Maties op RSG, deel 2: Die uitsending

  • 3

Op 26 deser, van 10-uur tot 12-uur, is ’n gespreksprogram oor RSG uit die Neelsie-studentesentrum op Stellenbosch uitgesaai. Die uitsending het plaasgevind tydens die US se weeklange amptelike eerbetoning aan Nelson Mandela. Anders as in die vorige eeu word daar deesdae op hierdie kampus geen erkenning gegee aan 6 April (Van Riebeeck-, of Stigtings-, oftewel Beskawingsdag) en 14 Augustus (GRA- of Afrikaansdag) nie. Die Neelsie-naam verwys na ’n belangrike Afrikaanse taalstryder van weleer, CJ Langenhoven (1873-1932). Ek kan my dit maklik voorstel dat, soos in die geval van dorp- en straatname, transformasie dit vorentoe nodig gaan maak dat die studentesentrum ’n meer inklusiewe of multikulturele naam moet kry; dat Langenhoven plek vir bv Steve Biko moet maak.

Daar is aangekondig dat die uitsending oor ons taalerfenis en transformasie gaan handel. Lynette Francis het as gespreksleier opgetree. Sy het dit beklemtoon dat sy onbevange, kritiese menings verlang en dat die ideaal moet wees dat geregtigheid geskied. Drie studenteraadslede was deel van die paneel.

Die studenteraadvoorsitter, Anina Botha, wou dit klaarblyklik baie duidelik maak dat sy glad nie familie of deel van PW se politieke tradisie is nie. Sy het vinniger transformasie bepleit, maar terselfdertyd werklikwaar beweer dat transformasie nie beleid aan die US is nie.

Ziyanda Stuurman van George se studenteraadportefeulje is transformasie. Soos dit laasgenoemde onderwerp betaam, het sy uitsluitlik Engels gepraat en daarmee baie bruines se dislojaliteit teenoor Afrikaans gesimboliseer. Die US is vir haar, soos vir die ANC, ’n nasionale inrigting wat deur geen etniese of taalgroep as sy eie opgeëis mag word nie.

Marnus Havenga se studenteraadportefeulje is "kritiese interaksie en aktuele sake". Sy kritiese dimensie het egter deurgaans agterweë gebly.

Twee US-personeellede het in die paneel gedien. Llewellyn MacMaster is die studentedekaan. Sy uitgangspunt is dat nie-wittes en nie-Afrikaanssprekendes net so (dalk eerder: meer) tuis op die kampus moet voel as die tradisionele US-student. Volgens hom is die dominante kultuur op die kampus steeds wit en Afrikaans. Hy het veral simpatie met die "slagoffers" hiervan. Sy ideaal is dat Maties wêreldburgers moet wees. Wanneer iemand uit die gehoor iets gesê het wat teen sy mening indruis, het hy driftig en giftig gereageer.

Les bes was die kampusgewete, Anton van Niekerk, feitlik onvermydelik ook daar. Hy wil blykbaar in die openbaar roem verwerf deur soos ’n eikeblaar in die Eersterivier saam met die stroom te beweeg. Tydens die uitsending het hy die spreekwoordelike lessenaar omgekeer deur te beweer dat die US nooit ’n (suiwer) Afrikaanse universiteit was nie. As sy stelling in enige noemenswaardige opsig waar was, sou al die gewroeg van die afgelope twee dekades oor bv tweetalige en parallelle onderrig nie nodig gewees het nie. Hy beweer voorts dat die helfte van die US-studente deesdae Engels as hulle eerste taal beskou. Volgens hom is ons almal eerder Afrikane as Afrikaners.

Let op hoe sorgvuldig die gespreksleier en paneellede uitgesoek is. Regverdigheid was oënskynlik aan die orde van die dag. Daar was drie wittes en drie bruines, drie mans en drie vroue. Met hierdie paneel het ek ’n deurslaggewende probleem: Die lede is almal sterk pro-transformasie gesind. Hulle praat grootliks uit een mond en steun die Botman-bewind. Sinvolle gesprekvoering vereis opposisie; ’n verskeidenheid van standpunte. Botman is self ruim kans gegee om sy saak te stel; blykbaar om seker te probeer maak dat US-transformasie nie vanweë die uitsending skade lei nie.

Soos dit in ’n regverdige, demokratiese opset hoort, is beklemtoon dat enigeen aan die gesprek kon deelneem. Luisteraars kon bel, e-pos- en ander teksboodskappe stuur en lede van die gehoor, bv studente, kon hulle mening lug. RSG se probleem was dat hierdie elemente nie so maklik soos die paneellede beheer kon word nie. Sommer met die heel eerste (en enigste) oproep wat uitgesaai en deur Francis kortgesny is, het RSG dit ongelukkig getref, want die luisteraar het ’n geval genoem van ’n buitelandse nie-witte met 65% gemiddeld in matriek wat deur die US tot mediese studie toegelaat is, terwyl ’n Suid-Afrikaanse witte met 89% terselfdertyd toelating geweier is. Stuurman het geredeneer dat in die geval van ’n benadeelde 65% (wat in die geval van nie-moedertaalstudente, dus swartes, reeds ’n opgeskuifde punt is) akademies net so goed soos 80% by ’n bevoordeelde is. Van Niekerk hou nie daarvan as sulke konkrete syfers as akademiese maatstaf gebruik word nie. Volgens hom gaan dit vir die US om geregtigheid by die toelating van studente. (In hierdie geval mag ’n buitelander, wat in geen opsig die US tot stand help bring het nie, dus maar voorkeur geniet bo ’n plaaslike student, wie se ouers deur die regering oorbelas word.)

Met standpunte uit die gehoor het dieselfde probleem as met die enigste inbeller hom voorgedoen. Toe lang spykers met groot koppe teen transformasie ingeslaan is, is die sprekers se diskoers by twee geleenthede deur die gespreksleier kortgeknip en kon sy haar na die veiligheid van die paneel wend om die kritiek te probeer besweer. Daarenteen is pro-transformasiesprekers in die gehoor nie aan bande gelê nie. In Clinton se geval is hy aangepor om langer te praat en Mike, wat die bates van gesprekvoering beklemtoon het, is die langste spreekbeurt gegun. Die e-pos- en ander teksboodskappe was vir RSG nie so problematies soos die inbeller- en gehoorreaksies nie, want hulle kon wel voor uitsending gekeur word.

Volgens die statistiek wat ek na die beste van my vermoë bygehou het, is een telefoonoproep uitgesaai, elf teksboodskappe en elf reaksies uit die gehoor. Die meeste tyd is ongetwyfeld aan die paneellede toegestaan. Nie een van hulle spreekbeurte is kortgeknip nie.

RSG se plan is glo om ook na die ander eens Afrikaanse universiteitskampusse te gaan om daar soortgelyke onbevange menings oor transformasie te hoor. Tydens hierdie uitsending het RSG waarskynlik waardevolle lesse geleer. Die resultaat was nie so eensydig pro-transformasie as wat RSG waarskynlik gehoop het nie. Ek kan my dit goed voorstel dat bv Magdaleen Kruger, die hoof van RSG, en Francis, asook die regisseur, ernstig oor die saak gaan besin. Niks minder nie as die SABC (en by implikasie die ANC) moet tevrede gestel word.

Vir my het die uitsending die eerste keer in ’n lang tyd ’n sprankie hoop vir die US gebring. Daar is studente wat krities dink en die moed van hulle oortuiging het om dit openbaar te maak. In Die Burger (27 deser, p 6) probeer Alet Janse van Rensburg hulle diskrediteer deur te beweer dat hulle lede van AfriForum Jeug is. Maar dit is baie duidelik dat dit nie net ek is wat die US-bestuur om (veral) akademiese redes wantrou nie. Ek wantrou ook RSG, die SABC en die ANC.

Johannes Comestor

  • 3

Kommentaar

  • Johannes, jy het dit baie mooi opgesom. My seun het gemiddeld van 92,5% vir sy graad 11 behaal en sy graad 12 met 8 onderskeidings en gemiddeld van bo 90% behaal. Ek het hom ook gemeenskapdiens laat doen in 2009, 2010 en 2011 by verskeie instansies bv vigs kinderstjies, outehuise ens. Sy oupa, ouma, pa, pa se broer, pa sy suster, was almal op die bos gewees en toe kom sy toelatings brief en hy het nie keuring gekry nie. Medies.

    Regverdigheid? Nee, wat nou gebeur het is dat ons en ons vriende aanraai om nie by die bos betrokke te raak nie. Die hele spul is besig om te vrot.

    Maar my matiedas, baadjie en bekers is weggepak en sal net 'n goeie herinnering bly. Dagbreek - jy weet mos!

    Dit is nie die bos wat ons leer ken het nie. Ek wens hulle verander die naam, soos oester in een van sy briewe genoem het (Pietersburg, Warmbad ens), want die plek is nie meer deel van my grootword nie. Daai plek het verdwyn! 

    My seun het gelukkig by n ander universiteit reggekom.

        

  • Kobus de Klerk

    Hierdie keer moet ek vir jou sê dat jou twee artikels goed geskrywe is en jy die gang van die verrigtinge knap opgesom, het, Comestor.

    Verbasend en ontstellend, om te bemerk hoe passief mede Afrikaanssprekendes en belanghebbendes die proses van diskriminasie gadeslaan, asof niks gebeur nie ...

    RSG is op 'n koers wat baie fyn dopgehou moet word. Die ongemak wat jy noem, is nie die enigste nie. Dit is asof sommige luisteraars oor die algemeen net eenvoudig stil geboelie word wanneer hulle deelname of kritiek nie aan die al meer liberaalwordende beleid van die stasie verantwoord nie - Francis, vir een, is baie kwistig  en haastig met die afsnyknoppie en eposse ne sms'se word verniet gestuur - dit word nie vermeld nie.

    Die bestuur daar, wil dit voorkom, beskou die stilswye van die massa luisteraars as goedkeuring - ons weet dit is 'n fout, want as dit uitbars, bars dit sleg uit. Maar dit lyk asof die bestuur daar eerder op die stilbly golf ry solank hul kan = dalk gaan dit oor staatsbefondsing en dalk hier an daar 'n adverteerder wat op die liberalisme aandui - en dan word die Afrikanersiel daarvoor verkoop..

    Die stasie behoort aan Afrikaanssprekendes. Dalk is dit tyd dat hulle hul meer hoorbaar maak.

    Kobus de Klerk

  • Johannes Comestor

    Ek het oor die US geskryf omdat daar deesdae so baie gevalle is waar akademies-voortreflike voornemende studente benadeel word. Talle ouers en hulle kinders dra baie seer in hulle om weens die politieke gedienstigheid van die universiteit. Die onverteerbaarste aspek is dat mense soos die genoemde bevrydingsteoloe en Anton van Niekerk, wat in baie opsigte soos 'n bevrydingsteoloog funksioneer, onreg kamoefleer deur dit geregtigheid te noem; iets wat deur hulle eenogige benadering moontlik gemaak word. Ek bedank veral vir Kobus vir sy positiewe reaksie.

    Johannes Comestor 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top