Om te skryf is om te lees

  • 1

Wat is Om te skryf?

'n Groep skrywers, joernaliste, uitgewers en boekeredakteurs[1] het bymekaargekom en 'n plek geskep waar mense kan leer skryf. Dit bestaan uit twee dele: ’n boek (Om te skryf) en 'n webwerf (Omteskryf). Omteskryf is nou op LitNet.

Omteskryf is "vir enigiemand wat lief is vir literatuur of daarin belangstel om sy skryfvaardighede te verbeter" (volgens die uitgewer se bemarkingspamflet).

Daar is tien onderafdelings in die boek:

1. Skryf oor jouself.
2. Skryf oor ander: die karakterskets.
3. Skryf oor plekke en dinge: beskrywing.
4. Skryf oor gebeure: vertelling.
5. Skryf oor idees en oortuigings: kommentaar.
6. Skryf om te definieer.
7. Skryf om te oorreed.
8. Om te begin en te eindig.
9. Skryf oor kuns en media.
10. Styl: van nader bekyk.

Op die webwerf is daar ook ’n elfde onderafdeling bygevoeg:

11. Om te vertaal.

 

Wie se werk is opgeneem?

By elke onderafdeling is gemiddeld tien vakmense se oorspronklike skryfwerk geplaas.

Suid-Afrikaanse skrywers wie se werk in die boek opgeneem is, is onder andere: Etienne le Roux, Koos Kombuis, Chris Barnard, Jeanne Goosen, Rachelle Greeff, Nataniël, Toast Coetzer, Dana Snyman en Hanlie Retief.

In watse taal is dit?

Die skryfwerk is deurgaans in Afrikaans - oorspronklik óf vertaal.

Hoe werk dit?

Ná elke uittreksel, hoofstuk of artikel volg ’n soort begripstoets. Daar is vrae oor die leser en die doelwit, organisering van die teks, sinne en sinskonstruksie, voorstelle en moontlikhede om jou eie skryfwerk te oefen.

Die webwerf lyk presies dieselfde, maar hier kan jy aanlyn al die oefeninge doen. En telkens met ’n regmerk op jou rekenaarskerm aandui as jy daarmee klaar is.

Nog agtergrond en 'n vergelyking: Writing Prose deur Kane en Peters

Die uiteensetting van onderafdelings, sowel as die metode wat in die boek gevolg word, is dieselfde as wat gevolg word in Kane en Peters se Writing Prose (eerste uitgawe 1959). Writing Prose het met toestemming van Oxford Press as grondslag vir Om te skryf gedien.

Die onderafdelings is presies dieselfde. Onder die onderafdeling "Writing about yourself", word die volgende skrywers se werk opgeneem:

 

 

In Om te skryf lyk die afdeling "Skryf oor jouself" só:

 

 

Deurgaans is die metode: kyk hoe uiteenlopende skrywers skryf. Léés wat hulle doen.

In Writing Prose se voorwoord staan daar (Kane en Peters 1986:xii):

We believe that the principles of organization, sentence structure and diction can be studied best not in the dead rules of rhetoric, but in the living example. In short, our assumption is this: the student of composition should study good prose to learn to write good prose.

Om te skryf se benadering is dieselfde as Kane en Peters s’n.

Kane en Peters se boek kry uitstekende lesersresensies op Amazon.com.

 

 

Die boek is al aan studente voorgeskryf, soos ’n Amerikaanse leser op Amazon skryf.

Internasionale skrywers wie se werk in Writing Prose opgeneem was en vir doeleindes van Om te skryf vertaal is, sluit in: Ernest Hemingway, Dylan Thomas, Anaïs Nin, Emily Hobhouse en Plato.

Steekproef: Jeanne Goosen se "Brief"

Ten einde die metode te demonstreer wat Om te skryf volg, word ’n uittreksel uit die skrywe "Brief" deur Jeanne Goosen hier geplaas soos wat dit in Om te skryf verskyn:

 

Na die skrywe volg ’n soort "begripstoets":

— Vrae oor die leser en doelwit
— Organisering
— Sinne
— Woordkeuse
— Om te leer
— Voorstelle vir jou eie skryfwerk
— Verbeter jou styl.

Hierdie "begripstoets" kan aanlyn by Omteskryf voltooi word en hier lyk dit so:

 

 

Hoe lyk die webwerf?

 

— As mens gratis by Omtekskryf registreer, kry mens toegang tot die inhoud van die boek en die skryfoefeninge kan aanlyn voltooi word.

— Daar is oënskynlik geen regte of verkeerde antwoorde nie. Elke persoon wat deelneem aan die skryfoefeninge, doen dit vir eie skryfverbetering. Van buite gesien lyk die moontlikheid groot dat mens hierdie aanlynoefeninge in ’n Afrikaanse kreatiewe skryfklas kan verwag, as deel van ’n lesplan en besprekings agterna, waar studente hul antwoorde vergelyk en verduidelik. Ideaal, dus, vir universiteitsdosente in die vak Afrikaans.

Die Afrikaanse skryfgids vs Om te skryf

Om te skryf en om mense te leer hoe om te skryf, is ’n industrie. Kreatiewe skryfkursusse word aan byna elke universiteit in die land aangebied.

In 2012 verskyn Die Afrikaanse skryfgids by Penguin (resensie hier). In Die Afrikaanse skryfgids skryf kundiges op verskillende skryf-vakgebiede oor hul onderskeie genres, of verduidelik aan aspirantskrywers iets van skryftegnieke en -metodes. Styl word bespreek, telkens deur ’n kenner.

In Om te skryf verskyn die oorspronklike tekste van skrywers - die skrywer vertel nie wat hy gedoen het om die produk te skep nie. Showing, not telling. Die leser moet lees, weer lees en die skryftoetse agterna voltooi om uit te pluis watter tegnieke gevolg is. Styl word stilisties gedemonstreer, telkens deur ’n kenner.

Om te skryf sluit nie Die Afrikaanse skryfgids uit nie. In die aanlyn-voorwoord van omteskryf.net word trouens na Die Afrikaanse skryfgids as ander skryfhulpbron verwys. Die metodes om skryf te verduidelik, verskil egter totaal in hierdie twee bronne.

Moontlike toepassingsgebiede vir Om te skryf

— Die oefeninge en "begripstoetse" is die moeite werd vir huistaal- en addisionele-huistaal-onderwysers en -dosente om in ’n klasopset by lesplanne te integreer.
— Letterkunde- en kreatiewe-skryfwerk-studente kan hierdie boek aanskaf om hul te help om hul studies te verbeter.
Aspirantskrywers kan hul skryfwerk prakties oefen.
— Lesers van alle ouderdomme kan doodeenvoudig die tekste lees sonder om die begripstoetse te voltooi (ontspanning).

In watter opsigte is Om te skryf geslaagd

Om te skryf volg die metode van voorbeeld-stel, van ’n mentor wat iets doen wat ander aspireer om te doen. Aspirantskrywers kyk oor die skouers van groot ambagsmanne om te sien wat is reeds gedoen.
— Die aspirantskrywers gaan wel moet sit en skryf en die metodes aanwend ten einde die mentor, wat die boek is, toe te laat om in sy doel te slaag.
— Blootstelling aan skrywers wie se werk mens nie normaalweg sal lees nie.
— Blootstelling aan internasionale skrywers, van wie sommiges mens nog nooit van gehoor het nie.
Persoonlike mening aangaande mense wat aspireer om boeke of ander tekste, soos tydskrifartikels, te skryf: dit kan geen skade doen om standaarde te verbeter nie. Mense wat wil skryf, kan net sowel leer om dit goed te doen.

Kritiese vrae

— Gaan sommige van die minder bekende Suid-Afrikaners se tekste nie verouder raak, waar dit teenoor sommige van die wêreldreuse staan nie?
— Gaan volwasse aspirantskrywers kans sien om ’n "begripstoets"-styl te volg en te voltooi?
— Ander kritiek: die boek gaan jou, terwyl jy dit lees, weghou van jou eie persoonlike skryfwerk. Want mens kan dit nie neersit nie.
— Die kernvraag is: Wat is die enigste manier om te skryf? Die Engelse titel se “present continuous”-tyd (writing) beantwoord eintlik hierdie retoriese vraag. Om te skryf? Skryf.

 


[1] Adriaan Basson, Amanda de Lange, Anastasia de Vries, Bertie du Plessis, Bun Booyens, Dana Snyman, Danie van Niekerk, Elna van der Merwe, Erika de Beer, Francois Griebenow, Gerhard Lubbe, Gerrit Schaafsma, Gert van der Westhuizen, Hanlie Retief, Henriëtte Loubser, Jaydee Sass, Johan van Zyl, Johann de Lange, Johannes de Villiers, Kay Karriem, Koos Bekker, Maret Lesch, Marida Fitzpatrick, Marnus Hattingh, Nerisa Coetzee, Peter van Noord, Schalk Burger, Tim du Plessis en Yvonne Beyers.

 

Laai Om te skryf af as eBoek by Kalahari.com.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top