Monument deur Maretha Maartens

  • 0

Titel: Monument
Skrywer: Maretha Maartens
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers
ISBN: 9780624063148

 

Koop Monument by Kalahari.com.

In die breë register van Maartens se oeuvre – romans, jeugverhale, liefdesverhale, sketse, verhoogstukke, lewensverhale – is Monument tot dusver die roman wat die diepste delf. Die titel roep dadelik assosiasies met oorloë op, en dié ís daar, van die Anglo-Boereoorlog tot plaasmoorde, wat deur sommige as ’n soort oorlog beskou word. Dit vorm egter meestal die agtergrond waarteen die meer individuele konflik afspeel, in die besonder familieverhoudings.

Margo keer ná vier jaar in Israel terug na Suid-Afrika om na haar ma, wat ernstig siek is en met wie sy ’n vertroebelde verhouding het, om te sien. Só verken sy haar voormoeders se geskiedenis en word sy bewus van die ooreenkoms tussen vyf generasies vroue se stryd en die eiesoortige eise wat bloedbande stel.

Verlede en hede, feit en fiksie, Afrika en die Weste se tradisies, bloedbande en liefdesbande vou telkens oormekaar en verleen só dimensie aan Margo se hede, waarin sy botsende emosie ervaar oor haar ma, oor Yachin (haar geliefde in Israel), sowel as oor die Nuwe Suid-Afrika: “Die Nuwe Suid-Afrika is ’n ongemaklike plek. Die ongemaklikste plek om jou in te bevind, is die plek waar jy ontdek jy ken niemand regtig nie. Jy sien ten dele, en die dele is posseëlgrootte.”

Dit dwing haar om ook gedeelde lyding en vertroosting in die geskiedenis en in die hede in oënskou te neem. In Evangeline se woorde: “Dan lees en bid die Evangeli by die graf, dan word ons getroos. Ons mense wat in die black concentration camps was, het almal so gemaak. Ons voormense in die kampe het van honger gedood sonder rations en melk, juffrou, hulle moes die rations koop.” En in die woorde van ’n plaasaanvalslagoffer: “Toe ek in die garage inry, het ses mans ons daar ingewag. Ek weet nie of die kinders ’n geluid gemaak het nie; ek het net hulle spierwit gesiggies gesien terwyl ons uit die motor gedwing word.”

Keuse en vergifnis is wat hieruit voortspruit: “Vergifnis – ook die soort wat net die Seun van God in ’n vrou se plek kan doen – verbreek mense se mag oor jou.” En die blywende monumente is nie argitektoniese strukture nie maar gewone mense.

Papierkwaliteit en bladruimte maak dit vanselfsprekend dat foto’s wat die teks aanvul, nie op kunsfotografie gerig is nie, maar eerder die rol van joernalistieke fotomateriaal vervul. ’n Hele paar van die foto’s het egter so onbevredigend gedruk dat dit afbreuk aan die algehele gehalte van die beelde doen.

Parallelle tussen Yachin en mans van vroue in Margo se voorgeslagte, sowel as dié van grondgebied wat in Israel en Suid-Afrika bestry word, is daar, maar ek is soms met die ongemaklike gevoel gelaat dat hierdie aspekte van die verhaal onderontwikkeld is en as sodanig nie tot hulle reg kom nie.

Daar is baie karakters en besonderhede om mee rekening te hou en die geslagsregister is daarop gemik om dit te vergemaklik. Die ideaal is egter dat dit moontlik behoort te wees om karakters uit die teksgegewe te identifiseer en daarin slaag Maartens ongelukkig nie in alle gevalle nie.

Oorwegend is dit egter ’n treffende roman wat vraagstukke uit die geskiedenis en die eietydse op mekaar laat inspeel, in ’n verkwiklike styl aangebied, gestroop van die sentiment waaroor Maartens by geleentheid al kritiek moes verduur.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top