’n Ontleding van Wouter se DNS

  • 1

My vorige skrywe is onder die opskrif "Oor argitekte en minibustaxi’s" gepubliseer (SêNet, 2 deser). Met hierdie opskrif is ek hoogs teleurgesteld. Aangesien ek baie moeite doen om oorwoë bydraes te lewer, ervaar ek sulke onnodige veranderings as ontmoedigend. My opskrif was: "Hotel Hilbert met sy oneindige getal kamers." My oogmerk was om aansluiting by die onlangse skrywes oor oneindigheid te vind en dan die leser met onverwagte toepassings op die nuwe Suid-Afrika te konfronteer. Deur van die begin af die aap uit die mou te laat, het die gepubliseerde opskrif my bedoeling verydel.

Dit is sulke toepassings wat die politiek-korrekte Wouter die harnas inja (SêNet, 3 deser). As beterweter wil hy voorskryf wat toelaatbaar is. Maar sy etiese troon staan op onvaste skroewe. Hy het al telkens probeer om my skrywes verdag te maak. Maar toe hy in Desember oor die SêNet-hoogtepunte van 2011 skryf, was Johannes Comestor verantwoordelik vir agt van die elf bydraes waarna hy verwys het.

Omdat Wouter graag voorgee dat hy bronne beter as ek vertolk, het ek ’n toets vir hom aangelê. Pleks daarvan dat hy hom dikwels aanmatig om my skrywes onmiddellik na publikasie af te kraak, het ek voorgestel dat ons in dieselfde SêNet-uitgawe oor dieselfde boek skryf. Ek het ’n lys van 17 titels verskaf (SêNet, 22.11.2011), wat rojaal is omdat hy die indruk wek dat hy in elk geval gelees het wat ek gelees het en natuurlik nog baie meer as net dit. Dit was vir my werklik ’n verleentheid om die lys titels met die oog hierop te laat publiseer omdat ek my leesstof as ’n binnekamersaak beskou (SêNet, 29.11.2011). Daarna is die indruk gewek dat ek aan vertoonsug ly en Wouter het my uitdaging in net twee gevalle aanvaar: Peter Godwin se The Fear en André P Brink se ’n Vurk in die Pad.

Ek het op 19 Januarie vanjaar op SêNet kennis aan Wouter gegee dat ek op 30 Januarie (dus tien dae later) Godwin se genoemde boek sal bespreek. Ek het woord gehou. Maar van Wouter se bydrae is daar geen teken nie. Hy het egter my daaropvolgende skrywe, gepubliseer op 2 deser, heftig aangeval, maar natuurlik sonder om ’n woord oor sy blatante verbreking van ons ooreenkoms te rep. Hy kan gerus berig of hy by verstek dieselfde toets in die geval van Brink se boek ook liewer wil druip. Dit sal my vermoede versterk dat hy graag kritiek op my bydraes uitspreek sonder dat hy noodwendig die betrokke werke gelees het. Dit is vir hom makliker om hier en daar op die internet te lees oor wat ander mense (bv resensente) oor ’n werk geskryf het en dit dan as uitsprake van die orakel Wouter aan te bied.

In sy jongste aanval op my lig Wouter ons in oor die groot behuisingsagterstand in Suid-Afrika. Oor wat hy as feite aanbied, gaan ek nie swaarde kruis nie. Angus het op 5 deser met gepaste humor op my en suurgat Wouter se skrywes gereageer. Wat ek in Wouter se skrywe mis, is die vermoë om fundamenteel te besin. Het ’n land ’n regverdigbare verpligting om te sorg dat al sy inwoners behuising het? Die gerekende demograaf Flip Smit het onlangs berig dat naas Suid-Afrika net die kommunistiese Noord-Korea so ’n beleid het.

Wouter verwys na my woonstel. Ek het dekades lank hard gewerk om die kapitaal en rente te delg. Is dit regverdigbaar dat sommige inwoners hulle wonings self moet koop of bou terwyl ander dit as aalmoese ontvang? Kort-kort is daar ’n berig oor ’n swarte wat dood is voordat hy uiteindelik ’n huis sou ontvang, of oor ’n ander swarte wat sê 80 jaar oud geword het voordat hy ’n huis gekry het. Wat nie genoem word nie, is dat daar letterlik miljoene wit Suid-Afrikaners dood is sonder dat so ’n aalmoes hulle te beurt geval het.

Wouter dink dat armoediges deur belastingbetalers met toelaes en huise onderskraag moet word. Maar daar klink uiteindelik al hoe meer stemme op dat staatstoelaes aan armlastiges teen die huidige versnelde pas nie volhoubaar is nie. Dieselfde is al oor die huidige behuisingsbeleid gesê.

Onlangs is oor RSG berig dat Suid-Afrikaanse arbeiders ses keer meer vergoeding ontvang (nie "verdien" nie) as wat Chinese werkers verdien en dit terwyl die plaaslike arbeiders minder produktief is. Daardie Chinese werkers kan myns insiens met meer regverdiging as ons plaaslike arbeiders op staatsbehuising aanspraak maak, maar in China bestaan daar nie ’n behuisingsbeleid wat so rojaal soos die ANC-regering s’n is nie.

Weens die wantoepassing van menseregte en ondoeltreffende regering absorbeer Suid-Afrika, ’n derdewêreldland, meer inkommers as die VSA, ’n eerstewêreldland. Maar die politiek-korrekte Wouter steun my nie eens teen die inkommers nie. Wouter weet dat ’n mens met optimisme makliker populêre steun as met pessimisme werf. Maar inkommers veroorsaak al hoe groter uitgawes en agterstande ten aansien van onder andere behuising en staatstoelaes. Daar behoort bowenal in die belang van Suid-Afrika regeer te word (en nie in die naam van misplaaste menseregte ten bate van veral Afrika nie), maar dit het nog nie tot Wouter, die ANC en die DA deurgedring nie.

Fundamentele besinning en oorwoë insig ontbreek by Wouter, onder andere omdat so iets nie in ’n kits op die internet opgespoor kan word nie. Sy DNS is dié van ’n laspos.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top