ABSA KKNK 2013 Kuns: Velvet

  • 0

Velvet

Kurator: Christiaan Diedericks
Groepuitstalling

Die erotiese vervorm ons lewens op ’n baie pertinente en belangrike manier.  Seksualiteit is een van die kardinale aspekte rondom die bepaling van ons identiteit. Hoekom is dit dat seksuele begeerte dikwels as van groter belang beskou word as, byvoorbeeld, ons begeerte vir voedsel – wat op ’n biologiese vlak baie belangriker is in terme van ons individuele bestaan. Seksualiteit, as een van die mees fundamentele aspekte van die mens se bestaan, het ’n buitegewoon belangrike impak op hoe ons onsself beskou. Wat ons begeer is so belangrik dat om die objek van begeerte, sowel as die uitdrukking van begeerte, te verwyder byna altyd ’n fatale impak het op ’n persoon.
Wat is die korrelasie tussen pornografie en erotika en wat is die impak op vryheid van spraak sowel as die vryheid van individuele ekspressie? Is daar werklik ’n skeidslyn? Binne ’n liberale en bandelose samelewing sou daar geen beperking wees nie. Die teenpool hiervan is natuurlik ’n meer eng sosiale struktuur waar die limitasies meer merkbaar en definitief sal wees.
Na die onlangse debakel oor The Spear-kunswerk, deur die kunstenaar Brett Murray, het die vraagstukke rondom vryheid van uitdrukking veral in die konteks van ’n seksuele natuur weer na vore gekom. Sensuur is weer ’n aktuele debat in die Suid-Afrikaanse kunswêreld.
Onder die kuratorskap van die kunstenaar Christiaan Diedericks daag die uitstalling Velvet ’n geselekteerde groep kontemporêre kunstenaars uit om nuwe idees rondom die erotiek te ondersoek, sonder om te verval in die voorskriftelike interpretasies. Kunstenaars is aangemoedig om meer subtiele beelde te vind om seksuele begeerte, menslike seksualiteit en erotika uit te beeld, eerder as die letterlike en grafiese uitbeelding van genitalieë of seksuele omgang.

Velvet het meer te make met ’n hart- en sielsbegeerte en vervulling as met bloot die vleeslike. Velvet verwys die vlees se verwerkliking binne die menslike onderbewussyn en die essensie daarvan vir die mens.

Na aanleiding van die sensitiewe en moontlik eksplisiete natuur van die uitstalling is daar ’n ouderdomsbeperking van 18.

Gratis daagliks, Prince Vincent-gebou, Baron van Rheedestraat

 

Besoek die virtuele kunsgalery

 

Gaan terug na die kunstenaarlys

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top