Die wind ’n sagte draal
deur plantasies moppe
wat sopies son opsnap
tot ’n hut by ’n waterval.
Vlak by ’n reuse-withoutstrand
klein bekorings toffieappel.
Spoelklippe bibber oor water, verleen
vlugtig ligkranse aan krappe. Die malle
baai manalleen. Klam hout
en elkeen se blink plan vir vonk vat.
Vriendskap: koffie en beskuit.
’n Koue stort of latere lawing in rotspoele.
Die volgende oggend klopdans
grootoogmotte oor die vensters.
’n Swaaibrug lyf ’n roete in na die bebaarde woud.
Ons spring soos mos verby weerhaakranke.
Verby water en klip se aloue klank. Verby
enige vaste voet tot die allerhoogste orde klouter ons.
’n Spinnekop wentel tussen druppels dou.
Boswilge swanger in pienk blos en dan,
skielike onmin oor die Canon.
Agie (mik-en-druk gelukkig) ploeter
agterlangs voort sonder kaart.
Drie boomvarings betoon eer aan ’n stroom.
Dooieblaarkoggelaars blaai oor die heide.
Langsaam ontvou ’n
duisendpoot en die dag
waar bosvarke vroeër gesnoep het.
’n Geklets span oor die alwetende vuur.
Ons sluk en verdrink en snork saam op in seepsteen.
Skemer poseer
almal vir een
ek-is-hier-kiekie.
Bondels liewenheersbesies op stelte
sampioen deur ’n vloer naalde.
Lotte bome uit lotte klowe
lê ontlede stapels
vir houtwerwe en saagmeulens. Tydens verversings
by die hoogste aangeplante bloekom in die suidelike halfrond
word die hele bos om die beurt deurgrond.
Nota aan self: Hoor-hoor!
Boslelies lugdans op ongerepte ruigtes se gons,
werp pêrels uit gedane prag.
Ou kalante tiekiedraai met wurgvy.
Stompe hang soos vliegdekskepe bo die afgrond,
’n sonverligte moment onthul swam se slinkse voortbestaan.
’n Knysnaloerie se vere ’n trots in die malle se hoed.
Katjiepieringvrugte kort-kort langs die roete,
’n lawwe lawaai voor en uiteindelik verskyn samangoape,
aalwyne aan ons grens.
By die oewer waar denne dryf soos Ophelias
git ’n gepofte padda. Nog ’n hut by nog ’n waterval.
Oortreders se braaipak verwelkom ons.
Tyd om die eerste blase te dokter
terwyl die vrou herenig met haar kamera
oor ’n inwonende trapsuutjies.
Mistige begin tot die stap se laaste been.
Sonderlinge motreën.
Kaal naaldeike stoof hul voete
onder ’n sprei bruinpapierpoppe.
’n Bok blits verby.
Watsonias in volle blom tooi rotswande
waar water saamloop en stort
na benede. ’n Laaste swem en ’n stapper
gerat in K-way van kop tot toon vis uit
oor die roete by ’n kaalvoet kees.

