Titel: Pirouette
Skrywer: Aniel Botha
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795800320
Klik hier om Pirouette te koop by Kalahari.com.
Die meeste van die gedigte in Pirouette is vir ’n MA-graad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Botha het reeds in 2010 gedebuteer met ’n Dans met die dood (Zebra), en in dié tweede bundel verken sy onder meer die wêreld van ballet, in reliëfplasing met die eetsteurnis anoreksie, verder.
Reeds op die omslag word die temas van geestesversteuring gesuggereer: die omslagfoto toon ’n oopgeskeurde groen dak met bloeddruppels, wat assosiasies van ’n inrigting (gestig/“groendakkies”) oproep. Baie van die gedigte hanteer dan temas van waansin, verwringing en selfvernietiging. Inhoudelik is die bundel verdeel in vier afdelings, naamlik I. Brisé; II. Échappé; III. Corps de ballet; en IV. Sans révérence. Die heel eerste gedig staan heeltemal alleen en apart van die 4 afdelings: “Ek oefen my pirouettes” (9). Hier word die “pirouette” gelees as ’n draaibeweging om die eie as; die draaibeweging sinspeel dan op ’n omwenteling, of ommekeer. In baie gedigte streef die spreker daarna om weg te breek uit anoreksie, psigiese verwonding en psigiatriese inrigtings en ’n ommekeer te maak, maar sonder sukses. In die slotgedig, “Sans révérence” (66), sterf die verteller dan skielik en sonder dekorum as gevolg van verhoogvrees. Reeds in afdeling 3 begin die gedigte ’n afplatting toon na die slot. Dit is jammer dat die danspoësie/woordballet wat in die vooruitsig gestel word met die eerste gedig, nie in vervulling gaan nie.
In “Selfportret” (13) word psigiese kwelling en pyn as iets konkreets verwoord: ’n gesig wat erg geskend is, maar “waaruit woorde/ onkeerbaar bloei”. Die geïmpliseerde ars poetica is dat digterskap uit verwonding gebore is. Dié motief word in talle gedigte voortgesit. In “Aan skerwe” (14) word die verteller by implikasie ’n Noritake-bord wat val en in skerwe breek, vir iemand ánders om op te tel. Die self-ironiserende toon word in die meeste gedigte herhaal, maar in plaas van ’n verwerking van verlies deur nugtere of volwasse afstandname, tref die gedigte die leser as infantiel.
In “Voorskrif” (15), ’n parodie op farmaseutiese riglyne, word anoreksie as “medikasie” aangedui, terwyl die krimpende tipografie in die gedig ook die gewigsverlies/lewensverlies ikonies verbeeld. Die nihilistiese bewussyn in die meeste gedigte volg in “Bome kan nie voel nie” (17), ’n omgekeerde logika as die spreker haar teen seerkry probeer staal:
Maar niks is ook iets
en soms is dit seerder
om nié seer te kry nie.
Die verlies van liggaamsgewig kring in die volgende gedigte uit na die aflegging van liefde (“Game over”, 18); verlies van ’n kosmiese bewussyn (“Maaltyd”, 50); “Pluto”, 48; “Afsterf van ’n broer”, 50); verlies van woorde/digterskap (“Woordvraat”, 20; “My brein is ’n maag”, 23); en ’n verlies aan identiteit (“Stikland”, 26). In die stryd teen selfverhongering word daar na woorde gegryp: word daar “ooreet” aan woorde (“Woordvraat”, 20; “My brein is ’n maag”, 23), sodat die maak van gedigte amper ’n bulimiese aksie word. Die verband tussen woorde en kos wat weer uit die liggaam geskei word, bied dus geen vertroosting nie. Die skryf van poësie bied dan geen troos nie, en dié zero-bestaan bereik ’n laagtepunt in “Stikland” (26), een van die sterkste gedigte in die bundel. In laasgenoemde gedig is die gesertifiseerde staatspasiënt gestroop van alles, en behoort by implikasie aan die staat. In “Inrigting” (27) en die daaropvolgende “Rooi skoene” (28) word die vakuum-bestaan opgehef. Nou is die spreker manies:
Ek is die fat lady wat regmaak
om die grand finale te sing. (“Inrigting”, 27)
“Rooi skoene” (28) is ’n toespeling op “The Red Shoes”, soos opgeneem in Clarissa Pinkola Estés se bekende werk, Women who run with wolves. Soos in die sprokie handel dié gedig oor ’n paar skoene wat onbeheerst dans (“dronk delirium”); nou het die neerslagtige toon in die gedigte gedraai: selfvernietiging het skielik ’n ander gesig en word as iets manies voorgestel.
In “Vóór jou was” (33) in afdeling II word ’n liefdesteleurstelling verwoord aan die hand van trappe van vergelyking van selfstandige naamwoorde: “bomer” en “berger”. Deur dié afwyking in taal word die verlies dan ook hiperbolies verwoord. “My brein is ’n malhuis” (36) kan saamgelees word met die meesterteks, “Die kranksinnige” van SJ Pretorius. Alhoewel Botha se parodie op die gedig nie juis slaag nie, is dit jammer dat sy nie die idee van die slaapwandelaar wat deur die tralies glip en op papier (in haar gedigte) beland, verder ontgin het nie. Die multidimensionele gesig van waansin in die bundel breek nie heeltemal deur nie.
Afdeling III, “Corps de ballet”, bevat gedigte wat die uitsiglose bestaan van gewone mense beskryf, terwyl die kwatryn in afdeling IV, “Sans révérence”, op ’n hoogtepunt in dié twee afdelings dui:
In my donkerste nagmerrie
is ek nie lewendig óf dood,
maar gestol in die eindelose
oomblik tussen sneller en skoot. (55)
Met die lees van Pirouette het ek soms die gevoel gekry dat die aanbod van “deftige voetwerk” in die bundel dalk juis die probleem is. In die eerste plek steur die steriele tematiek en die uitsigloosheid van die verse die gang van die verse: daar is nie veel afwisseling nie. Die bundel beweeg ook staties as mens in gedagte hou dat die leser ’n ballet-milieu verwag. Maar soos met die meeste bundels is daar tog goeie verse wat vergoed vir die geheel, soos byvoorbeeld “Woordvraat” (20), “Spieëlskrif” (21), “Wond” (23), “Weigh Less (24), en dalk nog ’n handvol ander. Indien die digter haar visier wýer rig as anoreksie, wýer rig as enige patologie of hospitaal, sal sy werklik die potensiaal van balletpoësie kan ontgin en die leser nog kan verras met die veelsydigheid van haar passies.

