"Moenie worry oor goed waaroor jy nie beheer het nie," sê my verloofde nou die dag vir my. Makliker gesê as gedaan.
Hy lê en snork sulke lang ruk-ruk snorke. Daai tipe wat jy kry as jy diep slaap. En ek? Ek sit in die sitkamer. Rook een sigaret na die ander. Dit is 2-uur die oggend. Flitspyne van bekommernis deurboor my gedagtes. "Ek is in my moer," bly ek vir myself sê. Die horlosie tik al stadiger, of so verbeel ek my. Dit sukkel sleep-sleep om die sekondes af te tel, kompleet asof dit deur 'n teerpit wroeg. Ek steek nog 'n sigaret aan. Die sweet is klam teen my voorkop. Dit loop nie eers teen my gesig af nie. Dis net geplak teen my voorkop. Ek probeer vinnige uitkoms-plannetjies maak, maar tevergeefs. Ek is in my moer. Solid. Sonder enige twyfel. Hoe gaan ek my situasie aan my verloofde verduidelik? Wat nog te praat van my familie en vriende?
Ek sal nie die skuldgevoelens kan verwerk nie. Ek bid, "Here asseblief, laat die aarde my insluk." Ek wag. Vat nog 'n teug van die sigaret, maar niks gebeur nie. Geen aardbewing, geen groot skudding nie, geen groot gaping wat verskyn om my in te sluk nie. Net stilte. En die kettingsaag-snork van my verloofde. Buite hoor ek al die oggend voëltjies sing. Fok. "Ek het nog nie 'n oog toegehad nie," skiet dit deur my gedagtes. Ek voel tam. My kop voel soos scramble eiers. Deurmekaar. In stukke. Pap. Seer. In die slaapkamer is daar beweging. My verloofde is wakker.
Hy soek koffie. Ek staan op en skakel die ketel aan. My bene voel pap. My kop bly seer. Ek forseer 'n glimlag om my gesig as ek die koffie vir hom neem. "Wat's fout?" vra hy. "Ag sommer niks," antwoord ek. Maar hy is nie dom nie. Hy vra weer, "wat is fout?" Ek aarsel vir 'n oomblik. My tong kleef vas teen my verhemelte. "So voel dit seker in die woestyn as jy dors het," skiet dit deur my gedagtes. "Niks is fout nie," antwoord ek bombasties. Ek voel sleg. Skuldig dat ek nou so kortaf met hom was. Ek kyk na hom en glimlag vals, "Ek sal fine wees," antwoord ek met 'n aangeplakte forseerde glimlag. Ek tap badwater in vir ons. Ek bad gewoonlik eerste. Die water is stomend warm, maar ek voel nie die pyn nie. Ek is te afgestomp om dit nog te voel.
Ek het seer, maar dit is binne my. Ek kan kots van bekommernis. Ek spoel die water oor my lyf en oor my kop. Dit is strelend, maar nie genoeg om my gemoed te kalmeer nie. Ek is bekommerd. Ek droog my af en wens ek kon die probleme met die handdoek afvee. Ongelukkig werk dit nie so nie. Dit kleef onder jou vel vas. Soos 'n platluis wat elke bietjie van jou krag en wil uitsuig. Ek krap my vel stukkend, "dalk sal die krap pyn my help vergeet van my worries." Dit werk nie en los net ligte bloed-krapmerke op my bene, arms en bors. "Ek hoop nie my verloofde sien dit nie," besef ek skielik. Ek is koud. Ek bewe. Sweet slaan oor my uit. Diep binne my ontwaak 'n aaklige monster wat ek so goed tot nou toe nog onder beheer gehad het. Die monster is honger. Hy vreet my gedagtes. Dit is seer. My hele lyf is seer. Ek trek stadig aan terwyl my verloofde vol opgewondenheid vertel hoe hy uitsien na ons trek. Ek glimlag vals en beaam alles wat hy sê.
Hy soengroet my as hy die woonstel uitstap en in sy kar klim en na sy werk ver weg ry. Ek is aangetrek en sit weer in die sitkamer. Dieselfde plek waar ek die vorige nag en die nag voor dit en die nag voor dit gesit het. Ek steel mog 'n sigaret aan. "Fok, Emile, jy rook te veel," waarsku my liggaam. Maar ek hoor dit nie. Of wag, ek verkies om dit nie te hoor nie. Ek worry. My oë flits van bekommernis en woede. "Hoe kon ek myself in die gemors gekry het. Dit is 'n swart maalkolk wat soos 'n slang om my wese vou. Daar is geen uitkoms nie. Net ellende en meer worries.
Skielik kry ek 'n blinkplan. Ek werk mos op die 8ste vloer. Wat van ek gaan tot die 22ste vloer, die dak, en spring? Dit sal mos die donker gat in my siel toemaak! Maar hoe lank gaan dit neem voor ek die grond tref en uitmekaarspat? Sal ek lewe voor ek die grond tref of sal ek dood wees van skok voor ek hello sê vir moeder aarde? Nee wat. Skrap maar daardie idee. Dit is in elkgeval te "public". Ek moet werk toe. Ek tel my ma op en probeer 'n brawe gesig opsit. Sy laai my by die stasie af. Ek staan en wag vir die trein. "Moet ek nie dalk eerder voor die trein inspring nie?"
Maar ek skrap daardie gedagte ook. Die treinwa ruk-ruk oor die spore en ek staar deur die venster. Buite is die luggie koud en die Boland-landskap mooi. Maar ek sien dit skaars raak. Ek sit eerder en beplan hoe ek myself uit die pynlike prentjie kan kry. Ek het te veel mense seergemaak. Teleurgestel. Ek kan myself nie eens vergewe nie. Die trane dreig om te rol. Ek byt op my onderlip dat ek die bloed proe. Werk is hel. Die langste dag van my lewe. Ek kan skaars konsentreer. Almal soek antwoorde op vrae. Ek probeer cope. Ek plak maar my glimlag op my gesig.
En ploeter voort. Ek mag vir niemand wys ek is in pyn nie. Niemand mag sien ek is stukkend nie. Dit begin te reën en die druppels vorm sulke dun strepe teen die venster op die 8ste vloer. "Ek wonder hoe dit lyk op die 22ste vloer," por die monster in my binneste my aan. "Nee," dink ek. "Elk geval, dit is te koud om nou te spring," probeer ek verdedig. Probeer ek na 'n bietjie hoop uitreik.
Die aand by die huis knak ek. Ek huil ombeheerlik. Ek ruk, haal moeilik asem en sien die verwyt op die gesigte as ek vertel wat ek aangevang het om in die groot swart maalkolk te wees. Koppe word geskud. Sug sug sug. Ek voel so skuldig. "Asseblief Here, laat my sterf. Asseblief, laat my doodgaan." Dit maal deur my kop. Aanhoudend net soos die mallemeule by Danie Uys Park toe ek 'n kind was.
Maar toe was dit gelukkiger dae. Nou is dit net swart. 'n Groot gapende bottomlose afgrond voor my. My ma gee my 'n slaappil. "Dankie Ma," snik ek. Maar ek weet nie of dit gaan werk nie. Ek ry terug woonstel toe. Nou moet ek my verloofde in die oë kyk. Ek kan nie. Ek huil onbeheerlik. "Wat is fout?" Vra hy bekommerd. Ek huil meer. "Asseblief, praat met my" vra smeek hy angstig.
Ek probeer praat maar dit is net prewel taal. Hy gryp my vas en druk my. Vir die eerste keer voel el veilig. Effe rustig. Ek vertel hom die pynlike waarheid oor hoe ek in die geldelike gemors beland het. Dan blaf die swart hond weer binne my en ek tjank. Onbeheerlik. "Ek is 'n mislukking," seg ek deur die snot en trane. "Nee, jy is nie", paai hy. "Jy het nie geval nie, maar net gestruikel en sal weer opstaan. Alles sal reg wees."
Ek voel beter. Die monster binne my raak stil. Ek voel kalm. Ek vertel hom dat ek hulp gaan soek het om myself uit die gemors te help, en dit blyk dit kan werk. Hy glimlag. Vee die trane van my wange af. En gee my 'n soen op my voorkop. "Kom ek maak vir jou koffie." En ek glimlag. 'n Egte glimlag. Dit is Maandag 26 Augustus 2013 en ek voel weer lus vir die lewe. Kalm vir die eerste keer in 'n lang tyd ...


Kommentaar
Emile, ek hoop van harte jy glimlag nog steeds! Ek wil maar net vir jou sê dis iets wat baie van ons al deurgemaak het en ek glo nog baie gaan dit in die toekoms ook deurmaak. Maar ek weet hoe jy moes gevoel het......daardie gevoel van hopeloosheid, die donker put.