Ek is ? Afrikaner. Wie anders gaan fokus op ons verhale en geskiedenis behalwe die Afrikaner self? Wat gebeur het, het gebeur. Wat wel ter sprake is, is dat ons nooit vergeet wie ons is en waar ons vandaan kom nie, juis om vorentoe te beweeg. Veral in ? tyd waar die Afrikaner sy selfrespek en identiteit herontdek.
Die Anglo-Boereoorlog het my ook nog altyd gefassineer – die gebeurtenisse, karakters en nagevolge daarvan. Natuurlik het die hele land met al sy mense daaraan deelgeneem en is daardeur geraak. Maar my raamwerk en fokus het my gelei na wat ek ken – en daarvolgens het ons besluit om ? lied, en uiteindelik ? musiekblyspel, te skep rondom karakters wat die fondasies gelê het van wie ons vandag is. Ons los die talle ander stories van daardie oorlog aan mense, wat op hulle eie maniere daardeur geraak is, om dit maar self te skryf en te finansier. Ek gaan nie veel praat oor die musiekblyspel nie – kom kyk eers, dan praat ons. Maar die lied “De La Rey” was ? persoonlike ervaring vir my en Johan en Bok. Dat mense daarin aanklank gevind het, is ? kompliment. As jy dink dat ons enigsins in die toekoms kon loer en voorspel het dat ons soveel sukses daarmee sou hê, gee jy ons onnodige krediet. Wat wel gebeur het is dat ons nou die verdere opsie gebied is om ? mooi verhaal nog verder te kan uitbrei en te vertolk. Dalk is die teaters leeg. Maar ten minste vat ons die geleentheid en finansiële risiko om ? universele verhaal op ? groot skaal – in Afrikaans – op die verhoog te plaas.
Jy praat van oorlog maak en ? revolusie? Duidelik kom ek en jy uit ? totale ander generasie. Jy was nog altyd polities in wat jy aanpak – ek nie. Toe ek op Loftus Versfeld laas jaar 23 000 mense uit volle bors “De la Rey” hoor sing, toe hoor ek nie ? revolusiekreet nie; eerder mense wat vir ? verandering net goed voel oor wie hulle is. Ja, die Afrikaner het probleme, en ja, ons besef dat mense altyd kuns kan verdraai, maar om as skrywers terug te staan en nie stories te vertel nie, uit vrees oor hoe elke Koos en sy maat (dit sluit in die regses, linkses, en ouens wat in die middel maar net probeer vasklou) dit gaan interpreteer, grens op sensuur. Kom ek vra jou so: stuur vir my ? polities-korrekte lys van temas waaroor ek mag skryf. Jy kom met baie bagasie; moet dit nie op ons aflaai nie.
Laastens wil ek net aan jou iets persoonlik meedeel. My Pa is nou sestig. Op skool moes hy as ? standerd vyf seun saam met die graad twees gaan leer spel omdat hy disleksies is. Hy is in standerd agt uit die skool uit, want die vernedering was maar heeltyd toegepas deur die onderwysers. Tog, as my Pa praat, luister ek hard en diep na sy woorde van wysheid wat geleer is vanuit die ondervinding van sy lewe.
Ek kyk in afsku terug na die akademici wat my Pa veroordeel het en teruggehou het. Moenie staan en debatteer oor spelfoute en korrekte taalgebruik terwyl die wêreld om julle gebeur nie.
Ek hoop ek sien jou by die openingsaand van ONS VIR JOU. Daarna kan ons lekker gesels!
Groete
Sean Else

