Richard van der Ross oor slawerny

  • 2

Ek het voorheen Richard van der Ross se outobiografie (2010) op SêNet bespreek (1.04.2010). Hy is een van die min bruin elite wat die term coloured/kleurling aanvaarbaar gevind het. Myns insiens oordryf die HAT deur laasgenoemde woord as rassisties te etiketteer. Kleur is egter nie in groter mate kenmerkend van hierdie groep as van ander groepe nie, gevolglik verkies ek om van bruines, swartes en wittes (eerder as blankes), asook Asiërs, te praat. Hierdie groepsonderskeid word egter nie net op grond van kleur gemaak nie, want daar is ook historiese en kulturele faktore (Van der Ross, 2005, p 100).

Hierdie keer gaan ek Van der Ross se Up from Slavery; Slaves at the Cape: their origins, treatment and contribution (Kenilworth: Ampersand Press, 2005, 160p) bespreek omdat daar onlangs minstens twee nuwe boeke in Afrikaans oor hierdie onderwerp gepubliseer is. Die hooftitel is 'n frase wat die swart Amerikaanse opvoedkundige, Booker Washington (1856-1915), gebruik het om die vooruitgang te beskryf wat Amerikaanse slawe sedert hulle vrylating gemaak het (p 131). In sy teks toon Van der Ross dat hy goed oor die Amerikaanse literatuur oor hierdie onderwerp ingelig is.

In Amerika is slawe egter heelwat later as in Suid-Afrika vrygelaat (1863 teenoor 1834), hulle was baie meer (4 miljoen teenoor 39 000) en hulle was oorwegend swart teenoor grootliks bruin slawe plaaslik. Pleks van ooreenkomste te soek, moet 'n groot verskil eerder beklemtoon word, naamlik dat Amerikaanse swartes hulle wit medeburgers oor slawerny kan verwyt, terwyl ons plaaslike swartes dit nie kan doen nie; net die bruines kan. Maar wat die bruines verkies om nie te erken (of te beklemtoon) nie, is dat hulle, in soverre hulle van die slawe (eerder as die Khoisan) afstam, hulle soos die wittes oorspronklik setlaars of uitheemses was. Ook dat bruines, in soverre hulle wit is, histories bevoordeel is.

Van der Ross verskaf die volgende definisie: "Slavery is a condition in which one person may be legally owned by another" (p 10). In die voorwoord beweer Frank Bradlow verkeerdelik dat slawe geen regte gehad het nie (p vi). Van der Ross verwys bv na die strawweboek vir slawe (p 57) wat aan die slawebeskermer of fiskaal (p 58, 64) voorgelê moes word en ook dat geen slaaf goedsmoeds gedood kon word nie (p 114). Die Romeins-Hollandse Reg "did not permit the owner to do precisely as he pleased with the slave" (p 114). Die maksimum werksure is ook voorgeskryf (p 49). Van der Ross maak gewag van 'n belangrike oorweging, naamlik dat slawerny beoordeel moet word in die konteks van wat aanvaarbaar in daardie tyd was (p 59-60). Die Judaïsme, Christelike godsdiens en Islam het slawerny as 'n sosiale praktyk aanvaar (p 77). Verder is wit koloniste aan die Kaap net so wreed soos die slawe gestraf (p 62).

Die outeur toon aan dat slawerny in die vroegste beskawings (bv in Mesopotamië, Egipte en in die Griekse en Romeinse Ryk) aangetref is (p 11-12). Dit beteken dat nie net swartes nie maar ook wittes slawe was. Van der Ross verwys bv na 'n uitbeelding, in 'n museum in Barcelona, van wit slawe as roeiers (p 154). Volgens Van der Ross het die Khoi die aanwesigheid van slawe aanvaar "as part of the strange culture of the white men" (p 36). Dalk só omdat die insig van die Khoi beperk was. Maar aan die Kaap was daar ook bruin slawe-eienaars (p 46). Oor wit slawerny was Giles Milton se boek, White Gold (2004), vir my 'n openbaring, want daarin word vertel hoe meer as 'n miljoen wittes tot in die 18de eeu deur Arabiere uit veral Europa ontvoer en in Noord-Afrika verslaaf is. Soos ek het Christopher Hitchens nie op skool hiervan geleer nie. Hy vra: "How many know that perhaps 1.5 million Europeans and Americans were enslaved in Islamic North Africa between 1530 and 1780?" (Arguably, 2012, p 13).

In die literatuur oor slawerny word die klem op die trans-Atlantiese slawehandel van Afrika na die Amerikas geplaas; dus op swart slawe en wit slawe-eienaars. In dié proses kom twee skuldige partye feitlik blaamloos daarvan af. Eerstens die Afrika-swartes wat mede-swartes verslaaf het. Frederik van Zyl Slabbert het bv geskryf: "Die slawehandel langs die kus van Oos-Afrika ... het nie sommer net gebeur toe 'n slawehandelaar op die strand gaan staan, 'n skoot afvuur en drie-honderd slawe uit die bos gekruip kom nie. Nee. Slawe is aan die handelaars gelewer, in handboeie en aan mekaar vasgeboei, deur mans met 'Afrika-bloed'" (Duskant die Geskiedenis, 2006, p 12). Nie net dit nie. Slabbert skryf op dieselfde bladsy: "Vandag bestaan slawerny nog steeds in Mauritanië, die Soedan ... Nigerië en Benin." Van der Ross bevestig dit oor eersgenoemde twee lande (p 9).

Tweedens is daar die Arabiere, wat slawehandelaars by uitnemendheid was (p 14) en selfs nog steeds is, maar grootliks skotvry daarvan afkom. Slawerny in Afrika is myns insiens 'n onderwerp waarmee die Afrika Unie hom met vrug besig kan hou pleks van wittes vir kritiek uit te sonder. Verwys in hierdie verband na bv Caroline Cox en John Marks se This Immoral Trade: Slavery in the 21st Century (2006).

Van der Ross noem dat slawe aan die Kaap ingevoer is omdat die Khoisan nie geskikte arbeiders was nie (p 29-30, 32, 90). Dit geld in groot mate ook die plaaslike swartes. Aan die Kaap het die Angolese slawe eerder gedros as om te werk (p 32, 73). Eeue lank was baie plaaslike swartes werkloos omdat hulle ongeskik of ongeneë was om bevredigend as arbeiders te funksioneer (SêNet, 4.06.2012). Daarom is Indiërs in die 19de eeu as arbeiders vir die suikerplantasies ingevoer. Vir werk in die myne is swart trekarbeiders op groot skaal in buurlande gewerf. Veral by swart mans, anders as by wittes en die Kaapse Moslems, het daar nie 'n formele (of gedissiplineerde) werktradisie bestaan nie, wat deels toegeskryf kan word aan die feit dat die plaaslike swartes nooit slawe was nie.

Onlangs het ANC-gesindes beswaar geopper teen die algemeen aanvaarde mening dat wittes en die Khoisan hulle voor die swartes in die weste en suide van Suid-Afrika gevestig het. Tereg bevestig Van der Ross die tradisionele standpunt (kaarte teenoor p 17; ook op 33).

Deesdae verwys die voorstanders van die Belhar-belydenis graag na die skeiding van die NG-Kerk en die NG-Sendingkerk in 1881 (p 70) en verwyt dan die wittes vir "the weakness of some of its members" (p 157 ). Van der Ross vestig die aandag daarop dat hierdie kerkafskeiding vir gemeentes vrywillig was (p 71). Die Verenigende Gereformeerde Kerk wil nou egter die Belhar-belydenis verpligtend vir die hele NG-Kerk maak.

'n Belangrike perspektief is dat voor 1948 "the Smuts government had embarked on a policy of the residential segregation of the coloured people" (p 135). Tydens die bewind van die Nasionale Party het dit gelei tot die opruiming van bv Distrik Ses, wat 'n krotbuurt en misdaadnes was (SêNet, 12.05.2011). Uit die verwysing na die Smuts-regering volg: "Nor should it be thought that race prejudice was confined to Afrikaans-speaking white persons" (p 136).

Ek het Van der Ross destyds verkwalik omdat Afrikaans feitlik nie in sy outobiografie ter sprake kom nie. In sy boek oor slawerny lys hy egter Afrikaanse woorde van Oosterse (bv Maleise) oorsprong (p 106), asook dié wat van die Khoisan oorgeneem is (p 103). Volgens Achmat Davids was daar aanvanklik 'n mate van kreolisering van Nederlands en daarna het Afrikaans ontstaan (p 106). Dit maak nie van Afrikaans 'n kreoolse of mengeltaal soos politiek-korrektes dit wil hê nie, want die bydrae van nie-wittes tot die woordeskat en ander kenmerke van Standaardafrikaans is minimaal.

Dit het my verbaas dat Van der Ross, wat as opvoedkundige van beter behoort te weet, met die volgende geykte verdraaiing van die waarheid vorendag kom: "It was later possible, in die mid-twentieth century, for certain people [verwysende veral na Hendrik Verwoerd, p 158] to declare that people were not to be educated in such a manner that they could compete on an equal basis with whites for positions in South African society" (p 112). Verwoerd het hom in werklikheid aktief vir die verbetering van skool- en tersiêre onderwys vir nie-wittes beywer en groot vordering daarmee gemaak. Verwoerd: "Dit sal beter wees om met goed ingeligte en opgeleide mense te onderhandel" (Hermann Giliomee, Die Laaste Afrikanerleiers, 2012, p 46). Volgens Verwoerd kon gekwalifiseerde en opgevoede swartes tot op die hoogste vlak in die tuislande vorder. Dit is juis hierdie poel swartes wat tot die ondergang van apartheid bygedra het. By implikasie en tereg verwerp Giliomee die skeefgetrekte bewering van Van der Ross (p 69). Verwoerd het destyds reeds "uiteindelike gelykheid tussen gelyke mense" voorsien (Giliomee, p 83). 

Daar is ander tekortkominge in Van der Ross se boek. Copernicus is nie gedood oor sy teorie van heliosentrisme nie (p 22). Plaaslik het die wittes nie gepoog om die inheemse bevolking uit te roei nie (p 26); sekerlik nie in dieselfde mate as in ander kolonies nie. "Feitlik uniek in die geskiedenis van Westerse kolonisasie, het beduidende getalle van die inheemse bevolking oorleef" (Giliomee, p 18). Bathurst is nie in die Wes-Kaap nie (Van der Ross, p 48), maar in die Oos-Kaap, naby Port Alfred. Die vrystelling van die Amerikaanse slawe het nie in 1865 plaasgevind nie (p 84), maar in 1863 (soos van p 86 afgelei kan word). Dit is te betwyfel of slawe in die middel van die 19de eeu steeds in die Kaapkolonie gekoop is (p 88). "There is the undeniable and undisputed fact that the whites (and not only the Boers) bear a responsibility for the existence of the coloured people" (p 133). Dit kan hoogstens 'n mede-verantwoordelikheid wees. Die bruines moet gedeeltelike verantwoordelikheid vir hulleself aanvaar pleks van dit sonder meer op die wittes af te skuif.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • Bravo Johannes. Weer eens vernietig jy ’n paar heilige koeie en ontbloot ook dat die koeie wat uit die slote gehaal word skimme is; hulle was nooit in die sloot nie.

  • Oom Johannes, waarskynlik is dit miskien meer legitiem as ’n mens ’n definisie vir elke 'ras' kan verskaf. Dit is juis daarom dat die HAT ondefinieerbare terme as 'rassisties' beskryf.

    Jacobus Faasen

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top