Ongestrykte verlede

  • 0

Gladys staan in ‘n wit kombuis
en sing haar struggle songs.
Sy bevry die skottelgoed,
wurg en druk die onderdrukkende water
uit die spons uit.

Die gedagte aan gerasperde mense
in strate vol brandende bande.
Die reuk van die halssnoer hang vars
in die lug vol krete en skote.
Trane, olie en bloed vloei
saam af in die stormwatergat.
Die rook trek die lug in
en merk die dag se verloop.

Aan tafel voor die Heyns-gesin
is die eetkamertafel vol stukkies harsing en been.
Die bloedbevlekte mat in die parlement
eers tien jaar na ’94 verwyder.

Gladys tel op die strykyster.
Die baas is nou haar broer.
Sy weet almal weet, maar niemand praat nie.
Sy brand ‘n pragtige kruis
voor haar in die klaargestrykte hemp.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top