Titel: Witwatersrand
Outeur: Wilbur Smith
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780795707025
Koop Witwatersrand by Kalahari.com
“Hy het haar opgetel en haar bed toe gedra. Hy het oor haar gestaan terwyl hy sy japon afruk. Sy het op die bed beweeg, haar klere afgegooi en haarself oopgesprei om hom te ontmoet, om hom in te neem en toe te laat om die leegheid in haar te vul. Hy het bo-op haar gaan lê en soos ’n bajonet deur die sagte sluier en dieper die warmte van haar lyf gepenetreer.”
Dít is die soort dinge wat Afrikaanse lesers nie in 1965 mag gelees het toe Nasionale Boekhandel die eerste Wilbur Smith-roman, When the lion feeds, in Afrikaans laat vertaal en onder die titel Iets moet sterf gepubliseer het nie.
Dit was die beginjare van die apartheidregime se sensuursports, en die oorspronklike Engelse uitgawe was verbied weens die seksbeskrywings en godslastering in die roman. In die Afrikaanse uitgawe is die seks uitgehaal, en niemand het meer na bowe geswets nie.
Wie die vertaler was, is nie bekend nie. Toe die boek in die vroeë tagtigs deur Leserskring eksklusief vir sy lede beskikbaar gestel is, was Ludwig Visser, die bekende Konsalik-vertaler, daarvoor verantwoordelik. Bes moontlik had hy iets te make met die 1965-vertaling, wie weet?
Vir hierdie heruitgawe is die titel van een van die roman se onderdele, Witwatersrand, gebruik. Die eerste vertaling se titel is gehaal uit een van die opmerkings wat ’n karakter in die boek maak: “When the lion feeds, something must die.” Die titelverandering is nie steurend nie, en vir my gevoel ’n verbetering op die eerste. En ’n Soutie vat ’n Boernooi sou nie gedeug het nie.
Die vraag is nou of die vertaling nog werk. Hoeveel spinnerakke hang tussen die paragrawe rond, hoeveel stof kom in jou oë saam met die outydse maniere? Nie te veel nie, hoewel ’n mens nie ontsnap aan die gevoel dat die sug na ’n vroeër, ongerepte Afrika deur geen moderne taalversorger uit die roman se wese gehaal kan word nie. When the lion feeds is gepubliseer kort na die groot Uhuru-getygolf wat Afrika vanaf 1960 getref het, en sinisme oor die bestuur van eietydse Afrika was veral in Vorsteria algemeen. Elke keer as jy die woorde “swartes” lees, besef jy die lesers van die oue van 1964 het ’n ander woord gelees. “Baas” het behoue gebly, en dit versterk net jou gewaarwordinge.
Moes daar “kaffers” in die teks gewees het, gegee die boek se oorspronklike verskyningsdatum? Ek glo nie. Selfs in die oorspronklike Engelse uitgawe is ’n vreemde rasseharmonie opvallend in hierdie roman, met swart mense ondergeskik aan die wit mense. In hul oorlewingstryd is daar ’n kameraderie tussen wit en swart. Die roman is boonop, in essensie, ’n liefdesroman, en swart woede is nie ter sprake nie.
Skynbaar het die uitgewer die teks uitvoerig laat hersien, en al die seks en dinge laat terugplaas. Ander dinge was nie nodig om te verander nie. Hierdie roman het Wilbur Smith se internasionale loopbaan geloods, en dinge wat hom by soveel lesers laat aanklank vind het, is in oorvloed hier teenwoordig. Testosteroon-gedrewe, baie aksie, ’n eenvoudige verwikkeling met komplekse gevolge, en uiteindelik kry ’n mens tog die idee dat jy die opwinding van Suid-Afrika tydens die goudstormloop van binne uit leer ken het en dat jy die bekoring van die vasteland snap.
Smith se onderwerp, Afrika, en spesifiek suider-Afrika in die hoogty van Britse kolonialisme, is een wat sy soort romantiese realisme laat gedy. Die lotgevalle van Sean Courtney het verskeie ander Smith-romans gevoed. Ná When the lion feeds is 14 ander Smith-romans in Afrikaans vertaal, die laaste daarvan in 1980. Mens kan dié welslae nie ignoreer nie, nog minder Smith se aanklank by die Afrikaanse leserspubliek.
Ek vermoed Witwatersrand sal vir diegene wat nog nie die Engelse weergawe gelees het nie, groot leesplesier verskaf – dit is steeds 'n eersteklas ontspanningsverhaal, al is dit 50 jaar oud. Die bekoring van die pionierslewe het nie baie ingeboet met die verloop van tyd nie – 'n opeenvolging van terugslae en bietjies-bietjies vooruitgang ten tye van die goudstormloop, met die Zoeloe-oorloë wat die Britte hier kom veg het, is ook betrek. Die taal is Afrikaans, maar die familie Courtney se wedervaringe is wesenlik dié van Britse kolonialiste wat hul hart aan Afrika kom gee het. Hoe hulle die vasteland probeer tem terwyl veral Sean Courtney steier van een uitdaging na die volgende, en die manier waarop die Britse nedersetters en fortuinsoekers daarin aansluit by die Boere, dit is wat die verhaal vir my boeiend gemaak het.
En ek moet sê, vir 'n eerstelingroman het Smith hier 'n meedoënlose pas gehandhaaf, iets wat in die vertaling behoue bly.
Waar die roman iets van die sestigs behou, is in sy hantering van die afkerigheid en uiteindelike toenadering tussen Boer en Brit. Smith het sy roman geskryf in die jare toe die Nasionale Party begin vry het na die Engelse stem ten einde die Verenigde Party die finale nekslag toe te dien. Die ontknoping van Witwatersrand dra iets van daardie tydsgees, van die toenadering tussen twee taalgroepe, van 'n toekoms van hoop nadat die idilliese lewe op 'n Natalse plaas vir altyd vir Sean Courtney verlore geraak het.
En die swart bevolking? Witwatersrand kan nie méér begrip en respek bring vir die swart bevolking wat by hierdie geskiedenis betrek is as wat When the lion feeds in 1964 gedoen het nie; mens moet Wilbur Smith dit wel ter ere gee dat hy hulle in die oë kyk en nie op hulle neersien nie.
Witwatersrand kan aanbeveel word as ontspanningsroman – in vandag se omstandighede kan mens dit sekerlik ook 'n ontvlugtingsroman noem. As dit aanklank by die Afrikaanse leespubliek vind, open dit dalk die weg vir nog meer Afrikaanse vertalings van Smith se werk.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Ek het deur twee boeke van Wilbur Smith geworstel. Die eerste een het ek amper opgehou toe Courtney en 'n pel 'n kroegvol myners platslaan, Battler Briton-styl. Moontlik, maar hoogs onwaarskynlik. In die ander boek boks iemand van Ikeys (Courtney self?) teen Robey Leibrandt van Maties en hy beskryf hoe Leibrandt van agter sy rooi handskoene vir hom loer. ROOI bokshandskoene daardie tyd?? In die agste rondte kry hy toe sy kans en daar wen hy toe. Agste rondte? Amateurboks was daardie tyd die gewone drie rondtes van drie minute elk of vier rondtes van twee minute elk. Ook was die Afrikaanse aanhalings/sinsnedes in die boeke belaglik; ouer mense het die jonges 'jong' genoem waar in jou lewe. Het die ou nie van proeflesers gebruik gemaak nie?