Op reis met 'n hond: 'n besonder belowende debuut

  • 0

Op reis met ’n hond
Anna Kemp
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151849
Prys: R131.75

Klik hier en koop Op reis met ’n hond nou van Kalahari.net!

 

Ek het ’n keer die jong skrywer Kiran Desai, wat die Booker-prys gewen het vir haar roman The Inheritance of Loss, by ’n kongres hoor sê dat sy eintlik eers sukses behaal het toe sy alles oorboord gegooi het wat sy in skryfskole geleer het. Tot haar verbasing het die erkenning eers gekom toe sy begin het om lang, komplekse sinne te skryf in plaas van kortes en probeer het om ingewikkelde emosies te ontrafel eerder as om klinkklare omskrywings daarvan te gee.

Ten spyte van Desai se suggestie dat skryfskole sekere patrone op hulle studente afdruk, is daar heelwat verskeidenheid in die debute wat voortspruit uit die kursusse in kreatiewe skryfwerk wat tans by Suid-Afrikaanse universiteite aangebied word. Die debute wat uit hierdie skryfkursusse kom, is meestal deeglik-afgewerkte tekste wat duidelik gebaat het by die werkswinkelproses waarin studieleiers en medestudente insette lewer. Anna Kemp se kortverhaalbundel Op reis met ’n hond, voltooi as deel van ’n graad in kreatiewe skryfwerk by die Universiteit van Pretoria, is een van hierdie tekste.

Die agt verhale in die bundel vertoon ’n groter samehang as wat ’n mens normaalweg in so ’n bundel aantref, omdat dieselfde ek-verteller in feitlik al die verhale optree. Die bundel-eenheid word verder ondersteun deur die deurlopende teneur van verlies en vervreemding. Die verhale word ook op ’n meer konkrete vlak saamgebind deur motiewe soos dié van die hond wat in die titel genoem word en op die mooi-ontwerpte voorblad figureer. Haar styl is van die nugter, byna lakonieke, soort en die leser word by meer as een geleentheid verras deur die wrang humor waarmee die gevoelens van melankolie getemper word.

Die eerste verhaal in die bundel, “‘Madam you must lie down ...’”, lê in ’n sekere sin die patroon vir die res van die bundel neer deurdat dit sekere temas aankondig: die gewelddadige Suid-Afrikaanse samelewing, die impak van die verlede op die hede, die lewensbepalende verhoudings tussen ouers en kinders, en die regenererende vermoë van die kuns. In die eerste van die verhaal se drie dele word die verteller deel van ’n gewapende roof op ’n vulstasie en in die tweede leer sy iets ken van die geskiedenis waaruit haar pa kom wanneer sy tyd deurbring by sy siekbed. In die derde deel dink die verteller na oor haar eie sukkelende pogings om te skryf terwyl sy kyk na kinders wat sandbeelde maak op die Durbanse strand. Wanneer sy daar aan die slaap raak, begin hulle sand om haar arms en bene pak om van haar ook ’n kunswerk te maak, ’n moment wat tegelyk onheilspellend en hoopvol is. Elkeen van die verhaal se drie dele gee ’n konkrete situasie wat demonstreer en suggereer eerder as wat dit verduidelik.

Uit die omstandighede wat die eerste verhaal skilder, groei ’n hele aantal van die daaropvolgende verhale. “Reis na Spanje met ’n hond” begin met ’n verwysing na die hond wat die verteller se man vir haar gekoop het om haar te beskerm na die aanval op die vulstasie. So begin die motief van die hond wat in verskillende verhale in die bundel opduik en deurgaans by die verteller die gevoelens van “angs en skuld en onontkombare verantwoordelikheid” oproep wat sy tydens haar reis in Spanje ervaar wanneer sy gekonfronteer word met honde op straat of in kunswerke. So word die hond ’n gegewe waaruit die stand van ’n samelewing afgelees kan word (gevaarlike honde vir beskerming, vertroetelde honde, rondloperhonde wat motorongelukke veroorsaak, mishandelde honde).

Die nawerking van die verlede in die hede speel ’n belangrike rol in hierdie verhale. In “Trekkerswee”, wat handel oor drie vroue se naweek in die Drakensberge, word die Afrikaner se verlede opgeroep deur die verwysing na Totius, maar ook deur die verwysings na die Groot Trek in hulle gesprekke. Dit word vervleg met verwysings na hulle persoonlike ervarings van verhuising. Die geskiedenis wat nog elke dag in Suid-Afrika gemaak word, gryp ook in op hulle verhaal wanneer al hulle toerusting gesteel word terwyl hulle op ’n staptog is.

Die verwerking van die verlede is ook ’n faktor in “Skemeraand op ’n boereplaas” waarin die verteller en ene Jak hulle vriendin Ulrike vergesel na ’n familiebegrafnis op ’n plaas in die Klein Karoo. In hierdie verhaal manifesteer die Afrikaner-verlede (bewustelik bygehaal deur die verwysing na ’n opstel oor ’n boereplaas wat die verteller se pa in 1938 geskryf het) in die byna groteske vervallenheid van die plaas, die mense wat daar woon en die lot van die hond Dominee wat op die werf vasgeketting is. Presies hoe dit verwerk moet word, is een van die vrae waarmee die karakters in die verhaal worstel.

In “Briewe aan Anton Tsjechof (’n Liefdesverhaal)” gee ’n hipergevoelige jong vrou wat besig is met nagraadse studie in die Duitse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat haar ervaring weer in dagboekstukke wat terselfdertyd ook briewe aan die skrywer Tsjechof is. In hierdie opsig herinner dit sterk aan die emosionele sfeer van Hettie Smit se dagboekroman Sy kom met die sekelmaan. Die meisie is vasgevang in ’n godsdienstige ouerhuis en in ’n omgewing wat vir haar meer bevreemdend is as die wêreld waarvan sy in Tsjechof se werk lees. Die impak van hierdie verhaal word versterk wanneer dit blyk dat die verteller waarskynlik die karakter Magriet in die voorafgaande verhaal “Die amandelboom” is. Die leser weet dus by voorbaat hoe moeilik sy verwerk het aan die gevoelens van ontheemding en verlies wat sy as jong student ervaar het en ook dat sy uiteindelik in ’n sinlose ongeluk gesterf het.

Die KwaZulu-Natalse ruimte is ’n sterk teenwoordigheid in die verhale. In “Kaalvoet in die Drakensberg” verbind die verteller uiteenlopende situasies op assosiatiewe wyse in ’n poging om na te dink oor haar identiteit as Suid-Afrikaner: ’n verwysing na die Katalaan Louis Companys wat kaalvoet tereggestel wou word, die Voortrekkervrou Susanna Smit se opmerking dat sy liewer kaalvoet oor die Drakensberge sal terugloop as om onder Engelse oorheersing in Natal te bly, en die verhaal van ’n staptog in die Drakensberge. Die landskapbeskrywing in “Giftige fonteine” lê klem op die byna bedreigende groen van die KwaZulu-Natalse landskap, maar herinner byna te sterk aan die werk van Ingrid Winterbach, wat die eerste was wat hieroor geskryf het. Daar is trouens ook ander elemente wat Winterbach se werk oproep, sodat Kemp daarop bedag sal moet wees om hierdie invloed sinvol te verwerk.

’n Opmerking wat die verteller vroeg in die bundel oor haar pa maak, geld ook vir sommige van die verhale in hierdie bundel: “Geen inleidings nie, weinig verduidelikings, geen aanmoedigende tussenwerpsels nie, geen samevattende afsluitings nie. ... Hy laat dit aan die hoorder oor om die onderwerp en die verband tussen die verskillende stellings te vind.” Die beste verhale in die bundel gee blyke van hierdie vermoë om die leser tot ’n kreatiewe leesproses uit te lok. Tog is nie al die verhale op dieselfde hoë peil nie en is daar soms die neiging om vir die leser te sê wat eintlik al gesuggereer is. Voorbeelde hiervan is nogal eksplisiete slotmomente van verhale soos “Kaalvoet in die Drakensberge”, “Giftige fonteine” en “Skemeraand op ’n boereplaas”. Alhoewel daar geen voorskrifte is in hierdie verband nie, voel ’n mens tog enkele kere dat die verhale nie kragtig genoeg afgesluit word nie.

Ten slotte is Anna Kemp se Op reis met ’n hond egter ’n besonder belowende debuut waarvan die beste verhale die leser bybly vanweë hulle vermoë om te suggereer en evokeer.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top