Jare gelede het ek bewus van die prestigewaarde van die Gifford-lesings geword toe ek 'n studie, wat in groot mate kommentaar op so 'n lesingreeks was, voltooi het. Die regsgeleerde, Adam Gifford (1820-1887), was nie eng of ortodoks godsdienstig nie, maar sy wens was dat religie en spesifiek die godsbegrip ten minste in 'n mate in so 'n lesingreeks aangespreek moet word. Met die oog hierop het hy geld aan vier Skotse universiteite, Aberdeen, Edinburgh, Glasgow en St Andrews, nagelaat.
Gifford se doel was "to promote and diffuse the study of natural theology in the widest sense of the word - in other words, the knowledge of God." Natuurlike teologie verwys na insigte wat eerder op rasionaliteit en ervaring as gesag, bv die Bybel, gebaseer is. Daar word dus heelwat ruimte vir sekulêre meningsuiting gelaat. In 1888, toe die eerste Gifford-lesing gelewer is, was dit nog gebruiklik om van "knowledge of God" te praat. Sedertdien het dit in 'n sekulêre wêreld al hoe moeiliker geword. 'n Mens hoor eintlik nie meer dat teologie "godsgeleerdheid" genoem word nie. Gifford het gehoop dat "the lectures would be accessible without specialist expertise."
Die Gifford-lesings word steeds redelik gereeld gelewer. Dit was goed om na al die jare weer so 'n reeks lesings te lees, want die gewoonte om elke reeks as 'n gedrukte boek te publiseer, word voortgesit. Ek skryf hierdie keer oor Roger Scruton se The Face of God (London: Continuum Books, 2012), die Gifford-lesings wat in 2010 aan die Universiteit St Andrews gelewer is. Soos uit die titel blyk, het Scruton nie weggeskram van die godsbegrip nie. Wat hy daaroor sê, het my telkens aan die volgende wysheid, geskryf in 1948, laat dink: "The worst of being old is that one is apt to see the other person's point of view ... I am temperamentally unable to give even a faint breath of fanaticism to my conviction" (Harold Nicolson, Diaries and Letters, 1945-1962, London: Collins, 1968, p 137).
Heel aan die begin skryf Scruton: "I will be considering some of the consequences of the atheist culture that is growing around us: and I will suggest that it is not only an intellectual phenomenon, expressing a disbelief in God, but also a moral phenomenon, involving a turning away from God" (Kindle 79). Scruton het dit dus teen geestelike vervlakking en morele verval. "God is unavoidable. This void opens before us when we destroy the face ... there is more than one motive underlying the atheist culture of our times, and the desire to escape from the eye of judgement is one of them. You escape from the eye of judgment by wiping away the face" (K 84). Hieronder word die waarde of betekenis wat Scruton aan die gesig en oë heg, verduidelik.
Die wetenskaplike wêreldbeeld word geïdentifiseer as die bron van ateïsme. "According to Richard Dawkins, the most prominent of the evangelical atheists today, human beings are 'survival machines' in the service of their genes" (K 89). Le Corbusier beweer: "A house is a machine for living in" (K 2035). Net soos 'n huis as tuiste meer as dit is, is 'n mens as persoon, as 'n ek, volgens Scruton meer as Dawkins se oorlewingsmasjien. Met verwysing na die oerknal noem Scruton tereg dat die veronderstelling dat daar 'n begin vir alles (dus ook tyd) was, omstrede is. Hy het dit ook teen die wetenskaplike standpunt dat alle gebeure, ook dié in die mens se gees, deterministies (dus onvry) is; ook dat alles toevallig gebeur.
"There is no final explanation of why the world exists" (K 115). Hy verwys na Kant (en hy kon Wittgenstein bygevoeg het) wanneer hy skryf: "At some point we are compelled to accept that this is how things are, and that explanations are at an end" (K 120). Verby hierdie punt kan niks, dus nie die wetenskap, wysbegeerte of teologie nie, ons sinvol of rasioneel neem nie, behalwe as 'n spekulatiewe geloofs- of religieuse opsie uitgeoefen word. Later keer Scruton terug na die waarom van dinge: "The 'why' of science, which looks for causes, should be distinguished from the 'why' of reason, which looks for arguments, and the 'why' of understanding, which looks for meanings" (K 1135).
"Only what is knowable can be truly loved" (K 279). Meer as dit, want die aard van die voorwerp moet sodanig wees dat dit liefde wek. As God 'n bondel gas of energie was, sou dit moeilik wees om aangetrokke daartoe te voel. Daarom was dit in die christelike godsdiens 'n meesterskuif om die Jode se Abrahamitiese God met behulp van Jesus in veel groter mate te vermenslik. Uit die wetenskaplike oogpunt is die godsbegrip nie gangbaar nie omdat God in daardie konteks funksieloos geword het. Maar die meeste mense is nie wetenskaplikes of wysgere nie en het emosioneel behoefte aan 'n godsbegrip wat hulle help om die werklikheid te verstaan en aan hulle sekuriteit en troos kan bied. Dit is hierdie emosionele behoefte wat Scruton aanspreek. "God is understood not through metaphysical speculations concerning the ground of being, but through communion with our fellow humans" (K 356). Scruton onderskei dus tussen die idee van enersyds 'n transendente God wat buite ons sintuiglike ervaring is en andersyds 'n immanente God wat ons binne onsself kan ervaar.
Die lesings is in drie fases verdeel: "the face of the person, the face of the world, and the face of God" (K 362). Die gesig vertoon of simboliseer die kern of wese van 'n voorwerp; dit wat ons graag rasioneel-wetenskaplik wil vasstel maar nie altyd kan nie. "The self [person, I] is not a thing but a perspective; but ... perspectives are not in the world but on the world" (K 530). "Personhood is not a property that I possess, but my way of being me" (K 1057). Minstens sommige subjektiewe aspekte van 'n persoon is nie wetenskaplik kenbaar nie. "The human world cannot be captured by the science of objects" (K 1130). 'n Mens is meer as 'n objektifeerbare voorwerp. 'n Lyk is "an object without a subject" (K 2512) en kan wetenskaplik volledig geken word, maar nie 'n lewende, bewuste mens nie.
Dit is die mens se geestelike dimensie wat nie in alle opsigte wetenskaplik-metodologie verstaan- en verklaarbaar is nie. Byvoorbeeld: "Our way of representing the human world is not replaceable by neuroscience" (K 729). Ek het bevoorregte en selfs eksklusiewe toegang tot my selfkennis (my perspektief of siening; wat ek ervaar, wat ek daarvan dink en hoe ek daaroor voel). As hierdie subjektiewe kern van my misken word, word ek metafories gesproke gereduseer tot iemand sonder 'n gesig. "The science of the human being has no real use for faces" (K 1192). "Take away religion ... take away philosophy, take away the higher aims of art, and you deprive ordinary people of the ways in which they can represent their apartness" (K 1187).
"For Rembrandt the face is the place where the self and the flesh melt together" (K 1334). Dat die gesig die kern van 'n wese is, word in Eksodus bevestig wanneer God se gesig vir Moses onsigbaar bly. Hy kon God nie peil nie. In Psalm 13 word gevra waarom God sy gesig verberg. Paulus voorsien dat ons eendag dinge van aangesig tot aangesig sal aanskou: "I to I" (K 1413). "The face, for us, is an instrument of meaning" (K 1285). By die mens "the face [is] a symbol of the individual and a display of his individuality" (K 1448). By diere speel die gesig nie in dieselfde mate 'n deurslaggewende rol nie omdat gees by hulle 'n mindere funksie het. "It is through the sight of their own face that [people] have the sense of what they are for others, and what they are as others" (K 1317).
In die gesig is die oë van deurslaggewende belang. "Lovers do not look at each other, but look into each other, and search the eyes and face of the beloved for the thing to which they seek to be united ... CS Lewis puts the point nicely with his remark that friends are side by side, while lovers are face to face" (K 1660). Dit is moeilik om mense te leer ken as hulle agter 'n donker bril skuil. "Such people hide the I from eyes, since eyes are judges" (K 2286). Dante noem die oë die balkon van die siel. Die oë is as 't ware die vensters op 'n persoon se kern of siel.
Sommige mense vervang God, of wat heilig is, met skoonheid, wat uitdrukking in bv die natuur en kuns vind. Wat heilig is, word dan vermenslik. Die laaste hoofstuk handel oor die gesig van God, "the presence of God in this world" (K 2399). Maar Scruton erken: "That is the conclusion to which I have reluctantly come" (K 2399). Hy verwys na "the existential loneliness of man ... a longing to be dissolved in the subjectivity of God" (K 2403); "the awe owed to sacred things" (K 2533); en "homecoming" (K 2414). "If there is such a thing as the real presence of God among us, that is how his presence must be understood: not as an abstract system of law, but as a subjective view that takes in the world as a whole" (K 2445). Scruton se God is dus 'n immanente God; iemand wat in ons gees aanwesig kan wees. Vir hom is dít die kern of gesig van God. Ons kan en behoort voorbeeldig en godsdienstig te leef wanneer so 'n God in ons bestaan.
Maar ons kan kwalik op grond hiervan dink en handel asof die tradisionele, transendente, christelike God as 'n wese of persoon bestaan. Dat so 'n God bestaan, "the major premise of God's existence" (SêNet 9 deser), het Scruton (nog) nie aanvaar nie. God is vir Scruton die subjektiwiteit van die wêreld (SêNet 10 deser). God is vir hom bloot 'n idee of innerlike gevoel van bv sekerheid wat hom in staat stel om wat goed en mooi en heilig is, te waardeer. Mark Dooley noem op sy blog (21.11.2012) dat iemand Scruton 'n romantiese heiden genoem het. Aan romantiek ontbreek dit nie. Scruton se denke is al "the philosophy of homecoming" genoem.
Johannes Comestor


Kommentaar
Hello,
Hello,
en http://www.youtube.com/watch?v=AMVqP_2RPzQ
Die stuk is vir my diepsinnig, tog interessant. Moes dit weer deurlees. Ek sou egter graag Comestor se eie persoonlike siening tussen lyne omtrent kernwoorde wou optel. Miskien eie mening oor: natuurlike teologie, geestelike morele vervlakking, toeval, immanente God, geestelike dimensie van die mens.
Of word sy eie siening saamgevat met Scruton in die sluitparagraaf as hy die stelling maak: God is vir hom bloot 'n idee of innerlike gevoel van bv sekerheid wat hom in staat stel om wat goed en mooi en heilig is, te waardeer.
Het dit nogtans geniet.
Dankie,
Trienie
Beste Johannes
Onderhewig in my ervaring daarin (empirie), kan ek bloot net die aanhalings in jou bydrae hierbo beaam.
Ek beklemtoon graag die volgende uit jou bydrae (veral in teenstelling tot die intellektualisme): "Dit is die mens se geestelike dimensie wat nie in alle opsigte wetenskaplik-metodologie verstaan- en verklaarbaar is nie. Byvoorbeeld: "Our way of representing the human world is not replaceable by neuroscience" (K 729). Ek het bevoorregte en selfs eksklusiewe toegang tot my selfkennis (my perspektief of siening; wat ek ervaar, wat ek daarvan dink en hoe ek daaroor voel). As hierdie subjektiewe kern van my misken word, word ek metafories gesproke gereduseer tot iemand sonder 'n gesig. "The science of the human being has no real use for faces" (K 1192). "Take away religion ... take away philosophy, take away the higher aims of art, and you deprive ordinary people of the ways in which they can represent their apartness" (K 1187)."
Menige toegewyde wetenskaplike kan dit beaam. Die mens se bewussyn, en ook die evoluise in 'n enkele leeftyd daarvan, is nie verklaarbaar nie.
Die aard van ons bewussyn is ook die grootste struikelblok in kriobiologie. Behalwe vir mense wat sterf en gevries word, selfs diere soos honde en katte nie kliniese dood gevries kan word, en daarna weer opgewek word nie. Al die liggaamfunksies kan wel weer aangeskakel word, maar die bewussyn is net weg!
Ook met betrekking tot jou sinnebeelde omtrent die oog, leer ons in die Bybel: En niemand steek 'n lamp op en sit dit in 'n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig (uit Lukas 11).
Ons bewussyn, is daardie lig in ons. Ons LEWE daarin, en daarmee.
As dit eers geblus is, kan net die Skepper daarvan, dit weer laat skyn.
Johannes, dankie vir nog soveel sinvolle gedagtes.
Namaste!
Cornelius