
Maslow: Die tweede keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh
Tweede verslag: Maslow
Knap gedaan! Jy het die verhaal se agtergrond en konteks uitstekend ingevul, en die futuristiese plasing is oortuigend.
Met die beskrywing van die motivering vir die eksperiment kan jy dalk ’n bietjie minder klem lê op die uiterlike manifestasie van sonde en die sondebesef en meer dui op die geestelike honger na God op die Nuwe Aarde – die ek-spreker en die navorsers stam immers af van mense wat volledig sekulêr geraak het (as ek van 2014 ekstrapoleer die toekoms in) en sou geen idee hê van religie of selfs spiritualiteit nie. Die wetenskap en tegnologie van ons tyd is besig om dit uit te wis, dus sal die mens as’t ware van voor af godsdiens moet ontdek – daarom ook dat hul aanhang van die Woord van God uit die ou tyd oortuigend is. Nuanseer ’n bietjie aan die sondebesef in die verhaal, sodat dit nie klink soos ’n bekeringstraktaatjie nie. Wys op die positiewe wat hulle in die Heilige Boek wou terugvind wat die mens intussen verloor het: moraliteit, omgee vir ander, ander bo jouself stel, nie gierig of oneerlik wees nie – basies die hele morele stelsel wat die Bybel verskaf.
Ek het net ’n vraag oor tydsverloop: aan die begin van die verhaal sê die verteller dat sy al sestien jaar wag vir hierdie dag, en aan die einde dat die navorsers twee jaar gelede teruggekeer het – met ander woorde, toe die tweeling veertien was. Sou die navorsers nie eerder terugkeer as hulle sestien was nie, wat as die vroegste “volwasse” ouderdom beskou word? ’n Aanpassing is nodig wat dit betref.
Let ook op die volgende: En uit die monster stroom daar onbekende wit lywe – dit impliseer ’n klomp mense, maar die tweeling sou hoogstens drie mense tjop-tjop kon afmaai. ’n Aanpassing is nodig.
Ek kan sien dat die naam van Abraham Maslow moeilik ingewerk kan word by die verhaal, dus ’n voorstel: maak die ek-spreker se naam Maslow? Op daardie manier wat ou-ou name vandag nog voortleef, maar mense dink nie meer aan die oerbetekenis daarvan nie. Die verteller kan een keer as sulks na haarself verwys, byvoorbeeld: ... en ek, Maslow, is gekies vir die eksperiment etc.
Wat betref die fyner afronding van die teks geld dieselfde as wat ek in die ander verslag uitgewys het, met bykomend die gebruik van te hoogdrawende woorde soos “klam hoof”, “dut”, “vestig”, “intense erns”, “verslind”, “ontlont” (wat hier verkeerd gebruik word – sien HAT). So ver die toekoms in sal die verteller juis nie sulke merkbaar outydse taal (volgens ons huidige siening) praat nie, dit sal beter wees om haar net ’n neutrale Afrikaans te laat praat, met die nuutskeppings van die futuristiese beskawing daarby (let op die korrekte spelling: geskiedenis-holo’s).
Laastens: jou taal bevat baie Engelse invloed, oftewel anglisismes. Byvoorbeeld: Die intense erns en ondervinding in haar blik belieg haar jare; Ek het die waansin aanvanklik afgeveg – kyk ook daarna, asseblief.
• Lees die tweede weergawe: "Maslow"
• Lees die eerste weergawe: "Maslow"
• Lees die eerste keurverslag oor "Maslow"
• Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

