Klippies Kritzinger: Waarom volkskerk en die gelaaide term?

  • 0

Hermann Giliomee is by die ABSA KKNK aangehaal: “Die Afrikaners het al van ’n baie vroeë stadium die idee van ’n volkskerk gehad. Die kerk moet gaan kyk wat die verhouding is met die volk waarin hy geplaas is. Is hy ’n volkskerk of is hy nie ’n volkskerk nie?”

Naomi Meyer het hom – en ander kerklike rolspelers – gevra hoe wenslik die begrip van 'n “volkskerk" is in die godsdiensdiskoers van ons tyd en oor die verhouding tussen die kerk en die volk waartoe sy lidmate behoort. Wat is die rol van sulke faktore soos taal, kultuur en politiek in 'n geloofsgemeenskap?

Hier gee Klippies Kritzinger sy mening.

Oor myself

Ek het in Johannesburg grootgeword en aan die Universiteit van Pretoria studeer – eers twee jaar ingenieurswese en toe sewe jaar teologie. Ek is in 1974 deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) gelegitimeer en was van 1975 tot 1986 predikant van die Reformed Church in Africa (RCA) in die voormalige Transvaal. Sedert 1993 is ek predikant in ’n gemeente van die NG Kerk in Afrika (NGKA) wat in 1994 deel geword van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK). Vanaf 1981 is ek ’n dosent in missiologie (vroeër sendingwetenskap genoem) aan Unisa en dus ’n selfonderhoudende (“tentmaker”-) predikant. Sedert 2003 is ek betrokke by die Northern Theological Seminary (NTS) in Pretoria, wat in vennootskap met Unisa en UP predikante vir die VGK oplei.

My siening van ’n volkskerk

Dit was my betrokkenheid by “Indiërsending” as ’n jong ingenieurstudent in 1967 wat daartoe gelei het dat ek teologie begin studeer het. In 1969, kort na die begin van my teologiese reis, toe ek Indiër-Christene as vriende en medegelowiges leer ken het, het ek besef dat apartheid verkeerd is, omdat dit op die basis van rasseklassifikasie grootskaalse lyding veroorsaak onder mense wat as “nie-blankes” geklassifiseer is. Ek het ál meer krities geword oor die teologiese regverdiging wat die NGK vir apartheid gegee het. Dit was in daardie verband dat ek die eerste keer met die begrip volkskerk kennis gemaak het, as die standpunt van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), wie se teologiese studente ook aan UP studeer het. Die NHKA het homself verstaan as ’n “Christus-belydende volkskerk” (Botha 1973:2) wat “noue verbondenheid met die Voortrekker ideale behou en kerk [wil] wees: ‘voor het volk, om het volk en door het volk’” (Botha 1973:51 ev). In daardie tyd het die NHKA nog artikel 3 in hulle “Kerkwet” (nou Kerkorde) gehad wat bepaal het dat slegs wit mense lidmate van dié kerk mag wees en dat die NHKA “die vorming van eie volkskerke onder die verskillende volksgroepe” beoog (53).

Ek het destyds gedink dat die NHKA eerliker as die NGK is, omdat die NGK in die praktyk ook ’n volkskerk was, maar dit nie uitdruklik erken het nie. Al het die NGK nie ’n artikel 3 in sy Kerkorde gehad nie, was dit in werklikheid net wit mense wat lidmate van die NGK was (en kon wees). Daar is “ander” kerke op die been gebring vir bekeerlinge (as vrug op die NGK se sendingwerk) wat onder die Britse koloniale bestel – en veral later onder apartheid – nie as wit beskou (of geklassifiseer) is nie.

Vir Portugees- en Engelssprekende wit lidmate is daar wel voorsiening gemaak om as gemeentes binne die NGK te funksioneer, wat beteken het dat die NGK nie net Afrikaners as lidmate gehad nie. Daar was dus eerder ’n rassegrens as ’n volksgrens tussen die kerke van die “NGK-familie”, want “ander wit mense” is geakkommodeer as deel van ’n vergrote en aangepaste “volkskerk”-ideaal onder apartheid, solank as wat die dominante idee van die NGK as “kerk van en vir Afrikaners” nie in die gedrang gekom het nie.

Die identiteit van die Afrikaners as ’n aparte “volk” het geleidelik al meer oorvleuel met die gekonstrueerde identiteit van wit mense as ’n aparte “rassegroep”. Die klassifisering van donker mense in Suid-Afrika in aparte “rassegroepe” was onlosmaaklik gekoppel aan die politieke konstruksie van “aparte inheemse volke”, elkeen met ’n eie taal, kultuur en grondgebied (“tuisland”). Alle kultuur- en rassegroepe in Suid-Afrika moes dus aparte “volke” wees (of word), omdat die Afrikaners ’n aparte “volk” wou wees. Dit laat my dink aan die spreekwoord: As jou enigste stuk gereedskap ’n hamer is, dan hanteer jy alle probleme as spykers.

Soos baie van ons nog met skaamte kan onthou, is donker mense wat by ’n NGK-erediens opgedaag het, altyd gevra om te loop, of eenvoudig uit die gebou verwyder. Ongelukkig moet ek sê dat die NGK se de facto-identiteit as volkskerk en raskerk (voor Kerk en Samelewing 1986, 1990) vir my altyd onlosmaaklik aan sulke houdings en optrede gekoppel was. As predikant van die RCA in die 1970’s en 1980’s het ek soms uitnodigings ontvang om in ’n NGK-gemeente te gaan praat oor “die Indiërsending”. Ek het dan altyd gevra of ek ander lidmate van die RCA kan saambring, sodat daar ’n ontmoeting kan plaasvind en ek nie “oor” die ander lidmate van die RCA hoef te praat nie. As ek die enigste lidmaat van die RCA is wat in ’n NGK-erediens welkom is, dan is ook ek nie welkom nie. Ek kan net twee geleenthede in 12 jaar onthou waar hierdie versoek toegestaan is. Die verwagting was gewoonlik dat ek moes praat oor die groot opofferings wat RCA-lidmate maak wanneer hulle Christene word en om die NGK-lidmate dan op grond daarvan uit te daag om self meer toegewyde Christene te word – en om geld te gee vir die RCA-gemeente. In plaas daarvan om hierdie romantiserende sendingpaternalisme te versterk het ek liewers my tyd en energie gebruik om die RCA-gemeente in geloof en offervaardigheid op te bou.

Die vraag oor die nuttigheid van ’n debat oor die begrip volkskerk is vir my in die eerste plek ’n vraag of die begrip volk in Suid-Afrika losgemaak kan word van die konnotasie van rasse-identiteit. Dit was nie toevallig dat die rigtinggewende beleidsdokument van die NGK oor hierdie sake tussen 1974 en 1986 die titel Ras, volk en nasie (NGK 1974) gedra het nie. Is dit moontlik – gegee die lang geskiedenis van vervlegting tussen die begrippe volk en ras in die selfverstaan van Afrikaners – om in ons huidige demokratiese bestel hierdie twee denk- en leefwyses (ras en volk) van mekaar los te maak om ’n gesonde teologie en praktyk van ’n “volkskerk” te kan ontwikkel? Ek wonder.

Wat is ’n volk? Is Afrikaners (nog) ’n volk?

’n Sentrale vraag in hierdie bespreking is wat die begrip volk vandag vir Afrikaners beteken. Dit help nie om oor ’n “volkskerk” los van die vraag oor ’n “volkspolitiek” of ’n “volksekonomie” te praat nie. As volkskerk, in die beste sin van die woord, ’n diepgaande, omvattende en gesonde kontekstualisering van die evangelie in die Afrikanergemeenskap beteken, dan hang die sinvolheid van ’n debat hieroor af van die betekenis wat Afrikaners vandag aan die idee volk heg. Ek onthou nog goed hoe Carel Boshoff vir ons in die vroeë 1970’s by UP in ons sendingwetenskaplesings vertel het dat die NP-regering se beleid van “afsonderlike ontwikkeling” nie onderdrukkend is nie en “aparte vryhede vir alle volke” beoog. Hy het ook gesê dat ’n volk selfbeskikking nodig het (dus ’n eie grondgebied en die die mag om sigself te regeer) om ’n volk te wees; vandaar die beleid van ’n onafhanklike tuisland vir elke volk. As die begrip volk op hierdie manier aan die besit van ’n bepaalde grondgebied en aan politieke en ekonomiese mag vir selfbeskikking gekoppel is (en bly), dan kan die idee van ’n volkskerk slegs in ’n “volkstaat” soos Orania lewensvatbaarheid hê. Maar ek mag my hierin vergis. Sien die meeste Afrikaners hulleself vandag as ’n aparte “volk” in ’n demokratiese grondwetlike bedeling? En sien hulle die Zoeloe-, Sotho- en ander kultuurgroepe ook as “volke”? Hierdie vraag na sosiale en kulturele identiteit, gepaardgaande met die vraag na ekonomiese en politieke mag, is ’n onlosmaaklike onderdeel van teologiese besinning oor die lewensvatbaarheid van die idee van ’n Afrikanervolkskerk vandag. Ek sal graag wil hoor hoe ander teoloë hierdie vraag beantwoord.

Voorsienigheid, volke en grense

’n Ander belangrike dimensie van “volkskerk”-denke in die geskiedenis van die NGK is die leerstuk van God se voorsienigheid, wat ’n sleutelrol in gereformeerde teologie speel. Die gereformeerde belydenisskrifte beklemtoon die soewereiniteit van God as skepper van die heelal en as begeleier van die geskiedenis. Die uitdrukking “onder God se seënende hand” is dikwels gebruik saam met die idee dat tale, volke en rasse in die geskiedenis tot stand gekom het en dat God die grense tussen hulle vasgestel het (gewoonlik met beroep op Genesis 11, Deuteronomium 32 en Handelinge 17) . Die vraag is nou hoe ons as Afrikaner-Christene die geskiedenis van Suid-Afrika teologies herinterpreteer na die beëindiging van apartheid. Gaan ons die idee van voorsienigheid bly koppel aan ’n “God-gewilde volksplanting aan die suidpunt van Afrika”? Of gaan ons meer krities kyk na die dinamiek van Nederlandse en Britse kolonisasie, sodat ons naas die wil van God ook aandag gee aan die wil van mense – al die kultuurgroepe wat “voor ons” hier was, Europese groot moondhede, avonturiers en opportuniste, vlugtelinggroepe (soos die Hugenote) en vele ander rolspelers – in ons teologiese herinterpretasie van die geskiedenis van Suid-Afrika? Wie God en volk in een asem noem, bedryf politieke teologie. Die groot vraag is: Watter soort politiek? En in wie se belang?


Bybel, kerk en volk in gereformeerde teologieë

Een van die eienskappe van ’n Calvinistiese lees van die Bybel is om die eenheid van die Ou en Nuwe Testament te beklemtoon binne die een genadeverbond van God wat teruggaan op Abraham en Sara. Dit het allerhande positiewe gevolge, maar ook die negatiewe effek dat daar soms reguit lyne getrek word tussen die Ou-Testamentiese situasie – waar die verhouding tussen “volk” en “kerk” baie nou verstrengel was – en huidige politieke situasies. Veral wanneer gereformeerde Christene vanuit ’n posisie van politieke mag teologie doen, lê hulle soms groter klem op die Ou Testament, die “kerstening van kultuur” en soms ook die volkskarakter van die kerk.

Dit is nie toevallig dat AA van Ruler, een van die Nederlandse teoloë wat ’n volkskerk teologies die sterkste ondersteun het, uit die geledere van die Nederlandse Hervormde Kerk gekom het en ook ’n Ou-Testamentikus was nie. Die Nederlandse Hervormde Kerk was tot na die Tweede Wêreldoorlog ’n staatskerk wat nie as kerk enige sendingwerk gedoen het nie, omdat sending (in terme van artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis) gesien is as die taak van ’n Christelike staat. Die invloed van sommige van hierdie idees is te bespeur in die praktyk van die NHKA, wat, soos ek al eerder gesê het, openlik die idee van ’n “Christus-belydende volkskerk” ondersteun.

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) is sterk gekant teen ’n volkskerk, op grond van ’n Kuyperiaanse teologie van ’n Calvinistiese belydende kerk. In terme van so ’n teologie is hulle voorstanders van ’n belydenisgebonde “volkerekerk” waar gemeentes uit verskillende kulture en tale in een kerkverband opgeneem word sodat die eenheid van die kerk op hierdie manier sigbaar word.

Die NGK het elemente van beide hierdie benaderings in sy geledere. Die “volkskerk”-invloede kom waarskynlik deels uit die feit dat die oorgrote meerderheid Hervormde lidmate in die ou Transvaal (ZAR) as gevolg van ’n kerkeenwordingsproses in die 1880’s deel geword het van die NGK van Transvaal (aanvanklik die NH of G Kerk genoem). Daar is ook sterk Kuyperiaanse invloed in die NGK, omdat soveel NGK-teoloë in die middel van die 20ste eeu aan die Vrije Universiteit van Amsterdam gaan studeer het. Hierdie invloed het waarskynlik verhoed dat die NGK sedert die 1960’s openlik in ’n amptelike dokument ’n “volkskerk”-teologie gepropageer het. Maar dit het nie verhoed dat die meerderheid NGK-gemeentes in die praktyk as ’n geslote Afrikanervolkskerk gefunksioneer het nie. Die NGK het egter ook ’n ander stroom in sy midde wat nie in die ander twee Afrikaanse gereformeerde kerke teenwoordig was nie: die Piëtisme van Andrew Murray, wat hoofsaaklik verantwoordelik was vir die missionêre entoesiasme van NGK-lidmate sedert die 1860’s en gelei het tot die vestiging van sterk “dogterkerke” van die NGK binne Suid-Afrika en in verskeie ander Afrikalande. Hierdie Piëtistiese teologie het ’n “onskuldige” huwelik aangegaan met Afrikanernasionalisme, hoofsaaklik deur die standpunt in te neem dat Christene nie in politiek betrokke behoort te raak nie, wat uiteraard die status quo versterk het. Terselfdertyd het dit Afrikanernasionalisme egter ook versag en ondermyn deur blatante rassisme en geweld te veroordeel en teen te staan.

Dit lyk vir my asof die invloed van Afrikanernasionalisme in kritieke periodes van die NGK se geskiedenis ’n vormende rol gespeel het om eenheid en identiteit te bewerkstellig. Laat ek twee voorbeelde noem. Eerstens is die vereniging van die Hervormde Kerk en NG Kerk in die ZAR in die 1880’s gemotiveer deur die feit dat lidmate van dié twee kerke saam aan die klipstapeling by Paardekraal deelgeneem het om die gelofte van Bloedrivier te hernu en toe skouer aan skouer by Amajuba teen die Britse koloniale magte geveg het – en ’n klinkende oorwinning behaal het. Na daardie keerpunt in die geskiedenis van die ZAR het die lidmate van die twee kerke vir mekaar gevra: Hoekom is ons nog steeds twee aparte kerke as ons God op dieselfde manier as Protestantse gelowiges aanbid en saam veg vir die vryheid van ons republiek? Hierdie politieke motief het die deurslag gegee om die twee kerke te laat verenig, met verreikende gevolge vir die daaropvolgende praktyke en sienings van die verenigde NH of G Kerk in die Transvaal.

Tweedens is die vorming van die Algemene Sinode van die NGK in 1963 ook deur politieke faktore beïnvloed. Sedert die “groot trek” ? Groot Trek ? was die NGK nie een kerkverband nie, maar as vier aparte sinodes gestruktureer (Kaap, Vrystaat, Transvaal en Natal), met ’n Federale Raad vir samewerking. In die vroeë 1960’s het drie politieke faktore waarskynlik die eenwording van hierdie vier sinodes bespoedig: ’n veiliger meerderheid vir die Nasionale Party-regering (anders as in die 1950’s), die bewuswording van Afrikaners na die Sharpeville-insident (Maart 1960) dat hulle teen die hele wêreld sal moet saamstaan, en die opgewondenheid oor die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika buite die Statebond in 1961.

Die eenheid van die hele NGK was egter nog altyd kompleks, met allerlei strominge in teologie en bediening, as gevolg van die drie groot faktore wat ek genoem het (volk, Kuyper, Murray) en wat op verskillende maniere tot uitdrukking gekom het in die NGK se teologiese fakulteite (Stellenbosch, Pretoria en later Bloemfontein). Wat hierdie “ruim huis met baie kamers” (“broad church”) egter altyd bymekaar gehou het, was ’n gesamentlike verbintenis tot ’n gereformeerde etos (breedweg verstaan) en tot die politieke welsyn van die Afrikanervolk. Die sosiale kohesie wat hierdie verenigende faktore uitgeoefen het, is nou egter onder groot druk. Die geloofwaardigheid van ’n gereformeerde teologie is ernstig geknou deur die feit dat die NGK sedert 1986 begin erken het dat die teologiese legitimasie wat dit dekades lank aan die politieke beleid van apartheid gegee het, ’n fundamentele teologiese fout was. Die NGK-lidmate wat so ’n skuldbelydenis nie oor hulle lippe kon kry nie, sit tans in die APK, maar dit lyk ongelukkig asof nog lidmate uit die NGK sal padgee as die NGK struktureel met die VGK verenig en die Belydenis van Belhar formeel as vierde belydenis aanvaar word. Die “sosiale gom” wat volk en Kuyper vroeër aan die NGK verskaf het, word al hoe swakker. Lidmate wat onder die druk van sekularisering die Christelike boodskap al meer ongeloofwaardig vind, verdwyn uit die kerk en word agnostici of ateïste. Lidmate in die Andrew Murray-tradisie wat moeg is vir gereformeerde styfheid en korrektheid en vir alle “politiek in die kerk” (vir of teen apartheid), beweeg na charismatiese kerke toe (of na charismatiese NGK-gemeentes soos Moreletapark). Lidmate wat gereformeerd wil bly, maar moeg is vir die “politieke korrektheid” van die NGK in ’n demokratiese Suid-Afrika, beweeg na Afrikanerkerke toe wat hulle as “veiliger” beskou vir die behoud van blanke lidmaatskap en Afrikaanse eredienste, soos die NHKA en (miskien ook nog) die APK.

Slotopmerkings

Kan ’n debat oor ’n volkskerk vir Afrikaners ’n positiewe rol in hierdie situasie speel? Nie in die sin dat ons (weer) moet probeer om volkskerke te vestig nie. Maar so ’n debat kan ons miskien wel help om noukeurig na te gaan waar ons vandaan kom (“terug na die verlede”) en om dan nuwe maniere te bedink waarop ons as Afrikaners en Christene – as een van vele etniese en godsdiensgroepe in ’n grondwetlike demokrasie – ons eie waardevolle tradisies kan bewaar, suiwer, uitbou en Afrikaniseer sodat ons ’n meer konstruktiewe bydrae kan lewer tot voordeel van alle Suid-Afrikaners. Vir my beteken dit dat ons as Afrikaners onsself nie meer as ’n “volk” identifiseer nie, maar as een kultuurgroep naas vele andere wat onlosmaaklik aan Afrika verbonde is. Die postkoloniale begrip hibriditeit kan ons help om die verskillende dimensies van ons identiteit bymekaar te hou en nuut te ervaar. Dit lyk of die woorde van die Palestyns-Amerikaanse denker Edward Said (1993:407) nou na 20 jaar in Suid-Afrika begin moontlik word: “No one today is purely one thing. Labels like Indian, or woman, or Muslim, or American are no more than starting points, which if followed into actual experience for only a moment are quickly left behind.” Die ideaal van suiwerheid, veral etniese suiwerheid, lei altyd tot uitsluiting en gewoonlik tot geweld. As ons die gemengdheid van ons Afrikanergeskiedenis en van ons Suid-Afrikaanse konteks kan eien en dit as geskenk aanvaar, is dit moontlik dat ons in ’n identiteit kan ingroei wat geworteld-en-gevleueld, Afrikaner-en-Afrikaan is.

Maar gereformeerdheid sal altyd ook “terug na die Bybel” beteken. ’n Debat oor hoe die NGK-familie die nasleep van volkskerkpraktyke en -idees kan afskud, sal daarom ook ’n hernude ontdekking van die Bybel moet inhou. Nuwe gedeeltes sal dan uitstaan, soos byvoorbeeld Jesaja 58 oor egte vroomheid as stryd teen sosiale onreg, Markus 3:31–5 oor die dissipelgroep van Jesus wat die ideologie van “bloed is dikker as water” oorkom, en Markus 11:17 oor die kerk as nuwe tempel: “My huis sal ’n huis van gebed genoem word vir alle volke.”

Die kerke in die NGK-familie het mekaar nodig. Dit is net op ’n gesamentlike geloofsreis dat ons sal kan ontsnap aan die trekkrag van geslote volks- en raskerke. Op so ’n reis kan ons almal geleidelik ons rasse-identiteite afsweer en ontgroei, omdat ons nooit mag toegee dat biologiese faktore ons menswaardigheid of ons Christen-wees definieer nie. Om dit te kan doen het ons nie net ’n nuwe teologie nodig nie, maar veral nuwe gewoontes, soos verenigende liturgieë en ander geloofspraktyke – sodat ons kan ons leer om saam met ander Suid-Afrikaners ons taal- en kultuurverskille op ’n plat speelveld te beaam en te vier (The dignity of difference, Sacks 2002) terwyl ons leer hoe om (so verskillend as wat ons is) saam aan ’n bewoonbare en regverdige gemeenskap te bou (The home we build together, Sacks 2007). Dan sal ons ook saam die pynlike proses kan aanpak om ekonomiese onreg en ongelyke grondbesit reg te stel. Op so ’n reis kan ons ontdek wat dit beteken om saam gereformeerd en saam Afrikane te wees.


Keer terug na die webseminaar se indeksblad om nog bydraes te lees
.

 

Bibliografie

Botha, S.J. 1973. Die volkskerk. HAUM.

NGK. 1974. Ras, volk en nasie. Bloemfontein: NG Sendingpers.

—. 1986. Kerk en samelewing. Bloemfontein: NG Sendingpers.

—. 1990. Kerk en samelewing 1990. ’n Getuienis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Bloemfontein: NG Sendingpers.

Sacks, J. 2002. The dignity of difference. How to avoid the clash of civilizations. Londen: Continuum.

—. 2007. The home we build together. Recreating society. Londen, New York: Continuum.

Said, Edward. 1993. Culture and Imperialism. Londen: Vintage Books.

 


Ek gee graag erkenning aan Cobus van Wyngaard vir sy insiggewende kommentaar op ’n vroeë vorm van hierdie stuk.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top