere, veral dié in Saoedi-Arabië, sover te kry om teen hulle Ottomanse heersers, gesetel in Turkye maar met beheersentra in Beiroet en Jerusalem (p 3), in opstand te laat kom. Horatio/Herbert Kitchener (1850-1916) het hierin 'n rol gespeel (p xviii). Hy was bekend vanweë die plakkaat: "Your country needs you" (p 35). "He may not be a great man - but he is a great poster" (p 36). In geval van 'n Britse oorwinning, is beheer tot by die Turkse grens in die noorde aan die Arabiere belowe, met die uitsondering van 'n vaag omskrewe gebied (mettertyd Palestina en Libanon) tussen Sirië en die Middellandse See.
Maar die Britte "did not believe for a minute that the Arabs could organize or govern a great kingdom or empire" (p 56). Dit was 'n geval van "doubting the capacity of dark-skinned peoples, including Arabs, to govern themselves" (p 76). Verder terug in die geskiedenis is daar die "favourite maxim" van Benjamin Disraeli (1804-1881): "Race is everything" (p 136). Balfour het oor die verskillende rasse gesê: "They have been different and unequal since history began and different and unequal they are destined to remain" (p 134). Dit was die bloeityd van Britse imperialisme: "We should almost certainly [govern the region] better than anybody else" (p 84).
In 1916 het die Arabiere se opstand teen Turkse oorheersing begin. Hierin het Lawrence van Arabië (Thomas Edward Lawrence, 1888-1935) 'n belangrike rol gespeel. Hy het oor die Arabiere gesê: "We are getting them to fight for us on a lie and I can't stand it" (p 324). Enkele weke voor die Arabiese opstand het Brittanje en Frankryk, sonder die Arabiere se medewete, die Sykes-Picot-ooreenkoms aangegaan. Schneer vestig die aandag op "at least three layers of deceit" (p 198; weens die ruimtebeperking verskaf ek nie die besonderhede nie). Mark Sykes (1879-1919) was 'n Katoliek: "It was his Catholicism that enabled him to understand the tragedy of the Jewish question, since not so long since Catholics had suffer much in England" (p 210).
Sykes was van mening: "All black [nie-wit, bv Arabiere] people want sound, strict, unbending government" (p 46). Volgens die Sykes-Picot-ooreenkoms sou Brittanje en Frankryk elk beheer oor sekere gebiede in die Midde-Ooste kry, met Palestina onder internasionale beheer. (Brittanje het na die oorlog beheer oor Irak en Jordanië verkry en Frankryk oor Libanon en Sirië. In 1920 het die Volkebond/League of Nations aan Brittanje 'n mandaat gegee om Palestina te regeer, p 374). Rusland het ingestem tot die Sykes-Picot-ooreenkoms.
Uiteraard wou die Turke die Arabiere oorhaal om aan dieselfde kant as hulle te veg, maar die Arabiere wou politieke selfbeskikking hê en het die fout gemaak om die Britte te vertrou. Uiteindelik het die Arabiere te min vergoeding vir hulle deelname aan die oorlog ontvang (p 330). 'n Joodse staat in Palestina was en is vir die Arabiere heeltemal onaanvaarbaar: "Jewish colonization of Palestine must conflict to some extent with Arab interests" (p 160). Die Jode het, anders as die Arabiere, nie die "British double-dealing" vertrou nie en het op skriftelike ondernemings aangedring (p 224).
Die Ottomanse Ryk het tot die oorlog toegetree omdat hy Rusland as die hoofbedreiging beskou het. Daar was egter in Turkye heelwat teenstand teen deelname aan die oorlog. Om Ottomanse onttrekking aan die oorlog te probeer bewerkstellig, het Brittanje beloftes aan die Turke gemaak wat strydig is met wat reeds aan die Jode en die Arabiere belowe is (p 154, 240, 368, 369). Alfred Milner (1854-1925) het hierin 'n rol gespeel (p xix), asook Jan Smuts (1870-1950; p 352-353, 357, 359). Die Ottomans was sedert 1517 in beheer van Palestina (p 7).
Brittanje het na die Eerste Wêreldoorlog en veral met die stigting van die Joodse staat in 1948 nie sy beloftes aan die Arabiere nagekom nie: "Promises made to Arabs need not be binding upon the British government" (p 97). Een van die verskonings is: "Britain's territorial promises depended upon the Arabs carrying out a successful revolt on their own, which they never did, relying instead upon British support to defeat the Turks" (p 67). Om te probeer vergoed vir sy gebroke beloftes, was Brittanje geneig om tydens konflik met die Jode oormatig die kant van die Palestyne te kies (p 374).
'n Joodse staat was vir Rusland 'n aantreklike vooruitsig, want hy wou graag aan sy Jode die opsie gee om te emigreer. In die VSA was daar ook 'n sterk teenwoordigheid van Jode wat ten gunste van 'n Joodse staat was. Hierdie oorweging het gehelp om die teensinnige VSA in 1917 by die oorlog te betrek (p 211, 214). In Duitsland het die vooruitsig van 'n Joodse staat gehelp om interne teenstand teen die oorlog aan te wakker.
"Britain needed the support of 'international Jewry' to win the war" (p 268). Balfour het gedink "Jews 'were exceedingly clever people who in spite of their oppression achieved a certain success which excited the jealousy and envy of people among whom they lived' ... recognition of Jewish nationality and establishment of a Jewish national home would raise the status, and therefore alleviate the treatment, of Jews everywhere" (p 307). Herbert Samuel (1870-1963): "The Jewish brain is rather a remarkable thing, and under national auspices the state might become a fountain of enlightenment and a source of a great literature and art and development of science" (p 126). En: "The Jewish brain is a physiological product not to be despised ... If a body be given again in which its soul can lodge, it may again enrich the world" (p 136).
"How did the Jews propose to organize themselves as a nation in Palestine?" Nahum Sokolow (1861-1936): "In the same way as the French and English had established themselves in Canada or the Boers in South Africa, viz by settling on the land. A nation should be built up like a pyramid on a broad base and strong foundations. This foundation was the land" (p 199). Om as 'n etniese groep voort te bestaan, het die sionistiese Jode, naas 'n eie tuisland, om kulturele en nasionalistiese redes veral twee dinge begeer: die herlewing van die Hebreeuse taal en 'n Joodse universiteit in Jerusalem (p 11, 113).
"To denationalize Judaism ... would be to lose it" (p 120). Volgens Georg Wilhelm Friedrich Hegel (1770-1831) is die ideaal "that the state should be racially homogenous" (p 141). Dus, verkieslik moet 'n enkele etniese groep sowel 'n staat as 'n nasie vorm. 'n Suiwer Joodse staat sou dus gepas wees. Wat die Jode veral sedert 1948 gedoen het, is: "Develop [die historiese] Palestine and make it populous and cultivated and civilized and flourishing" (p 148). Hulle "made the desert bloom with flowers" (p 343).
My DNS is sodanig dat ek voorkeur aan beskawing gee en groot bewondering vir die Jode en die staat Israel het. Ruimte ontbreek om die verdere geskiedenis van Israel hier te skets. Wat nie betwyfel kan word nie, is dat baie indiwidue en instansies meegewerk het om Israel tot stand te bring, te ontwikkel en voortdurend teen vernietiging te beskerm. Ook ontbreek die ruimte om ooreenkomste en verskille tussen Israel en die ou Suid-Afrika uit te wys. Die Israeli's sal ongetwyfeld sorg dat wat met soveel opoffering opgebou is, nie so ligtelik en so dwaas verkwansel sal word soos wat ons vorige politici ons aangedoen het nie.
Let ten slotte op die kontras tussen die Israeli's se genoemde koestering van hulle taal en universiteit en wat in die nuwe Suid-Afrika aan die orde van die dag is. Die Universiteit Stellenbosch was by uitstek die bakermat van Afrikaner-nasionalisme en die Afrikaanse taal. Sonder noemenswaardige teenstand word Russel Botman egter deesdae toegelaat om albei hierdie kosbare nalatenskappe soveel moontlik en so vinnig moontlik te vernietig.
Johannes Comestor


Kommentaar
Dag Johannes,
as jy belangstel in die waarheid rondom Israel, daar is plekke bv hul ambassades se 'websites' en meer. Ek lees daagliks die koerant Israel Hayom en kry die tydskrif Israel Today wat baie artikels oor onder andere die Arabiese leuens en die VVO se absoluut duidelike diens aan die vyande van Israel lewer.
Die feite in kort is dat die land Israel deur G_d aan die volk Israel gegee is, Jerusalem was reeds duisende jare gelede die hoofstad van die soeweryne staat Israel. Daar het nog nooit, ooit 'n Arabiese staat genaamd Palistine bestaan nie.
Die naam Palistine kom van die Romeinse afgod-aanbidder Hadrian af. Klein Israel het soos gewoonlik geweier om die keiser of sy afgode te aanbid en Hadrian wou hulle daaroor uitwis. Toe hy hulle uiteindelik verslaan in 135 het hy hulle uit hul land verban en Israel Palestine genoem, na die Filistyne wat lankal deur Israel verslaan is. Hulle was nog skaamkwaad oor die snuiter Dawid hul "main man" Goliat met 'n slingervelletjie uitgesorteer het.
Phillista word toe Palestine. Dieselfde keiser het Jerusalem "Aelia Capitolina" genoem, na sy eie familienaam Aelia. Arrogante knaap was hy.
Hy was nie die eerste wie Israel wou uitwis nie en ook beslis nie die laaste nie, lees maar die handveste van al die Arabiese lande, die PLO, Hamas, al daai spul.
Parys se Romeinse naam was Lutetia, snaaks dat hulle die plek Parys noem,
Israel het nie ontstaan omdat 'n Engelsman oulik was nie. Israel keer terug na sy eie land soos deur G_d beveel.
Shalom
Duitswester
Na Balfour-ooreenkoms setlaar militêre taktiek?
Die setlaars op eerste kibboetse het hul taktiek vir verdediging geskoei op Boere militêre taktiek en wapens uit ABO. Raar maar waar, die konneksie tussen jood en Boer het al geneties bestaan van die Joodse HOIK aan die Kaap! Almagasie het al in die lae lande in destydse Vlaandere gebeur! Het jy al kleurling gesien wat tan in somer en wit blyk in winter?
Hans Richardt