Dit is weer middernag, en die donkerte begin deur die krake sypel. Die geeste in jou kop is reg agter jou. Stap deur – hoe meer tyd jy hier by ons spandeer, hoe meer sal jy ook wil bly waar dit donker is.
Vir Timmie se vierde verjaarsdagpartytjie was daar alles wat sy hart moontlik kon begeer: baie geskenke, toegedraai in al die kleure van die reënboog, en ’n reuse, spierwit koek met vier brandende kerse in. Hy maak ’n wens terwyl hy met ’n brawe asemteug die kerse doodblaas. Almal klap hande. Dit is volmaan vanaand, en Timmie se wens het die nar laat kom. Die nar, met sy bloedrooi neus en oopgesperde glimlag, was só snaaks! Timmie se mamma, ouma en maatjies het almal hulself dóódgelag.
*
Hulle het oor die berge gekom. Die mense wat hulle eerste gesien het, sou later vertel van verbrande halfmens-kreature, met arms wat eindig in kloue. Sommige van hulle het wapens van hulle slagoffers se lyke af gesteel. Niemand het geweet presies hoe lank nie, maar hulle het lank gewag, en geleef van die veld.
Dit het begin met twee slagtings in Pretoria-Noord. Toe was daar meer. Binne ’n kort rukkie was hulle oral.
*
Die nagpriester doen vanaand huisbesoek. Hy kom klop eers laat in die aand teen al die deure – ses keer. Maak vir hom oop, en luister terwyl hy vir jou uit sy donker bybel lees. Wees net versigtig, hy mag jou dalk net aan die slaap lees, en dan is dit tyd om al jou sondes in die donker te bely terwyl net die nagpriester daar is om te hoor.
*
Sy weef die kombers van jou nagmerries aanmekaar, in ’n sinkhuisie in die bos, waar niemand sal soek nie. Elke kombers is uniek, want sy weet wat jy vrees. Sy loop swaar, en haar voete sleep met ssjj-geluide oor die vloer, maar toemaar: maak weer jou oë toe, dit is maar net die wind.
Dit is yskoud vanaand. In die donker draai sy jou toe in jou nagmerriekombers, net vir jou gemaak, en fluister in jou oor: “Nag, my kind.”

