Kerkbou is werkskepping

  • 3

Dagsê Angus en Thomas

Ek kan verstaan as mense ’n missie het waarvan die doel is om lewensgehalte te waarborg of te behou of te verkry. So kan ek byvoorbeeld insien dat iemand in die 80’s die missie kon hê om mense teen die ja-stem te waarsku. Natuurlik sou daar ook mense wees wat om dieselfde redes teen die nee-stem gewaarsku het maar hulle is intussen ontgogel of weg. Terloops, julle is nie in een van bogenoemde groepe nie, waarskynlik van die groep wat in ontkenning lewe want dié is daar ook.

Eventwil, soos my ouma altyd gesê het, wat beoog julle nou eintlik met julle gedurige aanval op, en bespotting van, die Christelike geloof? Besef julle die implikasies? Alreeds kan orrelbouers en loodglaswerkers skaars ’n bestaan maak en dit is maar net twee van die talle ambagte wat gaan ly, dalk heeltemal verdwyn, as daar nie meer kerke gebou word nie. Besef julle ooit hoeveel werkgeleenthede is daar in die bou van kerke? Daar is komponiste, orreliste, skrynwerkers, kabinetmakers, messelaars, loodgieters noem maar op. Wil julle hierdie mense se werk wegvat? Wil julle dit ook nog op julle boekie hê as oordeelsdag, watter vorm dit ook al gaan aanneem, aanbreek?

Julle moet besin kêrels, julle missie is doelloos tensy, natuurlik, julle behae daarin het om te kwets en seer te maak en dit is nie krieket nie (amper sê ek onchristelik maar dit sou julle pas).

Ek vermoed julle aksie is eintlik teen ons Boeremense want daar is geen aanduiding dat, as julle nou suksesvol is en daar geen Christene meer oor is nie, julle dan op Islam, Hindoeïsme of watter ander gelowe ook al gaan fokus nie. Thomas, jy kom sommer openlik uit teen CAO of wat ook al en maak die absurde stelling dat Bybelse verklarings in hierdie onderwysstelsel voorkeur bo wetenskaplike verklarings sal geniet. Waar kom jy aan sulke stront? Is dit een of ander CAO-beleidsverklaring? Kan tog nie wees nie; waar sou hulle nou byvoorbeeld in enige skool π as 3.0 neem omdat dit iewers in die Bybel so staan?

Nee wat man, eerder as aan hierdie nuttelose en afbrekende missie, spandeer liewer tyd aan die uitwys van ongeregtighede teenoor Afrikaans, of help om plaasmoorde te bekamp of ten minste onder die aandag van die wêreld te bring, of begin ’n veldtog teen korrupsie of so iets.

Terloops, Thomas, vir ingeval jy nie die redaksie se nota gesien het nie, ek het nie die foto van die ander DASO-plakkaat saam met my brief geplaas nie, ek het net die brief geskryf.

Groetnis

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Die nutteloosste gebou is 'n kerk. Jy kan dit vir niks anders gebruik as 'n kerkdiens elke Sondag en eens in 'n leeftyd se begrafnis en troue nie. 'n Kerk bly 'n kerk totdat hy eendag platgeslaan word en vervang word met 'n winkelsentrum of paleis. Al daardie komponiste, orreliste, skrynwerkers, ens is nie afhanklik net van kerkbou nie. As dit so was, sou almal op die hoeke van strate staan en bedel het.

  • Dagsê Jan Rap

     

    Ek moet sê ek geniet nogal gewoonlik jou skrywes. Alhoewel ek dikwels nie met jou politieke sienings saamstem nie voer jy deurgaans ’n goeie samehangende argument aan. Jy beskou my as iemand wat in ontkenning leef en nie al die verkeerde dinge rondom ons raaksien nie, terwyl ek jou weer beleef as iemand wat ook in ontkenning leef en nie al die goeie dinge rondom ons raaksien nie. Jy beskou 1994 as die begin van ’n tydperk van verdoemenis vir die Afrikaner terwyl ek 1994 as die begin van die ontwikkeling van ’n moderne en veerkragtige Afrikaner beleef. Soos ek al vantevore vir jou ges? het bekyk ons dieselfde ding vanuit twee verskillende perspektiewe. Ek het werklik geen probleem daarmee nie omdat ek glo dit help om die balans en ewewig te bewerkstellig wat nodig is vir werkbare oplossings.

    Jou argument dat godsdiens dien as ’n werkskepper is bepaald waar – net so waar as die stelling dat oorlog werk vir wapenvervaardigers skep. Net so min as wat ek oorlog sou aanhits om ’n ’n klein mosdopvervaardiger aan die lewe te hou so min dink ek godsdiens moet vertroetel word om orrelbouers aan die lewe te hou. Ek bemerk egter ’n tong in jou kies en sal die punt nie verder voer nie.

    Ek het nie ’n spesifieke aksie teen die christelike godsdiens nie. Ek het dit teen alle godsdienstige bewegings wat gegrond is op blindelingse geloof in die woorde en opdragte van godsdienstige leiers. Karl Marx het gesê dat godsdiens die opium van die volk is en ek stem in beginsel daarmee saam. In die onskuldige bedryf van sosiale byeenkomste rondom ’n godsdienstige tema sien ek min fout. Op die platteland sien ek dikwels dat dit die gom is wat gemeenskappe bymekaarhou – veral die Afrikanergemeenskap. My probleem lê by die verdommingseffek of veragterlikingseffek wat godsdiens op sy volgelinge het. Ek het al redelik wyd gereis in my lewe en het die nadelige en verwoestende gevolge van geïnstitusionaliseerde volksgodsdienste gesien en beleef. Jy is sekerlik bewus van ons tog rondom Afrika gedurende 2010. In die noorde van Afrika is Islam byna soos ’n verlammende kanker wat bevolkings stadig doodwurg. Die fundamentalistiese snert wat Kobus de Klerk hier op die Sê kwytraak is ’n haarbreedte weg van die fundamentalisme wat ek in Nigerië en Mauritanië gesien het.

    Christelike Afrikaanse Onderwys (CAO) verskaf ’n ideale geleentheid vir fundamentalistiese ekstremiste soos Kobus om die Afrikaner onberekenbare skade aan te doen. Doen jouself ’n guns en stel vas wat “Bybelse grondslag vir die verstaan van wiskunde en wetenskap” beteken want dit is sover ek verstaan een van die onderskeidende kenmerke van CAO. Sover dit my aanbetref is daar geen ander bril waardeur wiskunde en wetenskap beskou kan word as slegs dié een van objektiewe denke en streng toetsing volgens die wetenskaplike metode nie. Hierdie is onbekende (selfs vyandige) begrippe vir die godsdienstige fundamentalis. Om my kind aan sulke onderwys bloot te stel sal ’n massiewe fout wees. Om die Afrikaner in sy geheel daaraan bloot te stel kan katastrofaal wees.

    Ek het nogal gehou van die DASO plakkaat en die subtiele boodskap wat dit oordra. Die uiteenlopende reaksie wat dit ontlok het dui daarop dat ’n gevoelige senuwee aangeraak is. Die plakkaat wat die Sê se redaksie aan jou brief geheg het, is ook baie veelseggend. Ek sou dit iewers in die toekoms as ’n voortbouing van die oorspronklike wou sien.

    Groetnis.

    Thomas

  • Hallo Thomas

    Soos die Psalmdigter se, 'n sagte antwoord keer die grimmigheid af.  Ek moet erken ek was redelik warm onder die kraag oor jou stelling dat Bybeluitlegte voorkeur geniet bo wetenskaplike verklarings want dit is gewoon nie waar nie. Ek het in my vriendekring ingenieurs, wetenskaplikes, rekenmeesters, die soort van ouens, almal gelowig (wissel van matig tot sterk) en daar is nie 'n manier dat enigeen van hulle dink pi is 3 nie, of dat die aarde net 6000 jaar oud is, of dat vrouens van 'n ribbebeen af kom nie.

    Nou ja, en daar kom jy toe met 'n kalm en beredeneerde antwoord en neem die wind uit my seile; selfs ongelowiges, lyk dit my, pas Bybelse beginsels toe.

    Ons moet bietjie mooi dink oor die "verdommings- en veragterlikingseffek" waarvan jy praat.  Wat jy in Nigerie gesien het is uit hoofde van die mense daar se karakter, aard en/of miskien omstandighede.  Jy kry mense wat fanaties gaan wees en as daar nie een of ander godsdiens of ideolgie bestaan om as regverdiging te gebruik nie, gaan hulle iets anders kry.  Jy gaan byvoorbeeld nie onmin tussen Man United en Everton stopgesit kry deur die serpe te verbied nie.  En as daar nie sokker is nie sal daar wel nie sokkerhooligans wees nie maar nog steeds hooliganism.  Om die waarheid te se, vir die duur van die sokkerspel is hulle darem uit die publiek se hare.

    Jy reken self godsdiens kan die gom wees wat gemeenskappe bymekaar hou.  Weeg hierdie waarskynlike manifestasie van fundamentalistiese vergrype vir jou swaarder as die werklike gom?

    Jy's reg, die werkskepstorie is maar eintlik half tong in die kies; die opskrif wat hulle vir my brief gekies het gee eintlik die verkeerde idee.  Ek wou maar net se die grond waarop julle jul aanvalle op spesifiek die Christendom baseer is nie so vars nie.

    Lekker dag vir jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top