Minderheidstale – verdwynende tale: Die gedagtes van ’n bittereinder

  • 0

Dit is ons lot dat ons in dié tyd moet leef waarin ons geleidelik die inheemse tale van Suid-Afrika as onderwystale gaan sien sterf. Tale sterf; maar ons het nooit kon dink dat dit by ons sou gebeur nie.

Suid-Afrika is 'n meertalige land; maar meertaligheid beteken nie gelykheid van tale nie. Die Grondwet spesifiseer dat alle tale gelyk sal wees. Dis natuurlik onmoontlik in 'n land met elf tale; en dit moes van die begin af gesê gewees het. Tien van daardie tale is Afrika-tale, met Afrikaans as die taal met verlangs nog 'n Europese verbintenis – die ideale taal vir 'n nasie van Afrika en Europa, en sonder koloniale verbintenis. Maar ek wil nie Afrikaans verheerlik nie. Dis te laat. As tale nie gelyk kan wees nie, sou dit miskien die beste gewees het as die taal van die meerderheid die landstaal word, soos byvoorbeeld Zoeloe of Xhosa. Maar ons is gekoloniseer deur Brittanje, en waar kolonisering vanuit Europa gekom het, word die taal van die koloniseerder die sterkste taal; dan het dit niks met meerderheid of minderheid te doen nie.

Die meeste minderheidstale hier is die tale wat die meeste gepraat word, byvoorbeeld Afrikaans, Xhosa, Zoeloe, Noord-Sotho, Suid-Sotho. Hierdie inheemse tale is minderheidstale omdat hulle nie nasionale tale geword het nie. Engels word – is alreeds - die nasionale taal van Suid-Afrika. Daarom sal Engels na gelang van tyd die enigste amptelike taal in die land wees. Al verskyn kennisgewings deesdae in die Kaap in Engels, Afrikaans en Xhosa, kan munisipaliteite voortaan maar geld spaar om dit in drie tale te doen! 

Of die Grondwet nou gelykheid van tale daarstel of nie, 'n nasionale taal moet vir die meeste mense van 'n land verstaanbaar wees; dit moet die taal van die regering wees en die taal van administrasie. Die taal van besigheid is Engels lankal. Kapitalisme het daarvoor gesorg. En uiteindelik ook die taal van onderwys: sekondêr en tersiêr. Die strewe van die owerhede sal dan wees om onderwys in Engels te standaardiseer. Verskeidenheid as ideaal sal ten opsigte van taal nie verwerklik word nie. Daarby sal onderrig minder en minder in die moedertaal geskied; en as dit gebeur, dan is daar ontmagtiging van die meeste andertaalsprekers in hierdie land – dus die meeste van die mense. Ontmagtiging deur taal is regressief, omdat sprekers van betekenisvorming ontneem word. Jy kan nie dink sonder 'n taal nie.

My besorgdheid is oor die lot van Afrikaans as sekondêre en tersiêre taal. Ons het al gehoor van hoërskole wat gedwing word om te verengels al is daar 'n minderheid leerders wat Engelssprekend is of in Engels onderrig wil hê. Die geval van die Hoërskool Ermelo is die mees onlangse voorbeeld daarvan. Die beheerliggaam van die skool is verbied om die taalbeleid van die skool te bepaal: dat die skool nie enkelmedium Afrikaans kan bly nie.  Dié beheerligaam het hof toe gegaan en die saak verloor. Daar is appèl aangeteken, en die hof het bevind dat die skool weer kan wees wat dit was: 'n Afrikaanse hoërskool.

Dit is sekerlik verblydend dat dit 'n hofuitspraak moes kos om die beheerliggaam en die hoof toe te laat om hulle Afrikaanse skool te behou. Hoeveel moes dit gekos het om jou taal te beskerm? Dít is die mees ontstellende van hierdie saak vir my: dat dit duisende rande kos om die reg te hê tot onderrig in jou moedertaal. Erger nog: die leerders wat aggressief aangedring het op Engels, sal ook nie in húlle moedertaal opgelei word nie. Dus: 'n skool waarin al die kinders in 'n ander taal geleer word. Dít is ons voorland.

Ek glo nie dit sal daar eindig nie. Ons moenie juig nie, want in die hofuitspraak, volgens Die Burger van 28 Maart, "gaan die saak nie oor die taalbeleid van die skool nie ... maar oor die beginsel van regsgeldigheid en die behoorlike toepassing van administratiewe mag". Ook volgens die hoofartikel van Die Burger van 30 Maart is hierdie uitspraak van kardinale belang: die hof het "... 'n slag geslaan vir die regverdige toepassing van die administratiewe reg".

Dis wonderlik; maar wanneer 'n organisasie 'n klag lê oor die ondermyning van Afrikaans, moet die klag hof toe gaan, en dan waarskynlik ook appèlhof toe. Wie betaal? Ons kla dan maar net. Ons oueres is ook klaar baklei: vanaf 1875 was dit opdraand vir die erkenning van Afrikaans. Tot dit erken is, en nou is daar ondermyning. Wat van sigbare opstand? Die Katalane het, die Walliesers het. Maar die Afrikaner is ook eintlik al in sy moer in.

Dalk lê ons redding in geografiese ruimtes soos byvoorbeeld die Boland, en miskien die Noord-Kaap, en miskien Namakwaland. Oor die Boland kan ek bietjie praat. Oor Wellington veral. Wanneer mens nuut op 'n plek gaan bly, dan is jy taamlik oplettend oor wat om jou aangaan. Hier het ek Afrikaans meer as ooit gehoor: op straat, in die winkels, die administrasiekantore van die munisipaliteit, by die sport, by die skole, by die studente. Dit is veral die taal van die "menigte": die werkers, die "agtergeblewenes" dié sonder werk, die dronkies, die diewe; en van ons, die middelklas – wit en bruin – én die kapitaliste. Vox populi, vox dei. Die meeste van hierdie "agtergeblewenes" is egter ongeletterd. (Dit weet ek van ons Breytenbach Sentrum in Wellington se geletterdheidsklasse.)

Die universiteit wat in die verlede 'n Afrikaanse universiteit was, en vir die mense van die Wes-Kaap (veral die Kaapse Vlakte), die Boland, Namakwaland en die Suid-Kaap tersiêre onderwys kon bring, was die Universiteit van Stellenbosch. Maar oor dié universiteit is daar nie eintlik veel meer te sê nie. Die inname van Engelssprekendes het al 'n geruime tyd gelede begin; en ook die argumente vir Engels as gedeelde onderrigtaal – wat net kan lei tot die oorname van Engels.

Die ander universiteit hier wat, meer nog as Stellenbosch, tersiêre onderrig in die Wes-Kaap, en in die ander Afrikaanse dorpe, sou kon bied, het ook verengels: die Universiteit van die Wes-Kaap.

Hierdie onstuitbare proses van verengelsing sal by alle Afrikaanse universiteite gebeur. Daar was 'n aantal jare gelede 'n verslag wat aanbeveel het dat daar minstens twee Afrikaanse universiteite in die land moet wees. Daar het niks van gekom nie, want verengelsing het toe al te ver gevorder. Dis dan seker nie onsinnig om te sê dat die huidige Afrikaanse universiteite uiteindelik almal sal verengels nie. Die ergste is dat hierdie proses in die meeste gevalle kom van persone wat nie van huis uit Engels is nie, en wat waarskynlik swak moedertaalonderrig gehad het. Ontmagtiging van diegene wat die meerderheidstale praat. Verlies van meertaligheid.

Wat van die Departemente Afrikaans by die Engelse universiteite – en by dié wat gaan verengels? Dis moeilik om vas te stel wat die statistiek by Afrikaans-departemente is. Hulle het gewoonlik twee soorte Afrikaans: akademiese Afrikaans en Afrikaans as dienstaal, dit is vir die Engelssprekende studente wat van hulle beroepe moet uitoefen in gebiede waar meestal net Afrikaans gepraat word (veral in die Wes-Kaap). Beroepe wat verband hou met sosiale werk, mediese en paramediese beroepe. 'n Departement kan dan syfers gee wat hierdie Beroepsafrikaans insluit – en dis natuurlik veel meer as akademiese Afrikaans.

Nietemin, waaroor ek wel kennis het: twee Engelse universiteite het nie meer Afrikaans-departemente nie: Wits en Pietermaritzburg se KwaZulu-Natal. Miskien word Afrikaans nou ingesluit in "Modern Languages", of selfs ''African Languages"; maar dan sal dit in 'n mindere posisie wees, met waarskynlik een dosent.

Die departementshoofde van Wits was CM van den Heever, NP van Wyk Louw en Ernst van Heerden; in (KwaZulu-) Natal was dit Gawie Nienaber en daarna Stoffel Nienaber en Wilfred Jonckheere. Belangrike mense: kreatief en akademies, toegewyde mense wie se passie dit was om kennis oor te dra. En verder: die boekerye van Rob Antonissen (voor sy dood hoof van die Departement Afrikaans by Rhodes-universiteit) en Gawie Nienaber en Miep Nienaber-Luitingh soek ook 'n heenkome. Die Breytenbach Sentrum is gevra om hierdie biblioteke te huisves. Ons het egter nie die geriewe nie. Ek het navrae gedoen by die Taalmuseum – en daar kan die Nienaber-Luitingh-boekery miskien gehuisves word. Bid jou aan: Afrikaans se geskrifte in 'n museum! Lankal dood. Ons hét gelukkig al klaar 'n mooi monument!

Ek wil nie verder praat van getalle by die ander Engelse universiteite nie, behalwe die Universiteit van Wes-Kaapland. Toe ek daar aangestel is in 1987, toe het ons 1 000 studente in die Afrikaans-departement gehad. Toe word die universiteit Engels; en toe ek daar weg is vyf jaar gelede, toe het ons omtrent 15–20 derdejaars gehad. Ek weet nie wat die situasie nou is nie.

Wat van die Afrikaanse letterkunde? Hoekom sal skrywers skryf in 'n taal waar die produkte daarvan nie meer bestudeer word nie. Natuurlik, sal die skrywer vir jou sê: "Ek skryf nie sodat my werk bestudeer word nie." Maar as daar nie meer lesers is van behoorlike literêre werke nie? Wat dan van die skrywers sonder lesers? Dink net wat die arm, arme, uitgewers moet doen! Afrikaanse boeke word dan éérs finansiële 'n las.

Hoe gaan studente en gemeenskappe ons taal beskerm? Beskérm mens 'n taal? Ons Afrikaanssprekende jeug is eintlik onbewus besig om van binne af die taal te ondermyn. Hoor net die woorde wat deesdae gebruik word: cool, awesome, poetry, play, band, anyway, shame, beautiful, fabulous, amazing, song, en nog veel meer. Daar was selfs onlangs 'n bespreking op RSG van die verskil tussen ’n "song" en ’n "lied". Wat van "melodiese geluid" – wat soms nie so melodies is nie!
 
Anyway, wat ek wou sê: die bruin mense van die platteland het nog nooit gepraat van dat Afrikaans in die gedrang is nie. Hulle praat dit, sonder Engels, sonder invloed van Engels. Hulle weet nie van bedreigings nie. 

Wat van die sprekers van die ander inheemse tale? Hulle het geen universiteit in hulle moedertale nie – en daar sal beslis nooit een wees nie. Ek het nog nie gehoor van die ontwikkeling van hierdie tale tot tale van die wetenskap nie. En hoe goed is die moedertaalonderrig van hierdie tale op skool? Verkies die onderwysers nie ook maar Engels nie? Die hoofartikel in Die Burger waarna ek verwys het, sê dat die uitspraak van die appèlhof by die Ermelo-saak ook goed is vir die beheerliggame van ander taalgemeenskappe. Die artikel eindig so: "Afrikaanse gemeenskappe veg met goeie rede vir die behoud van hulle taal. Ermelo het klinkklaar bewys dat die stryd om 'n basiese reg met vrug binne die grondwetlike kultuur geveg kan word. Dit is 'n les wat ander taalgemeenskappe eweneens kan leer."

Ek weet nie of hierdie ander taalgemeenskappe stry vir die behoud van hulle tale nie. Hulle het alreeds besef, en dit begin toepas, dat Engels ook hulle tale sal word. Mens kan ook navorsing doen oor die lot van "African languages" by universiteite. Waarom sal jy een van dié tale bestudeer as Engels jou taal geword het? Hoe groot is die letterkundes in hierdie tale? Dis weer 'n sensitiewe saak, want die ander "African Languages"-departemente sal ook nie wil praat oor studentetalle nie.

Kan ons dan nog dink aan die bevordering van meertaligheid, en of daar enigiets prakties haalbaar is?

Ek weet dat daar al baie stedelike jongmense met 'n inheemse moedertaal is, maar dat hulle dit nie eintlik meer kan praat nie. Daar is seker nie statistiek daaroor nie, maar dis seker nie moeilik om dit vas te stel nie. Ek het die vraag gevra aan middeljarige Xhosasprekende persone, ouers. Hulle gee voorbeelde van kinders wat eintlik glad nie meer hulle moedertale kan praat nie.. Die ouers verloor kontak met hulle kinders, omdat daar geen gemene taal is nie; geen kommunikasie tussen ouer en kind nie.

Die taal wat die jeug meer en meer praat, is Engels. Hulle wíl dit ook praat. Daar is geen bemagtiging sonder Engels nie. In die politiek is dit nog 'n bykomende bate as jy dit met die regte aksent praat. Soos Robert Mugabe. Dit verleen status.

Dit bring my weer terug by tersiêre onderwys. Ek weet nie van navorsing op die gebied nie, maar ek vermoed dat daar geen universiteit in Afrika is met inheemse tale as taal van onderrig nie. Engels, Portugees, Frans – die taal van die koloniste het die taal van die gekoloniseerdes geword. Ons weet ook, omdat ons saam met Engelssprekendes leef: as Engels jou moedertaal is, praat jy nie eintlik ander tale nie.

Meertaligheid. Meertalig beteken "meer as een". Om twee tale te praat, is meertalig. Maar of dit nou twee tale is of meer: die een taal, die hooftaal, is Engels. Daar is niks daarmee verkeerd nie; maar uiteindelik verdwyn die kennis van die tweede taal – want daardie tweede taal word nie ontwikkel nie. En as Afrikaans daardie tweede taal is, 'n taal wat ontwikkel het tot taal van denke, wetenskap, letterkunde; as daardie taal ook moet verdwyn; as Afrikaans en die ander inheemse tale verdwyn, dan is daar geen meertaligheid nie. Dan praat almal grade van Engels: goed, redelik goed, swak, onverstaanbaar. Daar is universiteite, Engelse universiteite, waar 'n voornemende student by registrasie bewys moet lewer van 'n aanvaarbare vaardigheid in Engels; goed genoeg vir akademiese opleiding. Want as dit nie so is nie, sal die gehalte van onderrig daal. Maar so 'n vereiste sal natuurlik nie polities korrek wees nie.

As mens praat van die bedreiging vir Afrikaans deur Engels, dan het ons dit nie teen die taal, Engels nie. Dis die taal van die mense wat dit praat; dit het ontstaan omdat daar kommunikasie en denke moes wees; maar die mense wat dit praat, het dit gemaak. In Afrikaans is daar dinge gesê, en Afrikaners het dinge gedoen, in die verlede wat afskuwelik was. Maar dis nie Afrikaans die taal nie. Hoeveel keer moet dit gesê word? Ek is seker van die aggressie teen Afrikaans bestaan uit onkunde oor 'n taal. As daar ideologieë ontstaan in 'n spesifieke taal, is dit nie die taal self wat dit doen nie. Daar kan dus geen diskriminasie teen enige taal wees nie. As Afrikaans gesien is as die taal van die onderdrukker, dan is Engels, Duits, Frans, Russies ens ook die tale van onderdrukkers. Dít is ook al oor en oor gesê.

As alle Suid-Afrikaanse tale nie gelyke regte het nie – en dit kan nie geskied as daar 'n oorheersende "nasionale" taal is nie – dan bestaan meertaligheid en diversiteit – en al die ander mooi woorde – doodgewoon nie. Wat dan van die konstruk wat geskep word van "een nasie" , "one nation"? Is dit nie slegs bereikbaar as daar net een dominante taal is nie? Die mooi metafoor van die toring van Babel is 'n voorbeeld. Ek haal aan uit Genesis 11: "Toe die hele aarde dieselfde taal gehad het en een en dieselfde woorde", toe besluit hulle om 'n stad te bou met 'n toring  "waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie". Maar die Here was nie gediend daarmee nie. Hy sien dit en hy dink: "Daar is hulle nou een volk en het almal een taal  ... nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie." Toe verwar hy die taal tot 'n menigte ander. Dis wat die Here aan ons gedoen het – 'n verwarring van tale ..

Die metafoor van die "reënboognasie" is in elk geval nie so goed nie. Enige digter sal dit kan dekonstrueer: 'n reënboog is tydelik, dit versmelt, dit verdwyn in die mis, of voor die son. Toe dit vir die eerste keer in optimisme en hoop gesê is, was dit seker geldig – maar die verskeidenheid is aan die verdwyn.

Ek weet nie of daar 'n oplossing is wat tersiêre onderwys betref nie. Die gedagte aan 'n universiteit met slegs Afrikaans as onderrigtaal is al hier op Oudtshoorn bespreek; maar daar het niks van gekom nie.                                                                          

Ter bevestiging van wat ek probeer sê het.

In 'n onlangse artikel in The Times (8 Maart) oor taal in Suid-Afrika spreek Mamphele Ramphele (die vorige rektor van die Universiteit van Kaapstad) hierdie saak aan. Sy sê dat die Afrikatale in taaldepartemente by hoër opvoedkundige inrigtings aan die uitsterf is as gevolg van minder en minder belangstelling by studente en akademici. Verder ook dat die parlement hopeloos ver agter is in vertaaldienste vir Hansard, omdat daar nie vertalers is nie; meer nog die uitdaging om hofverrigtinge toeganklik te maak vir Afrikataalsprekers, soos wat die Grondwet vereis. Dit is 'n bespotting van die regstelsel, sê sy. Dis krimineel as jy nie kan verstaan wat in die hof aangaan nie – veral as jy 'n aangeklaagde is.

Niks verenig soos 'n taal nie. Engels alleen sal hierdie land moet probeer verenig; waarskynlik as 'n gebroke taal. Maar, met leedwese, moet ek sê: "One language, one nation. Let's face it!"

Ten slotte wil ek net dit sê. Ek wil Christo van der Rheede en sy personeel, en al die medewerkers, van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans dankie sê, baie dankie. Dit gee mens hoop as die SBA aan diegene wat min taal het, taal gee; en daardeur ook Afrikaans vir die mense bemagtig. Afrikaans-vir-die-mense.

 

* Hierdie artikel vorm deel van die SBA se KKNK-gespreksreeks: Meertaligheid in Suid-Afrika – wat is prakties haalbaar?

 


 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top