Resensie: Stippellyn deur Erika Murray-Theron

  • 0

Titel: Stippellyn
Skrywer: Erika Murray-Theron
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624067771

Koop Stippellyn by kalahari.com.

Erika Murray-Theron het ’n groot hoeveelheid pryswenners op haar kerfstok en met haar jongste is dit duidelik dat sy meester van haar stories én die taal is. Haar destydse studies in Afrikaans-Nederlands en Sielkunde, haar werk as vakkundige beampte by die departement van Arbeid en haar beradingswerk by  FAMSA en haar bedrewenheid met Afrikaans, kom almal perfek bymekaar in hierdie boek.

Stippellyn vertel van Lana, ’n vyftigjarige dagmatrone wat by ’n aftree-oord in Pretoria werk. Sy het gedink ’n hoofstuk van haar lewe wat sy baie diep begrawe het, is afgesluit, maar toe kom staan dit vierkantig voor haar: 20 jaar nadat sy weggestap het van die man wat haar destyds laat voel het of hulle mekaar werklik ken - van die oomblik wat hulle eerste handgeskud het.

Lana sal mettertyd agterkom dat herlewing en die dood dikwels dieselfde skok-effek het, en dat dit dan bitter moeilik is om vas te stel wat die begin en wat die einde is. Maar dat hoofstukke nie altyd klaar geskryf is nie. Hulle wag soms vir die karakters om dit klaar te maak.

Ek moet noem dat ek die boek al verskeie male in boekwinkels gesien het, maar die voorblad my nie geprikkel het nie. Die foto van ’n jong vrou wat in ’n swembad duik, met die frase: “Die verlede is ’n bodemlose kuil”, het my laat dink dis ’n eensydige liefdestorie waar jongmense wat niks van die lewe weet nie, wroeg oor onbenullighede. My verrassing was dus groot toe ek die eerste paar bladsye gelees het, en besef dat hierdie skrywer my aandag gevange gaan hou, omdat sy nie haar leser onderskat nie en haar huiswerk goed gedoen is.

Dis ook verblydend om te sien dat die boek se taalversorging keurig gedoen is; daar is nie slordige redigeerfoute nie en die karakters, selfs mev Therese Nicoli?, wat met haar Duitse herkoms en Kroatiese man en Afrikaanse met ’n formele stokkerigheid praat, geloofwaardig en juis is.

Die skrywer se agtergrond in Sielkunde en berading kom duidelik deur in die keuse van die karakters se hantering van mekaar en van hul situasies. Wat verblydend is, is dat die karakters menslik is, aan heelwat van mens se vriende en familie herinner. Mense wat nie aldag met hul ouers klaarkom, of gelukkig is nie ... wat diep geheime en diep seer ronddra. Dis die diepte van die karakters én die storie, wat verblydende afwisseling bied van soveel ander oppervlakkige boeke nou te koop.

Daar is ’n paar dele in die boek - soms die skrywer se eie woorde, soms aangehaal - wat jou na ’n potlood soek vir onderstreep, vir later se opsoek, weer herkou, weer oorlees en jou eie maak. Soos die stuk oor die opruim na ’n oorlog, waar die Nobel Prys-wenner, die Poolse digter, Wis?awa Szymborska, skryf dat die opruiming nie vanself gebeur nie, “iémand moet die puin opsyskuif sodat die lykwaens kan verbykom, en deur pyn, slym, die uitgerekte draadvere van rusbanke en die bebloede vodde waad. In die gras wat oor oorsake en gevolge groei, moet daar iemand op die naat van sy rug lê en met ’n halmpie tussen sy tande na die wolke bokant hom staar.”

Of “... om ouers te hê met ’n geskiedenis en geheime wat jy nooit sal ken of wat jy nie sal verstaan nie, al het jy dit ook geken. Jy het ouers met skade wat jóú weer beskadig, maar jy mag hulle nie daarvoor kwalik neem nie.”

Dis sulke lewenswaarhede soos dié, wat jou soms die storie laat vergeet en in jou eie lewe indelf. Wat jou laat wegglip in die dinge uit jou lewe wat jy gedink het diep gebêre is en afgesluit is.

Dis vir my die eienskappe van ’n goeie boek: daardie waarhede en beskrywings wat lank nadat jy die storielyn vergeet het, nog iewers in jou binneste huiwer; wat jou eie emosies só goed beskryf, jy onthou later nie wie se woorde dit was nie. Jy maak dit jou eie.

Stippellyn is ’n wonderlike ontsnapping aan die alledaagse, maar tog ook ’n dieper delf aan die seer waarvan rowe nog nie heeltemal genees het nie. Dis die wyshede van die bakster, Nettie Februarie, wat die waarste by my kom lê. Sy vertel onder meer: “Ek gee my nie uit vir ’n geleerde vrou nie, maar ek het die lewe gesien.  Twee verkeerde goed maak nie een goeie ding nie. … G’n storie is klaar die hele storie nie."

"…’n Vrou wat nie weet hoe om met haar wild side saam te leef nie, het nog nie geleer om te lewe nie.”

Oor die skrywer

Murray-Theron het aanvanklik tydskrifverhale geskryf, voor haar eerste roman, Wie is jy Elizabeth?, in 1989 by Tafelberg verskyn het.

In 2002 ontvang haar roman Sê Maria die ATKV-prosaprys. In 2007 word die manuskrip van ’n Tapiserrie met klein diere as die wenner in Sanlam/Insig/Tafelberg se Groot Romanwedstryd aangewys en die boek verskyn in 2008.

Ander boeke wat uit haar pen verskyn het, is Die toubrug (1992), Tafelberg;  Vlegsel (1995), Queillerie; Blikkie sonder boom (1997), Tafelberg; Die Mezzanine-klub (1998), Queillerie; Kaalvoet oor die berg, (2003), Protea en Verblyf, (2007), Protea.

Wat ander oor die skrywer se vorige werk te sê het:

“In die geheel gesien is ’n Tapisserie met klein diere ’n lofwaardige poging deur ’n skrywer aan die kruin van haar vermoë. Die uiteindelike maatstaf is tog of dit ’n roman is wat jou laat aanhou lees – en dit is iets wat selfs die mees iesegrimmige kritikus tot op die laaste bladsy sal doen.” – Willemien Brümmer, Die Burger (2008)

“In ’n Tapisserie met klein diere, wenner van die Sanlam/Insig-romanprys, spin sy weer ragfyn, maar onbreekbare drade tussen die karakters wat sy bymekaar geroep het.” – Jaybee Roux, Beeld (2008)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top