Op soek na die ontglippende begeerlike: Aucamp versmelt sofistikasie en 'onfatsoenlikheid'

  • 0

Titel: Vlamsalmander
Outeur: Hennie Aucamp
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9 78189 192464
Aantal bladsye: 116

Klik hier om uit te vind waar jy jou eksemplaar van die boek kan bestel.

 

Met Vlamsalmander bou Hennie Aucamp op voortreflike wyse voort op wat in sy twee vorige digbundels, Hittegolf en Dryfhout, maar ook in die res van sy verskunsoeuvre, bereik is. Hy is ongetwyfeld een van Afrikaans se voorste vernufsdigters.

Ek gebruik vernuf hier geensins min(der)agtend nie; inteendeel. Die knaphandigheid waarmee hy vaster vorme hanteer, tesame met die raak en vindingryke klank- en beeldgebruik en taalspel, dra betekenisvol daartoe by om die gelade vermenging van kunstigheid (ook kuns-matigheid) én emosionaliteit (selfs sentimentaliteit), liefdesverlange én erotiek (selfs grensend aan die pornografiese), dekadensie én morele onthutsing, suggestiewe ironie én skerp satire in sy werk saam te hou.

So bewerkstellig Aucamp 'n unieke, fassinerende versmelting van sofistikasie en "onfatsoenlikheid" in sy verskuns - en kan hy afreken met die geykte siening in verband met laasgenoemde. Dit doen hy letterlik in "Lyfreg", die slotgedig in die tweede afdeling van Vlamsalmander:

[...] diere, met deernis en begrip
en goed verskans teen sedesmouse,
sien hoe ons instap in die wip

genaamd fatsoenlikheid
wat juis - my liewe hel - fatsoen ontken:
Baldadige borste en boude
het hoeka die gode verwen.

Die verleidelike vernufspel op stilistiese en verstegniese vlakke ontlok 'n ekwivalente ervaring by die leser, in die sin dat dit iets dwingends verkry, dat dit verwagtings wek én dit bedrewe bevredig. "Digterlike resies" spel iets hiervan uit:

Een kwatryn wek die ander
in sy epiese vers -
'n meedoënlose gang
en eintlik pervers,

want voleinding is altyd
die "kleine dood":
Op sy blad, oor die ink
lê die slymspoor van skoot.

'n Ander voordeel is dat dit 'n spel-element invoer wat, enersyds, die melankoliese ondertoon van Aucamp se werk verlig, andersyds (en ironieserwys) juis reliëf gee aan die dominante tematiek van verydeling, onvervuldheid en verganklikheid.

Ars poetica

Poësie is 'n sprekende voorbeeld -
maar waarvan presies?
Van homself, sy klanke en ritmes,
en sy basiese tema: verlies.

Dat sy digwerk in die drie bundels van die afgelope ses jaar hoofsaaklik vaster vorme van korter bestek behels (meestal sonnette en nog korter vorme), is voorts funksioneel om die belewing van die vervlietendheid van alles te help uitdruk.

Só kenmerkend is laasgenoemde dat 'n mens by die lees van langer, "losser" verse soos "Canto" (ter ere van die verguiste Ezra Pound) en "Blues vir 'n verdronke stad" (oor die New Orleans-ramp van 2005) vir 'n wyle voel dat die komposisionele spanningslyn soek geraak het - totdat jy besef dat Aucamp in die titels van dié gedigte (en via die intertekste wat hulle oproep) duidelike tekens gee van die aard en toon waarvolgens hulle gelees moet word.

Trouens, hy hanteer vryer vorme so vaardig dat hulle glad nie afsteek by die meer gebondenes nie. Afdeling III van Vlamsalmander - "Seepunt-suite" getiteld en met die aanduiding dat dit vir "jazz-ensemble" bedoel is - is 'n klinkende bewys hiervan. Lirieke met die volkskwatryn as strofevorm ("Straatbank, Esplanade" is deur Amanda Strydom in medewerking met Graeme Currie getoonset), 'n gedig in paarrymende distigons (met die sprekende titel "Couples") en kwatryn- en limeriek-agtige digvorme staan langs vrye verse, en almal is gestileer tot verfynde instrumente om spesifieke nuanses - dandyïsties tot miserabel - van die Seepunt-sfeer te registreer.

As ek 'n beswaar sou kon lug, is dit dat sommige gedigte (soos ook soms in Aucamp se ander bundels) swaar leun op die historiese, mitologiese, literêre en ander artistieke verwysings wat hulle bevat, sodat hulle ietwat verstandelik (kan) aandoen. Maar dan: die intellektuele element is só essensieel ingeweef in die Aucamp-idiolek dat dit daarsonder waarskynlik oneg sou wees! Hierby sluit sy benutting van woordeskat uit ander tale (waaronder neerlandismes soos "lul" en "ploeg") aan.

Dis seker nie uniek aan Aucamp se werk nie, maar al bogenoemde kenmerke maak tesame op my die indruk van iemand wat pynlike insigte en belewenisse "by wyse van spreke" skadeloos probeer stel.

Die bundeltitel is 'n gepaste een om die dikwelse vervlegtheid van eintlike teenstrydighede uit te druk, byvoorbeeld (primitiewe) drange en geestelike strewes. Die openingsgedig maak duidelik dat dié motief ook vir iets ontglippend begeerliks staan - vir "die ontwykende Ander", ook in artistieke sin. Minder of meer eksplisiete salmanderverwysings kom op 'n hele paar ander plekke in die bundel voor, waaronder in die foto (deur Mark van Coller) van die blootgelegde, reptielagtig wringende wortelvergroeiing van 'n woestynboom op die omslag.

Siedaar, treffende afwerking van 'n hoëgehalte-kunsproduk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top