Die partikel wat fisikus wetenskaplike Peter Higgs en sy span ongeveer 45 jaar gelede geteoretiseer het as die ‘lost particle-link’ van die kosmiese wetenskappe, as synde die verklaring te wees van hoe massa in en by materie ontstaan, ook sedertdien bekend as die sogenaamde ‘Higgs boson’, het blykbaar, ooreenkomstig ’n verklaring op Independence Day, 4 Julie 2012, deur die CERN wetenskaplikes van die LHC (Large Hadron Collider) projek in Switserland uitgereik, in hulle reuse, 27 km lange, ondergrondse partikel aanjaer sy verskyning gemaak… na ongeveer 10 jaar van navorsing deur die Amerikaners en meer as 500 triljoen geforseerde proton partikel-botsings in húlle Fermilab Tevatron Collider.
Die LHC is op 10 September 2008 inwerking gestel en eksperimenteer sedertdien onophoudelik op soek na die ontwykende Higgs boson.
Die Amerikaners het nie hond haaraf gemaak met hul minder kragtige FTC nie en toe die oorplasing na die CERN aanjaer bewerkstellig. Die CERN aanjaer, die LHC, teen ’n koste van $10 biljoen vervaardig, is blykbaar veel kragtiger as die Amerikaanse FTC. Na 18 maande van konstante aanjaery van partikel klossies (hadrons) in teenoorgestelde rigtings, teen amper die spoed van lig, maak dié nuwe (vermeende) partikel sy verskyning toe in die afgelope tyd. Hulle is nie seker of dit wél die veelbesproke maar ontwykende boson is, nie, maar vir hulle lyk dit so.
Stephen Hawking is só opgewonde oor dié fonds dat hy sommer al met die volgende sitting vir Peter Higgs by die Nobel pryswenner-podium wil staanmaak. En ons residensiële Panda is natuurlik seker ook só opgewonde daaroor, dat hy amper aan sy bamboesspruite sou verstik.
Wat beteken dit?
Volgens die Higgs teorie behoort daar in die kosmos energie partikels te wees waarvan die energie sodanig is dat die ander proton partikels daaromheen sal wil saamkoek en dan aanmekaar heg vanweë die werking van boson-partikels. Dit is dan (volgens hulle) hoe dinge, materie, met massa ontstaan en hoe alles wat ons ken, ontstaan, het – ten minste dan nou in die buitenste ruimte. Die wetenskaplikes verduidelik dit aan die hand van ’n voorbeeld van ’n partytjie vir BBP’e. Baie mense kom en gaan, maar sommige, die uitgesoekte gaste, sal die BBP uitsoek en om hom saamdrom om met die BBP geassosieer te word. Daardie saamkoeking gebeur nou met die regte proton partikels wat by die boson saamdrom – Nou, anders as by die partytjie, waar die gaste darem weer (hopelik) later uiteengaan nadat hulle hul genoeg vergaap het aan die BBP, om na hulle onderskeie wonings terug te keer sonder om permanent aan die BBP of aan mekaar verkleef te raak, maak die partikels anders – hulle heg permanent om ’n nuwe partikel met massa, te vorm, en gaan nié weer huis toe nie…
Die teorie is dat elementêre partikels teen energievlakke van 1,4 TeV (triljoen elektron volt) en hoër, sigbaar raak en dit is nou min of meer wat gebeur het nadat die wetenskaplikes letterlik oor jare heen triljoene proton-‘gaste’ op ’n kop-aan-kop botsingsweg met mekaar laat kom het, deur hulle in teenoorgestelde rigtings in die aanjaers teen ontsagwekkende energievlakke van ongeveer 4 TeV na weerskante om proton botsings te veroorsaak, aan te jaag. Interessantheidshalwe ter vergelyking sê wetenskaplikes dat die atome in ons liggame rondbeweeg teen ongeveer een-veertigste van slegs een elektron volt – wat aandui dat die spulletjie in die LHC is dus ’n baie ‘warm’ spulletjie is… Die nuwe, permanent saamgekoekte vondeling se massa is na bewering gelykstaande aan ongeveer 133 proton massas. Hulle meen hulle het nou hulle ‘God-particle’ (die Higgs boson), omdat dit in hoofsaak ooreenkom met die teoretiese kenmerke van só ’n boson, maar wil net seker maak met verdere data wat sal beskikbaar raak.
Hierdie fonds moet vir die evolusioniste in hulle kosmiese konteks, die ‘bewys’ wees van die bestaan van, nie net die oerknal, nie, maar ook van die honger en gevreesde alles-verorberende kosmiese swart gate (black holes) – die ontstaan van die heelal sónder die Goddelike Hand.
Hoe verbeeldingryk ís die kêrels, nie. Maar, daar is, soos maar altyd, die werklikheid wat hulle aard-gebonde peperduur eksperimente tot uitspattige speelgoed reduseer.
In die eerste plek, het die boson (kom ons aanvaar argumentshalwe dat dit wél die Higgs- tipe boson, is) gans te vinnig gevorm – dit hou glad nie tred met die ouens se hipotese wat sê dat die dinge oor biljoene jare heen, gebeur, nie. Stadiger en teen meer ekstreme kondisies het dit nie gebeur nie – vandaar dat dit van die Amerikaners se FTC aanjaer na die meer ekstreme en reusagtige Switserse LHC aanjaer oorgeplaas is, juis om die meer ekstreme kondisies op die proef te stel. Die sogenaamde bosons vorm dus vinnig en nié stadig nie, want die kondisies waarbinne dit vorm, is veel meer ekstreem as enigiets wat die mens al in die buitenste ruimte teëgekom, het. Hieroor later meer. Maar, gesien dus, die vinnige tempo van vorming, is dit egter eerder ondersteuning vir die gelowiges wat sê dat die heelal en die aarde, nie biljoene jare, soos die evolusioniste en oerknallers beweer nie, maar véél jonger, eerder duisende jare, oud is. Én dit is nou te sê, as materie wél so vorm, wat baie onwaarskynlik is.
Tweedens, die kondisies waaronder dié minuskule boson gevorm het, is ekstreem, met temperature wat dié van die son vér oorskry – wat nog te sê kosmiese grootte materie wat planete en sterrestelsels vorm en verorber. Daar is absoluut géén bewys of aanduiding van énige waarneming dat sulke toestande daarbuite heers, nie. Die teendeel blyk so te wees, want gedurende ál die tyd dat daar in die ruimte gepeuter word, is sulke ekstreme en waarnemings en kondisies nog nie teëgekom, nie. Sogenaamde swart gate is foto’s van kragtige teleskope, van toestande onbereikbaar vêr van hier, maar geen mens weet werklik óf daar soiets soos ’n werklike swart gat is, wat die funksionaliteit aanbetref wat hipoteties daaraan toegeken word, nie en of die toestande wat hipoteties daaraan toegeken word, ooit werklik bestaan, nie. Dit is hipotese in sy uiterste, onbewysbare vorm. Dit kan ook op géén wyse deur die wetenskaplike metode getoets of geverifieer word, nie en is dus nie vervalsbaar, nie. Tewens, eksperimente wat deur ander fisici gedoen word met kosmiese strale van véél sterker energie lading as die LHC-geproduseerde s’n, met ladings van 10 TeV wat die aarde tref (die LHC produseer teoreties 7 TeV maar die eksperiment is teen ongeveer 4 TeV gedoen), maar steeds geen teken van verval of aftakeling van protone en vorming van nuwe materie is nog óóit gesien, nie. Daar is ook geen verklaring deur wetenskaplikes wat deur waarneming in die natuur bekom is, wat die natuurlike ‘stilswye’ verklaar, nie. Daar is ook géén waarneming óf bewys hoegenaamd van die teorie van wat die kondisies in die uitspansel van die ruimte sou kon veroorsaak sodat protone in teenoorgestelde rigtings daarbuite teen snelhede amper dié van lig sou kon beweeg om groteske botsings te kon veroorsaak wat hitte energie (ongeveer 1,000,000,000? C) sou kon vrystel om massas plasma te vorm waaruit reusagtige kosmiese liggame te vorm, nie. Kortom, daar is geen, maar géén, bewys van die bestaan van ’n kosmiese LHC, nie!
Vierdens is daar geen aanduiding hoegenaamd, dat die eerste lewe kosmiese liggame op só ’n wyse ontstaan het, nie. Dit is heeltemal hipoteties. Inteendeel - die ontstaansomstandighede wat deur die CERN eksperiment aangedui word, is só ekstreem, weens ontlading van energie en gepaardgaande hitte, dat géén lewe daarin sou kon standhou, nie, wat nog te sê, daaruit voorkom. Dit werk juis op die prinsiep dat daar, wanneer twee protone bots, weens ekstreme hitte, plasma vorm wat bestaan uit die bestanddele van die botsende protone (die sogenaamde quarks en gluons) - samesmelting vind dus plaas en sekondêre partikels uit die ruimte word ook ingetrek, wat dan weer ‘afkoel’ en dan materie met massa daarstel. Op kosmiese vlak, waar die entiteite wat gevorm word dikwels groter as die aarde self, is? Kan enigiemand hul sulke ekstreme kondisies voorstel? Dit is ’n onhoudbare hipotese wat net op minuskule skaal (partikel trefkrag op afstande van ongeveer een duisendste van die deursnee van ’n proton in die LHC projek) in ’n laboratorium kan werk onder erg gekontroleerde omstandighede (die LHC se aanjaer tonnels is baie veilig meer as 100 meter onder die grond ingelê). Wat nog te sê, die resulterende diversiteit en funksionaliteit van die verskillende tipes materie. Dit dui onteenseglik op die Skepper se beheer en intelligensie en die LHC projek dra daartoe niks by, nie.
Vyfdens is daar dan is daar ook die netelige kwessie – hoe en waarom het dit dan opgehou, net toe die sterrestelsels funksioneel perfek begin funksioneer, het? Hoe word verhoed dat die boson te veel massa verwerf? Hierdie en ander aberrasies probeer die wetenskaplikes weg verduidelik met nóg ’n hipotese, dié van supersimmetrie – en só is daar ook nog geen teken van swart gate óf nuwe kosmiese liggame, gesien in dié proses, nie… Supersimmetrie is juis die aanhangsel-hipotese wat aan die Higgs boson hipotese gehang word om die sogenaamde ‘Higgs hierarchy problem’ (dié sou self-interaksie uitoefen deur partikels vry te stel en dit dan weer self te absorbeer die energie waarvan dan die massa daarstel, maar op sigself sou dié proses die massa opjaag na die Planck gravitasie effek - model toe, wat hopeloos te hoog - 1016 - sal wees). Dus, die ‘natuur’ sou hierdie telling van konstante vir die ontstaan van lewe moet verfyn tot die 32ste desimale punt en daar mag nie ’n enkele fout insluip in enigeen van daardie 32 desimale punte, nie en waarvan die aanwending beteken dat die boson nie te veel massa sal opbou, nie. En toe word ’n hipotese geformuleer om dié probleem die hoof te bied – die pasmaak supersimmetrie hipotese. Indien enigiets soos dit wel só bestaan, dui dit deur en deur op Intelligente ontwerp.
Dit dui weer onteenseglik op die Skeppende Intelligensie wat die skeppingsproses presies beheer.
In die sesde plek is daardie grootste aftakelaar – die eksperiment is spesifiek ontwikkel en geontwerp om ’n hipotetiese resultaat te bereik vir eksperimentele doeleindes, om by ’n hipotese te pas, met aanwending van aansienlike kollektiewe intelligensie van verskeie wetenskaplikes oor ’n lang tydperk, heen. Die oerknal en swart gat teorieë ontken, nes die evolusie hipotese, die betrokkenheid van die Skepper se intelligensie en tog kan hulle níks, hoegenaamd níks, wys, wat sónder intelligente ontwerp en intelligente uitvoering daarvan, bestaan nie. Verál nie hulle eie eksperimente, nie! Nog een in daardie klas, is dié van die Craig J Venter Institute van Amerika se sintetiese genoom. Al wat hulle dus kollektief dusvêr kon bewys, is júís dat selfs die eenvoudigste van eenvoudige komponente van ons fisiologiese en biologiese bestaan slegs teweeggebring kan word met aanwending van grootskaalse kollektiewe intelligensie, hiperduur toerusting wat spesiaal vir die doel geontwerp is en natuurlik jare en jare se geswoeg nadat die biologie en kosmologie teorie al deur talle mense vooraf, vir eeue al, bestudeer, was. Álles spreek van één ding - Intelligente ontwerp.
In die sewende plek is die eksperiment onder aardse omstandighede, met aardse biosfeer wat insluit, temperatuur, atmosfeer ens., gedoen. Alles wat egter aan ons as mense bekend is van die kosmos en die heelal (sluit die onsinnige raaiwerk van hipotese uit – hulle is dit juis omdat daar geen bewys voor is, nie), is dat die aarde in alle opsigte uniek is en dít alléén behoort enige wetenskaplike wat sy sout werd is, te ontmoedig om aardgebonde eksperimente te doen wat moet dien in kosmiese opset. Daar is géén hoop dat dieselfde eksperiment wat ’n ligjaar of twee van hier iewers in die ruimte verwyderd, dieselfde resultaat of selfs énige resultaat, sal lewer, nie. Daarom is dit nie relevant vir doeleindes van wat in die ruimte gebeur of nié gebeur, nie, wat nog te sê van wat derduisende jare gelede daar gebeur, het.
Laastens is daar dan ook nog die kwessie van die wetenskaplike proses – die opstel van kontroles. Dit blyk onmoontlik te wees. Nie een mens op aarde het die vermoë om werklik te gaan uitvind hoe die werklike ‘ding’, daardie oerknal-swart-gat affêre wat nog slegs hipotetiese lewe gesien het en steeds vasgemessel is in die wetenskap fiksie realm, lyk nie en of dit hóégenaamd werklik bestaan, nie. Daar is ook géén vooruitsig dat dit die mens dit sou kon bewerkstellig, nie. Volgens hul eie teorieë omtrent afstande, leef mense gewoon net nie lank genoeg daarvoor nie, én ontbreek die toerusting om dit te bewerkstellig.
En dít, terwyl ons al vir derduisende (hulle sê dit is biljoene jare sit met en leef in die mees komplekse en gediversifiseerde biosfeer en kosmiese orde, te wonderlik om deur die mens oor die eeue heen uit te pluis… want dit is geontwerp en geskep en sedertdien bestuur, deur die Intelligensie wat álle menslike begrip, selfs hulle kollektiewe begrip, te bowe gaan. Hoe anders? Dit is dan God se handewerk. HY is dan God, dáárom is dit te verwagte dat Sy skepsels dit nie sommer só sou kon uitpluis, nie. HY weet ewig al, want hulle waarskynlik nóóit sal kán weet, nie.
Dus, waarmee is die ‘wetenskaplikes’ besig? Is dit op enige wyse hoegenaamd, nuttig vir die mens, hierdie geploeter? Hulle het steeds géén vordering gemaak ten aansien van die wetenskapfiksie-status van die oerknal hipotese nie en doen dit steeds om befondsing vir hulle speelveld te bekom, onder voorwendsel van wetenskap – nes die evolusioniste.
En dit alles in ’n sinnelose poging om te probeer bewys alles het ontstaan sonder die Skepper daarvan. Geen hoop daarvoor, nie. Géén hoop, nie. Die LHC is ’n aardgebonde stuk toerusting wat sosiaal gebou is om ’n aardgebonde teorie te ondersteun. Die basiese element is dít – gegewe genoeg hitte-energie, sál daar fusie plaasvind, gepaardgaande met die newe-effek van die absorpsie van partikels – ’n óú bekende wetenskaplike feit oor hoe dinge op aarde werk. Die voorloper daarvan was die ou tegnologie waaruit kernsplitsing bewerkstellig, is. Dus, die LHC is gebou met die doel om ’n voorspelbare resultaat te bewerkstellig – sonder dat die LHC deur al die jare waarin dit intensief aangewend is, kon aantoon dat enige iets anders as fusie sou plaasvind, nie, wat nog te sê komplekse planete en lewe. Daar is dus steeds géén bewys dat dié aardgebonde proses, ook in die buitenste ruim in die kosmos plaasvind, of selfs kán plaasvind, of óóit voorheen plaasgevind het, nie.
Dit is nog stééds net wetenskapsfiksie en sal só bly.
Wat kan alles met $10 biljoen plus, gedoen word ter opheffing van die algemene opleiding en welvaart van baie mense?
Mens wonder wanneer die publiek vir hulself gaan begin dink. Toe sekulêre wetenskaplikes die natuurlike wetenskappe-podium geskaai, het, is eerlike wetenskap in daardie veld, daarmee by die venster uit. En tog melk hulle die dom publiek om hulle te befonds. A nee, a. Laat hulle vir hul eie geploeter betaal!? Maar, daar is nie genoeg van hulle, nie.
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus, doen asseblief net 'n bietjie moeite met jou opskrifte ... jy trek weg met Sneeuwitjie wat saam met Peter in die berge speel en eindig waar die wolf uit die ouma se maag deur Phinoccio gehaal word ...
Wanneer sal jy ooit leer om nie soos 'n sot op te tree wanneer jy nie begryp wat aangaan, of waarvan gepraat word, nie, Cornelius? En dit gebeur deurgaans.
Onthou tog, as jy die insig kan bemeester - die sotheid in die verhaal is en bly telkens jou aanmerkings en nie die inhoud van dit waarop jy probeer reageer, nie.
Jy weet, die Woord het goeie raad vir jou... "Die dwaas laat sy drif op die daad bekend word, maar die skrandere verberg skande ... Selfs ’n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig."
Maar, daar is seker nie hoop dat jy dit sal kan bemeester en begryp nie, of hoe?
Kobus de Klerk