’n Oulap se erfgoed

  • 0

Florence Filton, wat die smaak daarvan ken om eie gedigte in ’n bundel gepubliseer te sien (die Afrikaanse Skrywersvereniging se Metafore van herlewing, 2002), het alles begin. Sy het vier jaar gelede ’n droom begin koester wat in 2012, in my aanvangsjaar as direkteur van die ATKV-Skryfskool van Noordwes-Universiteit, iets van die kleure en geure van die Swartland en die Sandveld ook mý erfdeel sou maak.

In medewerking met Evenlencia Folding by die Weskus-distriksmunisipaliteit het Filton die kwalik denkbare vermag: om ’n plaaslike owerheid oor te haal tot die voorskiet van geld vir ’n digkompetisie, opgevolg deur slypskole vir gekeurdes uit die inskrywers – en afgesluit met die publikasie van ’n bloemlesing van die beste verse wat in die proses uit die verf tree.

Die resultaat: ’n kleurryke boek, getiteld ’n Oulap se erfgoed, wat op 23 September 2013 op feestelike wyse te Riebeek-Wes bekendgestel is.

Uit die talle inskrywings wat die “kompetisie” gelok het, is net meer as dertig opkomende digters wat binne die grense van die munisipaliteit woon, na poësiewerkswinkels genooi. Drie sulke geleenthede het in die loop van 2012 plaasgevind. Die digters is vanaf so ver as Vredendal in die noorde en Moorreesburg in die suide aangery na Citrusdal om in verskillende groepe drie naweke lank daar tussen die boorde en berge aan hulle gedigte te slyp. Die ATKV en Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) het dit vir my moontlik gemaak om leiding by die werkswinkels te gee. ’n Voorreg was dit.

Die plekke, dinge, mense en tongvalle van die Weskus-kontreie neem tematies ’n belangrike plek in baie van die gedigte in – iets wat mens dalk te wagte kon wees, gesien die gerigtheid van die projek op die bepaalde geografiese gebied. Van die verse getuig van ’n waarderende, meermaals nostalgiese blik op sulke “erfgoed”; ander van ’n oog vir die ellende van mense in soms onverskillige omgewings. Ek kon my verdiep, en afwisselend verlekker en medelydend in-voel, in wat digterlik te berde gebring is oor die Weskusdistriksmense en hul ervarings.


Foto geneem by die bundel se bekendstellingsgeleentheid in Riebeeck-Wes

Maria Ovis skets “Die Namakwalandse kind”, gevoed op “sy uintjies en sy ghoena/ sy bokhorings en aroena”, en met sy “knapsak” gevul met nog sulke “groente en vrug” uit die oënskynlik skrale veld, as iemand wat lag-lag kan terugdraf na sy staning. Daarteenoor staan die vrou wat Joana Terblanche uitbeeld, “korbeelhuisalleen”:

die jakkalswind
ruk en pluk
aan haar blou roksoom 

dwarreldraf weg
met haar diep sug
en gister se droom[.]

Abraham Bezuidenhout laat ’n mens saam met hom onthou van “Bitterfontein se kolekoptrein” – ’n ouwêreldse masjien wat nie meer loop nie. Die kinders kan nie meer “klinkers” langs die treinspoor optel om “vir ’n tiekie” te gaan verkoop nie. En op die stoep van sy huisie by die see laat Benjamin Bock jou by hom sit en koffie drink, terwyl julle “tuur/ na die môre se blinklyfuur”.

Die unieke klipformasie by Hondeklipbaai wat aan dié plek sy naam besorg het, word as ’n waghond en sfinks voorgestel deur Henry Filton – “memoires” van talle storms en skeepsrampe “in die klipagterkop”.

Op Nuwerus het BJ van Schalkwyk grootgeword. Haar hart staan nog steeds “[tuit] na die vlaktes, Boesmanland-vaal en -oop”. En tannie Katrina Stuurman van Kliprand vertel van die lekkerte én die strafheid van die lewe “[i]n die Hardeveld”:

Wie kan raai
waar die windpomp se wiel knersdraai
is waar ons kinders huppel
en boerperde lekkerlyf trippel?

Ons donkiekar is swaar gelaai
sukkel aan tot om ’n draai:
die tweespoorpad verdwyn
voor die neus van die son wat skyn.

Op haar beurt kontrasteer Erica Pallas die “die rommelhoop van ou familiedrome” in die stad met die “graanvlaktes en rivierstrome” van haar grootwordwêreld, die Swartland. Laasgenoemde het vir haar ’n byna onagterhaalbare werklikheid geword, “gouer as drome” – een waarnatoe sy sou wou terughaas. Sy aktiveer beide moontlike betekenisse van “gouer” met die knap stelwyse.

In ’n klompie gedigte word die kollig gewerp op streekse segswyses. Daar is byvoorbeeld mense wat “die treiler voor die kar traai sit”, wat “agtertoe reverse” en wat van “kop-aan-kop-stamp-botsings” praat, skryf Jan van Wyk. Sulke mense se praat sit “vol hink- en kwinkslae”.

Vir Elton Lesch is die streekstaal dié bidtaal:

Om te liewe moet iets eers tot sterwe kom –
Ú het dit gedoen, gedoen, gedoen!
Jirre, u gebroke liggaam lê ek neer in my hartskamer uitgevoer met
Hotnôskooigoed en sagte veldgras, oorgetrek met ’n koninklike karos,
Besprinkel
Met die lekkerruik van boegoe en kruisement en vars siemis!

Van bid gepraat: blyke van die Weskusdistriksmense se gelowigheid is oral in die gedigte te vinde. Ma-Liet (in Adri October se gelyknamige gedig) is, haar ses-en-neëntig lewensjare ten spyt, “allesbehalwe ’n geknakte riet/ eerder ’n lewenslied” – want God se genade en liefde is vir haar genoeg. Vir Jafta Herrings is God “die Vader en Vriend wat bly verstaan”; sonder Hom “is ek g’n ek” nie, bely Werner Jasson. Corné Grobler sien haar ma “wat teen die see wandel/ soos in die Bybel die Heilige Gees./ Mens kan Hom by haar teëkom,/ so vertroostend is sy – haar liefde ’n baai.” Trouens, juis in die oorvloedige lig van die Weskusdistrik is God te ontdek, meen Antoinette Viviers:

al stel die lewe soms teleur
is daar niks allerdonkers
wat kan gebeur
in hierdie rykdom van lig[.] 

Liefde en romanse (“Weskus-vakansieromanse” heet ’n gedig van Retha van Deventer) is nog een van die “algemene” temas waaroor in ’n Oulap se erfgoed gelees kan word. Een van Jacobus Stevens se gedigte begin soos ’n speelse (selfs stuitige!) Valentynsvers:

Wees jy my vaaltuintjie
En ek sal joune wees
Daarin kan ons sorgsaam
Langsteelrose plant[.]

’n Vonds is hoe Wilfred Skippers, aan die begin en slot van sy gedig “Verlange”, drukkontoer leer benut het as manier om ’n gevoelservaring te vergestalt:

Die verlang sit soos ’n
         d
         o
         l
         k
in my hart.

[...]

Die verlang verlam my soos
’n be
          roer
    te.

Van die roerendste gedigte in die bloemlesing druk medelye met die swaarkryers, vereensaamdes en verskoptes uit: die “bergie” (Tom de Koker), die wanhopige drankverslaafde (Frederick Pick), die prostituut (Magdaleen van Zyl). Laasgenoemde se “Meisie” moet in die geheel aangehaal word, want die vorm sê net soveel as die woorde:

by die verkeerslig in Voortrekkerstraat loop sy oor die pad skouers geboë in die rooi satin-look jacket lang moeë tree in die styfgespande trilobel maagd’lik wit skirkie dis al amper vier-uur – netnou kom die son op

die bos hare lig toe die kar na haar kant toe loer gooi sy die rooigetinte skouers agter-oor sodat die geil borste parmantig voor uitloer ’n heup word na links gedraai, en die stiletto’s spog wydsbeen wagtend op ’n aanbod oor die afgedraaide ruit maar die kar ry weg maak die donker haar nog bang en wonder sy soms oor haar ma is sy dan tog okay wonder ek, maar ry verby[.]

Aanvanklik het “Meisie” soos volg daar uitgesien:

by die verkeerslig in Voortrekkerstraat loop sy oor die pad
skouers geboë in die rooi satin-look jacket
sy loop stadig en met lang moeë tree sodat die
trilobel maagdelike wit skirtjie om haar boude span
dis al amper vier-uur – nou-nou kom die son op
’n kar kom stadig van die stasie se kant af
die bos hare lig uitgeput, maar toe die kar na haar kant van die pad draai
gooi sy die rooi getinte skouers agteroor
sodat die geil borste parmantig voor uitloer
’n heup word na links gedraai en die stiletto’s staan wydsbeen
en wag vir ’n antwoord oor die afgedraaide ruit
ek wonder wat gesê word
die kar ry weg
die figuurtjie loop nou kleiner en meer toegevou in die satyn
kop op die bors en langsaam
ek wonder of sy bang is vir die donker
ek wonder of sy weet waar haar ma is
ek wonder of sy okay is
maar ek ry verby[.]

Die groei na spaarsamigheid, noukeurigheid en konkreetheid, en derhalwe groter suggestierykheid van segging toe, val op. Ook die skerper vormbewustheid. Mense leer baie by mekaar in werkswinkels – en die werkswinkelleier is soms die een wat die meeste verras word deur die vindingrykheid van die werkswinkelgangers.

Iets van wat Martin Muller verwoord het, het met ons almal by daardie werkswinkels gebeur: “ek kyk met kunstenaarsoë/ na my Hemelkoning se skeppingsvermoë.” Ook na die vermoë wat in taal en verskuns skuilgaan, en wat ontsluit moet word om lewendige uiting te kan gee aan ervarings van

[...] regte mense
met skaterlagte en hartseer in die oë
mense met stout kinders en stukkende karre
wat snags rondrol oor werk, rugby en Baby se twenty first
Auntie Grace se smokkelhuis langsaan en Clinton se buttons rook.
’n Storie oor mý mense.
Met mening sáám.
(Dave Cornelius, “Raamwerk”)

Ek en die digters van ’n Oulap se erfgoed is dankbaar teenoor die Weskus-distriksmunisipaliteit, die ATKV en Noordwes-Universiteit, en trots op wat in die bloemlesing bewaar word as inspirasie vir ander.


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top