Titel: die skrywer
Skrywer: Esta Steyn
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624054412
Klik hier om Die skrywer te koop by Kalahari.com.
’n Bespreking van Esta Steyn se Die skrywer (Tafelberg, 2012) deur Danie Botha op 15 Oktober 2013 by De Tyger-leeskring in Parow-Noord onder voorsitterskap van René Honiball. Met Esta Steyn en haar man, Le Roux, teenwoordig.
Dankie vir die kans om hier te praat oor ’n boek waarvan ek baie hou; dit was iets baie besonders om dit te kon redigeer.
Kom ons kyk hoe Die skrywer in Esta Steyn se skryfwerk inpas. Wat het dit voorafgegaan? (Hiervoor het ek Erika Terblanche se “Esta Steyn (1945–)” in die ATKV-Skrywersalbum op LitNet van 29 Oktober 2009 geraadpleeg.)
Die jonge Esta Ellis publiseer op 19 haar eerste kortverhaal in die destydse Sarie Marais: “Fiasko vir vier”. Daarna sou daar deur die jare nog verhale verskyn, in Sarie en Huisgenoot. Op Worcester is sy boekhoudster vir haar pa by Elda Meubels. Sy vertel dat sy daar in die geraas en stof van die saagmeule haar eerste boek bedink het. In 1979 verskyn Plek van die boskolos. In 1980 volg Waar wenners woon. Met hierdie roman dink sy aan Piet Retiefstraat op Montagu en aan haar ouma Ellis se huisie uit haar kleinkindtyd, en maak dit in die roman Heuwelstraat en die huis dié van ouma Zelodia Smalberg.
In 1980 nooi sy my en ander redakteurs van Tafelberg-Uitgewers om na ’n opvoering van haar tweetalige toneelstuk Graf vir ’n Graaf / Coffin for a Count op Saldanha te kom kyk. Dié regte-egte Weskuskomedie is opgevoer deur die Antonio de Saldanha Dramatic Society. Ons ry by ’n apteek op Saldanha aan om die pad na die Steyn-huis te vra. Haar man, die apteker Le Roux Steyn, kyk my so en sê hy kén my mos. Ek moet ’n bietjie gaan kyk wie kuier by hulle. In kamer een sit een niggie van my ma toe – Le Roux se ma; in kamer twee nog ’n niggie van my ma. So vind ek uit van onse aangetroude verwantskap.
Dit het my teruggeneem na my en Le Roux se jeugjare in die Brandwacht-vallei ten noorde van Worcester. Later het ons as die toneelgroep Akademiespelers Graf vir ’n graaf opgevoer in die Kamer-teater by die Akademie van Dramakuns in Kloofstraat, Kaapstad. Nog later het ek dit vir BAT in die Bellville Burgersentrum geregisseer. Vir die ADK-opvoering het ek ’n majoor gespeel. Esta het die rolle vir spesifieke spelers op Saldanha geskep; myne byvoorbeeld vir ’n Engelssprekende heer. Ek het nie kans gesien vir ’n suiwer Engelse uitspraak nie en toe word die majoor ’n Engelse ou wat Afrikaans probeer praat. My skouerrangtekens het altyd gedreig om af te spring. Daar agter die skerms moes my “vrou”, gespeel deur Ann Osche, dogter van die rugbyspeler Chum Osche, altyd die “pips” terugdruk voor ons opgaan. Vanjaar het ek eers die storie gehoor hoe ons regisseuse, Elza Esterhuizen, ’n vriend gekry het om die doodkis wat so belangrik vir die opvoering is, by Esta op Saldanha te gaan haal. Al die pad terug gee mense verskrik pad vir die aankomende doodkis.
In 1981 verskyn een van Esta se gewildste romans, Kus vir die kluisenaars – ’n Weskusroman met eg-menslike karakters op soek na antwoorde op dinge in die verlede. (Soos in Die skrywer.) Ook van 1981 is Somer van die Silwerskuim. In 1983 word nog ’n gewilde komedie van haar deur amateurgroepe opgevoer: Die lawwe lyk. Ek voer dit oa met BAT op.
1985 is die jaar van Esta se jeugroman Projek Maanblom, in 1989 gevolg deur Vlindervlug. Die tema in laasgenoemde is die invloed van die dood in ’n familie. (Ook ’n tema in Die skrywer.) Dit word aangekondig as die eerste jeugroman oor ’n meisie wat leer vlieg.
In 1984 verower Kinders van die Sabbatsee die eerste prys in die Sarie-ATKV-romanwedstryd en die boek verskyn in 1985. Die agtergrond is die Weskus. In 1988 word dit ’n televisiereeks.
In 1994 publiseer sy iets vir kleiner kinders: Brakjan en mev Bam.
Meeulanders, gebaseer op ’n gewilde televisiereeks, verskyn in 1996. Hier is die Weskusweer sterk op die voorgrond.
In 2000 volg ’n verdere gewilde televisiereeks: Soutmansland, wat in 2011 die roman Droomdelwers word. Sy het die draaiboek sterk verwerk.
By Lux Verbi verskyn in 2000 ’n outobiografiese werk oor die sterftes van twee van hulle seuns: Die grafte jubel: kroniek van pyn en genesing na die dood van ’n kind.
Esta Steyn, die humoris en goeie waarnemer van mensegedrag, sorg vir ’n komiese televisiereeks in 2007: Geraldina die tweede.
Toe, in 2011, Droomdelwers, en in 2012 Die skrywer,met die mooie omslagontwerp waaraan haar seun, Le Roux, van Artificial Studio in Kaapstad meegewerk het met Hanneke du Toit. Ma Esta het net genoem wat sy daarin wil sien en Le Roux se aanvoeling was dadelik presies reg. Hanneke was veral vir die letterwerk verantwoordelik. Die eindproduk roep die inhoud goed op. Die tipografiese versorging van die teks is deur die baie bekende boekontwerper Etienne van Duyker. Vanjaar ontvang Die skrywer ’n benoeming vir die Veertjie-pryse van die ATKV.
Die titel
In hierdie roman is daar drie woordkunstenaars:
1. Arthur Addington, die eens suksesvolle Hollywoodse draaiboekskrywer wie se lewe nie meer ’n pad van roem is nie. Hy verloor sy vrou en sy seun in ’n motorongeluk. In sy dronkenskap het hy teen die aand teenoor sy vrou uitgebars; sy besluit daarom dat sy en die seun sonder hom sal vertrek na ’n musiekkonsert op Stellenbosch, sy wat nooit snags bestuur nie. So stuur hy sy geliefdes as ’t ware na hul dood. Sien ble 124-5. Sy jongste draaiboek word afgekeur deur ’n aantal rare kreature wat uit Hollywood op besoek kom; sy aanslag is net nie so geslaagd soos voorheen nie. Hy word ’n uitgeworpene en ’n gevreesde op die klein dorpie Heimat. (Hierdie keer is ons ver van die Weskus, nou in die omgewing van Sir Lowry’s-pas.) Hy rand sy huishoudster aan en daar’s ’n hofsaak teen hom hangende. Hy verpes joernaliste; hulle durf nie naby hom kom nie.
2. Anabella (Ben) Bennett kom deur ’n sameloop van omstandighede weer in Arthur se lewe, sonder dat hy dit weet. Sy moet ’n rol vertolk om naby hom te kom ten einde ’n artikel oor hom te skryf: as sy tydelike huishoudster. In haar jeug het sy hom diep in Afrika ontmoet as die filmmaker, die een wat magiese verhale skep. Sy is ’n sendelingskind. Daar het twee dinge destyds met haar gebeur: sy het op hom verlief geraak en het terselfdertyd die ideaal begin nastreef om ’n skrywer te word. Dit doen sy eers as goeie joernalis in Johannesburg, die een wat altyd die storie agter die storie kon ontdek. In die roman-hede teken sy haar verlede in ’n groen boek op. Uiteindelik, wanneer “die ondier in haar bloed” wakker word, voor sy gaan sterwe aan bloedkanker, tik sy ’n vertaling daarvan vir Arthur oor waarin hy sal agterkom hoe lief sy hom had en nog het, maar hulle vind mekaar nie betyds nie.
Esta Steyn pas hier ’n goeie tegniek toe. As Anabella haar lewensverhaal alles aaneen en in die verledetydsvorm sou opgeteken het, sou dit dalk nie so spanningsvol en helder dramaties gewees het nie. Dit word egter nou aangebied as kort grepe vol handeling, wat dan soms oorgaan in ’n terugflits wat nie meer in haar eie woorde is nie. Die onderbroke en verspreide gedeeltes is een van Esta se geslaagde maniere om spanning te skep. Jy wonder wat verder gebeur het en dan kom daar eers ander gebeure tussenin.
Esta skep verder spanning deur ook die verloop van Anabella se siekte verspreid oor die intrige heen aan te bied. Eers net die sprake van ’n ongedefinieerde ondier; dan die gevalle van haar naarhede in die hede. Eers op bl 128 raak dit sterk duidelik watter siekte sy het (dié en volgende kursiverings soos in die teks): “Sê nou dis die ondier wat besig is om uit sy skuilplek op te staan? Die vampier wat my bloedselle opvreet en op my teer?” Dan volg die ondersoeke, die chemobehandeling, voorbeelde van hoe sy vir laas die lewe wil geniet, en daarna die reëling van haar sake, die afskeid neem en dan haar dood ná die lieflike visioen.
Hierdie laaste hemelse toneel is goed deur die roman heen voorberei met die talle tonele van Anabella se godsdienstigheid. Bl 82: “Ek voel soos een wat deur die groen velde wil huppel en wil sing. Alles voel nuut. Grote Vader, moenie dat ek verder bang wees vir die ondier nie. Help my, help my, help my …” Vergelyk dit nou met bl 203: “Voor haar is die verruklikste toneel. ’n Goue grasland en in die grasland kom daar van ver af ’n beweging nader. … Ek is deel van die sirkel van liefde wat vir ewig is. Sy stap saam met hulle weg oor die goue veld, en die goddelike vrede is oorweldigend.”
3. Catherine Dumay, die dokter uit Londen, is die een wat aangrypende gedigte in ’n boekie geskryf het wat vir Anabella baie beteken en ook vir die leser treffende insigte bring. Bl 170: Oor die skynbaar eindelose of tevergeefse soektog na ’n geliefde, ’n geesgenoot. Hier is ironie aanwesig, want Arthur weet nie dat hy Anabella maar mag liefhê nie.
I see your face in Africa at the waterholes of game
where at the end of every day the thirst is still the same.
Will the elephants forever tread on trails deeply laid?
And the lion, will he meet his mate on beds the veld has made?
And is a man’s most deepest cry the words that he never said?
His throbbing fears may be the tears that weren’t ever shed.
And when he meets his soul mate, will his deepest thirst subside?
Or will that be the moment when the waterhole has dried?
Met die redigering het ek gewonder of Esta die een of ander boekie êrens ontdek het, maar met die vraetyd ná die bespreking het sy laat blyk dis háár gedigte. Nóg ’n faset van haar skryfkuns. Sy het byvoorbeeld ook al skoolliedere geskep. DJ Opperman het van haar kindergedigte opgeneem in heruitgawes van Klein en Kleuterverseboek.
Dit is dan die drie skrywendes. Die begrip skrywer is vir baie mense nogal gelaai. Hulle assosieer met ’n skrywer iemand met wysheid, wat ongewone sieninge en insigte het, wat iets kan suggereer of voorstel, wat met woorde skep. Die skrywer Harry Kalmer het in ’n boekresensie goed beskryf hoe ’n skrywer leesgenot bring aan die lesers, iets waarvoor die leser die skrywer bewonder: “’n Groot deel van leesgenot lê in wat lesers self na ’n boek bring: die herken van dinge in hul eie lewe; die formulering van insigte wat hulle altyd in hul agterkop gehad het; die bevestiging van vrese, vermoedens en verwagtings.” (Uit ’n resensie van Riette Rust: ’n Lyf onthou, Die Burger, 14 Mei 2012.)
In ’n artikel oor waarom Ingrid Winterbach so sukses behaal met haar roman Die aanspraak van lewende wesens, verduidelik Thys Human (Die Volksblad, 4 Oktober 2013), na aanleiding van ’n Winterbach-uitspraak, dat die arme skrywer nie dikwels onmiddellik die bevrediging van bewondering kry nie; hy/sy word nie staande toegejuig soos ’n sangster nie. Die bewondering kom deur bekroning, lofuitende, resensies, en moontlik applous by kunstefeesoptredes. (My parafrasering.)
Ek brei uit: die bewondering van ’n skrywer vind plaas by die lees van die boek, in die kop van die leser. Maar feit bly: die skrywer het ’n status en invloed. Daarom dat die titel van hierdie roman dan Die skrywer is. Dit suggereer dit gaan die verhaal van iemand van belang wees.
In die roman self kom daar ook dikwels uitsprake oor die aard en wese van die skryfkuns voor. Die skryfkuns is een van die vele temas in die boek.
Gedeeltes oor die skryfkuns
Bl 90: Anabella irriteer Arthur wanneer sy met hom oor ’n skrywer se vrees praat: as iets hom verhinder om te skryf; “a writer’s block”. Sy sê dan vir hom: “My stepmother (Catherine; DB) used to write. She said that if you stopped hearing the stars up there cheering, it’s time to take a break. Nag, meneer Addington.” Stadig kom hy dan agter dat sy uit die vertrek is. Hy loop by die voordeur uit tot op die stoep. “Die nag is stil en die lug is vars. Hy kyk op in die helder sterrehemel en glimlag wrang.”
Op bl 94 beweer Anabella eers: “I guess that’s what scriptwriters are supposed to do, to create magical immortal moments ... scenes that stay in the minds of people forever.” Later vra sy sag: “Does it make you happy to write?” Arthur antwoord: “The struggle with every story makes me question everything about myself. But then ... there comes a point where the essence of your soul fuses with the essence of your story. And everything falls into place. And in that moment you transcend time. And you see everything as it should be.”
Dan kom Esta met iets realisties. Ná hierdie bespiegeling verander Arthur die onderwerp. Hy’t in sy kop ge-“multitask”; hy’t al die tyd aan Anabella gedink en aan die liefde. Wanneer sy hom dan antwoord of sy al liefgehad het, het ons te doen met dramatiese ironie. Die leser weet meer as wat Arthur weet. As hy sê: “He must have been quite some guy?”, praat hy eintlik van homself. Die ironie skep spanning.
Bl 126: Arthur: “When I was young, I used to sit down and write. I relied on my cosmic connection. I never used to plan much. I simply believed that the magic within the story would seek its own destiny and bring it all together. And it did. Every time. Now ... I’ve lost it. I’ve lost it. And it scares the hell out of me.”
Ander temas
Ja, hier is heelwat afwisseling met die temas. Die hoeveelheid stof en die verskeidenheid hier is groot, en veral belangrik: die stof is by die intrige geïntegreer. Daar’s byvoorbeld temas soos:
– Kookkuns. Lucy wat so ’n vaardige kok is. Anabella wat vinnig leer kook. Die beskrywing van die disse (bl 54: “Die goudbruin speenvark, wonderbaarlik gegarneer met pynappelringe en gestoofde pruimedante is op ’n hoë silwerstaander uitgestal. Twee klein bloedrooi kersies steek by die snoet uit.”). En hoe daar komiese dinge met kos kan gebeur: “Een van die rooi kersies vlieg uit die vark se snoet en beland netjies in die middel van Cassandra se verleidelike decolletage.”
– Godsdienste. Anabella se pa is die sendeling wat Paka die leeu as ’n afgod van die swart inwoners van die sendingstasie beskou. Op bl 133 kom iets verwikkelds daaroor na vore: haar pa verwyt Anabella dat sy ’n vyand van God, ’n wreedaardige Mahitza, gedood het om die leeu te red, maar die vyand van God was ’n mens. Sy antwoord dan: “Al wat ek weet is dat my Grote Vader vandag vir Paka gespaar het. Omdat Hy in Sy alwetenheid ’n plan met elke dier en mens het. En ons kan dit nie betwis nie en ons kan dit ook nie verstaan nie. Maar dit is hoe dit is.”
Daar is ook die temas van filmkuns, joernalistiek, lewe in Afrika, liefde vir diere (Anabella se kontak met Caesar die hond en Gabriel die perd, haar aanvoeling met Paka die leeu). Laaste temas om te noem, is dié van die geneeskunde en ook van menslike verhoudings. ’n Verskeidenheid temas, maar ’n mens kry nie die gevoel dit staan los van die karakters en intrige nie. Dis nie net om kennis te vertoon of vir die een of ander effek nie.
Tegniese sake
In Die skrywer is kort-kort voorbeelde van uitstekende dialoog. ’n Mens kan sien dis die werk van iemand wat ook ’n suksesvolle televisiedraaiboek- en toneelskrywer is.
Daar’s op bl 17 die dames van Heimat in die pub. Hulle lig Anabella (en vir ons) in. “Sarah, met haar persgrys hare, wat nog tot dusver doodstil was, kom by: ‘Tell her that the son is dead.’” ’n Paar gevalle van “tell her” volg, wat humoristies raak vanweë die volgehoue, amper baasspelerige, voorsêery.
Op bl 129 het ons die ontvangsdame se onverstaanbare Engels: “Doctor Freedman is not availabol.”
Op bl 91 het ons te doen met die hie-hie-hie-laggende Jameson, opsigter oor die landgoed.
Anabella sê oor Addington: “Ek dink ek moet uit die man se pad uit bly vandag.”
Jameson lag nog altyd. “Ja, onthou, Ben, hy’t mos Mrs McKeany se arm gebreek. Jy beter dit watch, nè.”
Anabella vra: “Wat het eintlik met die vrou gebeur?”
Jameson staan op. “Jou petuniatjies moet in die grond kom. Dit was net ’n grappie.”
Op bl 115 sê Jameson: “Hie-hie-hie! Twaalfuur, amper soos Aspoestertjie wat haar goue slippertjie verloor het.”
Goeie stelwyses en waarneming
Kyk net hoe netjies bou die eerste toneel op tussen Anabella en Caesar, ’n Duitse herdershond wat eers verwoed op haar afgepyl het (bl 21). Byna magiese kontak ontstaan tussen hulle (bl 23):
“En toe is sy alleen by die hond wat knor. ’n Pragtige dier. Wat seker nie baie vreemde mense sien nie, veral nie as die hek altyd toebly nie.
“Dan is die koue in haar lyf vergete en haar haglike omstandighede ook.”
Die “En toe” en die “Dan” dramatiseer; beklemtoon presies hoe die handelinge op mekaar volg.
Bl 96: Anabella se ma Maria is sterwend. Sy hou ’n kruisie in haar hand. Anabella moet die nag ingaan om dr Catherine te gaan roep. Van die deur kyk sy terug: “Die olielamp het oor haar geskyn en haar gesig was glansend. Al was sy so siek, het sy vir my so mooi gelyk. Ons het vir mekaar gekyk, ek en my mamma Maria. Ek het vir haar gewaai. Haar vingers rondom die kruisie het effens geroer.” In die laaste sin is ’n klein besonderheid wat verras en ons die toneel laat sién.
Ná so ’n wonderlike stemmingsvolheid volg die dramatiese geweldstoneel wanneer Anabella op die owerspeltoneel tussen haar pa en Catherine afkom.
Bl 112–3: Die jong leeu Paka by die watertenk van Ebugwanjuba: “En saans wanneer die son sak, was sy uitgestrekte lyf teen die rooi lug afgeëts. En die klank van sy kragtige gebrul het oor die dorpie weergalm.”
Bl 123: Anabella beskou Arthur ná sy verwoestingwerk en in “sy totale gebrokenheid”: “Sy stem kom vanuit ’n vreemde ruimte sonder toegang.” Die besonderse is ’n ruimte wat nie binnegedring kan word nie en die vreemdheid daarmee versterk word. Nog later: “… wanneer hy begin praat, voel dit vir haar asof hy nie met haar praat nie, maar met die skemer ruimtes rondom hom.” Die ruimtes het ’n spesifieke eienskap: skemer.
Bl 128: “Sy tel al die besmeerde blaaie van die manuskrip op en gooi dit in die vuilgoedblik. Dit val met ’n plof tussen aartappelskille in.” Klein besonderheid wat die toneel inkleur.
(Esta vertel die middag dat hierdie aandag aan die besonderse, aan evokatiewe besonderhede, iets is wat haar Afrikaans-onderwyseres aan die Hoër Meisieskool op Worcester, juffrou Grobbelaar, alias Kat, daar in die sestigerjare baie deeglik by hulle tuisgebring het.)
In die roman is verskeie fel dramatiese tonele, byvoorbeeld op bl 132 die aanval van Paka die leeu op die Mahitzas; hoe Anabella ’n Mahitza met ’n pyl dood. Eers haar verslag in die groen boek; dan direkte dramatiserings. Ook die toneel van die troue van haar pa met Catherine (bl 147–8); hoe haar pa en ander in die brandende kerk omgekom het. Dit is interessant dat die geweldig ontstellende gebeurtenis nie oordrewe emosioneel oorgedra word nie. Dit is immers ’n oorvertelling, iets wat nie in die hede gebeur nie, sodat afstandelikheid bereik is. En Anabella wat dit beleef het, was geweldig geskok: “Ek het op die platform bly sit soos een wat lam geword het” (bl 148).
Aan die ander kant is hier baie, baie tonele wat ’n mens laat goed voel, lus maak vir die lewe. Naas die dramatiese Afrika-tonele, die hospitaaltonele of die uitbarstings van Arthur is daar die tonele met Lucy en Jameson, hoe dikwels hulle vir Anabella help en hoe pragtig hulle twee se liefde tot vervulling kom. Hulle verhouding kontrasteer met Arthur en Anabella s’n. Eers was hulle ook jare lank van mekaar geskei en nou beweeg hulle nader aan mekaar. Dit word ook met salige, eg-menslike humor verbind.
Op bl 114 vra Jamie raad by Anabella oor wat hy as ’n geskenk vir Lucy kan neem. ’n Mens glimlag as hy in plaas van iets van sy handgemaakte kunsvoorwerpe eerder twee vars koolkoppe en ’n bossie wortels uit sy tuin vir haar wil neem.
Dink aan die aand in die herehuis toe Anabella vir Arthur deftig onthaal (bl 165). “Hulle kyk in mekaar se oë soos ’n man en meisie wat mekaar pas ontmoet het, opweeg en heimlik wonder watse bekoring die aand mag inhou.” En wanneer hulle saam dans, is dit gepas op die maat van “There’s a kind of hush all over the world tonight” (oorspronklik uitgevoer deur die New Vaudeville Band in 1966; en later word dit ’n treffer van Herman’s Hermits in 1967, en nóg later van die Carpenters):
There’s a kind of hush
all over the world tonight
All over the world
you can hear the sounds of lovers in love
You know what I meanJust the two of us
and nobody else in sight
There’s nobody else and I’m feeling good
Just holding you tightSo listen very carefully
Closer now and you will see what I mean
It isn’t a dreamThe only sound that you will hear
Is when I whisper in your ear I love you
For ever and ever.
Nog voorbeelde van humor wat gepaardgaan met goeie karaktertekening en goeie waarneming:
Bl 117: Anabella-hulle daag op by die groot appelskuur vir die barn dance. Mike, die grote motor mechanic wat Anabella se motor, Koekoes, reggemaak het en haar metgesel vir die aand is, wag haar met ’n swart hemp aan onder ’n boog van blomme in: “Sy oë lyk effens glaserig asof hy reeds ’n paar drankies in het. Hy groet haar plegtig met sy yslike hand. ‘Jou clutch pad nog oukei?’’’ Hy pas hom nie aan by die sosiale geleentheid nie. Kliphard sê hy byvoorbeeld: “Jy sal maar een of ander tyd na jou CV joints ook moet laat kyk. Wat van ’n bier?”
Die dansery is nie louter plesier nie; hy raak ook beledigend. Maar kyk nou hoe kleur Esta die toneel in met ’n besonderheid: “Daar’s twee ronde sweetkolle by sy armholtes.”
Ná die geveg tussen George en Jameson volg lekker dialoog wat jou laat glimlag. Anabella laat verstaan sy gaan terug huis toe na die maniak van ’n baas soos Mike hom noem. Dronk sê Mike: “Jy kan nou wel pool s-speel, maar v-verder is jy net so be-f-fôk soos hy.”
Nog humor. Jameson en Lucy is saam met Anabella in die motor. Jameson lê met sy opgedonste gesig op Lucy se bors. Anabella vra of hy oukei is. “‘Ek was nog nooit so oukei nie, Ben,’ sug hy en sy seer gesig sink dieper weg in haar sagte, welriekende boesem.”
Ek sal ook nog ’n karakter onthou wat so uit die lewe gehaal is, iemand soos wat jy sekerlik al beslis raakgeloop het. Ek het eers geglimlag oor hom, maar teen bl 157 praat hy heel professioneel-vakkundig.
Bl 137: Ons daag saam met Anabella by Groote Schuur Hospitaal op. “Dokter Badenhorst lyk soos ’n boer met bruingebrande arms, ’n blou hemp en rooi kruisbande. Hy noem haar Ounooi.” Later trek hy ’n bietjie rugmurgvog by haar. “Die boerdokter se stem bly rustig. ‘Toemaar, Ounooi, dis nou-nou verby, dan koop jy vir jou ’n ice-cream. Waar in die wêreld bly jy?’” Vir hom is Heimat: “Ooo, daai mooi plekkie in die berge. Dit lyk mos soos Heidi se berge daar.”
In ’n onderhoud het Esta gesê dat sy bepaalde musiek speel terwyl sy skrywe. Dalene Matthee het dit ook gedoen. Vir Die skrywer het Esta geluister na The Platters se “Smoke gets in your eyes” (uit Roberta, 1935; lirieke Otto Harbach; musiek Jerome Kern):
They asked me how I knew
My true love was true
I of course replied, something here inside
Cannot be denied
They said some day you'll find
All who love are blind
When your heart's on fire, you must realize
Smoke gets in your eyes
So I chaffed them and I gaily laughed
To think they could doubt my love
Yet today my love has flown away
I am without my love
Now laughing friends deride
Tears I cannot hide, hide
So I smile and say, when a lovely flame dies
Smoke gets in your eyes
Smoke gets in your eyes
Smoke gets in your eyes
Smoke gets in your eyes.


Kommentaar
"Die Skrywer" is 'n baie genotvolle boek om te lees. Die humor, spanning, verskillende temas, tonele en verhoudings en gedigte maak die boek iets besonders. Wat my die meeste getref het was die onverwagse einde, totaal nie wat ons lesers gewoonlik verwag nie. Uitstekend. Ek het die boek gelees sonder om dit een keer neer te sit. Dit was boeiend van begin tot end! Dankie Esta vir heerlike leesstof.