Liefdesteleurstelling met my grassnyer

  • 1

Nou ja, ek het nie gedink so iets is moontlik nie, maar daar is dit: die verhouding tussen my en my grassnyer werk nie meer nie. Die vonk van ons eerste liefde is net nie meer daar nie.

Ek besef ook nou dat dit ’n fout was om ’n petrolgrassnyer te koop pleks van ’n gewone elektriese model, maar ek was nie lus vir al die draadwerk nie. En ek wou iets spoggerig aanskaf. Dit het my nie gepla as sy rook en soms raserig raak nie, solank sy goed lyk in my wendyhuis.

Sy lyk nog steeds goed in my wendyhuis. Báie goed, inderdaad. Want dis al wat sy doen – sy staan in my wendyhuis en lyk mooi terwyl my gras al hoe langer groei.

Niemand het my gewaarsku dat mens ’n Graad in Ingenieurswese nodig het net om die ding in stand te hou nie!

Verskeie handige vriende het my al probeer raad gee as hulle hoor van ons probleme. Hulle vra goed soos: “Wat van die filter?” Of: “Het jy die vonkproppe getjek?” Filter? Wat’s dit? En die vonkproppe? Ek weet nie eens wáár ís die vonkproppe nie, en selfs as ek geweet het, sou ek nie geweet hoe “tjek” ’n mens hulle nie. En hier’s die tameletjie: gestel ek hét geweet waar die vonkproppe is, en gestel ek hét geweet hoe om hulle te tjek, wat dan? Wat doen ’n mens as hulle nie werk nie? Eis my geld terug by die hardewarewinkel waar ek die grassnyer gekoop het? Hoe sit ’n mens ’n nuwe vonkprop in? Wat presies ís ’n vonkprop in elk geval?

Toe ek hierdie lieflike grassnyer aangeskaf het, toe ek myself verbind het tot ’n verhouding met hierdie masjien, het ek nie geweet ek is veronderstel om eendag in haar binnegoed rond te krap nie. Ek is nie lus om haar elke keer te vra hoe sy voel nie. As ek haar die dag nodig het, moet sy paraat wees, en gereed om te vat. Hoekom moet ek mooipraat en hier verstel en daar verstel? Hoeveel Saterdae moet ek nou nog spandeer in vergeefse pogings om haar aan die gang te kry sodat sy net die job doen wat sy veronderstél is om te doen: my gras te sny? Hoeveel ure moet ek nou nog spandeer van vergeefs aan daardie toutjie pluk, oor en oor en oor, maar sy gee net elke keer ’n snork, en stink ’n bietjie na petrol, maar niks gebeur nie?

Noem my outyds, maar ek is nou spyt ek het nie ’n doodgewone plein elektriese masjientjie gekoop nie. Een wat soos ’n eenknoppie-wasmasjien werk. Jy druk net daai hefboom en die enjin is aangeskakel. Skoon. Netjies. Sonder petrolwalms wat die omgewing besoedel of die seevlakke laat styg.

Ek sou gelukkig gewees het met so ’n grassnyer. Ek sou nie snags wakker gebly en gewonder het waar dinge verkeerd geloop het met ons liefde nie. Ek sou haar nie verdink het van gevoelens vir ander mans nie.

Want dis juis die ding. By minstens twee geleenthede was ek al bereid om haar haar vryheid te gee. Om (meestal onder my wakende ogie) ander mans toe te laat om haar te betas en te ondersoek.

Een van hulle was nogal ’n swart man. Nee, sy naam was nie Othello nie. Dit was ’n tuinier, Ben, wat vir ’n paar maande by ons kom werk het. ’n Baie vriendelike ou wat duidelik al ondervinding gehad het van ander petrolgrassnyers.

Was ek jaloers op Ben? Wel, dalk was ek, so ’n bietjie, maar die ding is, Ben het regtig vir haar omgegee, hy’t haar blykbaar verstaan, en ek het dit so probeer aanvaar, al was dit moeilik.

Week na week moes ek toesien hoe Ben my petrolgrassnyer uit die wendyhuis uit trek, haar ’n paar keer liefderik streel, hier vat en daar verstel, soms vir ’n wyle langs haar kniel en misterieuse goed in haar oortjies fluister, en as ek weer sien, dan vat daai grommende enjin soos ’n tierwyfie en, siedaar! Ben sny die hele grasperk.

Toe kry Ben ’n ander werk. Ek het my grassnyer teruggekry.

Die eerste Saterdag trek haar uit die wendyhuis uit. Gooi petrol in. Tjek die olie. Trek die tou.

Fokkol.

Ek steek my trots in my sak en gaan roep die buurman oorkant die straat. Hy kom pluk ook aan die toutjie. Hy tjek die sogenaamde “filter”. (Wat dit ook al is.) Niks.

Die volgende dag raadpleeg ek die ou toppie langsaan my. Hy leen haar en vat haar vir ’n toetsrit. Privaat. Hy doen dinge met haar wat ek my liewer nie eens wil verbeel nie. Hy neem haar tot uit: sy gaan saam met hom hardewarewinkel toe, waar hy vir haar allerhande eksotiese nuwe parte koop.

Toe hy haar terugbring, spin sy soos ’n katjie. Mens gee die toutjie net so ’n ligte plukkie, en sy roep uit: “Vat my grasperk toe! Vat my grasperk toe!”

Vir ’n paar weke was ons dolgelukkig. Die hulpvaardige ou toppie het Gauteng toe getrek, maar dit was oukei. Ek en sy was eindelik alleen saam. Ek het geweet ek het haar hart gewen.

Maar moenie glo nie. Op ’n stadium bly die sonskyn vir ’n paar weke weg, dit reën aanhoudend. Sy kruip benoud weg in die wendyhuis, benoud om haar gesig te wys. “Dis te koud!” bewe sy.

Toe ek haar eindelik so ver kry om haar verskyning te maak, is sy steeks soos ’n muil. Al my pleidooie val op dowe ore.

Dit het vir my duidelik geword: sy wil ’n ander man kry. Ons was nie compatible nie. Ek weet net nie hoe om haar op die regte plekke te bevoel en te betas nie. Ek het nie geweet watter skroewe om te draai of watter goeters los of vas of slap of styf te maak nie.

Ek weet nou die wittebrood is verby. Finaal. Ek kan nie langer so verneder word nie.

As daar dalk iemand in die Somerset-Wes-omgewing is wat bereid is om ’n doodgewone outydse elektriese grassnyer te verruil vir my baie spoggerige petrolgrassnyer, kontak my asseblief by kombuis@mweb.co.za. Sy is skaars ’n jaar oud en in goeie werkende toestand, dit weet ek instinktief (al sal ek om persoonlike redes nie self ’n demonstrasie kan gee nie).

  • 1

Kommentaar

  • Koos ek het jou storie geniet. Ek wil nie woorde in jou mond lê nie dus haal ek jou liewer aan: “Toe ek hierdie lieflike grassnyer aangeskaf het, toe ek myself verbind het tot ’n verhouding met hierdie masjien, het ek nie geweet ek is veronderstel om eendag in haar binnegoed rond te krap nie. Ek is nie lus om haar elke keer te vra hoe sy voel nie. As ek haar die dag nodig het, moet sy paraat wees … Hoekom moet ek mooipraat en hier verstel en daar verstel?”

    Koos is alles reg by die huis?

    Ek het kennis van elektriese grassnyers, Koos, maar moet jou waarsku dat dit nie vir kunstenaars bedoel is nie. As jy stories uitdink terwyl jy grassny met 'n elektriese een gaan hy jou byt. Jy durf nie droom agter sy stuur nie en moet die hele tyd net een ding in gedagte hou: waar is die donnerse draad?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top