Middernagstories IV

  • 0

Jy hoef nooit bang te wees om alleen in die aand te gaan stap nie, want jy is nooit regtig alleen nie. Die monsters wat wegkruip onder jou bed, die geeste wat dwaal in jou kop, hulle stap almal elke tree langs jou saam. Ons staan al voor nommer vier, en die maan is amper vol. Kom vinnig in, want die deur bly nie lank oop nie. En onthou jou flitslig – dit is baie, baie donker hier …

I
Toe die nagmerries weer begin, het die moorde ook. Hy droom hoe hy hulle uitmekaar skeur met sy tande, hulle kopbene vergruis onder sy staalpuntstewels, hulle huis toe sleep. Dan word hy wakker en sien wat hy gedoen het. Hy drink nog slaappille. Dit is middernag, en hy wil net weer gaan slaap.

II
Hulle sê ‘n mens moenie begin krap waar dit nie jeuk nie, maar sy kan haarself nie meer verhelp nie. Haar vel kriewel soos wurms – wurms! Sy krap, tot dit jeuk, tot dit bloei en tot sy haar vingernaels net-net onder haar vel kan inkry. Dan, uiteindelik, dop sy haar vel af, en af, en áf ... Nou het sy vervel, en sy is weer nuut.

III
Mense het verwag dat iets anders om oom Rog sou vat – dalk cholesterol, dalk bloeddruk, selfs sy selfmoord. Maar dit was die sigarette wat hom doodgemaak het. Die stoere boervrou van hom, Elsa, het dit duidelik gemaak: “As ek jou vang rook, maak ek jou dood!” Sy sou. En hy het nooit weer gerook nie. Aan die einde was drie pakkies ‘n dag net te veel vir sy sisteem, maar toe hy eers begin, kon hy net nie ophou eet nie.

IV
Die presiese bedrag van R660,60 was nie te veel om te betaal vir haar jeug nie. Haar kinders, haar eks, haar skuld – almal het diep merke in haar vel gelos. Sy sou dubbel die bedrag betaal as dit moes om daarvan ontslae te raak! Haar plooie het soos mis verdwyn. ‘n Waarsegster sou haar kon vertel dat selfs die plooi op haar hand, die lewenslyn, korter geword het. Die gesigroom het belowe dit sal tien jaar van haar af wegvat, en dit hét.

V
Die pikswart skaduweekat sonder oë sit in die aande buite jou venster en roep deur die wind. Hy kom net wanneer jy op jou diepste slaap. Partykeer, wanneer jy uit jou nagmerries geskud word, sal jy sy naels teen die venster hoor krap. Maar vanaand, vanaand is anders. Vanaand gaan hy inkom en met sy koue, dooie lyf teen jou nek kom inkruip; vanaand gaan hy kom om jou asem te steel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top