Foto's: LitNet en Sanlam oorhandig R50 000 aan liriekskryfwenner

  • 0

 

Die finale fase van die 2012/2013 Sanlam Sing 'it-liriekskryf-kompetisie is verby. Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers het 3rd World Spectator en Adam Jerrett se "Once More, With Feeling" as hulle gunsteling-Sing 'it-snit gekies.

  
Kompetisie-organiseerder LitNet en borg Sanlam het Donderdag 14 Maart 2013 die tjek vir R50 000 aan die lede van die rockgroep 3rd World Spectator oorhandig, wat dit namens die wen-liriekskrywer, Adam Jerrett, in ontvangs geneem het by 'n uithang-geleentheid in Kaapstad.

3rd World Spectator het dié wen-liriek uit byna 2 000 inskrywings gekies. 3rd World Spectator het Adam se lirieke getoonset en opgeneem, en uiteindelik stof in oë van die ander kunstenaars - Tumi and the Volume, Zaki Ibrahim, Zinkplaat, Louise Carver en ekhouvanjou,okay! - geskop toe die publiek "Once More, With Feeling" na 'n maand lange stemtydperk as hulle gunsteling aangewys het.

"Die mees opwindende ding van hierdie liriek was die feit dat dit ons geïnspireer het om met 'n nuwe tipe klank te eksperimenteer wat ons as band nog nie vantevore probeer het nie. Dis duidelik uit hoe Adam die song geskryf het dat hy 'n talentvolle liedjieskrywer met 'n blink toekoms is," was Peter Crafford, sanger van die groep, se antwoord op waarom hulle Adam se lirieke gekies het.

"Sanlam se visie vir hierdie projek is nog altyd om ’n platform vir kreatiwiteit en kuns te skep. Ons betrokkenheid by Sanlam Sing 'it spreek ook hiervan - om liriekskrywers met talent te ontdek en terselfdertyd ’n platform van medewerking vir die kunstenaars te skep. Sanlam wil ’n verskil in mense se lewens maak en hulle help om sukses te bereik," sê die borgskapbestuurder, Andre Kearns.

"LitNet is toegewy aan die ondersteuning en uitbou van kreatiewe skryfwerk in alle vorme. As 'n aanlyn gemeenskap glo ons sterk in die bevordering van Suid-Afrikaanse kultuur, en as mens moes oordeel aan die oorweldigende reaksie op hierdie jaar se projek is dit duidelik dat daar regtig ’n klomp talentvolle Suid-Afrikaners is wat verdien om hulle woorde te laat leef," voeg Gerdus Senekal, die Sanlam Sing 'it-projekbestuurder vir LitNet by.

"Once More, With Feeling" het alreeds lugtyd op verskeie radio stasies ontvang, waaronder MFM, Kovsie FM, PUKfm en Assembly Radio. Dit getuig van die feit dat Sanlam en LitNet met hierdie projek ’n geloofwaardige platform geskep het waardeur liriekskrywers met van die land se voorste kunstenaars kan meewerk en hulle voete in die deur van die musiekbedryf kry. Sanlam Sing 'it se Facebook-gevolg het ook in die loop van ses maande verdriedubbel na oor die 10 000 betrokke aanhangers, wat ook ’n aanduiding van die kompetisie se relevantheid is.As deel van die groot prys sal Sanlam Sing 'it sorg vir die produksie van ’n splinternuwe musiekvideo vir "Once More, With Feeling”. Hou 'n ogie op MK (DStv kanaal 324), wat ook die amptelike mediavennoot van vanjaar se kompetisie is, om dié video in die nabye toekoms te sien.

Sanlam Sing 'it word in 2013 herhaal, so hou dus die Facebook-blad en webtuiste dop vir meer inligting:

www.facebook.com/singit.co.za and www.singit.co.za.

Luister na "Once More, With Feeling"

 

Foto's: Stef Veldhuis

Adam Jerret was oorstelp met vreugde en het hierdie tuisvideo aan LitNet gestuur:

Laai die video nie? Klik hier.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top