
Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Keerom
Toe ek ses jaar oud was, was my oupa nog my held. Groot man met ’n growwe stem, sterk hande met kort, dik vingers. Littetekens en eelte van ’n harde lewe, plooie om sy oë en mond wat sy sarkastiese sin vir humor verklap.
En ’n yskoue glinstering net onder die oënskynlik vriendelike oppervlak van sy amper deuskynende blou oë.
Maar wat maak dit als saak vir ’n bloedjonk seunskind wat droom om eendag in sy oupa se uitgetrapte veldskoene te loop, oor grond wat al vir vyf generasies deur die Gerber-familie bewoon en bewerk word?
Dis grond wat al deel geword het van ons harte. Grond waar sewentien Gerbers nou rus in die afgekampte familiebegraafplaas onder teen die rivierbank in die skaduwee van die ou wilgerboom.
Ja, wat maak dit vandag tog nog saak?
My punt is seker maar net dat my oupa my held was, en dat ek het my Gerber-trots daardie tyd nog op my mou gedra het. Voordat my hart bevlek is met geheime.
Als het verander een somermiddag omtrent dertig jaar gelede. Ma het weer gaan “koffie drink” by tannie Sienie, maar koffie drink is net vroumense se kodetaal vir skinder. So het Oupa altyd gesê. My pa het nie geweet dat ek my perd opgesaal het en Keerom toe gery het nie. Hy het nooit toegelaat dat ek alleen vir oupa Dirk gaan kuier nie, maar ek het soms skelm daarnatoe gegaan. Dan het ek saam met Oupa die plaas paaie gery en op die lande gewerk.
Ek het altyd aangeneem Pa dink ek is in Oupa se pad, en ek het hom daarvoor kwalik geneem. Ek kon sien dat Oupa verlekker in die skelm uitstappies en sò het dit ons geheim gebly. Pa en Oupa Dirk het nie om dieselfde vuur gesit nie, en het mekaar net ordentlikheidsonthalwe verduur.
Dit was ’n snikwarm dag; die hittegolwe het oor die veld gedans terwyl skynwaterpanne glinster op die horison. Ek en Oupa het met die ou bakkie na die volkshuisies gery. Oupa was al amper sestig, maar nog altyd so sterk soos ’n bees, en so bedonnerd soos ’n Brahmaan bul.
Toe ons stilhou voor die eenvoudige huisie het Oupa dadelik uitgeklim en die man na buite geroep.
Hy het gewag tot die man binne gryp afstand was voordat hy gesê het:
“Jy steel my vee Moses.”
Die man se oë rek van skok, en toe spoel die vrees oor sy gesig.
Oupa gryp die man en druk hom agter teen die bakkie vas. Met sy ander hand ruk hy ’n stuk tou agter van die bakkie af en maak die man se hande agter sy lyf vas. Hy gooi die man so in die stof neer en haal sy sweep uit die bak.
Die man probeer nog in gebroke Afrikaans smeek, maar hy kry nie kans nie. Die houe begin val sonder genade.
Sy vrou staan op die stoep en skree en huil terwyl vier kindertjies die veld inhardloop. Ek kyk hulle so agterna en voel jammer vir hulle. Maar dit sal ’n fout wees om dit aan Oupa te noem.
Oupa het altyd gesê dat pakslae is die enigste manier wat ’n werker leer, en ek het hom geglo.
Dit is nie vir my ongewoon om saam te gaan wanneer hy een van die volk moes gaan pak gee nie. Soos wanneer hul hoenders of vee steel. Of wanneer hul terugpraat of leeglê. Of die een keer wat Johnny so dronk was dat hy sonder sy broek rongeloop het. Hulle doen nogal gereeld onnooslike goed, en Oupa se sweep het altyd reg gestaan. Ek wèèt, want ek loop tog immers gereeld genoeg self deur.
Maar diè dag was anders. Oupa slaan totdat die man nie meer opstaan nie
Die bloed slaan deur die rugkant van sy geskeurde hemp, en ek dink aan hoe snaaks dit is dat wit en swart velle maar dieselfde rooi aan die binnekant het.
Teen die tyd wat die man net bly lê, trek Oupa hom aan sy klere regop.
Die man is al swak, en boonop is sy hande vasgemaak agter sy rug. Oupa sleep hom tot agter die bakkie, gooi hom op en slaan die kap toe.
“Spring van my bakkie af en ek skiet jou van agter af soos die lafaard wat jy is,” grom Oupa vir hom en klim agter die stuur in. Ek spring vinnig by die passasierskant in en staar stil by die voorruit uit. Ek vra nie vrae nie en Oupa gee nie antwoorde nie, soos dit maar die Gerber-gewoonte is. Manne met min woorde en harde vuiste, sò sê Ouma altyd met hartseer in haar oë. Dit neem ons ’n driekwartier om na een van die agterste kampe van die plaas te ry. Daar word nie in die agterste kampe geplant nie omdat daar nie water is nie. Niemand kom regtig gereeld daar nie, want daar is niks. Wanneer ons stop klim Oupa uit en stap na die agter kant van die bakkie.
“Klim af.”
Die werker bly net lê en huil. Ek gaan staan so vyf treë agter Oupa. My bene is lam en my hart klop vinnig in my keel. Die gesuis in my ore is so hard dat ek vrees ek nie gaan hoor indien Oupa vir my ’n opdrag gee nie. Maar ek wil nie nader stap nie. Daar is bloederige smeermerke aan die kant van die bakkie. Dit maak my naar.
’n Oorweldigende bang gevoel staan in my binnekant op, en ek is op die punt daarvan om te braak.
“Klim af!”
Nog steeds bly hy net so lê in sy eie trane en bloed.
Ek gee sag twee treë agteruit.
Oupa gryp die man weer en ruk hom van die bakkie af. Trane steek agter my oë wanneer sy maer lyf op die grond val.
Die werker sukkel tot op sy knieë en pleit in al die Afrikaanse woorde wat hy ken. Ek kan net die helfte daarvan hoor deur die geraas van my hart wat die bloed byna by my ore uit stoot.
Oupa draai om en haal sy jag geweer uit die bakkie.
Ek snak na my asem en kruis my hande agter my rug sodat ek my voorarm se vel kan vasknyp in angs.
Hy maak hom net bang.
Dis oukei, Oupa maak hom net bang om vir hom ’n les te leer.
Ek het die woorde oor en oor herhaal in my kop terwyl ek my arm harder knyp. Die werker sien die geweer en begin kliphard gil terwyl hy sukkel om orent te kom.
Sy bene verraai hom en hy val met sy gesig in die warm sand. Stof klou aan trane en bloed vas sodat sy gesig asvaal lyk.
Oupa trap met sy voet op die man se rug sodat hy weer plat op sy maag lê.
Ek weet nie hoe om die huil van die man te beskryf nie. Dit is nie iets wat nagemaak kan word nie.
Hy maak hom net bang.
Hy gaan nou ophou, dan kan ons huistoe gaan en die man sal nooit weer vee steel nie.
Amper huistoegaantyd. Dis amper verby.
My wange is nat. Oupa tel sy geweer op en mik. Yskoue blou oë wat glinster agter die loop, so hard soos die koeël wat binne lê en wag.
“Ek het vir jou gesê dat as ek jou vang vee steel, maak ek vir jou vrek. Ek is gatvol vir julle klomp wat als plunder en steel terwyl ek ’n bestaan probeer maak.”
Sy oë word kouer en harder, totdat ek nie meer sy gesig erken nie. Hy korrel deur sy regteroog terwyl hy die linker een toe knyp.
Dis verby. Hy gaan die geweer laat sak en ’n laaste waarskuwing gee, en dan kan ons huistoe gaan.
Toe die skoot klap het ek agteroor geval met my gat in die warm sand; soos een wat self geskiet is.
Ek het regop gaan sit en gebid dat Oupa langs die man in die grond vas geskiet het.
Die man het nie meer gehuil nie.
Hy het nie meer gespartel nie.
Bloed en pienk stukkies vleis en donker vel het versprei gelê oor die grond en oor Oupa se skoene en broekspype.
Oupa Dirk het sy voet van die dooie man se rug afgehaal en na die bakkie gestap. Ek het regop geskarrel.
Ek kon my oë nie glo nie. Ek kon letterlik nie glo wat reg voor my gebeur het nie.
Ek het my held en my onskuld verloor in die paar minute wat dit geneem het om ’n man in die stof vas te trap en te skiet. ’n Man wat gesmeek het, met sy hande agter sy rug vasgemaak.
Oupa Dirk het daardie dag ook gesneuwel, langs die swart man, met sy gevreet in die grond. Tussen stukkies vleis en spatsels bloed en trane.
My trane het ook daar gelê.
Ja my held was dood, en in sy plek het ’n leë man gestaan met dooie blou oë en ’n hart wat vrot van haat.
“Vat hier en help my om ’n gat te grawe” sê hy en gooi ’n graaf skuins voor my voete neer.
Ek is nie meer jou kleinseun nie.
Was ek ooit?
Loop hierdie selfde bloed ook in my are?
Ek het woordloos met ’n bleek gesig die graaf gevat en gedoen wat hy vir my gesê het.
En myself daarvoor gehaat.
Haat myself vandag nog daarvoor.
Terwyl ons besig was, het hy net een keer gepraat.
“Jy is nou groot genoeg om te verstaan hoe ’n man sorg dat hy nie verneuk word deur sy eie plaasvolk nie.”
Ek was nie.
Ons het ons sonde in stilte begrawe en die grond gelyk gemaak.
Net nog ’n stukkie aarde wat brand in die Karoo-son.
Baie vêr van die Gerber-rusplek onder die wilgerboom se skaduarms.
My pa het skemeraand by die tafel vir my gesit en wag.
Toe ek instap het hy opgekyk na my.
Hy kon dit sien. My pa het nog altyd die eienaardige manier gehad om tot in mens se siel te kyk. En hy kon sien dat myne leeg geloop het.
“My kind?”
Ja, Pa.
Vir die eerste keer vandat ek drie jaar oud was het ek myself teen sy bors gaan vasdruk terwyl die trane en seer deur my geruk het.
Totdat ek aan die slaap geraak het.
Vandag lê Dirk Gerber op sy doodsbed.
My pa se oestyd het probleme gegee, maar hy is oppad. Die donnerse trekker staan mos meer as wat hy loop.
Ek wens hy was al hier. Die reuk van hospitaal en doodgaan hang swaar in die lug.
Dirk Gerber se oë is starend en yskoud.
Ek het hom dertig jaar gelede afgeskryf; en hy vir my.
Ons het nog nooit weer tyd vir mekaar gehad nie.
Die vermoorde werker lê tot vandag toe nog in die agterste kamp van Keerom begrawe. Ek het een keer vir my pa vertel wat gebeur het en nooit weer daaroor gepraat nie.
Die ou man voor my begin skielik na sy asem hyg. Sy mond sper oop en dit lyk of hy stilweg besig is op te skree.
Ek sit geskok terwyl hoendervleis oor my hele lyf uitslaan. Sy gesig is grotesk vertrek. Nie van haat soos daardie middag in die agterste kamp nie, maar van vrees.
Naakte, helse vrees.
Dan verslap sy lyf en sy oë gaan toe. Die masjien wat aan hom gekoppel is se reëlmatige gepiep verander in ’n eentonige toeeet.
My pa hardloop by die deur in, uitasem.
Soos hy naderkom, frommel sy sonverweerde gesig van pyn en spyt.
Ek staan op en druk hom vas terwyl sy lyf ruk van trane, van die huil wat vir ’n leeftyd onderdruk is.
Hy huil soos ’n klein seuntjie.
Hy huil soos die sesjarige kind wie se hart dertig jaar gelede gebreek het, toe sy oupa en held langs ’n dooie man in die stof geval het.
Hy huil soos ’n kind wat vir die res van sy lewe met bloedspatsels van ’n ander man op sy siel moet rondloop. Dis trane wat seermaak, vra maar vir my.
Ek hou hom vas en bid hardop.
Nie vir Dirk Gerber nie, maar vir my en my pa.
Vir vergifnis vir ’n man se dood wat vir ’n leeftyd stulgehou is.
Vir vergifnis van onderdrukking en geweld en vernedering.
Ek bid vir ons nasie. Vir ons almal se siele, en vir ons land.
Lees die eerste weergawe van "Keerom"
Lees die eerste keurverslag oor "Keerom"
Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

