Leslie Mitchell: Maurice Bowra

  • 0

Oxford is een van die oudste (gestig in 1167), indrukwekkendste en invloedrykste universiteite, veral wat die humaniora betref. Ek het voorheen oor Oxford se geskiedenis (SêNet 4.04.2012) en Justin Cartwright se boek oor Oxford (SêNet 5.04.2012) geskryf. In hierdie en my volgende skrywe wil ek die aandag bepaal by twee 20ste eeuse akademici wat dikwels as die verpersoonliking van die gees van Oxford beskou is. Albei gevalle toon dat eerder persoonlikheid as akademiese prestasie deurslaggewend vir beroepsukses kan wees.

Die eerste een is Maurice Bowra (1898-1971), wat as klassikus en literêre kritikus bekendheid verwerf het, maar bitter graag as digter gereken wou wees. My uiteensetting steun op Leslie Mitchell se boek, Maurice Bowra: A Life (Oxford: Oxford University Press, 2009, 420p). In 1966 is Bowra se Memories 1898-1939 gepubliseer, maar dit word redelik volledig in Mitchell se boek weergegee. Mitchell se teks beaam wat mense gesê het: "Bowra was Oxford" (Kindle 82); "Oxford's Dr Johnson" (K 2340); "Oxford's most completely civilized being" (K 3663), ens.

Bowra is in China gebore maar het van 1903 af saam met sy broer in Engeland by sy ouma grootgeword, terwyl albei sy Engelse ouers meesal in China gewoon het. Sy pa was 'n doeanebeampte en 'n vrydenker wat Thomas Huxley se opvattings oor bv biologiese ewolusie onderskryf het. Sy broer was twee jaar ouer en sy twee susters (wat in China opgegroei het) ses en meer jaar jonger as hy. "No long-term, emotional relationships were formed with either his parents or his siblings" (K 230). "Maurice, in 1920, told a friend that he had 'done nearly four weeks at home'" (K 517). Sy ouers het hulle in 1919 in Engeland gevestig, maar selfs wanneer Bowra Kersfees by hulle deurgebring het, was dit vir hom nie lekker nie. Hy het verkies om alleen te woon.

Vir besoeke aan China het Bowra deur Rusland gereis. Tot die Russiese kultuur en veral literatuur het hy aangetrokke gevoel. Aanvanklik het hy Mandarin vlot gepraat. Vanweë sy agtergrond het hy in Engeland 'n kosmopolitiese indruk gewek. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat "language ... made thought and feeling possible" (K 292). Sy lewe lank het Bowra 'n afkeer van snobisme en kleingeestigheid gehad. "The fluffy dressiness of Rosamond Lehmann led to her being labeled 'the Meringue Outang'" (K 3614). Van Ottoline Morrell het hy gesê dat haar "bizarre taste in clothes made her look like a 'baroque flamingo'" (K 3734). Sy kommentaar op Evelyn Waugh se Oxford-roman, Brideshead Revisted, was: "Perhaps too much of the wedding cake style about it" (K 3784). Bowra het Waugh se vrou beskryf as "a water-coloury girl who farms and bears quantities of children" (K 6315). "The portly Juliana of the Netherlands struck him as 'every ounce a Queen'" (K 3840), na aanleiding van Christina Rossetti se "every inch a queen". Oor 'n byeenkoms van hoë lui: "Several duchesses were carrying sandwiches in their coronets" (K 3852).

Bowra het oor 'n spontane, uitwaartse geaardheid beskik en graag sosiaal verkeer: "Happiness [is] the only socially acceptable aim" (K 1381). Van vroeg af was daar 'n rebelsheid in hom. Reëls en regulasies was daar om gebreek of ten minste getoets te word. Hy het veral koshuisreëls en militêre dissipline verpes. Met oorgawe het hy sy indiwidualiteit en oorspronklikheid teen groepdruk beskerm. Hy het nooit geleer om motor te bestuur nie.

Op skool het Bowra agtergekom dat hy 'n aanleg vir en belangstelling in die studie van Grieks en Latyn het. Hy het van 'n klein vriendekring gehou en hulle met nabootsings, grappe en stories vermaak. "He satirized public schools as offering nothing but the Church of England, the British Empire, 'beef, beer, bacon and eggs, and rowing'" (K 475). "The only aim of English schools was to produce 'character through suffering'" (K 481).

Met selfstudie het Bowra sy geestelike horison verbreed. Hy het 'n leeskennis van verskeie tale gehad, al kon hy hulle nie goed praat nie; naas Grieks en Latyn, Duits, Frans, Italiaans, Spaans en Russies. Hy het 'n voorliefde vir die letterkunde en veral poësie ontwikkel. Van 1917 af het hy militêre diens in die Eerste Wêreldoorlog gedoen. Hy was in drie veldslae betrokke. Dit het hom laat besef hoe waardevol die lewe is. Na die oorlog kon hy nooit diegene verdra wat om gewetensredes nie hulle militêre plig gedoen het nie. In die oorlog het hy agtergekom "poetry could literally save a personality from disintegration" (K 1843). As volwassene het hy daarvan gehou om Engeland twee of drie keer per jaar te verlaat en onder andere seksuele avontuur in Europa te gaan soek.

In 1919 is hy na New College, Oxford, om sy studie van die klassieke voort te sit: "As a stage for performance, its decor could not be surpassed" (K 1030). Oxford was in groot mate sy tuiste vir die res van sy lewe. Hy het nie behae in bv die stadslewe van Londen gehad nie. Ook nie in Amerika nie, al het hy later daar kort tydperke as dosent deurgebring. HWB Joseph, sy filosofie-dosent, was 'n "bone breaker" (K 1093) wat Bowra se akademiese selfvertroue dermate ondermyn het dat hy daarna altyd aan sy eie statuur as akademikus getwyfel het. Joseph se dood was 'n verligting: "While there's death, there's hope" (K 1128).

In 1922 het Bowra 'n socius ("fellow") van Wadham College, Oxford geword. Van 1938 tot 1970 was hy die hoof ("warden") van hierdie inrigting omdat hy van die kandidate "the more all round man" is (K 4670). "The poacher would have to turn gamekeeper" (K 4730). Bowra was verplig om in 'n mate konvensioneel of respektabel te word, al het hy "anti-establishment" gebly (K 4735). Hy het preokkupasie met die wetenskappe afgekeur en hom deurgaans vir die bevordering van die humaniora beywer. Sy voorkeur was dat die studie van die humaniora en die wetenskappe liefs in aparte inrigtings gehuisves moet word.

Sy dinamiese en aanvallende persoonlikheid het dit vir hom moontlik gemaak om as administrateur heelwat te bereik; ook toe hy van 1951 tot 1954 die visekanselier van Oxford ("it was 'not bad fun'", K 5255) en van 1958 tot 1962 president van die British Academy was. Hy was 'n gedissiplineerde, harde, metodiese werker met 'n lofwaardige benadering tot universiteitsadministrasie: "A bureaucracy only existed to allow academics to function to best advantage" (K 5207). Vir professionaliteit het hy respek gehad en van amateuragtigheid 'n afkeer. Oor eregrade: "Whom the University chose to honour was a public statement about its own sense of purpose" (K 5306).

"There is a lot of nonsense about learning. It is really a substitute for stamp-collecting, but instead of coloured bits of paper one collects comic little facts in the faint, far hope that one day they will fall into a pattern" (K 1579). Dan hierdie groot waarheid: "The object of education is not the accumulation of knowledge but the training of the mind to think" (K 2978). Bowra het dit teen "monkish academics" gehad: "He much approved of ... the new type of don, who 'gave tutorials with a bottle of whiskey by the armchair and a girl in the bedroom'" (K 3196). Hy het elke student by sy naam geken en kon selfs dié met eenders vanne onderskei, bv "'Beer Jones' and 'Sex Jones'" (K 4974).

Die antieke Grieke van die voor-demokratiese era was vir hom die toonbeeld van beskawing: "Civilized members of a civilized society" (K 2988). Hy het 'n aristokratiese leefwyse verkies: "An aristocracy of talent/intellect" (K 3214, 5088). Tussen poësie en aristokrasie het hy 'n vanselfsprekende verband gesien. "Though the aristocratic life was confined to a few, it solidified Greek civilization and gave a special pattern to it" (K 1449). Mettertyd "Athens destroyed itself in populist excess" (K 1460).

As dosent en outeur van vakliteratuur (sowat 30 boeke) wou hy veral die eertydse Griekse en Romeinse leefwyse 'n lewende werklikheid vir studente maak: "To recapture, as far as we can, the living experience of the Greco-Roman world" (K 5498). "To kill interest in the Greek world by teaching it with pedantry rather than inspiration was a sin against the Holy Ghost" (K 1528). Pindar was die digter wat die meeste deur Bowra bewonder is. Hy het die gehalte van die mens se innerlike lewe beklemtoon: "The only reality is that of the spirit" (K 2269).

Maar "Maurice's scholarship was never expressed with the same brio that characterized his conversation" (K 1117). "His conversation was all sparkle, full of ... flare. His academic work, by contrast, is cautious and a little flat. Harold Nicholson said ... it was 'like a man writing luggage labels'" (K 1567)."It is much too general and has only the tone of good journalism" (K 1551). "To suggest a doubt about his scholarship was to penetrate Bowra's armour" (K 1602). "He was not exactly thin-skinned but [he claimed] that he had been born with one skin too few" (K 1608). In sy geskrifte is daar 'n neiging tot vlakheid en naïwiteit, maar hy was deurgaans ingestel op sy missie. Cyril Connolly het hiervan gesê: "He wears his humanism like a bullet-prove vest" (K 1342).

Wat Bowra nie self met klassieke studie of eie digwerk kon bereik het, het hy mettertyd uitgeleef as gerekende kritikus van Engelse poësie, soms "prodding with a poisoned dung-fork" (K 2235). Hy het bv geen waardering vir Wystan Auden se poësie gehad nie: "He is enormously an impure poet" (K 2206). "A true poem [has] no bones sticking through" (K 2252). "Maurice described Auden as 'no friend of mine. Bad lecturer, bad scholar, bad man, drunk and dirty'" (K 2351). Bloombury was vir Bowra te pretensieus: "Bloomsbury is like the early Church - fanatical, dirty, persecuted, jealous" (K 3669).

Bowra het groot invloed buite die klaskamer uitgeoefen. Hy het 'n binnekring van vriende, "The Five", en 'n groter vriendekring, "The Brethren", gehad. Dit was 'n "homoerotic brotherhood" gemodelleer op dié van die Duitse digter Stefan George. Bowra het na sy eie groep vriende as "The Immoral Front" of "The Homintern", 'n soort "homosexual Mafia", verwys (K 2447). Bowra het in groot mate rigting aan hierdie dissipels se leesaktiwiteit en denke gegee. "In all these social situations, Bowra aimed to be the arbiter of everything that was said and done. Thoughout life, he was temperamentally incapable of playing second fiddle" (K 1212).

Die Bowra-kode het bepaal dat sy vriende nie-kerklik en veral nie-Rooms-Katoliek moet wees: "It was saddening that Rome should become 'a haven for those who feel a natural aversion to thought'" (K 6291). Volgens hom verkondig religie vals waardes. "At its best, religion could make people look ridiculous" (K 6275). "Organized religion was 'marvelous rot', but it deserved respect. Without it, 'the boys will believe, alas, in science, and think it will cure all their ills, poor poops" (K 6346). In die mensgemaakte werklikheid moet ons ons eie waardes skep.

"The uninhibited enjoyment of life was truly godlike" (K 1403). Die Bowras het nie-konvensionele en veral antieke Griekse waardes verkies, asook hoë kultuur soos dit in bv poësie uitdrukking vind. Bowra het lojaliteit en toewyding van sy dissipels verwag en dat hulle vry van aandagafleiers soos die huwelik moet wees. "Maurice ... came to see marriage as a kind of cage" (K 2748). Die Bowras het (redelik) goeie maniere gekoester en dronkenskap as vulgêr beskou. Maar Bowra was gewoond aan "'to tank up' before dinner" (K 4909).

Bowra is altyd deur sy fisieke voorkoms gekniehalter. Hy was "Napoleonic" (K 2399) in die sin dat hy korter as die gemiddelde manslengte was: "He was too short for the high moral tone" (K 3196). Daarby was daar by hom "the absence of a well-defined neck" maar met "a square head ... a compact, rectangular body" en "legs ... too short to carry such responsibility ... he resembled Humpty Dumpty" (K 2406). "He had looked as cuddly as 'one of Beatrix Potter's pigs'" (K 2872). "His body was all authority. Though he was short of stature, one compact square formed the head and another compact square the body" (K 3243). Soms was daar by hom tekens van die kleinmannetjiesindroom, oftewel aggressie. Daarby was hy bang vir vroue.

In sekere literêre en intellektuele kringe was homoseksualiteit in die mode, hoewel toe nog wetlik verbode en sosiaal meesal nie aanvaarbaar nie. Homoseksualiteit was deel van Bowra se verwerping van gesag en spesifiek van die eng seksuele moraliteit van die Victoriane: "Life was simply too wonderful to be confined within a moral corsetry designed by others" (K 2988). Bowra het gedig: "If your neighbour's wife is free / Of course commit adultery" (K 6236). Hy het omsigtig met seks omgegaan, maar hy het ook daarvan gehou om mense te skok: "It improved the circulation of an Englishman's blood" (K 2470). Vraag: "What do you do?" Bowra: "The seven deadly sins" (K 3877).

"At table there was nothing that could not be said. Bowra himself always knew how far he should go in this respect, and then made a point of going a great deal further" (K 3061). "Enemies had to be mocked to bring their claims down, and friends had to be teased to keep them up to the mark" (K 3274). "As sacred cows were slaughtered evening by evening, undergraduates learned that life could be about what was possible, rather than what was allowed" (K 3073).

"Maurice would enjoy teasing friends with the assertion that homosexuality was in fact 'the natural' state of things for anyone with a claim to intelligence" (K 2476). In werklikheid het sy seksuele voorkeur soos 'n handrem dwarsdeur sy akademiese loopbaan gefunksioneer en van hom "an outsider figure" gemaak (K 2510). Maar Bowra se benadering was nie akademies onewewigtig nie: "Just as sexual behaviour was no reason to promote the second rate, nor was it an argument justifying the persecution of a genuine scholar" (K 5373). Gelate het hy aanvaar "buggers can't be choosers" (K 2889). Dalk was daar minder homoseksuele aktiwiteit by hom as wat dikwels vermoed is: "An old peach with only a tart flavour" (K 4880). Noel Annan het Bowra beskryf as "the non-playing captain of the Immoral Front" (K 2945).

Teen sy einde was Bowra baie doof en soos 'n uitgebluste vulkaan: "Mellow and resonant like an old cello" (K 5261). Op 72 het hy afgetree en skaars 'n jaar later, steeds inwonend in Wadham College, is hy na 'n hartaanval oorlede: "Death ... cannot be understood or imagined, and therefore cannot be faced" (K 6148).

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top