Afrikaans se WVK

  • 4

Hierdie brieftitel is waarskynlik doelbewus misleidend. Dit sal uiters onregverdig wees om van ’n mens se moedertaal te verwag om in die belydenisbank te staan en vir haar sprekers se doen en late juridiese verantwoordelikheid te aanvaar.

Dit is eerder die sprekers, die taalgemeenskap en diegene wat hulself as die leiers van hierdie taal voorhou, wat moet verduidelik hoekom is daar so baie onreg in haar naam gepleeg. Redes moet verstrek word waarom daar nog geen poging aangewend is om te verduidelik waarom die taalgemeenskap van toeka af in soveel onnodige smart en leed gedompel is nie.

Feeste bied ontvlugting. Die een Afrikaanse fees na die ander bied ’n potpourri van kitsbevrediging, oorlaai met voedsel, drank, kyk- en luistergenot, maar die kernsaak – die vervalsing van Afrikaans se oorsprong, haar geskiedenis van verdeeldheid, die geweld en lyding wat in haar naam gepleeg is, word subtiel in die doofpot toegestop. Enige versugting tot selfondersoek, enige beroep op Afrikaanssprekendes om hul erfenis met erns te betrag, te probeer verklaar hoekom moedertaalsprekers hul nie tot ’n taal-Kaïros wil wend nie, te probeer vra hoekom daar nog so baie onbeantwoorde vrae is, word nie as geskikte feesmateriaal beskou nie. Die stilte en gebrek aan betrokkenheid, die selfverraad, verloëning van eie, wantroue versus mede-Afrikaanses, sosio-ekonomiese struktuurgeweld, genootskap van ware Broederbonders se Taalmonument, die genetika van apartheid in ons are, die verdeeldheid van ’n moedertaalgemeenskap, benoeming van Afrikaans deur medeburgers as “die taal van die Boer”, die gebruik van rassistiese plekname soos “Boesmanland” en “Hottentots-Holland” om kolonialisme te regverdig, die laertrek-mentaliteit, die eksklusiwiteit van taalfeeste, die verswyging van alles wat nie in die neo-paradigma pas nie, dis alles die soort ontvlugting waarmee Afrikaanse taalfeeste, iewers inne bos, oppe koppie, of soos nu, oppe eiland, gepaard gaan.

Dis skreiend om na Afrikaans as ’n moedertaal te verwys as die moeder se kinders nie hul eie susters en broers as sulks erken nie. Nes die WVK wat politieke vergrype belig het, kort die Afrikaanse taalgemeenskap ook ’n historiese sosio-linguïstiese ondersoek, verkieslik uit eie geledere.

Jacobus Faasen

  • 4

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Afrikaans is ons moedertaal, maar sy geslag is manlik. Moet liefs nie na hom as "haar" verwys nie.

    Johannes Comestor

  • Beste Jacobus

    Dit is verblydend om jou puik brief in pragtige Afrikaans hierbo in prosa te lees.   Die rymtaal was vir my te moeilik om te volg, gevolglik het ek jou merendeels 'n "mis" gegee, alhoewel ek weet dat jy waardevolle bydraes daarin gelewer het.

    Net een beskouing van my kant.  Ek is van persoonlike mening dat die oorgrote meerderheid blanke Afrikaners toenadering met ons bruin Afrikanervolksgenote wil bewerkstellig.  Ja ons het wel die gekkegrensers ("die hards"), onder geledere wat blankes probeer laer laat trek, maar hulle is 'n miniskule minderheid, en op die oog af lyk dit asof hulle aan die uitsterwe is.

    Ongetwyfeld het blanke Afrikaners in die verlede gross foute teenoor die bruin mense gehandhaaf. Wat verby is kan nie verander word nie, dus moet daar onderling gewerk word om samehorigheid vorentoe  te bevorder.

    Met betrekking tot die kunsfeeste.  Ek woon graag die bekenstes gereeld by, sal die einde Maart by die KKNK fees ook wees.  Van die beste opvoerings in die verlede wat ek geniet het deur bruin mense aangebied, was bv "Vogelstruisstories"

    Ek is nou nie persoonlik betrokke in die kuns "politiek" nie, maar my algemene waarneming is die al hoe meer wordende bruin betrokkenheid en deelname.

    Jaco Fourie

  • Jacobus Faasen - Jaco Fourie op
    paradysweg Wvk?

    Nou ja, jul 2 kan beurte maak om vir mekaar te buk vir ses van die
    diepstes in jul persoonlike Wvk?

    Hans

  • Oom Hans

    Jou vlak is ongelukkig te laag om na neer te daal. Geen wonder jy stotter en stik so in jou stommiteit nie.

    Jacobus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top